Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n oorsig

  • 0

Die 25ste Toyota Stellenbosch Woordfees was nie my 25ste nie – amper – maar daar was vanjaar vir my ’n verskuiwing in die toneelstukke en gesprekke. Dit is asof die fees se 25-jarige self die jongmense vir die eerste maal – onbewustelik dalk – waarlik die platform gegee het om hul stem te kom dik maak; hul plek mooi af te tree en penne in te kap; en te sê: “Ons is hier om te bly. Julle gaan luister na die seer van ons harte; ons gaan die boosheid laat uitloop en ons gaan saam heel word.”

’n Kwarteeu van fees is genoeg fondasie; dié huis moet mure en vensters en ’n dak kry.

Siphokazi Jonas is ’n opwindende nuwe stem in Suid-Afrikaanse digkuns en deel vanjaar die feesdigter-titel met Antjie Krog. Hierdie klein plakkers agterop stoele gryp die verbeelding aan.

Ek sien dit in Kinderlê en Joshlin: Meer as ’n naam; hoor dit in die digters van Dead Poets Society; sien dit in die kuns by Veldhospitaal; sien dit in die reaksies van jong gehoorlede by Huis van sand, Boesman en Lena en Seun. Dit staan op klein plakkers wat agterop stoele in sale geplak word; dit eggo in die feeskunstenaars se werk in die US Museum. Ek sien dit ook in die benoemdes vir Woordtrofees wat op 13 November in die Endlersaal op Stellenbosch vereer word. Daar is sewe jongmense benoem in die kategorie vir beste opkomende kunstenaar; heelwat van die benoemdes in ander kategorieë is nuwelinge. Vind die volledige lys benoemdes hier.

Die kunsrewolusie is hier in volle glorie en die stem is jonk en sag, maar ferm en vol belofte. Die tyd vir mooipraat is verby; dis nou tyd vir opstaan, herbou en saam na die toekoms kyk. As jy gedink het die jong stemme is stil omdat hulle nie omgee nie of nie ingelig is nie of onvolwasse is, hap jy wind. Net omdat hulle nie deel van die onregte van die verlede was nie, beteken nie dat hulle nie die gevolge daarvan verstaan of ervaar nie.

Weens verskeie beperkinge kon ons net vyf dae van die fees bywoon. Daar is baie om te sien en te ervaar en sommige stukke, werke of gesprekke het ’n dag of twee nodig om behoorlik in jou gemoed te gis. Ek het in die verlede probeer om aan elke stuk en bespreking en konsert ’n paar sinne te wy; om vir almal ’n regverdige kans te gee. Vanjaar wyk ek af en gee eerder indrukke oor dit wat my as mens só diep geraak het, dat ek bloot nie daaroor kan stilbly nie.

Een hiervan is Kinderlê. Ek kan sê wat die feesgids my oor Kinderlê vertel het: “’n Wrok, sê hulle, is ’n seer ding. Namas en Boesmans is mos vreedsame mense. Hulle gee af as daar moet afgegee word en hulle vat nie. Maria het ’n kjeent by God gesmeek en God het gegee. Dawid en Maria is vir Dammas gegee. Op ’n Sondag in 1867 word hulle kamp, Nona-Ams, deur Boesmans oorval terwyl die grootmense ’n kerkdiens bywoon. 32 Nama-kjeeners, hulle oppassers en honde word doodgemaak. Dieselfde God wat vir Dawid en Maria gegee het, vat vir Dammas en 31 anner Nama-kjeeners terug. En gee en terugvat is erger as steel. Dié stuk bied ’n Noord-Kaapse geskiedenis wat nie alombekend is nie. Met kwessies oor ma-wees, ouer-wees, geloof en ’n tragiese geskiedenis wat se letsels nou nog op Namakwaland se rug lê.”

Dan kan ek sê wat die stuk aan my binnegoed gedoen het; die knoop in my derms waarmee ek uitgestap het. Vir hoeveel jare het ons geleef asof sekere mense se gevoelens en verliese meer saak maak as ander s’n? Om verontreg te word; om jou kind te verloor; om wanhopig te wees, het niks met die kleur van jou vel te make nie. Die versugting van Maria dat dit wat jy veroorsaak, jou sal oorkom. “Dalk nie nou nie.” Sela.

Later hoor ek die klippe wat die oppassers en kinders en honde voorgestel het, kom daar van die ware slagveld af; die name wat agter teen die muur verbygerol het, is van die ware slagoffers. Ons weet so baie van die “wit” geskiedenis van hierdie land; het soveel empatie met die slagoffers van die oorloë – op eie bodem sowel as oorsee – maar hoekom hoor ons bykans 160 jaar later eers van hierdie seer?

Kinderlê se onderdrukking – eers deur die witman en toe deur stamme onder mekaar – is aangrypend.

Kan ek as 54-jarige wit vrou werklik verstaan wat ek sien in Kinderlê of Joshlin of Boesman en Lena? Kan ek my opinie uitspreek oor akteurs, regisseurs, klankbaanskrywers en beligtingsmense se vaardigheid, as die onderwerp wat hulle op die verhoog uitleef, deel van ons binnegoed is, maar ’n swerende seerplek is wat net nie gesond wil word nie?

Selfs in die Woordfees-wynskool: Bubbly 101 is die wynmakers jonk en entoesiasties en die gehore nog jonger.

Dit is tydens ’n aandete en glas wyn met kollegas wie se notaboeke en siele net so vol is as myne, wat ons dié onderwerp onder die bome buite die Hofmeyrsaal aanraak. Die spoke van die bevoorregtingsverlede loop ’n voetpad hier. Elke naam, elke gewel om ons, gee iemand aanstoot; herinner iemand aan seer. Een opinie wat my effe berusting gee, meen dat die feit dat ons daaroor praat; dat ’n mens ongemaklikhede aanspreek en in die gesig staar, al klaar deel van die helingsproses is.

Die oorversadigheid van ons samelewing aan kinders wat wegraak, word treffend uitgebeeld in Joshlin: Meer as ’n naam.

In Joshlin: Meer as ’n naam kom die aantyging: hoe walglik is ’n samelewing wat nie na sy kinders kyk nie; wat geen respek vir ons toekoms het nie. Die akteurs druk koerante in hul sweetpakke; lyk soos sleggestopte worse – oorversadig van slegte nuus; van kinderverdwynings en dwelmmisbruik in armer gemeenskappe. Ek ken dié gevoel. Tot die waar woorde kom: “Ons is gedeeltes van die gewoonte. Net ons kan die blame vat. Ons is verantwoordelik vir alles. Ons is almal aandadig.”

Wilhelm van der Walt in Seun.

Ek voel effe meer “tuis” in Seun – bloot omdat Dana Snyman en sy storie oor Pretoria en Saal 24 en die Voortrekkermonument en die wete dat die pad vorentoe beslis nie saam met Eugène Terre’Blanche op ’n perd is nie, ’n bietjie meer met myne belyn is. Ook ek het uit konserwatisme op die platteland in die groot stad beland; joernalistiek geswot en danksy mentors soos George Claassen en Pedro Diederichs die lig gesien.

Ek het my oorlede skoonpa sien worstel met die tyd ná 1994 toe lugmag- en weermag- en vloot-offisiere vir biltong uitgehang is en die oud-regering vir hulle met wuiwende vingers in hul ore “Wêla kepêla” gesing het, omdat hulle hul hele lewens aan ’n saak gewy het, maar soos Seun se karakter van binne uitgehol is deur die “pille” wat hulle moes sluk (vir sommiges was dit fisiese pille, vir ander was dit leuens). My geliefde het diensplig gedoen, die tonele in dié stuk is oorbekend.

Daar is Seun se woorde: “In Pretoria word jy nie toegelaat om te vergeet wie jy is nie – ’n Afrikaner.” En dan later hoe hy in sy pa se oë kan sien dat hy iemand geword het, wat hy nie ken nie. “Maar miskien moet jy eers jou pa verloor, voor jy hom kan vind.”

Boesman en Lena speel in die laat sestigs af, maar is vandag nog net so relevant.

Toe ek die vooraf-storie oor Boesman en Lena doen, het ek vir Christo Davids (regisseur) en Brendon Daniels wat Boesman speel, gevra hoekom hierdie storie 50 jaar later nog relevant is en wat dit tot vandag se politieke en sosiale debat bydra.

Die toneelstuk speel gedurende Apartheid in die laat sestigs af in die Swartkops- informele woonbuurt naby Gqeberha (die voormalige Port Elizabeth). Boesman en Lena is twee hawelose randfigure, uitgelewer aan mekaar, die elemente en ’n politieke bestel wat hulle nie ag nie. Athol Fugard se ikoniese stuk is ’n boeiende blik op die verwikkeldheid van verhoudings en sosiale ongeregtigheid. Dit is ook ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid. Dit ontgin temas van onderdrukking, maar ook die mens se vermoë om aan te hou veg vir hul plekkie in die son.

Christo se antwoord was: “Wat dit bydra, is wat die gehoor alleen kan besluit. Vir my is die doel van hierdie toneelstuk om te wys: Kyk, hierdie mense bestaan nog steeds in ons samelewing. Dinge het verander vir baie, maar vir vele ander het dit dieselfde gebly.”

Brendon het geantwoord: “Die geselskap se verantwoordelikheid is om hierdie vraag hardop te vra en dit met die gehoor te los.”

Lena verklaar op ’n keer: “Eensaamheid is soms twee mense. En soms is dinge net ’n paar woorde, maar dis ’n lang storie as jy dit self geleef het.” Boesman verklaar weer dat hulle die witman se vullis is en dat elke keer as ’n sinkhuis platgestoot word deur ’n stootskraper, jy meer as net ’n huis verloor; dis jou sad storie wat saambrand of gesloop word.

Lees die onderhoud hier.

Danie Marais se teks in Ek is nie Danie wat vra hoe vra ’n mens om verskoning – en vir wie – vir jou witgeit, jou bevoorregting, dat jy in ’n sekere huis gebore is.

Dan, heeltemal aan die ander kant, vind ek ’n rusplek vir my moeë gemoed in die woorde van Danie Marais in Ek is nie Danie, wat vra hoe vra mens om verskoning – en vir wie – vir jou witgeit, jou bevoorregting, dat jy in ’n sekere huis gebore is. Hoe vra jy om vergifnis as niemand eintlik belangstel om te hoor wat jy te sê het nie, want jou aandadigheid aan die verlede, jou velkleur en jou bagasie maak dat jy te skaam is om te sê dat ook jy worstel met die hede. Dat jy ook blindelings rondtas en probeer sin maak.

Die klank kom van net een luidspreker – ek wonder of dit doelbewus is? Dit is ’n monoloog van ’n soekende man dié, dis heel gepas as hy ’n enkel-eggo van sy eie woorde is.

Vir ’n hele ruk net voor die einde van die vertoning, word die gehoor in hul eie versplitterende kollig gehul. Albert Pretorius stap tussen die mense op; kyk van buite af na binne. Dit maak my ongemaklik; trek my in die debat in. Met koffie in die hand ná die vertoning, verklaar een vrou dat sy dit baie geniet het. “Ek was ook vir ’n paar sekondes op die verhoog en het daarvan gehou dat ander mense my kon sien.”

Huis van sand se teks het bewys dat wat aan kinders gedoen word, dikwels in hul eie lewe met hul eie kinders herhaal word.

In Huis van sand is verspeelde kanse, versplinterde drome en die feit dat almal tog die kans kry om hul gebrokenheid te deel, ’n deurlopende tema. Ook dat die onregte wat kinders aangedoen word, vir altyd met hulle bly en weer in hul eie lewens met hul kinders herhaal word.

Die jong Simphiwe Ndzube wat tans in Los Angeles, Kalifornië werk, se installasie, Iphupho (A dream) wat deel van die Stellenbosch Triennale is.

Tussendeur was die uitstalling in die US Museum (sowel as deel van die Triennale en as feeskuns) net so intens en gemoedswoelig. Kwessies soos wie se grond dit nou eintlik is, is met kuns uitgebeeld.

Die jong ontvanger van die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs, Lynthia Julius van die Namakwaland, wat ’n gedig skryf oor trille en jongmense wat in ekstase hande klap. Agter haar sit Joan Hambidge en Bibi Slippers.

Daar was digters wat hul siele kom ontbloot by voorlesings wat wissel van iemand wat drie vriendinne in drie jaar aan plaasmoorde verloor het; tot ’n jong ontvanger van die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs, Lynthia Julius van die Namakwaland, wat ’n gedig skryf oor trille en jongmense wat in ekstase hande klap; en waardige tannies met linnepakkies wat vir 240 minute deur Boklied sit – dalk deur die skrefies tussen hul vingers kyk, maar sit.

Ons is besig om te verander; stadig dalk, maar ons begin ander stemme hoor. Ons begin plek maak op verhoë vir jong en nuwe perspektiewe. Ons gee aan nuwelingregisseurs en -teksskrywers staande ovasies al is daar tekortkominge en klankstelsels wat faal; of vertonings wat laat begin oor verkeer feesgangers vertraag; want die boodskap is groter as tegniese volmaaktheid. Ons wat ouer is, begin die bevoorregting van ons velkleur besef. Verstaan dalk nog nie, maar wel besef en dit is klaar vordering.

Gert van Tonder se Trane/Tears aka Liquid Emotion was deel van die Veldhospitaal-uitstalling en dis hier waar jy by ’n huilklip onder ’n moerbeiboom ’n emmertjie water skep en die klip die huilwerk vir jou laat doen.

As randeier staan ek in die ooptes van Libertasplaas voor ’n ou gewel-opstal nadat ek pas gehoor het watter planne die eienaars het om hierdie statige dame uit die as te laat verrys. In Veldhospitaal is daar in ou kuipe en gaatjies kunstenaars wat wag om hul stories te deel, van borskanker en getatoeëerde tepels en die ydelheid om oor hare te huil wat met chemo uitval en wat regtig saakmaak as jy die groot K oor jou lippe uiter en dit joune maak. Waar ek by ’n huilklip onder ’n moerbeiboom ’n emmertjie water skep en die klip die huilwerk vir my laat doen.

Dit is die woorde van Haidee Nel, Suid-Afrikaanse beeldhouer en selfverklaarde “kunsteNAR” wat mede-direkteur van die projek is, wat my gedagtes mooi opsom: “Ons moet die kreatiewe mense en ons eie kreatiwiteit koester. As ons nie daarna kyk nie, gaan ons dit verloor. Kuns is medisyne vir die siel. Ons droom nie meer nie; ons werk in isolasie en verleer om saam te skep.

Veldhospitaal is vir almal. Dis vir genesing deur kuns en saam skep.”

Dit strek oor alle kleurgrense heen; dit oorspan geskiedenis en kleur en kultuur en geloof en woonbuurt en hoe groot jou kar of huis of bankbalans of ego is. Maar ook oor hoe jonk of oud jy is; hoeveel jy al geleef en ervaar het. Want ons deel almal in hierdie land se geskiedenis en dit is net as ons ons stories begin deel, wat ons kan leer, luister en groei. Maar ons moet waarlik kan luister.

........
As jy regtig hoogtepunte wil hê om in die komende maande te gaan kyk, al die bogenoemde het my geraak, verander en laat dink. Elkeen sal jou as mens verryk en hopelik ook jou horisonne verbreed.
........

As jy regtig hoogtepunte wil hê om in die komende maande te gaan kyk, al die bogenoemde het my geraak, verander en laat dink. Elkeen sal jou as mens verryk en hopelik ook jou horisonne verbreed.

Dan is daar lang gesprekke met mans en vroue en hye en sye en hulle tussen vertonings deur, wat hul perspektiewe kom gee het en my opnuut laat besef het dat ek niks weet nie. Maar dat ek wil leer en groei en lag en huil en triomfeer. En dat hierdie land ook myne is; ongeag die bloedige en onderdrukkende 373 jaar sedert dit gekolonialiseer is.

Ons vir jou, Suid-Afrika. Die toekoms is in jong, kreatiewe hande en ons gaan oukei wees.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Woorde open wêrelde, ’n onderhoud met Fiona van Kerwel

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Boek jouself in by Veldhospitaal

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Ek is nie Danie – ’n onderhoud met Nico Scheepers en Albert Pretorius

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n onderhoud met Saartjie Botha

Die naweek het vele Woordfees-aanbiedinge

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Moordballades: en ander minder vrolike verse uit die Groot Vreseboek deur Chris du Plessis – ’n resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n Visuele resensie van Albert Pretorius se Ek is nie Danie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: In gesprek met Franco Prinsloo oor Miracle tree

Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ʼn indruk van Boklied – wat betieken "nie-verstaanbaar"?

Persverklaring: Toyota Stellenbosch Woordtrofees-benoemings 2025 "van indrukwekkende gehalte"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top