
Canettevallei Laventel- en Wynplaas is geleë net buite Stellenbosch. Maar die laventelgogga het Ingrid de Waal eers gebyt toe sy in Frankryk gewoon en gewerk het, voordat sy begin droom het oor laventellande in haar tuisland. In 2015 het daar ’n verskeidenheid sepe op die rakke bygekom. Ingrid voel baie sterk oor ons kulturele erfenis en hou van boerseep as deel van ons erfenis. Daar is nie gereeld seepmaak-werkswinkels nie, so Maak boerseep met Canettevallei is ’n gulde geleentheid en uniek vir die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Ingrid vertel toe sy in Frankryk gewoon het, het sy die geleentheid gebruik om Provence te besoek en het verlief geraak op die laventelvelde. “Ons het eers veel later die potensiaal raakgesien toe ons begin droom het van ons eie wynhandelsmerk. Ons het geweet ons wou eendag ’n proelokaal oopmaak waar ons, ons boetiekwyne aan die publiek kan bekendstel.” Hul plaas is een van die oudstes in Stellenbosch-kloof. Stellenbosch-kloofpad was die oorspronklike pad Kaap toe vanaf Stellenbosch en het vroeër bekendgestaan as “Die Ou Kaapse Hardepad”, maar die naam is later verander. Canettevallei is een van die oudste tradisionele wynplase in Stellenbosch-kloof.
“In 2005 het ons gedink dat laventel ’n mooi ekstra sal wees vir besoekers aan ons wynproelokaal en in daardie jare was vlugtige olie as boerdery baie in die mode. Toeriste wil meer as net wyn proe, hulle wil ’n ervaring hê, en daarom het ons op laventel besluit. Oor die jare het dit op ’n organiese manier ontwikkel om nog ’n variëteit by te plant sodat dit ons blomseisoen kan verleng vir toerisme.”
Vlugtige olie van laventel is die raison d’être van Canettevallei en is hul belangrikste produk. Daarna het laventel in verskillende droë vorms bygekom, verpak in verskillende vorms, lekkerruiksakkies, laventelheuning en sedert 2015 ook ’n groot verskeidenheid natuurlike sepe. Die produkte was alles ’n natuurlike uitvloeisel van wat beskikbaar was in terme van visie en hulpbronne en hul span se onderskeie talente. Die handelsnaam van al hul laventelprodukte is Canettevallei, en die wyne is beskikbaar onder die handelsnaam Pella.
........
Ingrid sê hulle bied nie gereeld seepmaak-werkswinkels aan nie, maar sy sal dit eendag graag wil uitbrei. Die seepmaak-werkswinkel is spesiaal vir die Woordfees, ook in Afrikaans aangebied, en spesifiek boerseep. “Ek voel dit is belangrik om ’n ophef van boerseep te maak vir ons nageslag. Met vandag se wetenskaplike tegnieke is ons boerseep ook meer verfynd as in ons oumas se dae, en kan dit gepasmaak word vir spesifieke doeleindes, byvoorbeeld vir sensitiewe velle, vir babas, vir vlekverwyderaars, vir skottelgoed, as ’n sjampoeseep, ensovoorts.”
........
Ingrid sê hulle bied nie gereeld seepmaak-werkswinkels aan nie, maar sy sal dit eendag graag wil uitbrei. Die seepmaak-werkswinkel is spesiaal vir die Woordfees, ook in Afrikaans aangebied, en spesifiek boerseep. “Ek voel dit is belangrik om ’n ophef van boerseep te maak vir ons nageslag. Met vandag se wetenskaplike tegnieke is ons boerseep ook meer verfynd as in ons oumas se dae, en kan dit gepasmaak word vir spesifieke doeleindes, byvoorbeeld vir sensitiewe velle, vir babas, vir vlekverwyderaars, vir skottelgoed, as ’n sjampoeseep, ensovoorts.”
Sy glo die geheim is geduld. “Seepmaak leer ’n mens om geduldig te wees; dit kan nie haastig gedoen word nie. Dit is belangrik om die vet te reinig om reukloos te wees, voordat jy die seep maak, anders ruik die seep te sterk na dierevet.”
Die klas is so ontwerp dat dit persone sal toerus om enige kouewaterproses-seep te kan maak na afloop van die klas, nie net boerseep nie. Dit is geskik vir beginners, maar die persoon sal op hul eie kan seepmaak daarna. Vorms, veiligheid, olies, vette, bytsoda, ryping, droging, geur- en kleurmiddels word bespreek. Dit is volgepak met inligting en wenke. “Dit sal aanklank vind by ondernemende boervrouens wat iets op die plaas wil doen en toegang het tot dierevet, maar ook enige kreatiewe persoon wat belangstel in die seepmaak-wêreld, of gesondheidsbewuste mense wat hul eie velprodukte wil maak.”
Hier is nog inligting.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud met Veronica Bell

