|
||||||||
Opsomming
Hierdie artikel bespreek die rol van Latyn in die koormusiek van die bekroonde dirigent en komponis Franco Prinsloo en besin oor die blywende impak van Latyn in die breër konteks van Suid-Afrikaanse kore. Dit vorm deel van ’n navorsingsprojek wat ek onderneem het om eerstens vas te stel waarom Latynse liedere steeds so gewild onder Suid-Afrikaanse kore is, tweedens hoekom komponiste soos Franco Prinsloo steeds aktief Latyn in hulle komposisies inkorporeer, derdens hoe dirigente soos Prinsloo te werk gaan om die Latyn aan hulle koorlede te verduidelik, en laastens wat hierdie verskynsel vir Latiniste beteken. As vertrekpunt om hierdie vrae te beantwoord het ek ’n onderhoud met Prinsloo gevoer rakende Latyn in koormusiek. Verder word die gesprek met Prinsloo benader vanuit ’n pedagogiese oogpunt wat aandag skenk aan sy aanbieding en verduideliking van die Latyn aan sy koorlede, asook vanuit ’n filologiese oogpunt, wat die klem plaas op die vertaling en potensiële interpretasie van die betrokke Latyn. Die primêre bevindings van die artikel is dat die rede waarom Latyn steeds ’n aktiewe rol in koormusiek speel, sowel in Suid-Afrika as internasionaal, te doen het met die voortdurende toeganklikheid van die Latynse vokaalsisteme en die suiwer tonale produksie wat hierdie vokaalklanke bied. Verder bied Latyn meer skeppingsvryheid aan komponiste soos Prinsloo en stel dit hulle in staat om hul werke selfs met internasionale kore te deel. Met betrekking tot opleiding in Latyn, blyk dit duidelik dat daar ’n behoefte is aan gesprekvoering tussen koordirigente en Latyn-taalkundiges en dat daar ’n wesenlike tekort aan voldoende Latynse uitspraakriglyne en hulpmiddels is wat sowel toeganklik as akkuraat sou wees vir komponiste en dirigente wat met Latyn werk.
Trefwoorde: koormusiek; Latyn; Franco Prinsloo; Suid-Afrikaanse komponiste; Suid-Afrikaanse kore
Abstract
Preaching to the choir: The role of Latin in South African choral music, in conversation with Franco Prinsloo
This article discusses the work of Franco Prinsloo and situates his contribution within the greater context of the role of Latin in South African choirs. As a scholar of ancient languages I focus my research on the lasting impact of Latin on South Africa’s literary and cultural landscape. This article forms part of a greater research project I have undertaken to investigate why Latin choral pieces have maintained their popularity among South African choirs, aiming to answer the following questions: Why do composers like Prinsloo still actively incorporate Latin in their compositions? How do conductors like Prinsloo go about explaining Latin to their choir members, and finally, what does this phenomenon mean for Latinists in South Africa?
As a starting point to answer these questions I interviewed Prinsloo on 27 August 2024 about his work and views on Latin’s historical and lasting impact on choral music, particularly in a South African context. There is a noticeable gap in the literature on this subject, which provides a valuable opportunity for musicians and Latinists to expand one another’s knowledge regarding the various applications of Latin. The conversation with Prinsloo is approached from a pedagogical and philological stance that focuses on Prinsloo’s engagement with issues such as proper Latin pronunciation and the interpretation and translation of Latin texts from the perspective of a composer and conductor who needs to elucidate these aspects of a Latin choral work to his choir members in a multilingual environment.
Prinsloo is an award-winning South African composer and choir conductor. He received his most recent award on 18 September 2024 at the Aitsa awards ceremony in Pretoria, which celebrates Afrikaans music by South African artists. Prinsloo had composed a piece entitled “Deurgrond” (“with deeply rooted understanding”) at the beginning of 2024 for one of his choirs called the Vox Chamber Choir, for which he and his choir won the Aitsa award for the year’s Best Classical Work in Afrikaans. While Prinsloo is certainly a gem for the Afrikaans music industry, he is also a prolific composer who has composed many works in other languages, but most significantly in Latin.
This research project therefore examines the unique relationship between those who use Latin for their art and those whose art is Latin. Prinsloo’s composition Salve Regina (2019) is discussed to serve as an example of one of the benefits of Latin to composers of choral music since Latin enables conductors to share their works with international audiences. This article also examines some of Prinsloo’s other compositions, particularly Carpe Diem and Cantata Modimo. Carpe Diem is a composition based on the Roman poet Horatius’ eponymous poem that centres on the theme of seizing (plucking) the day. Prinsloo composed this piece during the COVID-19 pandemic. This composition is discussed to highlight the relevance of Latin literature and how contemporary musicians like Prinsloo still utilise an ancient language such as Latin to address contemporary issues.
Cantata Modimo (2019) is one of Prinsloo’s most remarkable compositions, and is examined to illustrate how Latin plays a role in contemporary South African choir music. Cantata Modimo is arguably one of Prinsloo’s most remarkable works. In this choral work, Prinsloo pieced together different passages from the Vulgate to tell a moving story about the creation of the world, God blowing breath into Adam, the downfall of mankind, and how our only hope and salvation is to be good to one another and to take care of the planet. Cantata Modimo has three primary sections and incorporates five different languages: Zulu, Setswana, English, Afrikaans and Latin. In the final movement the various languages are all blended to emphasise the vital concept of ubuntu and to illustrate South Africa’s diverse yet united identity. By changing the familiar “Cantate Domino” to “Cantata Modimo” Prinsloo highlights South Africa’s unique choral tradition while simultaneously underscoring the fact that “Latin is not just for a specific group of people, because it now belongs to everyone” (Prinsloo 2024).
Prinsloo seems to create dynamic and inclusive spaces for performers in a choir setting. In his work Prinsloo challenges the boundaries of choral music, expanding the traditional scope of people able to access Latin and exploring new ways this language can be actively used. In my conversation with Prinsloo it became evident that the defining characteristics of his choir practices, particularly regarding his approach to Latin instruction, are the following: repetition of Latin vocabulary, association with other Latin words and even other languages, and most importantly, humour. These factors are undoubtedly integral elements that should be included in a contemporary approach to Latin pedagogy. One of the key factors that makes Latin more accessible to students learning Latin for choral works is the musical environment and the more informal ways that choir members interact with the language. Prinsloo (2024) supports this statement by remarking that choir members are there not to focus on all the complexities of the Latin, but instead to focus on understanding how Latin contributes to their interpretation and performance of the music.
While Prinsloo is also of the opinion that Latin is more of an artefact than a language, since Latin is rarely used as an active spoken language in everyday life, it is evident that Latin is not merely something that has been locked up in a glass cabinet. Instead, it is sung, interacted with, and even played with. This is because Latin still plays a very active role in the practices and performances of South African choral music. This article addresses a patent gap in the literature regarding the lasting impact of Latin on South African choir music, underscoring the need for proper Latin instruction and better guidelines for South African choirs and their conductors. This research project calls for better communication between Latinists and choral musicians by initiating a dialogue between Latin scholars and South African choirs. I contend that greater collaboration between these two groups would be a mutually beneficial undertaking. A more comprehensive knowledge of Latin will enable choir members to sing with greater understanding and interpret the music with deeper insight. Owing to the widespread use of Latin by choirs in South Africa, Latin is no longer limited to university classrooms, churches or courts; it reverberates in homes, schools, musical theatres and public spaces accessible to all. By engaging with the artists of South Africa’s choral tradition, Latin practitioners can make a meaningful impact beyond academia and contribute to a vibrant and essential part of the country’s rich cultural heritage.
Keywords: choral music; Latin; Franco Prinsloo; South African choirs; South African composers
1. Inleiding1
Hierdie artikel bied bevindinge aan met betrekking tot ’n onderhoud wat ek op 27 Augustus 2024 met Franco Prinsloo gevoer het.2 Prinsloo is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse komponis en koordirigent.3 Hy het sy mees onlangse toekenning op 18 September 2024 ontvang by die Aitsa-toekenningseremonie in Pretoria, wat Afrikaanse musiek deur Suid-Afrikaanse kunstenaars vier. Prinsloo het aan die begin van 2024 ’n stuk getiteld “Deurgrond” vir een van sy kore genaamd Vox Chamber Choir gekomponeer. Vir hierdie komposisie het Prinsloo en sy koor die toekenning vir vanjaar se Beste Klassieke Snit in Afrikaans gewen. Hoewel Prinsloo beslis ’n juweel vir die Afrikaanse musiekbedryf is, is hy ’n produktiewe komponis wat al baie werke in ander tale gekomponeer het, maar veral in Latyn.
Hierdie artikel bestudeer Prinsloo se werk as merkwaardige voorbeeld van die gebruik van Latyn deur komponiste en kore in Suid-Afrika en ondersoek verder die waarde hiervan vir aktiewe Latiniste. Prinsloo se werk is uitsonderlik en tog is hy nie die uitsondering wanneer dit kom by ’n voorliefde vir Latyn as kunsmedium nie. Ander noemenswaardige dirigente, soos Hans Roosenschoon en Roelof Temmingh, is ook geneig om Latynse tekste te toonset (Kappis 2023:151). In ’n doktorale proefskrif oor Roosenschoon se werk vermeld Kappis (2023:72) dat Roosenschoon van mening is dat die wyse waarop Latyn op die oor val, op sigself musikaal van aard is en dat dit daarom vir hom as komponis aanloklik is. Alhoewel daar in die literatuur verwys word na die voortdurende gebruik van Latynse tekste in koormusiek in die algemeen (Lüdemann 2017; De’Ath 2016) en hoe dit posvat in die werk van sekere komponiste (Kappis 2023), is daar ’n duidelike leemte in die navorsing oor die blywende impak van Latyn op Suid-Afrikaanse koormusiek in die besonder en die voordele en praktiese uitdagings wat dirigente en komponiste ervaar wanneer hulle met Latyn omgaan. Hierdie hindernisse behels onder meer sekere praktiese kwessies rondom die korrekte uitspraak en vertolking van die Latynse tekste en hoe hierdie besonderhede oorgedra moet word aan koorlede, iets wat bemoeilik word deur ’n aanname dat dirigente en komponiste self oor hierdie kennis moet beskik sonder dat hulle noodwendig formele opleiding in hierdie verband het.
Alhoewel hierdie navorsingsprojek spesifiek aandag skenk aan Prinsloo se werk en hoe dit dien as voorbeeld van die belangrike rol en praktiese toepassing van Latyn in Suid-Afrikaanse kore, kan sy bydrae en sienings nie heeltemal losgemaak word van die ervarings van ander kore en die uitdagings wat ander dirigente in die gesig staar nie. Een van die doelwitte van hierdie artikel is om bewusmaking te skep vir die hoeveelheid werk wat in die uitvoering van ’n Latynse gesang ingaan en om beter samewerking tussen dirigente, komponiste en Latiniste aan te moedig vir hierdie belangrike, soms moeilike, dog vrugbare taak. Die navorsingsprojek bestudeer dus ook die buitengewone verhouding tussen diegene wat Latyn vir hul kuns gebruik en diegene wie se kuns Latyn is.
2. Agtergrond en geskiedkundige invloed van Latyn
Latyn speel steeds ’n aktiewe rol in koormusiek in Suid-Afrika, selfs in die 21ste eeu. Die tradisie van Westerse kerkmusiek, en veral die Rooms-Katolieke Kerk, het ’n wesenlike invloed op verskeie koortradisies gehad, en het op ’n histories vlak verseker dat kore dwarsoor die wêreld Latynse koormusiek sing (De’Ath 2016:590).4 Die Universiteit Stellenbosch se koor dien as ’n belangrike voorbeeld van die gebruik van Latyn deur Suid-Afrikaanse universiteitskore, aangesien hierdie koor deurlopend Latynse tekste met godsdienstige temas in hulle repertoria opgeneem het. Enkele voorbeelde hiervan is Exultate Deo, Agnus Dei en Nunc Dimittis.5 Hierdie koor het ook in 2020, onder die leiding van hulle huidige koordirigent, André van der Merwe, Franco Prinsloo se komposisie Salve Regina (2018) uitgevoer.6
Nie net het die teenwoordigheid van Latynse sang in die Rooms-Katolieke mis bygedra tot die behoud van Latynse liedere in eietydse kore nie, maar dit het ook die wyse beïnvloed waarop die gehoor met die Latynse tekste in hierdie liedere omgaan.7 Prinsloo (2024) het die opmerking gemaak dat mense steeds in staat is om op ’n emosionele vlak met Latynse gesange om te gaan, sonder om noodwendig die spesifieke betekenis of vertaling van die Latyn te begryp. Volgens Prinsloo het die voorkoms van Latyn in kerkmusiek daartoe gelei dat Latyn met ’n sekere mate van spiritualiteit geassosieer word. Hy beskryf ’n proses waarin gehore deur die musiek selfs tot trane gedryf kan word sonder om noodwendig die Latynse woorde te verstaan. Prinsloo het vermeld dat dit gedurende hierdie opvoerings is dat Latyn dan “’n middel word om die hemelse te fasiliteer”.
3. Latyn in Prinsloo se bydrae tot eietydse Suid-Afrikaanse koormusiek
Hoewel die geskiedkundige redes vir die behoud van Latyn in koormusiek verstaanbaar is, is die voortgesette gewildheid daarvan onder Suid-Afrikaanse kore merkwaardig. In die afgelope paar dekades blyk dit dat daar ’n geleidelike verskuiwing plaasvind wat wegdoen met sekere beperkende onderdele wat tradisioneel met koormusiek geassosieer word. Hierdie beperkings sluit onder meer in repertoria wat oorhoofs Westerse korale werke bevat, asook die uitvoering van hierdie musiek wat sonder dans of bewegings geskied. In ’n Suid-Afrikaanse konteks word hierdie aanpassings duidelik gemaak deur die inkorporering van korale musiek vanuit Suider-Afrikaanse kulture (bv. Maleis, Zoeloe, Setswana en werke wat in ander Afrikatale gekomponeer is). Die uitvoering van hierdie liedere word deesdae selfs deur tradisionele instrumente en dansbewegings vergesel (Van Aswegen en Potgieter 2010:55; Stone 2017:237, 243–5). Ten spyte van die ontwikkeling wat die genre ondergaan, vorm Latynse gesange steeds deel van Suid-Afrikaanse koormusiek. Hierdie volharding is deels te danke aan koordirigente wat steeds Latynse gesange in hulle repertoria insluit. Prinsloo is by uitstek ’n voorbeeld hiervan. Hy sluit nie net musikale werke met Latynse tekste in die repertoria van die kore wat hy dirigeer in nie, maar komponeer ook aktief musiek van verskillende genres waarvoor hy steeds van Latyn gebruik maak.8Voorbeelde hiervan sluit in Beati qui Lugent (2017), Missa brevis San Marco (2019), Cantata Modimo (2019), Salve Regina (2020), Tenebris ignis (2021) en Carpe Diem (2022), om maar net ’n paar op te noem.9
Cantata Modimo is waarskynlik een van Prinsloo se merkwaardigste werke.10 In hierdie stuk het hy verskillende gedeeltes uit die Vulgaat saamgevoeg om ’n roerende verhaal oor die skepping van die wêreld te vertel. Die hooftemas van die komposisie is soos volg: God wat asem in Adam blaas, die ondergang van die mensdom, en hoe die mens se enigste hoop en verlossing is om goed vir mekaar te wees en om vir die aarde te sorg.11 Cantata Modimo het drie primêre afdelings, en in die komposisie word vyf verskillende tale gebruik: Zoeloe, Setswana, Engels, Afrikaans en Latyn. Modimo is ’n woord in Setswana wat gebruik word om na die Here te verwys.
Die wyse waarop Prinsloo die verskillende tale benut, word geïllustreer deur sy gebruik van Genesis 2:7 in Cantata Modimo, waar hy uitdrukking gee aan die Bybelse verhaal in Zoeloe én Latyn. Die tweede beweging van Cantata Modimo is getiteld “Die tuin” (“The garden”), en handel oor die verhaal van Adam in die tuin van Eden en die sondeval. Die beweging open met ’n enkelspreker wat die skeppingsverhaal in Zoeloe beskryf, soos aangehaal uit Genesis 2:7:
UJehova uNkulunkulu wambumba umuntu ngomhlabathi,
waphefumulela emakhaleni akhe umoya wokuphila;
kanjalo umuntu waba umphefumulo ophilayo.12
Hierdie vertelling in Zoeloe word dan opgevolg deur die koor wat die Latynse weergawe van dieselfde teksvers (Genesis 2:7) sing. Die Zoeloe én die Latyn kan vertaal word as “Toe het die Here God die mens met grond van die grond gevorm en in sy neus die asem van lewe ingeblaas. So is die mens ’n lewende wese gemaak.”13 Die Latynse uittreksel lui soos volg:
Formavit igitur Dominus Deus
hominem de limo terrae, et
inspiravit in faciem eius spiraculum
vitae, et factus est homo in
animam viventem.14
Prinsloo gebruik Afrikaans in die laaste gedeelte van “Die tuin” om die opdrag wat aan die mens gegee is om na die aarde om te sien, uit te druk. Hiermee gebruik Prinsloo ’n antieke opdrag om die kwessie van besoedeling en misbruik van natuurlike hulpbronne aan te spreek. Dit is ’n saak wat nie net vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor van belang is nie, maar dit is ’n kwessie wat in die 21ste eeu wêreldwyd ervaar word. Die betrokke Afrikaanse teks in Cantata Modimo lui soos volg:
God het die mens in die tuin laat woon om dit op te pas en te bewaar.
Ek het julle gebring na ’n land vol bome,
maar julle het die tuin wat aan my behoort verneder en besoedel.
Jy mag nie die land waar julle woon besoedel nie
want Ek self woon ook daar.
In die laaste beweging van die musiekstuk, “Aegiptus in Desolatione & Finale”, word die verskillende tale almal saamgevoeg om die lewensbelangrike begrip ubuntu te beklemtoon en om Suid-Afrika se uiteenlopende dog verenigde identiteit te illustreer. Deur die alombekende “Cantate Domino” na “Cantata Modimo” te verander beklemtoon Prinsloo Suid-Afrika se besonderse korale tradisie en onderstreep hy terselfdertyd dat “Latyn nie net vir ’n spesifieke groep mense is nie, want dit behoort nou aan almal” (Prinsloo 2024).
4. Prinsloo se siening oor die aanloklikheid van Latyn vir kore, dirigente en komponiste
Prinsloo (2024) het gewys op twee primêre redes waarom die meerderheid beroemde komponiste steeds Latyn gebruik. Hierdie motiverings behels meer as blote godsdienstige ideologie. Hy verduidelik dat dit eerstens ’n kwessie van duidelike vokaalproduksie is en tweedens dat Latyn tot ’n sekere mate ’n kommunikasiemedium of lingua franca van kuns geword het. Hy merk op dat Latyn, ten spyte van sekere streeksgebonde uitspraakverskille met betrekking tot Latynse tekste, steeds ’n toeganklike taal vir dirigente is om mee te werk en vir kore om te sing. Dit is omdat Latyn gebruik maak van ’n baie eenvoudige vokaalsisteem, A/E/I/O/U, wat ’n duidelike klank en suiwer toon produseer. Latyn laat dus toe vir vokaalproduksie in die bel canto- (“pragtige sangstem”-) sangstyl (Human 2005:38). Prinsloo se mening rakende die gehoor se emosionele betrokkenheid by die musiek wat uitgevoer word, laat dit duidelik blyk dat Latyn ’n medium is waarmee ’n koordirigent die sentiment en betekenis van die musiek kan uitdruk sonder dat formele of volledige vertalings verskaf word.
Prinsloo verduidelik verder dat Latynse koormusiek dikwels anders is as dié van koormusiek wat gesing word in tale wat vandag steeds as gebruikstale geag word. Dit verskil in dié sin daarvan dat die musiek, eerder as die lirieke, van groter belang is wanneer Latynse liedere gesing word. Die Latynse tekste speel nou ’n ander, ietwat sekondêre, rol. Dit is in teenstelling met die genre van die kunslied, waarin die taal en die musiek ewewigtig is.15 In koorsang is die musiek dus geneig om effens belangriker te wees as die letterlike teks. Prinsloo voer aan dat terwyl ’n mens byvoorbeeld nie al die kompleksiteite van die kleur pienk hoef te verstaan om iets daarmee in te kleur nie, dit ongetwyfeld waar is dat elke kunstenaar ten minste oor ’n mate van kennis en beheer oor hulle medium moet beskik om dit op ’n wyse te kan aanwend wat die gewenste uitwerking het. Die rol wat taal speel in die uitvoering van ’n korale werk, word veral ’n probleem wanneer koormusiek gekomponeer word in ’n taal wat uit komplekse vokaalsisteme bestaan, in besonder wanneer die taal deurspek is met tweeklanke, soos in die geval van Engels en Afrikaans.16
Deur Latynse tekste vir musikale komposisies te gebruik word komponiste soos Prinsloo verder in staat gestel om hulle werke aan ’n breër gehoor bekend te stel om sodoende ook hul komposisies geskik te maak vir uitvoering deur internasionale kore. Prinsloo se een komposisie, Salve Regina, is ’n belangrike voorbeeld hiervan, aangesien die werk reeds deur nie minder nie as 300 kore dwarsoor die wêreld gesing is. Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot, lande soos Japan, verskeie Afrika-lande, baie Europese lande, China en Amerika, en selfs die Filippyne. Terwyl Salve Regina met ’n gestandaardiseerde Westerse teks gekomponeer is, beklemtoon kore en hul koorleiers in hedendaagse Suid-Afrika toenemend Suid-Afrika se buitengewone en uiteenlopende korale tradisies (Van Aswegen 2011). Gevolglik vestig Suid-Afrikaanse kore nou hulle aandag op ’n breër repertorium wat toelaat vir meer as net tradisionele Westerse koormusiek (Van Aswegen 2011:3–4).
Prinsloo se Cantata Modimo (2019) is ’n waardevolle voorbeeld van hierdie uitbreiding. Terwyl Suid-Afrikaanse kore wel sekere uitdagings in kommunikasie en taalhindernisse in die gesig staar as gevolg van ons land se ryk kulturele en taaldiversiteit (Barrett en Vermeulen 2019:50), kan Latyn in die konteks van koormusiek ’n versoenende rol speel. Die rede hiervoor is dat dit ’n instrument en kunsmedium is wat met betreklike gemak deur ’n verskeidenheid individue van verskillende kulturele en sosio-ekonomiese agtergronde gebruik kan word, selfs oor ouderdomsgroepe heen. Vir ’n internasionale oogpunt: In Julie 2024 is Franco Prinsloo se Salve Regina uitgesoek vir die debuutkonsert van die Voices of Singapore Youth Choir tydens ’n optrede waarin hulle die geleentheid gegun is om saam met VOCES8, ’n bekroonde Britse vokale ensemble, te sing (Tan en Lee 2024).
Die waarde van Latyn vir dirigente in terme van internasionale blootstelling kan ook gesien word in Prinsloo se komposisie Carpe Diem (2022), wat ’n toonsetting is van die Romeinse digter Horatius se bekende Carpe Diem-gedig (Hor.Od.1.11). Prinsloo het ’n opdragwerk van ’n Italiaanse jeugkoor in Suid-Tirool ontvang. Hy is deur hulle dirigent Johann van der Sandt gevra om ’n musiekstuk te komponeer wat moedwekkend sou wees vir die koor tydens die Covid-inperkings. Volgens Prinsloo (2024) was hy geïnspireer deur die Romeinse digter Horatius se bekende slagspreuk “Carpe diem” (“Gryp die dag aan”), en het toe besluit om die gedig in sy geheel te ondersoek (Hor.Od.1.11):17
Tu ne quaesieris, scire nefas, quem mihi, quem tibi
finem di dederint, Leuconoe, nec Babylonios
temptaris numeros. ut melius, quidquid erit, pati.
seu pluris hiemes seu tribuit Iuppiter ultimam,
quae nunc oppositis debilitat pumicibus mare
Tyrrhenum: sapias, vina liques et spatio brevi
spem longam reseces. dum loquimur, fugerit invida
aetas: carpe diem quam minimum credula postero.
Dit kan in Afrikaans so vertaal word:
Jy moet liefs nie uitvra, Leukonoë, mens moenie weet nie:
watter noodlot die gode op my, op jou laat wag.
Hou jou ook nie besig met sulke Babiloniese sommetjies nie;
hoeveel beter is dit nie om wat ook al gebeur, net te verduur.
Dalk stuur Jupiter nog vele winters, dalk is dié ons laaste een
wat nou die Tirreense See op die oorkantste rotse uitput.
Wees wys, giet jou wyn, en knip jou langtermynhoop kort – die tyd is min.
Soos wat ons hier nog staan en praat, is tyd, daai gierigaard, reeds op hol.
Pluk die dag en vertrou so min as moontlik op die dag van môre.
Deur hierdie gedig van Horatius te toonset, laat Prinsloo ’n proses van eiening geskied. Prinsloo, ’n eietydse Suid-Afrikaanse komponis, het ’n twee millennia oue teks (c. 23 v.C.) gebruik om in die moderne tyd iets inspirerend aan ’n jeugkoor van ’n ander land en kultuur te verskaf. Hieruit blyk dit duidelik dat Latyn nie net tot ’n spesifieke era en aan ’n spesifieke groep mense behoort nie, maar dat dit iets is wat steeds ’n bydrae in die 21ste eeu lewer, en dat dit ’n merkwaardige rol in koormusiek speel. Lüdemann (2017:584) merk ook op dat dit besonders is dat Suid-Afrikaanse komponiste Latynse tekste in hul musiek inkorporeer; hy voer as rede hiervoor aan dat Latyn nie meer ’n taal is wat aan ’n spesifieke kultuur of groep mense nie gebonde is, en dus nie die komponis in gevaar van kulturele wantoe-eiening stel nie. Hierdie opvatting word verder bevestig deur die bydrae van komponiste soos Roosenschoon en Temmingh, wat gereeld Latynse tekste toonset vanweë die meer neutrale aard van Latyn binne ’n meertalige Suid-Afrikaanse konteks (Kappis 2023:151). Hierdie artikel wil egter hierby die oogpunt voeg dat Suid-Afrikaanse komponiste Latyn gebruik nie net omdat dit betreklik veilig is nie, maar ook omdat dit uitsonderlik waardevol is. Prinsloo daag die grense van koormusiek uit, brei toegang tot Latyn uit, en is selfs vindingryk met betrekking tot nuwe wyses waarop die taal aktief gebruik kan word. Hy maak ook gebruik van koormusiek en die beoefening daarvan om dinamiese en inklusiewe ruimtes vir kunstenaars en koorlede te skep.
5. Prinsloo oor uitspraak en vertolking
In die gesprek met Prinsloo het dit duidelik geword dat die bepalende kenmerke van die kooroefeninge wat onder sy leiding geskied, en veral sy benadering tot die onderrig van Latyn, die volgende behels: die herhaling van Latynse woordeskat, verwantskapvorming met ander Latynse woorde en selfs ander tale, en bowenal, humor. Een van die sleutelaspekte wat Latyn meer toeganklik maak vir koorlede, is die musikale omgewing en meer informele wyse waarop die koorlede met die taal kan omgaan. Prinsloo dui sy ondersteuning van hierdie stelling aan deur die opmerking te maak dat koorlede nie daar is om op al die besonderhede van die Latyn te fokus nie, maar eerder om te leer hoe Latyn tot hulle vertolking en uitvoering van die musiek bydra.
Nog ’n belangrike kwessie wat Prinsloo aanspreek, is die noodsaaklikheid om jonger kinders by te staan met behoorlike vokaalproduksie en vokaalvorming (kyk ook Smith en Sataloff 2013:189–90, 257–9). Prinsloo is van mening dat kinders wat onderrig word om Latynse koormusiek te sing, beter toegerus is om woorde in ander tale (soos Engels en Afrikaans) met groter gemak en duidelikheid uit te spreek, vanweë die vokaalproduksie wat betrokke is by die uitspraak van Latyn. In ’n artikel wat handel oor die pedagogie van vokaalvaardighede, voer Spurgeon (2004:28) ook aan dat dit noodsaaklik vir koordirigente is om ’n breedvoerige begrip te hê van hoe ’n mens se stem werk. Dit geld veral wanneer dirigente met jong koorlede werk, aangesien hulle dikwels primêr afhanklik is van die sangopleiding wat deur hul koordirigente verskaf word (Spurgeon 2004:28). In ooreenstemming hiermee lewer Prinsloo kommentaar op die noodsaaklikheid daarvan dat kinders hulle verhemeltes op ’n jong ouderdom behoorlik moet ontwikkel. Prinsloo (2024) voer verder aan dat Latyn juis dan ’n uiters doeltreffende hulpmiddel word wat koordirigente in hierdie proses bystaan. Jong kinders in Suid-Afrika kan dus nie net met die korrekte afrigting in Latyn sing nie, maar die kinders self baat daarby om te leer hoe om in Latyn te sing.
Die vertaling en interpretasie van Latynse tekste dra ook grootliks by tot die interpretasie en vertolking van korale werke. Tans is dirigente soos Prinsloo dikwels op hulself aangewese om die betekenis van Latyn aan hulle koorlede te verduidelik, ongeag hulle eie opleiding en kundigheid in die taal. Dit is ook die dirigent se verantwoordelikheid om die korrekte vorm van Latynse uitspraak te kies. Die korrekte uitspraak van ’n Latynse woord lewer ’n wesenlike bydrae tot die betekenis en vertolking van ’n Latynse teks, hetsy dit in die opvoer van Latynse digkuns is of in die uitvoering van ’n stuk Latynse koormusiek. Vollmann (2011:69) skryf hoe belangrik dit is dat diegene wat Latyn leer, opgelei moet word om die woorde reg uit te spreek en die Latynse gedigte in die toepaslike metrum met die korrekte intonasie en artikulasie voor te dra. Volgens Vollmann (2011:69) is die ervaring van ’n Latynse gedig aanhoor sonder die bogenoemde aspekte, vergelykbaar met “’n soen oor die foon” (my vertaling).
Alhoewel hierdie benadering oorspronklik op Latynse digkuns toegespits was, is dit tot ’n groot mate ook op Latynse koormusiek van toepassing, ongeag of die Latyn ’n sekondêre rol in die uitvoering speel in vergelyking met die musiek. Ek voer aan dat sekere onderdele van Latynse digkuns, soos metrum en tempo, in ’n korale werk deur die musiek onderskep word en dat die kernaspekte soos artikulasie en uitspraak van die woorde (so ook in die geval van prosatekste) nie hulle waarde deur die toonsettingsproses verloor nie. Dit is dus belangrik dat ’n koor sorgvuldig omgaan met die uitspraak van ’n Latynse teks in hulle uitvoering daarvan. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat daar ’n onderskeid getref moet word tussen die uitspraaknorme van Latyn as gesproke taal en Latyn as sangtaal.
Volgens Prinsloo word die korrekte uitspraakstyl van ’n Latynse teks bepaal deur die oorsprong van die stuk of die dirigent. Die primêre norme vir Latynse diksie in koormusiek is gewoonlik Italiaans, Frans of Duits. Alhoewel dirigente byvoorbeeld dikwels die Italiaanse uitspraaknorme verkies, moet die koor eerder die Latynse uitspraaknorme in Duits volg wanneer hulle ’n werk van Hildegard von Bingen uitvoer.18 As dit die werk van ’n moderne komponis is, kies dirigente dikwels die uitspraakstyl wat die aard van die musiek die beste beklemtoon. Waar Latiniste dikwels óf klassieke óf kerklike uitspraaknorme volg, is die uitspraak in die konteks van koormusiek gebaseer op die teks se herkoms en verwante taalnorme, of dit nou Italiaans, Frans of Duits is. De’Ath (2016:589) voer aan dat die herkoms van ’n komponis baie belangrik is vir die praktiese uitvoering van ’n korale werk wat op ’n Latynse teks getoonset is, omdat die uitspraak van die Latyn onopsetlik en onvermydelik beïnvloed word deur sekere uitspraaknorme van die betrokke volksmond. Die regulering van die korrekte Latynse uitspraak word verder bemoeilik deur die feit dat Latyn nie juis meer as algemene gebruikstaal funksioneer nie.
Die verskynsel van tale wat steeds aktief gebruik word binne die raamwerk van musikale taaldomeine, word ook deur Lüdemann (2017:584) opgemerk. In sy artikel wat handel oor die voortbestaan van Afrikaans, voer Lüdemann (2017:584) aan dat sangmusiek as ’n taaldomein beskou kan word, wat toelaat dat selfs ’n antieke taal soos Latyn kan voortbestaan. Binne hierdie taaldomein van musiek is tale soos Latyn, en selfs hedendaagse tale soos Afrikaans en Engels, onderworpe aan sekere gebruike, uitspraaknorme en ’n eie stel taalkonvensies, alhoewel dit nie noodwendig altyd in ooreenstemming sou wees met die norme en gebruik van daardie selfde taal in ander domeine en in ander kontekste nie (Lüdemann 2017:584).19 Prinsloo se verduideliking van Latynse uitspraaknorme binne ’n korale konteks getuig hiervan.
Die kwessie van die korrekte Latynse uitspraak kies vir korale werke, word ook opgemerk deur De’Ath (2016:589) in ’n artikel wat die behoefte beklemtoon aan beter leiding en meer formele onderrig vir koordirigente wat met Latynse tekste werk. Hierdie omstandigheid onderstreep ’n duidelike behoefte aan Latynse onderrig en opleiding vir koormusikante, wat spesifiek daarop gemik is om Latyn meer toeganklik vir dirigente en hulle kore te maak. In ons gesprek het Prinsloo uiteengesit op watter wyses ’n dirigent musiekstukke moet kies, veral in Latyn, wat geskik is vir die koor se vaardigheidsvlak. Hy merk op dat die moeilikheidsgraad aangepas kan word deur tekste te kies wat wissel in kompleksiteit van toon, woordeskat en lengte. Een van die kenmerke van Latynse koormusiek wat dit aantreklik vir dirigente maak, is dat daar baie gestandaardiseerde stukke is met slegs ’n paar eenvoudige woorde in Latyn wat deur die stuk herhaal word. ’n Voorbeeld hiervan is Sanctus, waarvan die teks vereenvoudig kan word na “Sanctus, Sanctus, Dominus Deus Sabaoth. Pleni sunt cæli et terra maiestatis gloriæ tuæ.” As die komponis of dirigent ’n voldoende begrip van Latyn het, kan hy of sy selfs die Latynse teks verleng of verkort in ooreenstemming met die vlak en vaardigheid van die koor, of dit nou ’n universiteit- of ’n jeugkoor is.
Wanneer ’n dirigent die geleentheid kry om met ’n meer gevorderde koor te werk wat koorlede insluit wat oor ’n mate van voorkennis van Latyn en ander tale beskik, is die dirigent in staat om met tekste en komposisies te werk wat heelwat meer gevorderd is. Prinsloo het opgemerk dat wanneer hy saam met Vox Chamber Choir werk, hy die geleentheid het om die Latynse tekste te ontleed en selfs Latyn se verskyning in ander tale waarmee die koorlede meer vertroud is, te bespreek, byvoorbeeld Afrikaans en Engels. Tydens ons gesprek het Prinsloo talle humoristiese staaltjies oor hierdie proses vertel wat getuig van die feit dat Latyn-leer nie net groot pret kan wees nie, maar dat humor en genot ook ’n integrale deel van die sukses van opleiding in Latyn kan wees.
Alhoewel Prinsloo ook van mening is dat Latyn meer artefak as taal is, aangesien Latyn selde as ’n aktiewe gesproke taal in die alledaagse lewe gebruik word, blyk dit duidelik dat Latyn nie bloot iets is wat in ’n glaskas toegesluit is nie. Daar word inderdaad met Latyn op ’n wisselwerkende vlak omgegaan, en dit word op ’n speelse wyse aangebied en aktief gesing. Hoe meer kennis musikante van Latyn bekom, hoe meer verryk dit hulle kennis van hulle kunsmedium en word hulle vermoëns geslyp om Latynse liedere te vertolk en uit te voer. Hierdie artikel bevind dus dat Latyn steeds ’n baie aktiewe rol speel in die praktyke en uitvoering van Suid-Afrikaanse koormusiek.
6. Belangrikste bevindings
Op ’n sekere punt in die onderhoud het Prinsloo ’n ervaring gedeel oor ’n gesprek wat hy met een van sy kore gehad het toe hy die verskillende vorme van die Latynse woord spiritus bespreek het, en hoe dit na beide “gees” en “asem” kan verwys. Hy het verduidelik hoe die koorlede die Latynse taal begin verstaan en met groter vrymoedigheid daarmee omgegaan het sodra hulle gesien het hoe die verskillende Latynse woorde wat hulle voorheen teëgekom het, met mekaar ineenskakel. Dit geld veral vir woorde wat dieselfde wortels en soortgelyke betekenisse het. Die koor se kennismaking met die Latynse woord spiritus is ’n voorbeeld hiervan. Spiro beteken “om asem te haal”, inspiro “om lug en lewe in iets te blaas”, en expiro “om uit te asem en sodoende om ’n mens se laaste asem uit te blaas”. Of, om Prinsloo se woorde te gebruik, “om die gees te gee”. Hoewel Prinsloo hierdie stelling grappenderwys gemaak het, dra dit baie gewig. Een van die belangrikste bevindings van hierdie navorsingsprojek is dat, ondanks die feit dat Latyn deur die publiek dood verklaar word, dit steeds baie lewend is in die geheiligde gange van koormusiek wat dan na skole, huise en die alledaagse lewe deurdring. Prinsloo merk op dat wanneer die koor die betekenis van die Latynse teks kan begryp, hulle in staat is om die koormusiek te interpreteer en te sing met ’n begrip wat verder strek as blote vertaling. Dit is belangrik om daarop te let dat die doeltreffendheid en sukses waarmee die koor Latyn kan gebruik, hetsy vir interpretasie van die musiek of duidelike vokaalproduksie, grootliks afhang van die kennis en opleiding van hulle dirigent. Hoewel dit verwag word, selfs noodsaaklik is, dat ’n dirigent Latyn tot ’n sekere mate verstaan, het Suid-Afrikaanse koordirigente nie noodwendig toegang tot die regte opleiding en hulpbronne wat nodig is vir goeie Latyn-kennis nie.20
7. Gevolgtrekking
Hierdie artikel spreek die behoefte aan beter kommunikasie tussen Latiniste en koormusikante aan deur ’n dialoog tussen Latynse vakkundiges en Suid-Afrikaanse kore in te lei. Ek voer aan dat groter samewerking tussen Latiniste en dirigente van Suid-Afrikaanse kore ’n wedersyds voordelige onderneming sal wees. ’n Meer omvattende kennis van Latyn sal koorlede in staat stel om met groter begrip te sing en die musiek met dieper insig te vertolk. As gevolg van die algemene gebruik van Latyn deur kore in Suid-Afrika, is Latyn nie meer beperk tot universiteitsklaskamers, kerke of howe nie; dit weerklink in huise, skole, musiekteaters en openbare ruimtes wat vir almal toeganklik is. Daar is ’n merkbare leemte in die literatuur oor hierdie onderwerp, wat ’n buitengewone geleentheid bied vir musikante en Latiniste om mekaar se kennis rakende die verskillende toepassings van Latyn uit te brei. Deur met die kunstenaars van Suid-Afrika se koortradisie in gesprek te tree, kan Latyn-praktisyns ’n betekenisvolle impak buite die akademie maak en tot ’n lewendige en noodsaaklike deel van die land se ryk kultuurerfenis bydra.
Bibliografie
Abrahams, F. en P.D. Head (reds.). 2017. The Oxford handbook of choral pedagogy. New York: Oxford University Press.
Barrett, M. en D. Vermeulen. 2019. Drop everything and sing the music: Choristers’ perceptions of the value of participating in a multicultural South African university choir. Muziki: Journal of Music Research in Africa, 16(1):31–60. DOI: 10.1080/18125980.2019.1611384.
Bouws, J. 1964. Die Universiteitskoor onder leiding van Philip McLachlan. Matieland, 2:16.
Copeman, H. 1990. Singing in Latin. Oxford, selfpublikasie.
De’Ath, L. 2016. The Latin problem: How much does a singer really need to know? The Choral Journal, 57(5):20–39.
Fishman, J.A. 1965. Who speaks what language to whom and when? La Linguistique, 1(2):67–88.
Human, K. 2005 [1992]. Die A tot Z van klassieke musiek. Kaapstad: Human & Rousseau.
Kappis, J.A. 2023. Hans Roosenschoon’s choral music. DMus-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Kimball, C. 2013. Art song: Linking poetry and music. Milwaukee: Hal Leonard.
Lüdemann, W. 2017. Afrikaans en musiek. Kantaantekeninge van iemand wat aan die kant teken. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2/2):581–95. DOI: 10.17159/2224–7912/2017/v57n2–2a6.
Owens, M. en G.F. Welch. 2017. Choral pedagogy and the construction of identity: Girls. In Abrahams en Head (reds.) 2017.
Prinsloo, F. 2019. Cantata Modimo. Bladmusiek direk deur komponis verskaf.
—. 2024. Die rol van Latyn in Suid-Afrikaanse kore. Onderhoud deur die artikelskrywer via Teams video-oproep, 27 Augustus.
Smith, B. en R.T. Sataloff. 2013. Choral pedagogy. San Diego: Plural Publishing.
South African composers: Prinsloo, Franco. Universiteit van Pretoria. https://www.up.ac.za/sacomposers/article/2756314/prinsloo-franco (15 April 2025 geraadpleeg).
Spurgeon, D. 2004. Vocal pedagogy skills for the undergraduate choral conductor. Journal of Music Teacher Education, 13(2):28–33. DOI: 10.1177/10570837040130020105.
Stainer, J. en W.A. Barrett. 2009 [1876]. A dictionary of musical terms. Cambridge: Cambridge University Press.
Stone, M.S. 2017. Striving for authenticity in learning and teaching black South African choral music. In Abrahams en Head (reds.) 2017.
Tan, A. en M. Lee. 2024. “VOCES8: Twenty!” Concert. 26 September 2024. https://theurbanwire.sg/access-granted-voces8-twenty-concert (15 April 2025 geraadpleeg).
Unger, M.P. 2010. Historical dictionary of choral music. Lanham, MD: Scarecrow Press.
Van Aswegen, R. 2011. Children’s choral repertoire: Hearing the voice of South African composers. Musicus, 39(1):6–19.
Van Aswegen R. en H. Potgieter. 2010. Folk music for children’s choirs: the challenges and benefits of cultural diversity. Journal of the Musical Arts in Africa, 7(1):51–78. DOI: 10.2989/18121004.2010.619687.
Vollmann, A.P. 2011. Latin out loud: Performing poetry in the classroom. The Classical Outlook, 88(3):69–78.
Eindnotas
1 Hierdie artikel is gebaseer op ’n referaat wat op 27 September 2024 by die Leer-en-Onderrig-indaba van die Klassieke Vereniging van Suid-Afrika in Bloemfontein aangebied is.
2 Meneer Prinsloo het in ’n etiese klaringsdokument vir my sy skriftelike toestemming gegee om sy naam, asook die onderhoud wat ons op 27 Augustus 2024 gevoer het, vir hierdie artikel te gebruik.
3 Prinsloo het musiek aan Noordwes-Universiteit studeer. Hy was ook ’n lid van die PUK-koor (Noordwes-Universiteitskoor) onder leiding van Awie van Wyk.
4 ’n Ander Westerse kerke wat koormusiek in Suid-Afrika beïnvloed het, is die Anglikaanse Kerk. Vir meer inligting oor die rol van kerkmusiek en die invloed daarvan op Latynse koormusiek, kyk Unger (2010:2–5).
5 Onder leiding van Philip McLachlan (1916–1983), wat van 1956 tot 1976 hulle dirigent was, het die US-koor talle Latynse koorwerke uitgevoer. Hierdie voorbeelde kan gevind word op hul vinielplaat wat in 1964 vrygestel is. Vir meer inligting oor die vrystelling van hierdie vinielplaat, kyk Bouws (1964). Die US-koor het Agnus Dei en Nunc Dimittis onder leiding van Johan de Villiers op hul vinielplaat wat in November 1977 opgeneem is, uitgevoer. In 1984 het die US-koor ’n vinielplaat vrygestel ter ere van Johan de Villiers, wat van 1977 tot 1984 die koordirigent was. Hierdie plaat (opgeneem op 1 Desember 1984) bevat minstens ses Latynse koorgesange. Hoewel daar beslis meer opnames beskikbaar is van die US-koor wat koormusiek in Latyn uitvoer, is dit die plate waartoe ek direkte toegang gehad het ten tye van die skryf van hierdie artikel.
6 Salve Regina is ’n Latynse loflied oor die Maagd Maria.
7 Owens en Welch (2017:174) vermeld ook dat sekere wêreldberoemde kerkkore, soos die seunskoor van Westminster se katedraal, se kenmerkende klank en tonale gehalte deels te danke is aan hulle repertoria wat deurspek is met Latynse gesange.
8 Prinsloo verkry die Latynse tekste vir sy komposisies hoofsaaklik vanuit die Vulgaat (die Latynse Nuwe Testamentiese teks). Hy maak ook gebruik van gestandaardiseerde tekste, soos Salve Regina en Lacrimosa. Prinsloo het egter meer onlangs begin werk met teksgedeeltes uit die Odes van die Romeinse digter Horatius.
9 Missa brevis San Marco is ’n korale werk wat Prinsloo vir sy een koor genaamd Vox Chamber Choir gekomponeer het ter geleentheid van hulle optrede in die Basiliek van St. Markus in Venesië in 2019. Tenebris Ignis is ’n instrumentale werk vir viool en klavier, uitgevoer deur Laura Pauna en Waldo Luc Alexander.
10 ’n Cantata is ’n musikale werk wat vir sang en instrumente gekomponeer is wat ook as ’n kort oratorium beskou kan word (Stainer en Barrett 2009:72). Vir die definisie van oratorium kyk Human (2005:174).
11 I: “Modimo o thlola lobopo le motho”, II: “Die tuin”, III: “Aegiptus in Desolatione & Finale”.
12 Uittreksel uit Cantata Modimo wat gebruik maak van Genesis 2:7 soos dit verskyn in die Zoeloe-vertaling van 1959.
13 Alle vertalings is my eie, tensy anders aangedui.
14 Die Latynse teks in Cantata Modimo is ’n aanhaling uit Genesis 2:7 soos dit in die Vulgaat verskyn.
15 Kimball (2013:1) beskryf ’n kunslied as ’n buitengewone kombinasie van musiek en digkuns wat belangrike onderdele soos klank, artikulasie, klem, tempo en ritme uit beide kunsmedia geneem het om opnuut ’n weergawe van die teks te skep wat nie meer afsonderlik van die musiek ten volle waardeer kan word nie. In ander genres kan óf die musiek óf die teks die belangrikste rol speel, maar die uitvoering van die kunslied vereis wederkerige samewerking van die twee elemente.
16 Volgens Prinsloo verkies die kore van sekere lande, soos die Filippyne, om werke in ’n taal soos Latyn uit te voer, in teenstelling met Engels, as gevolg van die eenvoud van Latyn se standaardreëls vir vokalisering.
17 “Gryp die dag aan” is die populêre vertaling vir “Carpe diem”, alhoewel “Pluk die dag” ’n meer letterlike vertaling sou wees.
18 In 1990 het Harold Copeman ’n boek gepubliseer wat probeer het om die oorvloed van verskillende koor-Latynse uitspraaknorme te konsolideer. Hierdie gids, hoewel waardevol en deeglik, slaag steeds nie daarin om ’n toeganklike en voldoende gids vir Latynse diksie vir die uitvoer van koormusiek te verskaf nie. Vir meer inligting oor Copeman se bydrae, kyk De’Ath (2016:589).
19 Vir meer inligting oor die gebruik van die taalkundige begrip wat ons in Afrikaans met die term taaldomein verwoord, binne ’n meertalige konteks, kyk Fishman (1965).
20 Die internasionale aard van hierdie probleem word ook uitgespreek deur De’Ath (2016).
- Hierdie artikel se fokusprent is geskep deur David Beale en is verkry op Unsplash.
| LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |


Kommentaar
Briljante artikel! Goeie navorsing!
Ek het Latyn op hoërskool en tot aan die einde van my tweede jaar op Universiteit gehad. Ek het dit later as didaktiekvak vir HOD-nagraads geneem, alhoewel ek dit nooit aangebied het nie. Ek het baie baat gevind daarby in kursusse in Spaans en Frans, en die uitspraak van klassieke komponiste se werke tydens my tydperk as aanbieder van klassieke musiek by 'n gemeenskapsradiostasie.