Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Moordballades: en ander minder vrolike verse uit die Groot Vreseboek deur Chris du Plessis – ’n resensie

  • 0

Chris du Plessis tydens sy vertoning, Moordballades: en ander minder vrolike verse uit die Groot Vreseboek, by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch (Woordfees 2025)

Afrikaans is die mooiste gebek daar waar die taal – ’n buiteperd in eie reg – stof opskop teen die stelsel.

Die mediaveteraan Chris du Plessis verhaal in sy one-man talking blues show gedigte uit die eerste en tweede Afrikaanse taalbewegings die anti-held se eksistensiële angs oor die mensdom se agteruitgang.

Die vertoning is gestroop: Dit is Du Plessis op ’n stoel met kitaar en bekfluitjie en stapels vol verse en staaltjies oor die verse, die skrywers en die omstandighede van die tyd. So vertel hy byvoorbeeld dat NP van Wyk Louw hiper-ingestel was op ’n soort “kosmiese kraking [wat] terug herlei na die skeuring van ons land” en speel daarna ’n blues-interpretasie van “Die beiteltjie”. Daarna brei hy uit oor C Louis Leipoldt – duidelik nog ’n gunsteling vanweë dié se verse wat, uit Du Plessis se perspektief, oneer aangedoen word deur ’n volkstrotse sentiment wat te veel daarin verbeel word. Du Plessis verduidelik dat Leipoldt beskou is as “pro-Boer, en veral anti-Brits”, maar dat hy veral “anti-oorlog as ’n geheel” was. Sy verse het gedruis teen “angst en bloedvergieting” en hy is eerder “meer ’n Bob Dylan van ons Afrikaanse taal as ’n patriotiese Yeats”.

Du Plessis se toonsettings wissel deurlopend tussen blues en Keltiese tradisionele folk wat herinner aan ander vergete helde, soos die Skotse Bert Jansch. Later word DF Malherbe se “Boere-sosialisme”, waar die digterstem homself in die skoene plaas van ’n “modderige trekarbeider”, getoonset in ’n maskandi-geïnspireerde reggae-styl.

......
Dié vertoning, kompak en kwalik langer as ’n uur, is veel meer as ’n lukrake wandeling deur ’n verseboek of song book. Elke lied is ’n laai wat oopgaan – dit is die tipe studienotas wat soos etnografiese rekords van ’n vervloë era lae en gestaltes van geskiedenis ryker en ruimer vertel, en jou inlaat op geheime en inside jokes.
......

Dié vertoning, kompak en kwalik langer as ’n uur, is veel meer as ’n lukrake wandeling deur ’n verseboek of song book. Elke lied is ’n laai wat oopgaan – dit is die tipe studienotas wat soos etnografiese rekords van ’n vervloë era lae en gestaltes van geskiedenis ryker en ruimer vertel, en jou inlaat op geheime en inside jokes. Hier kom verse voor wat tussen 150 en 70 jaar oud is, en Du Plessis vertel dat sy leermeesters Andre P Brink en Tim Huisamen sy belangstelling in dié era van Afrikaanse poësie by hom gekweek het. Mens sit in verwondering oor Du Plessis se diepgaande kennis – en ook veral oor hoe ekonomies hy met sy vertellings omgaan. Hoe vól Afrikaans kan wees, hoe poëties eksplisiet – en kosmies. Du Plessis eggo die digters wat aan woord is; daar is geen oordaad nie.

Chris du Plessis tydens sy vertoning, Moordballades: en ander minder vrolike verse uit die Groot Vreseboek, by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch (Woordfees 2025)

So ’n rebelse buiging op ’n verhoog kan ook beswaarlik sonder stewige happe humor geskied. Hierin lê Chris du Plessis se showmanship; dit is sy grappe wat so slim land en wat mens die Groot Verseboek laat herbesin. En wat is ’n meer effektiewe wyse as tunes om ’n gekaapte ou soos Van Wyk Louw te revisit as ’n anti-held, en wat is dan ’n meer gepaste register as rock ’n roll?

’n Persoonlike hoogtepunt was ’n gunsteling- musikale verwysing en die onwaarskynlikheid dat ’n vers (anoniem) oor ’n “ou boer se twyfelagtige verhouding met sy perd” daarmee versoen word. Die lied heet “Mijn bruine oge”, wat Du Plessis skertsend “onbeskaamd op ’n Bo Diddley beat” inlei.

......
Om hierdie verse op so ’n manier te laat herlewe is ’n totale punk-pothou en maak ons armes ryker.
......

Later is hy terug by Leipoldt. Hy verduidelik dat hy homself wil “vrywaar van die patriotiese konnotasie”, want die gedig spreek tot hom “uitsluitlik oor die lyding van vrouens en kinders in konsentrasiekampe”. Hier, met die refrein wat herhaal: “geduld, o geduld / wat so baie kan dra” hoor mens opnuut nie ’n pynvolle versugting oor die volkie wat sou herrys in sy volle christen-nasionale glorie nie, maar eerder ’n universele grootsheid van gees wat op onpeilbare wyses bly woed teen ongebreidelde imperialisme en uitwissing.

Om hierdie verse op so ’n manier te laat herlewe is ’n totale punk-pothou en maak ons armes ryker. Dit laat mens uiteraard ook dink aan die skandalige gebrek aan goeie lirieke in Afrikaans vandag.

Lees ook:
 

Toyota Stellenbosch Woordfees: Sonografie: grepe in roots en blues – ’n Instagram-resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Kruger en Tutu: Wit, swart en volkleur serenades – ’n foto-essay

Toyota Stellenbosch Woordfees: Die helfte is verby, maar die helfte lê nog voor ook

Toyota Stellenbosch Woordfees: Huis van sand

Toyota Stellenbosch Woordfees: The ugly noo noo

Toyota Stellenbosch Woordfees: Annie+Helen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top