
Foto van Amira Willighagen: verskaf
Naomi Meyer praat met Amira Willighagen oor Konsertina en trekklavier is groot, wat die naweek in Pretoria plaasvind.
Amira, jy is ’n Nederlandse operasanger. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond – en van Holland’s got talent!
Goeiemiddag, ek gaan sommer in Afrikaans antwoord. Ek bly vir die afgelope sewe jaar in Suid-Afrika, het hier gematrikuleer en my ma is oorspronklik Suid-Afrikaans. 😊 Ek het in ’n onderhoud met Freek Robinson op LitNet meer van myself vertel. Ek kan wel bydra dat ek inmiddels 21 jaar oud is, ek swot musiek aan Tukkies. Ek is inmiddels tweedejaar in my BMus- (musiek-) rigting. Dit maak dit nog meer besonders dat hierdie konsert in die Musaion-teater is by Tukkies.

Prent: verskaf
Hoe het jou pad met die organiseerders van Konsertina en trekklavier is groot gekruis? Hoe ervaar jy dit as Nederlander om met Suid-Afrikaners saam te werk? Ek bedoel die interaksie tussen Afrikaans en Nederlands en ook die instrumente?
Die organiseerders van Konsertina en trekklavier is groot het my genader deur ’n email vir my te stuur oor ’n program wat hulle wil opstel met sang, trekklavier, konsertina en ander instrumente. Toe ek dit in my inbox sien, was ek baie opgewonde gewees, omdat die trekklavier ook ’n baie spesiale plek in my hart het. My pa het altyd saam met my in Nederland trekklavier gespeel terwyl ek opera gesing het. Dit is eintlik hoe ek begin sing het nog voor Holland’s got talent. Ons het saam in ons familie baie musiek gemaak vandat ek sewe jaar oud was: Ek het gesing, my ma en boetie het viool gespeel en my pa het trekklavier, klavier en orrel gespeel.
Tweedens is dit spesiaal dat trekklavier en konsertina so ’n besondere deel uitmaak van die Suid-Afrikaanse kultuur en musiekkultuur. Dit is ’n belangrike deel van ons erfenis en ek het grootgeraak met beide tradisionele Nederlandse en tradisionele Suid-Afrikaanse musiek wat beide baie gebruik maak van ’n trekklavier. Daar is te min blootstelling vir tradisionele Suid-Afrikaanse musiek en dit is hoekom die konsert so spesiaal is.
Liedere soos “Heimwee”, oorspronklik gesing deur die legende Mimi Coertse, gaan gehoor word. Ook die operagenre gaan gehoor word, met stukke soos “O sole mio”. Die timbre van operasang en trekklavier saam met ’n konsertina gaan baie mooi saam. Byvoorbeeld in Venice waar mense opera sing met ’n trekklavier op die bootjies op die water. Die klanke meng net ongelooflik mooi saam.
Waarna kan mense uitsien as hulle na julle kom luister? En wanneer is die konsert?
Die program bestaan uit tradisionele Suid-Afrikaanse liedere, Nederlandse liedere en opera. Daar is definitief iets vir almal in die program. Dit is ’n voorreg om aan so ’n konsert deel te neem waar verskillende tale gedeel word (Nederlands, Afrikaans en Italiaans) en waar besonderse instrumente saamgesit word wat die mooiste klanke saam produseer. Die konsert is natuurlik aankomende Sondag 5 Oktober drieuur die middag in die Musaion-teater. 🎼
Koop kaartjies by tixsa.
Lees ook:
The accordion and famo music in South Africa: an interview with RKM, The Accordion Guy

