
Foto: Woordfees
Yolanda du Toit vra vir Lize Beekman oor haar nuwe album en gelyknamige Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie, Tussen hier en daar.
Lize, vertel ons meer van jou nuwe album, Tussen hier en daar, wat nou pas vrygestel is.
Ek is dankbaar dat ek kan sê ek voel ten diepste tevrede én baie trots op die album. Die hele proses – van skryf tot vrystelling – was ’n vreugdevolle reis en ek het elke oomblik op die pad ingedrink en gekoester. Daar is 10 snitte op die album. Die meerderheid is nuut uit my skryfpen, twee snitte is akoestiese weergawes van liedjies van my wat al voorheen opgeneem is, en dan is daar ook ’n toonsetting wat ek gedoen het van Antjie Krog se gedig “My mooi land”. Daar is ’n verskeidenheid wat ek glo dit vir die luisteraar gaan moontlik maak om die liedjie/s te kry waarmee hulle identifiseer en wat netsowel hulle eie storie kan wees.
Wat kan die gehoor verwag van jou vertoning by die Woordfees met dieselfde naam?
Enigeen wat lief is vir ons mooie taal en lief is vir mooi musiek, kan uitsien na ons Woordfees-vertoning. Dis in alle eerlikheid so eenvoudig soos dit. Jy kan rustig kom sit vir 70 minute en na die stories in die musiek én woorde luister, onopgesmuk. Ek glo mense sal hoor, én voel, dat dit met sorg en liefde geskryf en saamgestel is. Die musikante wat saam met my op die verhoog gaan wees, is waarlik wêreldgehalte en dis vir ons elkeen ’n hartsaak om vir ons gehore ’n mooi ervaring te gee. Wanneer die gehoor ná die vertoning voel hulle was op ’n reis tussen hier en daar, dan het ons bereik wat ek só graag wil.
Jy is ’n kunstenaar in murg en been, skryf die allermooiste lirieke en melodieë én boonop skilder jy. Die opsomming: “Lize weaves stories into the lyrics that colour the everyday in her unique way” slaan inderdaad die spyker op sy kop. Hoe verskil dié album (en produksie) van die voriges? Hoe vervleg hierdie produksie die stories, die musiek en die kuns inmekaar?
Dit was die eerste album van my wat deur Janine Neethling vervaardig is. Buiten dat ek glo ’n vervaardiger se stempel word ook afgedruk op die klank van ’n album, kan ek regtig sê dat Janine my visie verstaan het. Sy het met die allermooiste verwerkings vorendag gekom. Ons het lank voor die opnames reeds tyd spandeer om elke liedjie met sorg te benader, want dit was vir my as liedjieskrywer belangrik dat die fokus op die lied is, dat die storie vertel word en dat dit net kry wat nodig is om die vertelling en die emosie daaragter te ondersteun. Sonder om te probeer “slim” wees en allerlei tierlantyntjies by te voeg wat kon gebly het. Ons beweegredes rondom die keuses van instrumentasie was dus nie bepaal deur of dit radio-vriendelik is en of dit “populêr genoeg” gaan wees nie. Gevolglik voel ek dis die mees outentieke album in my loopbaan tot dusver. En ons bring dieselfde benadering na die produksie toe. Ek wil veel eerder die lirieke, musiek en stories in die kollig sit, as vir “Lize”.
Is daar uitdagings om te skilder en ’n musikant te wees? Uitdagings vir jou en met betrekking tot mense se verwagtinge, dalk.
Die enigste uitdaging rondom ’n loopbaan in musiek én visuele kuns is seker om genoegsaam tyd vir beide te gee, sodat beide kan groei en floreer. Maar buiten dié tyd-uitdaging, loop die twee eintlik hand aan hand en ondersteun mekaar in ’n mate. Daar is vir my ’n sinergie tussen die twee vorme van kreatief wees. Wanneer die een oorversadig is en spasie nodig het, is die ander een daar en gee ’n plek waar ek steeds kreatief kan wees, maar tog kan terugstaan vir nuwe perspektief. Veral tydens die skryfproses sal ek dikwels – wanneer ek vashaak en die regte lirieke soek – eers by my tekentafel gaan sit en skets. Dis asof daai rustige kreatiewe spasie die nodige afstand bied om die storie van die lied weer in perspektief te bring en die lirieke te laat vloei. Dan is daar natuurlik ook die nuwe finansiële uitdagings op die musiekfront. ’n Album is deesdae weens digitale stroming nie regtig meer ’n inkomste nie, en alhoewel dit altyd ’n liefdestaak is, is dit ’n enorme uitgawe. So, die finansiële inkomste wat my kuns genereer, help dra aan wat nodig is om musiek te maak.
Ek voel bevoorreg en dankbaar dat ek beide het. Met betrekking tot mense se verwagtinge ... Ek dink aan die begin van my visuele kuns-loopbaan het mense minder spasie gehad daarvoor as wat hulle nou het. Hulle het my geken as sanger-liedjieskrywer en het dit “verkies”. Maar, intussen, dink ek hulle het meer insig in die feit dat die visuele kuns ook vir my goed is en vir my sorg en dat dit selfs my musiek aan die hand vat. So, ek ervaar meer en meer aanvaarding van mense vir die feit dat enige vorm van kreatiwiteit vir my ten goede is van ’n mooi en positiewe lewensreis.
Wat het daartoe gelei dat jy besluit het om jou nuwe album as ’n produksie aan te bied?
Die produksie is vir my ’n feesviering van die album, en seker in ’n mate ook ’n afsluiting – met dankbaarheid – vir ’n lang pad wat gestap is. Van daar waar die liedjies een vir een gebore is, tot hier waar ek dit kan deel met dié wat graag wil luister. My hart is in elke stukkie musiek en liriek. Met die produksie is dit asof ek dit ’n oomblik gee, gaan stilstaan, by wyse van spreke my hoed lig vir die album, dankie sê en groet, sodat dit kan gaan waar dit wil gaan en ek kan aanbeweeg na wat ook al volgende op my pad is.
Janine Neethling is saam met jou op klavier en trekklavier; Anjulie Nock op tjello en baskitaar; en Mauritz Lotz op kitaar. Het julle reeds vantevore saamgewerk?
Janine, Mauritz en Anjulie het die album saam met my opgeneem, maar met die vertonings by die Woordfees sal dit die eerste keer wees dat ons vier saam op die verhoog is. Ek het wel met elkeen van hulle individueel al ’n pad gestap. Mauritz was die vervaardiger van my vorige album, Hier en nou. Anjulie en ek het al verskeie vertonings saam gedoen die afgelope paar jaar, en my en Janine se paaie het baie jare gelede al gekruis. Ons eerste samewerking was in der waarheid in ’n produksie wat Amanda Strydom en Elzabé Zietsman saam gedoen het, toe ek en Janine dié twee se onderskeie begeleiers was. Ek onthou Janine was tóé reeds die ervare, gerekende pianis en musikale regisseur, en ek was ’n jong groentjie wat nog so baie moes leer. En oor die jare was Janine dikwels die musikale regisseur van groot produksies met verskeie kunstenaars waarvan ek ook deel was. Ek het geweldig baie respek en admirasie vir elkeen van die drie musikante. En nie net vir hulle musikaliteit, talent en professionaliteit nie, maar ook vir hulle menswees. Ek weet ek is baie bevoorreg dat hulle saam met my musiek maak.
Wat ervaar jy persoonlik as ’n hoogtepunt vir jou in hierdie produksie?
Die vooruitsig van dié drie begaafde musikante saam met my op die verhoog is ’n groot bederf. Hoe meer musikante saam met jou op die verhoog is, hoe duurder is dit om ’n produksie op die planke te sit. So, dit is selde haalbaar vir my as solo-kunstenaar. Eerder as wat ek vóór hulle op die verhoog sit, sit ons in ’n halfmaan, want ek wil hê dat die gehoor ook die bederf beleef om elkeen van die musikante waar te neem en die musiek ten diepste te ervaar. Ek sien myself in die eerste plek as liedjieskrywer voor ek myself as ’n sanger sien. Ek sien uit daarna om die musiek en lirieke in die kollig te sit.
Die afgelope 28 jaar vermaak jy al gehore. Waar kry jy jou inspirasie en idees vandaan vir nuwe musiek, albums en produksies?
Aan die een kant is die lewe vol inspirasie as jy genoegsaam aandag gee aan wat binne jou en rondom jou gebeur. Aan die ander kant het ek wel ook geleer dat jy as skrywer nie net kan sit en wag vir die inspirasie om verby te kom nie. Jy moet moeite doen om dit te soek. En as jy dit nié kry nie, moet jy steeds jou skryfpen optel en skryf. Dikwels is dit asof die muse die pen in jou hand sién en oplet dat jy in gereedheid is. Dan sal dit weldra opdaag. Nie altyd noodwendig op jóú tydlyn nie, so geduld (het ek al geleer) is ook ter sprake! Soos in enige beroep, moet jy jou vakmanskap slyp en die spier oefen. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker identifiseer jy die storie en die emosie wat jou inspireer, wat dan die musiek en liriek laat vloei. Soms natuurlik ook makliker gesê as gedaan, maar met passie en liefde kan mens ver kom!
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Mel vertel, Portchie paint!
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Woorde open wêrelde, ’n onderhoud met Fiona van Kerwel
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Maak boerseep met Canettevallei

