
Foto: Jannike Bergh
Sonografie: grepe in roots en blues is ’n transkulturele verkenning van die klanke wat ons bind. Dit is die tweede jaar dat hierdie Woordfees-produksie in samewerking met WOMAD Suid-Afrika plaasvind.
Dié jaar het die energieke multi-instrumentalis N’Faly Kouyaté, beskryf as die “Jimi Hendrix van kora-musiek” (oorspronklik van Guinée-Conakry en woonagtig in België), eenmalig saam met die Suid-Afrikaanse baskitaarspeler en musiekfeesveteraan Schalk Joubert en digter/sanger Jolyn Phillips opgetree. So ’n musiekuitruil-konsep is goud: Waar in die wêreld sou mens kon droom om Jolyn Philips se sielvolle jazz in Afrikaans begelei deur melodieë uit Wes-Afrika te kan hoor?
Schalk Joubert beaam juis hierdie gedagte wanneer hy Louis Mhlanga se lied “Zvinoshamisa” inlei. Die titel verwys na die Shona-woord wonderwerk en Schalk verduidelik: “Waar die wind gaan, weet ons nie, maar dis ’n wonderwerk dat ons mekaar ontmoet.”
Jolyn sing daarna “Lemoentjie” en verduidelik aan die gehoor: “The sounds of blues and jazz come from a place of heritage and family. When I start singing it comes from home.”
Suid-Afrika oorvloei van musikale talent ten spyte van gebrekkige infrastruktuur. Dit is daarom dat mens hierdie tipe internasionale samewerkings byna slegs via feeste sal raakloop. Kulturele uitruilinisiatiewe tussen een Afrika-land en ’n ander is veral skaars. Dit is jammer dat Kouyaté en die Suid-Afrikaners so min tyd saam op die verhoog deurgebring het. Daar sou nog meer kon wees om te ontgin – die verwondering en die organiese samevloei van tale en musikale dialekte het heelwat gekwyn toe die konsert oorgegee is aan Kouyaté, wat die res van die vertoning met backtracks en geykte Mandela-nostalgie verder geneem het. To each their own – dit kom neer op ’n kwessie van smaak. Muriel Kouyaté se elektriese kalbas word sekerlik met rede ingespan, maar iewers het ’n disconnect ingetree wat in teenstelling was met wat die projek dalk wou bereik.
Dit daar gelaat, is dit wonderlik dat sulke niche samestellings bestaan. Dit sal ook lieflik wees om Schalk Joubert en Jolyn Phillips weer in die toekoms saam op die verhoog te sien – beide is vlot in improvisasie en veelsydige samewerkings en dit maak dus sin dat hulle soomloos bymekaar inval. Wat egter uitstaan, is die onverwoordbare alchemie van musikante wat méér as bloot bekwaam is: Daar is aura. So word ’n lied ’n gesprek, ’n innemende ruimte. Jolyn noem dit ’n tuiste. Dit kan nie aangeleer word nie; dit is waar jy vandaan kom.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Tussen hier en daar, ’n onderhoud met Lize Beekman

