Die 25ste Toyota Stellenbosch Woordfees is nog tot Sondag aan die gang en word in lokale regoor die dorpskern en op wynplase en in skoolsale in die woonbuurte om die dorp aangebied. Daar is kuns, voorlesings, dans, komedie, teater, musiek en boekbekendstellings en lekker kuierkafees in die feeskern om na RSG-uitsendings en gesprekke te luister, of aan vasvra’s deel te neem of net met ’n glas wyn of koffie te ontspan.
Tarina Jordaan is Saterdagaand uit 371 inskrywings aangewys as wenner van die Stellenbosch Woordfees se tiende jaarlikse kortverhaalkompetisie. Jordaan kry altesaam R30 000 met die komplimente van EasyEquities, en elke skrywer wat in die bundel opgeneem word, ontvang R5 000, asook ’n EasyEquities-beleggingsrekening met R500 om te belê. Altesaam 23 verhale is in die bundel opgeneem met die titel Deel, wat aansluit by die feestema en is ’n viering van 25 jaar van stories, kuns, kultuur en uitdrukking. Ook PEN Afrikaans het vanjaar geld geskenk om die publikasie van die bundel moontlik te maak.
Haar ervarings as immigrant in Antwerpen was die groot onderliggende inspirasie. “Soos die protagonis, was ek ook bekommerd wanneer ek die nuus volg, maar het hoopvol gebly dat ek steeds welkom sou wees in die buiteland.” Jordaan is oorstelp oor die prys en wil vir haar ’n nuwe skootrekenaar koop waarop sy hopelik nog vele wonderlike kortverhale sal skryf.
Vanjaar se bundel en vorige jare s’n is te koop by Exclusive Books en tydens die Woordfees ook in die Exclusive Books Boekwinkel by Die Khaya.
Die helfte van die fees is verby en ons loer na ’n paar hoogtepunte, maar die helfte lê nog voor, so koop jou kaartjies, bring jou vriende en kom kuier saam en deel in die vreugde van kuns en kultuur.

’n Hemel wat kan opvou met Deon Meiring was deel van die Toyota Musiekfees. Deon het geglo liedjieskryf sou vergoed vir sy onbeholpenheid in rugby en romanse. Vandag het hy darem nog die liedjies – uit Glaskas, Dans Dans Lisa en sy soloprojek. In ’n Hemel wat kan opvou het hy dié musiek saam met sy briewe wat hy sedert 2020 skryf, aan niemand in die besonder nie, gedeel.

Stellenbosch Wynroetes se Woordfees-wynskool: Bubbly 101 het ’n stampvol saal gelok in die Hofmeyrsaal. Leer, proe, spoeg of sluk ... Die Woordfees-wynskool is ’n prestigeryke – maar allermins snobistiese – geleentheid waar jy meer kan leer oor wyn. Daar is drie klasse oor verskillende kultivars en style, aangebied deur wynmakers, wynpersoonlikhede en ’n komediant. Ná elke suksesvolle bywoning kry jy boonop ’n sertifikaat sodat jy tuis kan spog met jou geleerdheid. Van die streek se bekendste Cap Classique-wynmakers pryk hier, van links Heidi Dietstein van Spier, Nataleé Botha van Kleine Zalze, Narina Cloete van Blaauwklippen, Danna de Jongh van Simonsig, Jacobus van Zyl van Villiera en Anthony Sanvido van DeMorgenzon. Die laaste van die wynskole word vanaand om 18:00 aangebied en die fokus is Pinotage, wat vanjaar 100 jaar oud is.

In die aanbieding Talle tale het verskeie digters van hul werke gedeel. Klara du Plessis (Act/Ek’t) is ’n digter wat tussen tale glip: die Afrikaans van haar kinderdae en die Engels van haar volwasse lewe in Kanada. Pieter Madibuseng Odendaal se huwelik met die Peruaanse digter Jorge Alejandro Ccoyllurpuma het tot wedersydse vertalings in Spaans en Engels gelei, en Pieter se Afrikaanse gedigte is ook nou in Engels vertaal en gebundel as a corpse is also a garden. Die Vlaamse digter Frank Keizer lees voor uit sy werk, wat met min moeite deur Afrikaanssprekendes verstaan kan word. Van links is Klara, Jorge, Pieter, Franke en Bibi Slippers (sameroeper).

Uniondale, Leentjiesklip en Hillbrow: stories met wysies met Koos van der Merwe en die klassieke musikant Hilton Oosthuizen was deel van die Toyota Musiekfees en het sy debuut by die fees gehad. Spookstories, plaasstories, stadstories. Party stories móét net wysies kry. Uniondale se spook kry ook die wysie wat sy moet kry. En natuurlik is daar ook die warm wysies van die liefde. Akoesties, poëties en Afrikaans.

In Hollywood on the veld het Ted Botha met Ilse Salzwedel gesels oor die boeiende verhaal van die geheimsinnige Amerikaanse miljoenêr Isidore Schlesinger, wat in 1913 probeer het om Johannesburg in ’n rolprentmekka te verander. Hy wou nie sommer enige flieks hier maak nie, maar die grootste rolprente ter wêreld, met epiese verhaallyne, uitvoerige stelle en duisende byspelers.

Dana Snyman deel in Seun die deel van sy storie waaroor hy nog nooit gepraat het nie: sy ervarings in die 1980’s. Dit is die tyd van PW Botha se vinger, die Voëlvry-toer, AWB-saamtrekke, onderhandelings en die laaste dae van diensplig. In dié stuk is Wilhelm van der Walt as Seun en Nico Scheepers die regisseur. Daar is nog drie vertonings van Seun oor: 15 Oktober om 20:30, 17 Oktober om 15:00 en 19 Oktober om 10:00. Die toneelstuk speel by Idasvallei Primêr.

Twee verskillende roetes word op die argitektoniese wandelinge deur die middedorp aangebied. Die wandelinge duur 50 minute en vertrek voor Erfurthuis in Ryneveldstraat. Die kultuurhistorikus Matilda Burden laat kyk jou met nuwe oë na die hart van die Eikestad met sy argitektoniese juwele. Daar is nog wandelinge om 17:00 vanaand en ook op 17 Oktober om 17:00. Kaartjies kos R60 en R90 by die deur.

In die eenmanstuk Ek is nie Danie, geweef rondom ’n keur uit Danie Marais se vier digbundels, trek Albert Pretorius die skrapnel van ’n vreesaanjaende gewone lewe skerf vir skerf uit mislukte huwelike in die buitenste ruimte van Duitsland en die bevoorregte gemors van middelklas-Suid-Afrika. Saam met hom op die verhoog is Schalk Joubert. Nico Scheepers is die regisseur. Daar is nog drie vertonings by die Spier-ouditorium oor: 17 Oktober om 17:00 en 20:30, 18 Oktober om 13:00 en 19 Oktober om 13:00.

In Kinderlê kom wrokke ter sprake. Namas en Boesmans is mos vreedsame mense. Só teken die wit mense hulle op. Hulle baklei nie. Hulle gee af as daar moet afgegee word en hulle vat nie. Soos Hanna, het Maria ’n kjeent by God gesmeek en God het gegee. Dawid en Maria is vir Dammas gegee. Op ’n Sondag in 1867 word hulle kamp Nona-Ams deur Boesmans oorval, terwyl die grootmense ’n kerkdiens op Besondermeid bywoon. 32 Nama-kjeeners, hulle oppassers en honde word doodgemaak. Miché van Wyk, Theodore Jantjies en Lynette du Plessis is hier in aksie. Daar is nog drie vertonings by Idasvallei Primêr oor op 16 Oktober om 16:00, 18 Oktober om 09:00 en 19 Oktober om 18:00.

Foto: AB Jantjies
Tarina Jordaan (middel) is aangewys as wenner van die Stellenbosch Woordfees se tiende jaarlikse kortverhaalkompetisie. Herschelle Benjamin (tweede van links) was die gasheer by die funksie. Ook op die foto is Carel Nolte van EasyEquities en Saartjie Botha, direkteur Toyota Stellenbosch Woordfees.

Foto: AB Jantjies
Vanjaar se bundel en vorige jare s’n is te koop by Exclusive Books en tydens die Woordfees ook in die Exclusive Books Boekwinkel by Die Khaya.

Foto: AB Jantjies
Die Stellenbosch Wynroetes hou glase by die bekendstellings en besprekings by die Hofmeyrsaal vol en gee feesgangers die geleentheid om van die omgewing se beste wyne te geniet.

’n Oorsig-tentoonstelling van deelnemers aan vanjaar se Ateljeebesoeke-program word deur IS Art en Blaauwklippen-wynlandgoed gehou. Rudolph Gouws het die Woordfees-atelier geopen. Ilse Schermers-Griesel, kurator, IS Art-eienaar en kunshistorikus staan by hom.

’n Oorsig-tentoonstelling van deelnemers aan vanjaar se Ateljeebesoeke-program word deur IS Art en Blaauwklippen-wynlandgoed gehou.

’n Werk van elke kunstenaar in die program word ten toon gestel. Hierdie tentoonstelling is ’n nuttige vertrekpunt om jou ateljeebesoeke te beplan. Werke van ander kunstenaars sal ook te sien wees: Lukas Stander, Strijdom van der Merwe, Hougaard Winterbach, Sharlé Matthews en Rose Namubiru Kirumira.

Hierdie kunswerk van Simphiwe Ndzube Iphupho (’n droom) vorm deel van die Stellenbosch Triennale en is agter die US Museum by die Netwerk24-kafee, Diskoerstent en Plataankafee. Tussen motiewe van brandende vure, reënboë en ontploffings van kleur, bied Simphiwe Ndzube ’n beeldhouwerk aan wat die onsekerheid en veerkragtigheid van inwoners van die dorp aanspreek deur ’n gekantelde sinkplaatstruktuur. Die werk is ’n monument vir informele behuisingsstrukture en Ndzube se persoonlike herinnering aan die feit dat hy ’n jaar lank in ’n hok gewoon het wat op die huis van die buurman geleun het, voordat hy kunsskool bygewoon het. In Iphupho (’n droom) worstel Ndzube met die onsekerheid van die idee van ’n tuiste en meer spesifiek die stryd om skuiling en sekuriteit, en hou sodoende ’n spieël vir Suid-Afrikaanse geskiedenis en huidige realiteite. In hierdie beeldhouwerk bring Ndzube fantastiese elemente en motiewe uit sy skilderye, waarvan twee in die museum uitgestal word, as deel van die From the vault-uitstalling.

Kleurglasvensters van die Moederkerk val onder die Leefstyl-kategorie. Die kleurglasvensters is kunswerke wat ryk is aan simbole. Zorada Temmingh se blik op die simboliek in die vensters ontsluit verrassende interpretasiemoontlikhede – veel meer as dié wat opgeskryf is sedert die installasie van die eerste vensters ongeveer 50 jaar gelede. Daar is nog een geleentheid om dié interessante praatjie mee te maak op 19 Oktober om 11:30. Kaartjies kos R100 en R130 by die deur.

Een van die mooi kleurglasvensters in die Moederkerk waaroor Zorada gesels het, wat hoog bo teen die muur agter die preekstoel pryk.
- Al die foto’s is geneem met die nuwe Canon spieëllose R6. Sy tjoepstil sluiter beteken aksiefoto’s kan in die teater of by boekbesprekings geneem word, sonder dat teatergangers die ewige gekliek-kliek hoor, en die RF100-400-langlens bring daai akteur se gesigsuitdrukking tot amper op jou neus. Loer by www.canon.co.za.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 en binnekort op kykNET: Appels en tee
Persverklaring: Wenner van die 2025 Woordfees-kortverhaalkompetisie bekend

