Maryke Roberts: Die 25ste Toyota Stellenbosch Woordfees wat vanjaar van 11–19 Oktober gehou word, het nog altyd iets buite die norm aan feesgangers gebied. Vanjaar is dit onder die Visuele kuns-afdeling in die feesgids dat die Veldhospitaal my oog vang.
Die beskrywing lees bloot: “Almal is moeg, siek en sat, lê met ’n eina-pyna hart, effens mal, huilerig, gee moed op ... en voel genoeg is genoeg. Daarom het ons besluit om saam ’n veldhospitaal te bou waar ons as sukkelende kreatiewe lywe net ’n drup of ’n drukkie of iéts kan kry. ’n Plek waar ons waarhede kan leef en stories saam kan weef. Dít is die medisyne! Die Veldhospitaal is ’n ervaring, ’n avontuur na die binnewêreld. Dit is ’n lewende kunswerk wat ontstaan uit individuele kunstenaars wat elkeen organe, liggaamsdele en abstraksies van menswees verteenwoordig.
“Die Veldhospitaal se besoekure is van 10:00 tot 22:00 van 14 tot 19 Oktober; een feeskaartjie dek alles. Skandeer die QR-kode om na ons webwerf te gaan waar ’n regstreekse skedule beskikbaar is. Ons is nie gepla met perfeksie nie, want dit is juis deur die krake waar die lig inskyn. Ons wil mekaar net so ’n bietjie vashou, ’n skouer en ’n oor wees, aan trooskos weglê, alles uit die hart probeer doen, volkome ervaar, en aanvaar en gesond word, help waar ons kan, ’n inspirasie-inspuiting gee, ’n blaaskans vir die siel wees, ’n uitroep aan die heelal maak, of ’n saak van gebed begin.
“As jy nie heeltemal verstaan wat hier geskryf is nie, chillax, volg net jou instink en kom! Kom boek jouself in by die Veldhospitaal. Bring blomme en ’n beterskapkaartjie saam as jy wil. Hoe ook al, ’n kopdraai-bohaai sal dit bly.”
Die kaartjies kos R1 000 per week, R500 per dag of R250 per halfdag.
Die foto’s onderaan is anders en amper plakboek-agtig en al wat ek kan uitmaak, is dat dit van 14–19 Oktober op Libertas-plaas in Die Boord gehou word. Op Instagram is dit ook nie veel wat weggegee word nie, behalwe dat “Barbara Wildenboer, The Kids from Erf81 en André Laubscher: kunstenaar” daarmee te make het.
My soeke bring my by ESCAP3 Gallery se webwerf uit en ook hier is die inligting kripties, maar ek vind darem uit dat die beeldhouer en installasiekunstenaar, Haidee Nel, as mede-regisseur daarby betrokke is.
ESCAP3 Gallery is verantwoordelik vir die limfstelsel met bydraende kunstenaars, Bernard Brand, Riaan Coetzee, Luan Nel en Octavia Roodt.
“Die Veldhospitaal is ’n meeslepende, simboliese installasie en lewende kunswerk – ’n kollektiewe daad van kreatiewe sorg, hartseer, storievertelling, vreugde en waarheid. Dis ’n metaforiese liggaam wat deur kunstenaars gebou is. Elkeen versorg ’n ‘liggaamsdeel’, elke storie word in die genesende tapisserie van ’n wêreld in pyn ingewerk.
“Hierdie projek nooi besoekers uit om in ’n viserale, sielvolle ervaring te stap. Dit is medisyne vir ons kollektiewe wonde – aangebied deur kuns, opvoering, kos, musiek en ritueel. Dit is ’n ruimte van diep gevoel, absurde skoonheid en die poëtiese chaos van die lewe.”
Die webwerf het snellende luiperds, ’n man wat op water loop en leeus en vlinders wat oor die skerm fladder, maar steeds word niks verklap nie.
Natuurlik is ek nuuskierig en moet meer uitvind. Debbie Ellis wil steeds nie te veel verklap nie, maar gee tog bietjie agtergrond.
MR: Waar kom die idee van die Veldhospitaal vandaan?
DE: Eers was daar ’n hart en ’n gut en toe was daar arms en hande en toe ons weer kyk, was daar ’n hele liggaam. So, eintlik is dit minder ’n idee en meer ’n calling. Ons is net bevoorreg om daarvan deel te wees. Die projek kan maklik verwar word met ’n fees-binne-’n-fees vibe, maar dis eintlik ’n lewende beeldhouwerk met die kunstenaars wat liggaamsdele verteenwoordig. Die rede waarom dit gebeur, is dat almal net so moeg daarvoor is om in kompetisie met mekaar te wees en kuns te maak uit die plek van ego en vir geld. Dit is ’n noodgeval. So, ons het besluit om ’n hospitaal te bou ... Die Veldhospitaal is ’n plek waar ons mekaar net kan vashou.
Die belangrikste deel van die projek is dat die kreatiewe gees binne-in elke persoon gekoester word, ongeag of jy ’n rekenmeester, neurowetenskaplike, kriminele sielkundige, student, kunstenaar, sjef of high school dropout is.
........
Die belangrikste deel van die projek is dat die kreatiewe gees binne-in elke persoon gekoester word, ongeag of jy ’n rekenmeester, neurowetenskaplike, kriminele sielkundige, student, kunstenaar, sjef of high school dropout is.
........
Ons het agtergekom dat almal eintlik maar net wil terugkeer na die hart, na menswees en na die aarde. Nou kom ons saam om dit te doen. Elkeen bring net hulle liggie, dan maak ons ’n lighuis.
MR: Is dit al elders in die wêreld gedoen en indien wel, waar en wat is dit genoem?
DE: Nie sover ons weet nie. Maar almal is mos connected, so miskien vind ons uit dat iets soortgelyks aan die gang is.
MR: Wie sit agter die konsep?
DE: Liefie aka Haidee Nel, Suid-Afrikaanse beeldhouer en self-proclaimed “kunsteNAR” is die mede-direkteur van die projek. Die Creator, soos sy sê, is die direkteur.
MR: Hoeveel mense is deel van die hospitaal en hoe “siek” is die “pasiënte” regtig?
DE: Die Veldhospitaal is nie hier om mense te heal of te bekeer nie. Die Veldhospitaal is waar ons kan deel; deel waarmee ons deal – ons stories van siekwees op elke menslike vlak. En deel wat ons sien in die wêreld. Dít is die medisyne.
........
Die Veldhospitaal is waar ons kan deel; deel waarmee ons deal – ons stories van siekwees op elke menslike vlak. En deel wat ons sien in die wêreld. Dít is die medisyne.
........
So, kom kuier by die Veldhospitaal. Ek dink jy sal agterkom dat almal ten minste ’n klein bietjie mal is.
MR: Die QR-kode in my feesgids werk nie, waar kan ek meer inligting oor die optredes kry?
DE: Die skedules sal ASAP op ons webtuiste geplaas word. Ons hou van die verrassingselement. Boo!
MR: Hoe lank moet ek myself daar gun – ry ek self tot daar of gaan die feesbussie ook soontoe?
DE: Ons sê nog van die begin af: Veldhospitaal is everything everywhere all at once; dit is ’n immersive, interactive experience, vol weird and wonderful stories. Stories van die donker en die lig en als tussenin ... Jy sal ’n rukkie wil bly.
Dit is hoekom ons die feeskaartjie so bekostigbaar gemaak het, sodat julle, die eregaste, die geleentheid het om alles oor die ses dae te ervaar. Het jy al gedroom om met die creator van die meesterstuk te praat? Wel, die uniekheid van die projek lê daarin dat byna elke kunstenaar on-site sal wees om mee te engage, en so raak jy óók deel van die kunswerk.
Die feesbussie ry wel na Libertas-plaas, siende dat dit een van die venues is.
MR: Is daar iets te ete en te drinke of moet ek my eie water saamneem?
DE: Daar sal hospitaal-trooskos wees in Die Kafeteria (voorberei deur Cedrick, die maag) – brekvis vir oggend, middag en aand, gemmertee, moerkoffie, wraps in Die Teater-kantien (voorberei deur Nadine, die lovehandles), “Tea of Life”-kombucha en jellie.
MR: Het ek sonbrandroom en my papierwaaiertjie nodig, of is ek binnenshuis waar dit koel is?
DE: Daar is drie geboue op die plaas wat skuilte teen die son kan bied: Die Teater, Die Kafeteria en Die Sanatorium. Dan sal daar ook reënboog-skadunette wees op die groen weivelde om onder te rus.
Maar steeds, sonroom 50 SPF, ja; papierwaaiertjie, ja; ’n koel botteltjie water, ja.
MR: Gaan ek baie stap, baie staan, of kan ek sit en kyk?
DE: My kort antwoord is: Daar is sitplek, staanplek, stapplek, huilplek, dansplek, eetplek, rusplek en lêplek, piepieplek en rookplek.
My lang antwoord is: Die Veldhospitaal is gesitueer op Libertas-plaas in Die Boord, Stellenbosch. Al die verskillende areas en geboue is redelik naby aan mekaar.
Daar is musiek- en dansoptredes, jeugproduksies, tipe Ted Talks, modeparades en vele meer om te sien in Die Teater waar daar ongeveer 100 stoele is. Binne, in Die Kafeteria, wat die ou manor is, sal daar kos bedien word om die groot etenstafel (knights’ round table). Daar is ook piekniekplek op die grasperk.
MR: Hoeveel keer kan ek gaan met daardie weekkaartjie?
DE: Die R1 000-feeskaartjie gee volle toegang na die Veldhospitaal – 10:00 tot 22:00 vanaf die 14de tot die 19de Oktober. Dis ’n absolute bargain! Ek meen, deesdae is dit twee pakkies kruideniersware. Jy kan in- en uitkom soos jy lus het. Die Veldhospitaal is ’n perfekte tussenganger, of wegspringplek, of final destination, of haasgat, of net ’n plek om te chill.
En jy sal beslis weer wil kom.
Die R500-dagkaartjie dek net een van die ses dae, 10:00 tot 22:00.
En die R250-halfdagkaartjie dek een dag, óf 10:00 tot 16:00 óf 16:00 tot 22:00.
MR: As ek blomme en ’n beterskapkaartjie bring, sal dit iemand baat – anders as my eie ego?
DE: Almal hou tog van ’n mooi woordjie en ’n bossie blomme. Miskien gee jy dit vir ’n kunstenaar wat jou inspireer, of ’n vreemdeling wat lyk of hulle dit benodig, of ... aan jouself.
MR: Wie is die kunstenaars wat deelneem en watter tipe kuns beoefen hulle (gewoonlik) – wie se werk sal ek herken?
DE: Daar is ongeveer 50 kreatiewes wat deel vorm van dié lewende beeldhouwerk.
Daar sal musiek, performance art, jeugproduksies, visuele kuns, interaktiewe opvoerings, werkswinkels, modeskoue, DJ-diskopartytjies en die koelste mense ooit wees!
Onder andere:
Haidee Nel (arms en hande) – beeldhouer
Debbie Ryan (kop aka mind) – digter
Jaco Sieberhagen (lens) – beeldhouer
Barbara Wildenboer (mother tongue) – multimedium- visuele kuns
Bernard Brand (lymph nymph) – fotograaf
Gert van Tonder (traan) – landskapkunstenaar
Luna Paige (emosies) – musikant
Trude Gunther (milt) – visuele kuns
Seun op Aarde (derms) – video- en klankkunstenaar
Freek Oerson (pypies) – toneelspel
Maia Nel (tande) – skrywer en aktrise
Anele Jeanius en SABC4 (voete en wortels) – musikante
Geen deel van die liggaam is meer belangrik as ’n ander deel nie, en ons het almal mekaar nodig. Net so affekteer die siekte van een orgaan ook die res.
MR: Wat is die doel van die Veldhospitaal en hoe pas dit in die 2025-kunslandskap in?
DE: Op die oomblik is die kunslandskap grotendeels ’n woestyn. Die kunstenaars moet stap oor die sandduine sonder enige water en aan die einde van die reis kry hulle een groot applous. En dan word hulle teruggestuur om dit weer te doen.
“Ek het agtergekom dat almal eintlik wil terugkeer na die hart, na menswees en na die Aarde” (Haidee Nel).
MR: Waarheen reis dit na die Toyota Stellenbosch Woordfees?
DE: Die Veldhospitaal is ’n tipe traveling circus. Ons kan enige plek iewers volgende gaan: Kaapstad, Berlyn, ’n ander universe?
Ons sal moet wag en sien ...
Hier is besonderhede oor kaartjieverkope en nog inligting oor Veldhospitaal.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud oor Zoid Psalms
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boklied, 30 jaar later – ’n onderhoud met Marthinus Basson
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 en die EasyEquities-skrywersfees: ’n onderhoud met Bibi Slippers
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ontaard nooi gehoor uit na ’n saamwees om die woord
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud met Saartjie Botha



