
Foto’s van die produksie: Toyota Stellenbosch Woordfees en kykNET; foto’s van appels, regs onder: Canva
Woorde: Maryke Roberts, Tina Kruger en Berdene Burger
Foto’s: kykNET Toyota Stellenbosch Woordfees
“Bloed is dikker, maar tee is sterker.” Dít is die lokreël van Appels en tee, kykNET se splinternuwe dramareeks wat op 21 Oktober begin. Dit het 10 episodes.
In Paradysbos lyk Lisa Rossouw (Diaan Lawrenson) se lewe perfek. Sy bestuur ’n florerende teetuin saam met haar gerespekteerde man, Dawid (Ivan Zimmermann), en voorbeeldige seun, Francois (Jacques Erasmus). Wanneer die De Klerks met hulle motor voor die teetuin in ’n ander kar vasry, verskyn haar langverlore vriendin, Henriëtte (Tinarie van Wyk Loots), weer ná 27 jaar.
Is dit toeval, of die noodlot?
Die De Klerks het hulle plaas verloor en Lisa bied vir hulle ’n heenkome tot hulle weer op hulle voete is. Dit bring herinneringe terug en krap ou wonde oop. Henriëtte se man, Wessel de Klerk, word deur Neels van Jaarsveld vertolk.
Die dramareeks beweeg tussen die hede en die Langkloof in die negentigs waar Lisa en Henriëtte hulle hegte tienervriendskap en drome deel, maar ’n reeks donker geheime die twee uiteindelik uitmekaardryf.
Met die vriendinne se herontmoeting, moet Griet (Rika Sennett), Henriëtte se ma, en Jakkals Boshoff (Ian Roberts), Lisa se pa, hulle eie seer en wrokke in die gesig staar. Annie (Bianca Langedyk), Henriëtte se dogter, moet met haar doofheid vrede maak en vorm ’n ongewone vriendskap met Francois.
Kraakvars appels simboliseer die onskuldige verlede, terwyl tee – nes ware vriendskap – medisyne vir die hede bring. Dis ’n grootwordverhaal waarin verskillende generasies ’n nuwe lewensfase moet aandurf.
........
Kraakvars appels simboliseer die onskuldige verlede, terwyl tee – nes ware vriendskap – medisyne vir die hede bring. Dis ’n grootwordverhaal waarin verskillende generasies ’n nuwe lewensfase moet aandurf.
........
Gelukkig hoef jy nie tot die 21ste te wag om deel te word van hierdie lekkerte nie.
By vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees kan jy op 15 Oktober saam met die sterre van hierdie nuwe reeks kuier. Diaan en Tinarie kuier saam met die skeppers van die reeks, Tina Kruger en Berdene Burger, en Therese Bam is die gasvrou. Deel stories en insigte oor heerlike appeltert en tee, terwyl hierdie merkwaardige vroue hul kuns en die noodsaaklikheid van stories bespreek. Dit is meer as net ’n damesoggend – dit is ’n fees van veerkragtigheid, kreatiwiteit en die unieke gees wat vroue saambind.
Hannah Borthwick, Rika Sennett se aktrise-dogter, speel die jong Griet, en Hendrik Cronjé is die jong Jakkals. Anya Human is Lisa en Nicola Nothnagel is Henriëtte in 1998. Ander spelers sluit Viljé Maritz, Moses Williams, Beata Bena en Marlo Minnaar in.
Tina Kruger is die hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger met Berdene Burger en Gita Fourie as medeskrywers. Berdene is ook die regisseur en vervaardiger van die reeks en eienaar van Meerfout Films.
Ek gaan steek kers op by Tina (TK) en Berdene (BB) vir nog agter-die-skerms-lekkerte:
MR: Waar kom die idee vir die reeks vandaan en hoe lank loop jy al met die idee in jou kop?
TK: Na ’n unieke oproep van kykNET om ’n familiedrama met ’n vars aanslag voor te lê, het ek en Berdene koppe bymekaargesit om iets te skep wat met verskeie generasies oor alledaagse onderwerpe resoneer. Ons is beide ma’s en dogters en kleindogters en vroue met veeleisende, kreatiewe loopbane – so, ons het baie stories om te vertel! Die konsep van twee beste vriendinne wat weens aaklige omstandighede uitmekaardryf en dan jare later die verlede moet ontrafel om in die hede te oorleef, was vrugbare grond om storiesaadjies in te plant.
MR: Hoe pas medeskrywers in en presies hoe het julle te werk gegaan? Is dit nie moeilik dat iemand aan “jou” storie help skryf nie?
TK: O, nee! Ek is lief daarvoor om in ’n span te skryf. Storie verwek storie, en alhoewel ek en Berdene reeds lank gemaklik saamwerk, het die toevoeging van ’n jonger Gita Fourie die karakters en hul boë verdiep en verryk. Dit is ook ’n voorreg om jonger skrywers geleenthede te gee om aan ’n dramareeks te werk. Ek is tot vandag toe diep dankbaar vir die kanse wat ek kon hê om onder leiding van groot geeste soos Deon Opperman te kon leer skryf.
MR: Hoekom is dit nodig dat ons in 2025 vrouwees vier en hoe verskil hierdie reeks van sê een wat 10 jaar terug gemaak kon word?
TK: Sjoe! Vrouwees hoort elke dag gevier te word! Kyk net wat gebeur uiteindelik ook op die rugbyveld ... Ek dink ons het almal vergeet hoe om in ons besige skedules net weer teenwoordig en, soos goeie Afrikaners, plesierig te wees. Appels en tee is ’n lushof vir die sintuie: Ons speel heerlik met kleur en klank. Ons karakters leer opnuut hoe om te ruik en proe en voel. Die reeks is braaf en eerlik en skram nie weg van moeilike onderwerpe wat graag onder die mat gevee word nie. ’n Ieder en ’n elk sal kan kyk en resoneer.
MR: Wat is die voordeel en nadeel van skrywer en vervaardiger en regisseur wees? Is dit nie makliker en beter as meer mense insae gee nie? Hoe verhoed jy dat jy nie aan jou idees vashou wat dalk nie tot voordeel van die reeks is nie?
TK: Ek en Berdene het beide ’n hele paar hoedens gedra. As hoofskrywer en uitvoerende vervaardiger, kon ek druk vir groot konsepsuele en kreatiewe idees, waar Berdene as mede-skrywer, -vervaardiger en -regisseur van vroeg in die proses reeds verantwoordelik vir die dag-tot-dag verwesenliking hiervan was. Ons baie knap toesighoudende vervaardiger, Carla-Marie Myburgh, het deurlopend ons visie ondersteun en uitstekende storie-insae gehad. Ons span, waarvan ’n groot gedeelte ook vroue was, het hul bloed, sweet en harte in die projek ingestoot. Ek glo die balans was goed en die uiteindelike resultaat spreek boekdele van spanwerk en storieliefde.
MR: Vertel bietjie meer oor die interessante keuse vir ’n naam?
TK: Appels en tee is só ’n mooi samesmelting van kraakvars en kneusbaar, soos ons terugkyk na die jongklomp in die negentigs en die genesing vir die karakters beskore in die hede. Die vroue het met mekaar appeltjies te skil, die manne wil appels swaai en die oogappel-kinders dra vrug.
MR: Is die karakters op mense gegrond wat in jul eie lewens belangrik is, of het julle dele van verskillende mense as inspirasie gebruik? Hoe het jul drie skrywers mekaar aangevul?
BB: Wanneer ’n mens skeppend werk, is dit onmoontlik om jouself heeltemal los te maak van jou persoonlike verwysingsraamwerk. Op een of ander manier manifesteer eienskappe van mense wat jy ken, herinneringe en gebeurtenisse iewers in ’n karakter of ’n oomblik. Dis wat jou stem as skrywer uniek maak. Mens waak tog daarteen dat iemand hulleself moet herken. Dis ’n belangrike deel van die integriteit van die proses. As drie skrywers wat van die eerste skrywerskamer af saam asem in die storie geblaas het, was dit heerlik om te sien hoe idees en konsepte ontwikkel. As mens toelaat dat die mense om jou, jou uitdaag en as jy ontvanklik is vir die vervorming wat tydens die proses plaasvind, word die storie ryker as wat jy selfs kon verwag het.
MR: Watter uitdagings het julle tydens verfilming gehad?
BB: Ek hou daarvan om na uitdagings as geleenthede te kyk. Daar is byvoorbeeld ’n stormtoneel in een van die latere episodes en dit was fantasties, insiggewend en ’n groot leerskool om kreatief te raak met die uitvoering daarvan. Daar is ook iets magies wat plaasvind wanneer ’n draaiboek vanaf papier na skerm vertaal moet word en meer dikwels as nie, speel dinge anders uit as wat jy dit vir jouself voorgestel het. Maar dis juis hier waar die toweragtige kwaliteite van televisie- en filmmaak lê – ’n span mense wat bymekaarkom, akteurs, tegnici, die gemeenskappe waar jy verfilm, die omgewing en die uitdagings in die vorm van weer en onvoorsiene omstandighede, en skielik sit jy met iets wat baie meer as die somtotaal van die onderskeie dele is.
MR: Sunel Haasbroek is die kinematograaf. Wat bring ’n vroulike oog na die reeks waarna julle gesoek het, wat ’n man dalk nie sou kon na vore bring nie?
BB: Ek wou al jare lank saam met Sunel werk, nie noodwendig omdat sy ’n vrou is nie, maar omdat sy een van die mees talentvolle kinematograwe in ons industrie is. Ek dink tog ’n vrou bring ’n oog vir fynere detail en ’n meer gefokusde bewustheid vir die emosie van ’n toneel wat dan in die skootkeuses en beligting vasgevang word.
MR: Waar kom die idee van Paradysbos vandaan?
TK: Ons is buurvroue! Ek en Berdene bly beide in ’n piepklein dorpie in die Tuinroete, genaamd Hoekwil – basies die Paradys. Ons hou daarvan dat ons storie iets onderliggend aan Eva en Adam en die begin van alles eggo.
MR: Waar kom die idee vandaan om ’n oggendtee te hou tydens die Woordfees?
TK: Die Woordfees is ’n perfekte lanseringsgeleentheid vir die storie kort voor dit op kykNET uitsaai. Tinarie van Wyk Loots is woelig met toneelstukke en Janine Neethling en Tasché met musiekkonserte. Dit is lekker om ook televisie-inhoud nader aan ’n fees wat grotendeels met ander kunsvorme werk, te bring en met belangrike gesprekke kruisbestuiwing onder verskeie gehore te kweek.
MR: Waar is die reeks verfilm en hoe lank het verfilming geduur?
BB: Die reeks is in die Langkloof, Hoekwil en ander areas in die Tuinroete verfilm. Ons was vir so nege weke doenig. Dis heerlik om in jou eie omgewing te werk. Die plaaslike gemeenskap (bure, dominees, vriende en winkeleienaars) het ongelooflike ondersteuning gebied om selfs die moeilikste oomblikke uitgevoer te kry. Daar is koffie aangedra, gras geplant, voertuie uit modder gesleep en storms gemaak.
MR: Wie sal aanklank vind by die reeks?
BB: Daar is iets vir elkeen in die reeks. Ons vier vrouwees, maar kyk ook na die uitdagings van die hedendaagse pa en man. Hoe hou mens aan voorsien ten spyte van groeiende ekonomiese druk? Hoe bind geheime ons? Wat gebeur wanneer liefde taan? Vryheid is slegs moontlik wanneer die waarheid seëvier. Ouerword beteken nie dat daar nie tweede kanse is nie. Vergifnis hoef nie te laat te kom nie.
MR: Vertel bietjie oor jou keuse vir die rolverdeling. Wat aan Tinarie en Diaan het spesifiek vir julle uitgestaan? Het julle hulle in ’n onlangse rol gesien en besef dis die mense vir ons reeks?
BB: Die karakters van Lisa en Henriëtte is die twee pole in ons storie – uiteenlopende vrouens elk met hulle eie sterk punte, seer en geheime. Om lewe in hulle te blaas op ’n manier wat hulle krag en kwesbaarheid sou eer, was nie ’n maklike taak nie en daarom beskore vir twee uitsonderlike vrouens. Diaan en Tinarie het ontsagwekkend daarin geslaag om die verskillende fasette van die karakters met soveel sensitiwiteit uit te beeld. Rika en Ian was voor die handliggende keuses vir die ouer karakters as gevolg van hulle gravitas, ondervinding en menswees, en ons het heerlike vars talent in Bianca en Jacques gevind. Neels en Ivan het in die rolle van Dawid en Wessel onderskeidelik die moeilike nuanses van die Afrikaanse man vasgevang. Dit was ’n voorreg om hierdie pad saam met elkeen van hulle te stap.
Kyk gerus die lokprent vir die reeks hier: Amptelike Lokprent: Appels en Tee | S1 | kykNET
- Die damesoggend tydens die Woordfees is op 15 Oktober by Schoon Stellenbosch Square. Kaartjies kos R250 vooraf by Quicket of R280 by die deur.
- Appels en tee begin op Dinsdag 21 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

