
Veronica Bell (foto: verskaf)
Naomi Meyer praat met die violis Veronica Bell oor al die produksies waarby Veronica in die komende paar weke betrokke is.
Veronica, kom ons gesels gou oor ’n optrede van die verlede. Daar was onlangs ’n trekklavierkonsert in Pretoria. Verlede jaar was daar ’n trekklavierkonsert in die Endlersaal. Vertel asseblief daarvan.
Ek en my man Usher het die voorreg gehad om in 1999 by my skoonouers in die Oekraïne te gaan kuier. Hulle was op daardie stadium reeds sedert 1994 betrokke by ’n Christelike uitreikaksie. Weens Pa se beroep as ’n apteker, kon hulle humanitêre hulp bied aan klein kerkgemeenskappe vanuit Kiev na ander dorpe en stede in die Oekraïne. My pad sou in daardie jaar kruis met Lyuda sonder dat ek eens daarvan bewus was. Sy het in een van die klein dorpies se gemeente na my vioolspel gesit en luister en by haarself gedink dat sy eendag nog saam met my wil musiekmaak. Hierdie gedagte het realiteit geword in Februarie 2002 toe sy vanuit die Oekraïne besluit het om haar wêreld te vergroot deur na Suid-Afrika te kom. Sy kon net “yes” en “no” sê in Engels en het ons dorp, Stellenbosch, onthou as “Stalin” en “bush”. Teen 2004 het sy Engels en ’n groot stuk Afrikaans leer praat, met dié dat sy tussen ons Bybel- en Musiekskool-studente moes bly. In hierdie jaar ontdek ons dat sy trekklavier ook kan speel. Sy was aanvanklik nie so ingenome met die idee van trekklavier speel nie, omdat sang haar hoofliefde was, en vandag nog is, en omdat sy geglo het dat haar een jaar ondervinding in trekklavierspel vir seker nie op standaard was nie. Maar ’n paar lesse by Stanislav Angelov en die vlammetjie het begin brand.
Waar Zamar aanvanklik by troues gespeel het (viool, trekklavier, kitaar en perkussie), kon ons ons eerste fees bywoon in September 2004 by Aardklop. Die meelewing van die mense was so ooglopend dat ons besef het hier is ’n klank wat Suid-Afrika wil hoor.
Ons het die KKNK in 2005 aangepak met een verhoogoptrede saam met die musiekdirekteur Janine Neethling, optredes by twee restaurante deur die week en ’n eerste CD, getitel Song of celebration. Hierdie waagkans is beloon met die KKNK-toekenning vir die beste opkomende kunstenaar en sodoende het ons wiele letterlik aan die rol gekom.
Is daar musiek wat spesifiek vir hierdie twee instrumente gekomponeer is – of verwerk jy dit self as die bladmusiek nie bestaan nie?
Daar is heelwat musiek wat ideaal werk vir viool-en-trekklavierduet. Meeste van die musiek wat ons speel, is reeds bestaande klassieke werke, volksmusiek, tango’s en Oos-Europese musiek wat ek dan vir ons verwerk. Ons styl is informeel gestruktureerd: Daar is definitief ’n komposisie en uitvoeringsplan, maar ons gee onsself oor aan die interpretasie van die oomblik om die musiek so geïnspireerd moontlik oor te dra.
Wat was Zamar se betrokkenheid by die trekklaviergeleentheid?
Zamar is mos nou eintlik vyf musikante (plus die klankingenieur, wat natuurlik ook hoogs musikaal moet wees om die klank goed te vermeng) – viool, trekklavier, kitaar, baskitaar en dromme. Hierdie kombinasie is die basis waarop ons die repertoire wat ons speel, bou. Ons reduseer wel ons musiek dat dit speelbaar is met slegs die trekklavier en viool, maar ons eerste keuse is om as volle orkes op te tree.
Ek het in Covid vir my ’n trekklavier gekoop en die instrument begin ontdek! Dis absoluut ’n wonderlike ontdekkingsreis, maar die spelery is maar vir my ’n stokperdjie en ek het vroeg reeds besef dat wanneer mens iets wil bemeester, moet mens genoegsaam tyd daarmee kan spandeer. Wat my tref van die trekklavier, is sy ryk klank wat geskep word deur die verskillende intonering van die riete en die atmosfeer wat die instrument kan skep – van heimwee tot opruiende ritmes. My instrument gaan saam op vakansie en veroorsaak menige musiekmaak-geleenthede sonder veel moeite.
Hier is nog inligting oor die Dis Zamar lekker-produksie.
Dis weer tyd vir die Toyota Stellenbosch Woordfees. Hier tree jy by ’n paar geleenthede op. Dis Zamar lekker! Wanneer is hierdie vertoning en wat speel julle?
Ons vertoning is op Woensdag 15 Oktober om 11:00 in die Fismer Ouditorium van die Konservatorium. Ons speel weer eens ons verskeidenheid wêreldmusiek deurvleg met bekende klassieke musiek-melodie, volksmusiek en jazz. Ons neem ons gehoor op ’n reis van veranderende atmosfeer en belewenis deur instrumentele, virtuose spel en verrassings!

Jy is konsertmeester van die Wynlande Filharmoniese konsert. Wat speel die orkes in hierdie konsert?
Die program, Echoes of the New World, sluit in “Die Freischutz Ouverture” deur Weber, ’n splinternuwe vioolkonsert gekomponeer deur Suid-Afrikaanse komponis Kristi Boonzaaier, met solis Eriel Huang, en Dvorak se Simfonie nr 9 bekend as die “From the New World”-simfonie.
........
Dit bly bewonderenswaardig dat musiekliefhebbers uit ander vakmanskappe elke Donderdagaand bymekaarkom om hierdie uitdagende repertoire aan te leer en in alle eerlikheid te bemeester en uit te voer. Die musiekgemeenskap van die WPO bied die ideale platform vir ’n instrumentalis om hul liefde vir musiekmaak weer aan te wakker.
........
Dit bly bewonderenswaardig dat musiekliefhebbers uit ander vakmanskappe elke Donderdagaand bymekaarkom om hierdie uitdagende repertoire aan te leer en in alle eerlikheid te bemeester en uit te voer. Die musiekgemeenskap van die WPO bied die ideale platform vir ’n instrumentalis om hul liefde vir musiekmaak weer aan te wakker.
Hier is nog inligting oor die Echoes of the New World-produksie.
Jy is by nog meer produksies betrokke! Vertel, asseblief.
Vir hierdie fees is ek ’n deel van die Johanna Roos Strykkwartet wat die begeleidingsbasis vorm van die Koffiekan-produksie. Hier is die Engelse omskrywing soos in die Woordfees-program opgeteken:
Bach’s Coffee Cantata will be performed in Afrikaans for the first time at the Woordfees. Since coffee first appeared in Europe, it has captivated people. Bach composed his comical Coffee Cantatain the 1730s as a social commentary. Koffiekan offers a take on Stellenbosch’s popular coffee culture and takes us on an adventure of humorous coffee songs that will leave many a coffee snob choking on their espresso!
-
- Who’s who
With Marina Erasmus (soprano), Raimondo Slabbert-van Staden (tenor), Jared Hanekom (bass), Johan van der Merwe (narrator), Liesl Stolz (flute), Mario Nel (harpsichord), The Johanna Roos String Quartet.
Hier is nog inligting oor Coffee Cantata.

Ek sê nou jy bespeel die viool, maar ek weet jy het ook ondertussen die altviool bemeester en jy spandeer baie tyd met CrossFit ook. Wat inspireer jou van musiek en van ander dinge in die lewe?
Musiek vorm vir seker deel van die ontdekkingsreis van my menswees. Buiten dat mens geleenthede kry om deur jou land en oorsee te reis, is die heerlike belewenis dat mens saam met ’n groep mense elke keer iets van die bo-natuurlike beleef! Daar kom ’n klemverskuiwing van waar mens aanvanklik aan jouself en ander wil wys dat jy die instrument en taal van musiek bemeester het, na die plek waar mens eerder ’n boodskap wil oordra met jou musiek. Ek is absoluut in my element wanneer ek vanaf die verhoog die atmosfeer kan transformeer deur my spel, repertoire en interaksie om mense te laat met hoop vir die lewe. Dis my begeerte dat mense nie onveranderd van ons konserte af sal wegstap nie! Dieselfde geld die vioollesse wat ek aanbied – ek hoop om mense te inspireer om mooi musiek te maak en te deel met ander.
Ja-nee, fiksheid is prioriteit! Eintlik hoort mens in die berge en nie noodwendig in die binnekant van ’n gym nie, maar gestruktureerde oefentyd help my bybly en raakvat met vrouwees, mawees en menswees.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boek jouself in by Veldhospitaal

