Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Woorde open wêrelde, ’n onderhoud met Fiona van Kerwel

  • 0

Naomi Meyer praat met Fiona van Kerwel, wat haar hoogtepunt hierdie naweek by die Toyota Stellenbosch Woordfees bereik.

Fiona, jy is jare lank al betrokke by die Woordfees se WOW Spelfees. Woorde open wêrelde. Julle is besig met WOW-projekte in al nege streke van die land. Die hoogtepunt van vanjaar se WOW-projek is die samekoms by die Woordfees op die 11de Oktober. Vertel asseblief vir almal wat hier lees en nog nie weet hoe dit werk nie, wat presies by die WOW-fees gebeur.

Op 11 Oktober skop ons die WOW-fees tydens die Woordfees af met die 16de Sanlam WOW Nasionale Spelfees, waar leerders, opvoeders en ouers van agt provinsies van ons land Stellenbosch kom besoek. (Candice het van hierdie inligting in die persverklaring geplaas.) Vanjaar word ons sinmakers (woordverwerkers) opgelei deur VivA en het gratis toegang tot die WAT vir hierdie belangrike soektogte, alles om gehalte te verbeter. Hierdie nasionale ronde is voorafgegaan deur provinsiale rondes, wat gevolg het op onderwysdistrikte en onderwyskringe se finale. Die drie tale wat deel vorm van die Spelfees, is Afrikaans (graad 1–10), Engels (graad 4–9) en isiXhosa (graad 6–8). Deelnemers word gevra om die woorde hardop te spel en opvoeders vorm ’n paneel wat pogings van leerders beoordeel, en daarvolgens kry hulle punte. Die proses gaan so voort totdat slegs die laaste leerder oorbly, wat dan as wenner van die spesifieke graad aangewys word. Elke deelnemer en diensdoende opvoeder ontvang ’n sertifikaat vir deelname. Op nasionale vlak kry wenners ook klein kontantpryse en die eerste plek ontvang ’n selfoon. Alle wenners ontvang ook boekpryse, geborg deur NB en Jonathan Ball.

Hoe kies julle die woorde wat die kinders moet kan spel? Kyk julle na woorde waarmee kinders gewoonlik sukkel, gee julle aandag aan woorde wat kinders se woordeskat kan uitbrei, probeer julle woorde vaslê deur die spelling daarvan te vra – of hoe werk die proses as julle die woordelys kies?

Woorde word uit die gepaste kurrikulum van grade gekies en aangevul met moeiliker woorde, soos in die AWS en ander woordeboeke opgeteken.

Die WOW-projek word beskou as ’n bemagtigende projek vir skoolkinders. Hoe open woorde wêrelde? Hoe rus dit kinders toe vir die toekoms en het jy enige suksesstories om te deel?

WOW poog om elke geleentheid wat ons vir leerders skep, in ’n geleentheid van leer deur prettige, opvoedkundige aktiwiteite te omskep. Ons bied moontlikhede waar leerders deur die geskrewe woord, of deur woorde wat hulle sien of hoor, of moet projekteer altyd besef watter potensiaal ontsluit kan word. Ons bied dus geleenthede waar leerders deur omgang met woorde vir hulself moontlikhede kan skep: dalk tot verdere studies, dalk tot optrede voor gehore, of soms net tot die besef dat hulle deur harde werk en toewyding hul eie leefwêreld positief kan verander en positiewe rolmodelle binne hul gemeenskap van oorsprong kan wees.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 press release: SboNdaba Dance returns home with In search of our humanity

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Maak boerseep met Canettevallei

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud met Veronica Bell

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top