Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier vanjaar 25 jaar van kuns, kultuur en diskoerse. Dit word tot 19 Oktober regoor die Eikestad gehou. Vanjaar se tema is “Deel” en kunstenaars en die feeskomitee nooi almal uit om in dié feestelikhede te kom deel. Met nagenoeg 400 unieke programitems is daar werklik iets vir elkeen.
Hiermee ’n kort foto-oorsig oor die eerste drie dae van die fees, waar daar musiek gemaak, voorgelees, gekuier, wyne van Stellenbosch gedrink is en nuwe boeke en kunswerke bekend gestel is.

Die akteur Noah Barry, wat bekend is vir sy rol in Palmiet, en sy pa, Frazer Barry, die liriekskrywer en hoofsanger van Tribal Echo en televisie-aanbieder van die kykNET-program Ommighellie, glimlag vir die kamera by die fees.

Selfie-raam: Voor die Erfurthuis is hierdie interessante stoelinstallasie wat feesgangers aanmoedig om hier van hulself foto’s te neem en dit dan op Instagram te deel @woordfees en met die hutsmerke #ToyotaStellenboschWoordfees #Woordfees2025 #Deel #Share.

Daar is verskeie besprekings, boek- en gedigtevoorlesings onder die EasyEquities Skrywersfees aanbieding by Die Khaya-kafee en saans tot laataand is daar die Toyota Musiekfees Afterpaartie. Meer inligting is gerieflik by die deur opgeplak.

Stellenbosch se strate is propvol feesgangers, maar jy hoef nie te bekommer oor parkering of laat wees vir ’n vertoning nie. Dié gawe manne van die Woordfees se Pendeldiens wat in Ryneveldstraat hul kantoor het, sal sorg dat jy betyds arriveer. Los jou voertuig buite die stadskern en gebruik hul diens.

Vergeet om kaartjies te bespreek? Besoek die #SpaarBar in Ryneveldstraat vier uur voor sekere vertonings en betaal halfprys vir kaartjies.

Oulike pamflette is op tafeltjies by die fees se kuierplekke te sien en lig nie net feeshoogtepunte uit nie, maar haal ook frases uit digkuns aan, soos hierdie een van die feesdigter, Antjie Krog, uit haar 2021-memoir, A mother’s elegy.

Die einde van die Nederlandse Week is met ’n croissant- en vonkelwyngeleentheid in die Hofmeyrsaal gevier. Verteenwoordigers van die Nederlandse en Belgiese ambassades en verskeie kultuurorganisasies het meer vertel oor die verskeie kultuurprojekte wat onderneem word tussen Nederland, België en Suid-Afrika en twee digters van die Jakes Gerwel Stigting en Passa Porta se residensie, die 2025-Brussel tot Karoo-residensie, het van hul werke voorgelees.
Daar is groot nuus gedeel: Die hele Ingrid Jonker-argief keer later vandeesmaand uit Den Haag, in Nederland, terug na Suid-Afrika. Die fisiese versameling van haar werke sal by die Stellenbosch-universiteit se biblioteek gehuisves word en sal wêreldwyd digitaal beskikbaar wees.

Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix is vanjaar se feeskunstenaars en het ’n samewerkende kunsduo waarin hulle grond, die landskap en die geskiedenis van Suid-Afrika as ’n gedeelde belangstelling ondersoek. Deur werk te skep vanuit hul eie ervarings en ook hul begrip van die nalatenskap van kolonialisme en apartheid, verwys hul samewerking dikwels na teenstrydige uitbeeldings van die verlede as ’n manier om sin te maak van ons individuele en gesamentlike hede. Feesgangers kan op 15 Oktober om 14:30 ’n gratis rondleiding deur hulle by die US Museum meemaak.

Die ikoniese Kaapse komedie Joe Barber met Oscar Petersen en David Isaacs vier ’n kwarteeu in hul vertoning, Joe Barber 25. Boeta Gamat en Boeta Joe van die geliefde barbierswinkel het twee vertonings gehad by die Woordfees en gehore laat skaterlag! Natuurlik was die gewilde karakters soos Washiela en Outjie ook daar om dié mylpaal te vier.

Heilna du Plooy lees van haar gedigte voor by die EasyEquities Skrywersfees se Dead Poets Society. Agter haar sit die digter en skrywer, Joan Hambidge, en die sameroeper van die geleentheid, Bibi Slippers.

Lynthia Julius het een van haar gedigte, wat sy opgedra het aan Johann de Lange, voorgelees by die EasyEquities Skrywersfees se Dead Poets Society.

Retha van Deventer lees van haar digkuns voor by die EasyEquities Skrywersfees se Dead Poets Society.

Baie van die restaurante, koffiewinkels en straatkafees het lekker feesaanbiedinge om tussen vertonings te geniet. Dit vorm alles deel van die feesgees in die Eikestad.

Rehane Abrahams in die aangrypende toneelstuk, Joshlin: meer as ’n naam. Dit vertel die tragiese verhaal van Joshlin Smith (6) wat in 2024 deur haar ma en twee ander aan ’n sangoma vir R20 000 verkoop is. Die stuk is deur Herschelle Benjamin geskryf. Daar is vanaand (13 Oktober) nog een vertoning om 17:30 in die kykNET Rhenish Girls’ High-saal.

Die bekroonde toneelstuk, Annie+Helen, lok weer vol sale by die fees. In 1887 ontmoet Annie Sullivan en Helen Keller mekaar – iets wat hul lewens onherroeplik verander. Die rolverdelings sluit Cintaine Schutte, Stian Bam, Judi Hattingh, Bianca Flanders en Eldon van der Merwe in. Daar is nog twee vertonings op 18 Oktober om 9:30 en 19 Oktober om 10:30 in die Adam Small-ouditorium.
- Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Woorde open wêrelde, ’n onderhoud met Fiona van Kerwel
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Tussen hier en daar, ’n onderhoud met Lize Beekman
Toyota Stellenbosch Woordfees: In gesprek met drie van die akteurs in Woordedief
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud met Veronica Bell

