
Foto: Izak de Vries
- Miracle Tree (Regisseur: Jade Bowers) is pas vir ’n Woordtrofee benoem vir uitsonderlike bydrae tot klassieke musiek: Innovasie.
Harmonie – dis enige koormeester se mikpunt. Plaas nou iemand soos die gevierde komponis Franco Prinsloo in beheer van ’n produksie, en jy beleef die ware krag van harmonie. Nie net in die musiek wat jy hoor nie, maar ook in die dans tussen die pragtige, uiteenlopende tale van ons land, soos hy weer met ’n nuwe produksie bewys.
Ilse Salzwedel het met Prinsloo gesels.
Miracle tree: Isihlahla sezimanga, wat ook by die Woordfees te sien was, kan beskou word as ’n bloudruk van dit waarvan Prinsloo nog altyd gedroom het om met sy werk te bereik. Taal en musiek het hom nog altyd gefassineer. Musiek was deel van sy grootwordjare – hoe dan anders met ’n ouma wat ’n orreliste was en ’n pa wat sy eie liefde vir klassieke musiek met sy seun gedeel het. So het musiek diep in sy siel nesgeskop. ’n Logiese loopbaankeuse, dus.
Op hoërskool het hy poësie ontdek, danksy ’n Breyten Breytenbach-bundel wat ’n onderwyser hom in die hand gestop het. Nog ’n wonderwêreld is vir hom ontsluit. Later sou poësie ’n rigtingwyser op sy musikale pad word.
.......
“Kore het die wonderlike vermoë om mense bymekaar te bring ongeag kultuur, land, geografiese herkoms of taal,” verduidelik hy. “Veral die sangers, want almal werk aan dieselfde einddoel: om pragtige harmonie te skep.”
.......
Prinsloo is bekend vir sy unieke, meertalige benadering tot koormusiek, en leef dit uit wanneer hy skep vir kore waarby hy as dirigent of komponis betrokke is, en ook wanneer hy opdragwerke komponeer. “Kore het die wonderlike vermoë om mense bymekaar te bring ongeag kultuur, land, geografiese herkoms of taal,” verduidelik hy. “Veral die sangers, want almal werk aan dieselfde einddoel: om pragtige harmonie te skep.” Dit inspireer hom as komponis – hierdie wete dat hy nog méér kan doen om sangers te laat tuis voel in ’n koor. En so het hy begin om unieke, eg Suid-Afrikaanse meertalige koorwerke te skep.
“Deur my werk wil ek die idee van samewerking en ’n gemeenskaplike doelwit nog meer belig. Ek wil hê elke persoon op daardie verhoog moet voel dat sy of haar taal ook verteenwoordig word, dat dit ook tel,” verduidelik hy. Die bonus is dat die sangers mekaar ook as mense kan vind en beter leer ken deur die musiek. “Die Setswana-sanger kan die Afrikaanse sanger help met dinge soos betekenis en uitspraak, en andersom. En so kan ’n komposisie ’n bloudruk word van hoe mense in ’n meertalige land soos Suid-Afrika met mekaar kan omgaan en saamwerk om harmonie te skep.”
Deur sy eie Vox Chamber Choir en verskeie opdragwerke (hy het al meer as 800 komposisies op sy kerfstok) kon Prinsloo aan dié droom slyp. As inwonende kunstenaar by die Universiteit van Johannesburg kry hy vanjaar die kans om dit selfs verder uit te brei deur die ontwikkeling van vernuwende artistieke projekte wat fokus op Suid-Afrika se kulturele en taalkundige diversiteit.
Hy gebruik sy inwonerskap om te fokus op meertaligheid in koormusiek en hoe dit kore kan verryk en individue uit uiteenlopende agtergronde kan help om mekaar te vind deur hul gedeelde passie. “Maar ek ondersoek ook watter rol dit by gehore kan speel – hoe dit mense kan verryk, kan opvoed en kan blootstel aan die verskillende poëtiese tradisies van die tale ons land.”
.......
Die meertalige Miracle tree weerspieël nie net Prinsloo se verbintenis tot die verkenning van die diep verbande tussen taal, musiek en identiteit nie, maar is ’n lieflike musikale viering van menswees, van woon in ’n land met ’n hutspot van tale en mense van verskillende kulturele agtergronde.
.......
Die meertalige Miracle tree weerspieël nie net Prinsloo se verbintenis tot die verkenning van die diep verbande tussen taal, musiek en identiteit nie, maar is ’n lieflike musikale viering van menswees, van woon in ’n land met ’n hutspot van tale en mense van verskillende kulturele agtergronde.
Prinsloo se musikale handelsmerk is ten nouste verbind met sy liefde vir poësie. “Digkuns is vir my fassinerend, ’n beeldskone manier om taal te gebruik. En ek gebruik musiek om digkuns te interpreteer,” verduidelik hy. “Ander mense lees dit, ek verklank dit as’t ware om dit beter te kan verstaan. Dis my proses.”
Om gedigte in liedere te omskep, is vir hom om nog ’n rede belangrik. “Baie keer is digkuns ontoeganklik vir mense, of jy dink dalk poësie is nie iets waarvan jy hou nie, maar wanneer hulle dit kan sing, of kan hoor hoe dit gesing word, ervaar hulle dit op ‘n dieper vlak en op ’n ander manier. Dan is daar interaksie met daardie digkuns, en word dit betekenisvol vir mense."
Die musiek in Miracle tree – soos trouens al Prinsloo se komposisies – raak ’n mens nie net oor die taalaspek nie, maar musikaal het dit ’n byna heilige klank. Die soort klank wat maklik sal inpas in ’n eeue oue katedraal. Dit maak sin as jy hoor sy groot musikale invloede is die musiek van die Middeleeue en die daaropvolgende Renaissance-era. Gregoriaanse chant, die onbegeleide heilige liedere in Latyn uit die vroegste era van die Rooms-Katolieke tradisie, is nog ’n groot inspirasie.
Miracle tree is ’n produksie waarin gehore ’n klomp plaaslike talent kan hoor. Voices+, ’n ensemble van UJ Koor-lede, onder leiding van dirigent Sizwe Mondlane, neem jou op ’n musikale reis deur Suid-Afrika. Erfenis en hoop word netjies saamgebind deur harmonie. Die poëtiese inspirasie agter alles is ’n gedig deur die Zoeloe-digter Bongekile Mbanjwa se gedig “Isihlahla sezimanga” (“Wonderboom”). Die simboliek van die gedig het hom bygebly lank nadat hy dit gelees het: Hoe ’n klein boompie geplant word en kan doodgaan of gedy, afhangend van wat mense besluit om daarmee te doen. “As jy dit koester, kan dit vir ’n hele gemeenskap skaduwee bied. En dis ook hoe ek taal sien,” verduidelik Prinsloo.
Mbanjwa se gedig word nie in sy oorspronklike vorm in die produksie gebruik nie, maar vorm die subteks van die produksie. Prinsloo se musiek – wat liedere in Zoeloe, Afrikaans, vertalings uit /Xam, Venda, Tswana en Sotho insluit – word saamgeweef deur poësie wat die digter en kunstenaar Vus’umuzi Phakathi spesiaal geskep het in reaksie daarop.
Benewens Phakathi se saambindende teks kan jy ook die toonsetting hoor van gedigte wat Prinsloo spesiaal geskryf het in samewerking met die digter Ingrid Hlatshwayo (“Luister na die nag”) en ’n toonsetting van Hlatshwayo se “Phula! Phula!”. Die Afrikaanse digter Philip de Vos se byna speelse vers “Hoekom is die hemel blou?” en “I’ll be going soon” kan ook in liedvorm gehoor word. Antjie Krog se vertalings uit /Xam (“Slaapliedjie”, “Wat die sterre sê” en “Lied van die korhaan”) word lieflik afgewissel met onder andere !Nanni se “Prayer to the young moon” (vertaal deur Jack Cope) en Bonisile Xumalo se “Zwelombe” (in Venda vertaal deur Hulisani Belesi).
Teks praat met teks in hierdie produksie, en presies hoe treffend dit gedoen kan word – selfs binne verskillende variasies van een taal – word geïllustreer deur “Namagowab lied van die lier”, ’n nuwe lied wat spesiaal geskep is ter viering van Afrikaans100. Prinsloo vertel hy wou iets hê wat die uiteenlopende rykdom en ontwikkelende aard van die Afrikaanse taal vier. Hy het toe drie digters – Veronique Jephtas, Alwyn Roux en Lynthia Julius – gevra om elkeen ’n deel van die lied in sy of haar kenmerkende variëteit van Afrikaans te skryf. Julius se Oranjerivier-Afrikaans, Jephtas se Afrikaaps of Kaapse Afrikaans, en Roux se standaard Afrikaans het op ’n verrassende manier saamgekom, en sorg vir ’n liriese viering van ’n groeiende en dinamiese poëtiese taal.
René Bohnen se gedig “Walvisnota” was ook ’n belangrike bron van inspirasie. Dit vertel meer oor die skatte wat in ’n taal opgesluit lê. “Dis nie altyd verstaanbaar vir wie ook al dit aanhoor nie, maar dis nietemin daar,” verduidelik hy. “Sy verwoord dit treffend in die eerste reëls: “’n Woordeboek is soos ’n walvislied / daar skuil korale in die klank van die troglodiet / Dis mistiek soos wilde oesters wat juwele bied.”
Miracle tree laat ’n mens diep onder die indruk van taal – die krag van taal, maar ook die besef dat taal bewaar moet word, iets waaroor Prinsloo sterk voel. “Taal is lewende erfenis. Wanneer jy iets nuuts skep in taal, moet dit bewaar word, gebesig word; dinge moet daarmee gedoen word,” verduidelik hy.
Hoewel Afrikaans sy moedertaal is, is al die tale van Suid-Afrika vir hom belangrik. “Dit dra alles dele van ons geskiedenis saam – die stories, die nuanses van ons land. Eintlik is die verskillende tale ons land se grootste, belangrikste erfenis. En net soos met die wonderboompie waaroor Mbanjwa in haar gedig skryf, is tale ons almal s’n. Ons as Suid-Afrikaners moet in en deur en met ons tale interaksie hê. Ons moet dit water gee en help groei sodat dit vir almal in die land skaduwee kan bied.”
Die produksie vertoon ook die talent van uitgesoekte musikante soos Eugene Joubert, Magdalena de Vries, en Motshwane Pege, met regie deur die bekroonde teatermaker Jade Bowers.
Miracle tree vorm deel van die Universiteit van Johannesburg se 20ste-bestaansjaar-vieringe, wat twee dekades van uitnemendheid in hoër onderwys en gemeenskapsbetrokkenheid vier. Hierdie uitvoering beklemtoon UJ se voortdurende verbintenis tot kreatiewe uitdrukking, kulturele bewaring en taalkundige diversiteit.
Lees ook:
Persverklaring: Toyota Stellenbosch Woordtrofees-benoemings 2025 "van indrukwekkende gehalte"
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n Visuele resensie van Albert Pretorius se Ek is nie Danie
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Liefde, Lafras – ’n resensie
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Kruger en Tutu: Wit, swart en volkleur serenades – ’n foto-essay

