Fugard se Boesman en Lena terug op die verhoog

  • 0

Foto’s: Nardus Engelbrecht

Athol Fugard se bekroonde drama Boesman en Lena is vanjaar – 55 jaar ná sy première in 1969 – terug op die teaterverhoë in ’n ko-produksie van Momentum Aardklop, Toyota Stellenbosch Woordfees, ondersteun deur NATi, Festival Enterprise Catalyst (FEC) en in samewerking met die Jobs Fund.

In die rolverdeling is Lee-Ann van Rooi, Brendon Daniels en Tshamano Sebe, en Christo Davids is in die regisseurstoel. Die teks is deur Vinette Ebrahim vertaal. Alexa Strachan is die vervaardiger. Dit speel op beide Aardklop en Woordfees in Oktober vanjaar voor dit hopelik verder sal toer.

Alexa vertel: “Ons hoop is áltyd dat ’n stuk verder sal toer. Baie liefde, toewyding, maande, soms selfs jare, en geld word immers aan die pre-produksie en ontwikkeling bestee. Soos gereeld wanneer Christo Davids ’n projek aanpak, handel die werk daaroor om ’n stem vir die stemloses te wees (Queenie-hulle, Laaitie mettie biscuits as sprekende voorbeelde). Hierdie kwessies bly ongelukkig steeds relevant in ons geliefde land en moet aangespreek blý word. Dit is ons as kunstenaars se plig.”

Sy sê die pad om tot hier te vorder was ook ’n uitdagende, sensitiewe en pynvolle een. “Dis op ’n ligter noot ’n blote nagmerrie om Lee-Ann, Brendon en Christo se dagboeke te laat ooreenstem. Daarom moes ons reeds in Junie begin repeteer.

“Maar kort daarna is Wiseman Sithole, wat die rol van Outa sou vertolk, oorlede. Ons as span was in droefheid gedompel en geruk. Moet ons aangaan met die produksie?

“Dit het baie tyd geneem om ons rou te verwerk, voordat ons besluit het om tog voort te gaan. Ons is geseën toe Tshamano Sebe besluit het om by ons aan te sluit en die rol oor te neem.

“Sedertdien het die volledige geselskap gegroei tot die uitstekende tegniese en produksiespan wat Kaylin Khan, Nwabisa Plaatjie, David Kuduntwane, Kieran McGregor en Gideon Lombard insluit.”

Die toneelstuk speel gedurende apartheid af in die Swartkops- informele woonbuurt naby Gqeberha (die voormalige Port Elizabeth).

Boesman en Lena is twee hawelose randfigure, uitgelewer aan mekaar, die elemente en aan ’n politieke bestel wat hulle nie ag nie. Athol Fugard se ikoniese stuk is ’n boeiende blik op die verwikkeldheid van verhoudings en sosiale ongeregtigheid. Dit is ook ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige en ons universele neiging tot hoop en behoefte aan meelewing en menslikheid.

Hul reis neem ’n wending wanneer hulle ’n bejaarde swart man (Outa) teëkom, wat hul hulp nodig het en hul eie leë bestaan ​​ontwrig.

Die stuk is ’n gepaste huldiging aan een van Suid-Afrika se grootste dramaturge wat in Maart in die ouderdom van 92 oorlede is.

Dit ontgin temas van onderdrukking, maar ook die mens se vermoë om aan te hou veg vir hul plekkie in die son.

Dit het in 1969 by die Rhodes University Little Theatre in Grahamstad sy debuut gehad, met Fugard in die rol van Boesman; Lena is deur Yvonne Bryceland gespeel; en Glynn Day, ’n wit akteur, het Outa met swart grimering gespeel.

Dit was ’n groot sukses, wat Fugard se reputasie gevestig het en ’n belangrike werk in Suid-Afrikaanse teater geword het. Dit het ook as voorgeskrewe werk vir skole in post-apartheid-Suid-Afrika gedien.

Fugard het destyds vertel dat die toneelstuk geïnspireer is deur ’n voorval in 1965 toe hy ’n ou vrou langs die pad opgemerk het wat in die kokende warm son loop, kilometers van enige plek af, en haar ’n saamrygeleentheid aangebied het. Sy was oorweldig en het van dankbaarheid gehuil. Sy het hom vertel dat haar man pas oorlede is en dat sy na ’n ander plaas stap, omdat sy van die plaas afgesit is. As hy nie gestop het nie, sou sy die nag langs die pad deurgebring het. Wat Fugard getref het, was dat die vrou in pyn en lyding was, maar ver van verslaan was. Dit het hom geïnspireer om die toneelstuk te skryf.

Op 22 Junie 1970 het die Amerikaanse première off-Broadway by die Circle in die Square Downtown geopen, met James Earl Jones en Ruby Dee in die hoofrolle. Dit is deur John Berry geregisseer.

Die produksie, wat tot 24 Januarie 1971 altesaam 205 opvoerings gehad het, het Obie-toekennings vir beste buitelandse toneelstuk, uitstaande regie en beste prestasie deur ’n aktrise gewen.

Richard Eder van The New York Times het die toneelstuk in 1978 beskryf as een van Fugard se meesterstukke – saam met The island en Sizwe Banzi is dead.

In 1992 het die toneelstuk herleef deur die Manhattan Theater Club, deur Fugard geregisseer en met Keith David, Lynne Thigpen en Tsepo Mokone in die rolle. Dit is in die New York City Center vervaardig. Hierdie produksie het ’n Lucille Lortel-toekenning vir uitstaande herlewing en ’n Obie-toekenning vir Thigpen se vertolking gewen. Dit is ook genomineer as beste herlewing van ’n toneelstuk vir ’n Outer Critics Circle-toekenning.

Frank Rich skryf oor dié herlewingspeelvak: “Of jy nou by die Manhattan Theatre Club se herlewing van Boesman en Lena uitkom of nie, jy kan altyd ’n ander, informele weergawe van die drama dag of nag op ’n Manhattan-sypaadjie, moltreinplatform of leë erf sien. Athol Fugard se beeld van ’n rondtrekkende, hawelose paartjie wat skuiling vind in hul skrootwerfbesittings en wag vir die volgende amptelike uitsetting, is nou net so algemeen in New York Stad, onder andere, as in Suid-Afrika waar die toneelstuk in die laat 1960’s beslag gekry het. Selfs ten tyde van die première daarvan is Boesman en Lena erken as ’n universele werk wat lank nadat apartheid ineengestort het, met gehore sou kon praat. Maar wie sou kon dink dat die universaliteit binnekort só ongemaklik letterlik sou blyk?”

Boesman en Lena is in twee speelfilms omskep: een in 1973, waarin Fugard self die rol van Boesman vertolk het; en een in 2000, waarin Angela Bassett en Danny Glover die rolle van Lena en Boesman vertolk het. Dis ook deur John Berry geregisseer.

Dit bring ons by 2025 in Suid-Afrika. Het dinge enigsins verander sedert daardie warm somersdag toe Fugard die inspirasie vir ’n grondverskuiwende toneelstuk gekry het?

Ek lê ’n paar vrae voor die voete van Alexa Strachan (AS), Brendon Daniels (BD) en Christo Davids (CD).

MR: Het dinge volgens jou enigsins verander vir die armes en weerloosstes van ons samelewing sedert die sestigs?

CD: Daar is ’n definitiewe verandering in die politiese landskap waarin ons land homself bevind. As dit kom by die haweloses en die armstes, dink ek nie baie het verander van die Bybelse tyd af nie. Hierdie is ’n periodedrama wat homself in 1969 afspeel. Daar is steeds ooreenkomste met die toe en nou en dit is een van die redes hoekom Fugard se Boesman en Lena ’n tydloosheid het.

BD: Gegewe die toename in die populasie en gebrek aan gemeenskapsontwikkeling, is die situasie nou vermenigvuldig. Ons moet dink aan ’n Boesman en Lena 2.O.

MR: Hoekom nou ná al hierdie jare weer die toneelstuk afstof en opvoer? Wat dra dit tot vandag se politieke en sosiale debat by?

CD: Wat dit bydra, is wat die gehoor alleen kan besluit. Vir my is die doel van hierdie toneelstuk om te wys: Kyk, hierdie mense bestaan nog steeds in ons samelewing. Dinge het verander vir baie, maar vir vele ander het dit dieselfde gebly.

BD: Die geselskap se verantwoordelikheid is om hierdie vraag hardop te vra en dit met die gehoor te los.

AS: Ons wou natuurlik ook hulde bring aan Athol Fugard se nalatenskap. Dit was boonop ons geliefde wyle Crystal-Donna Roberts se droom om eendag saam met Christo hierdie spesifieke stuk aan te pak, en daarom dra ons ook aan háár hierdie stuk op.

MR: Hoe gemaak om die toneelstuk by 2025 te laat inpas en geloofwaardig en tersaaklik te laat wees en mense te lok wat dalk nie bewus is van die grootsheid van die dramaturg of die onderwerp nie?

CD: Die teks op sigselwe is ’n realistiese drama. Soos voorheen genoem, is daar baie lesse wat mens uit die verlede kan leer. Met hierdie toneelstuk het Fugard die gemarginaliseerde uitgelig. Diegene wat ons weet bestaan, maar ons draai ’n blinde oog. Die dialoog is poëties en die liefdesverhouding tussen twee weerlose swerwers maak hierdie toneelstuk baie uniek. Dis ’n reis. Jy beskou iets van naby wat jy so ver moontlik wil weghou. Dit is geestelik-uitdagende teater. Daar is iets vir almal in hierdie toneelstuk.

MR: Wat aan die toneelstuk het jou só geraak dat jy betrokke wou wees?

CD: Ek het grootgeword met hierdie toneelstuk. Ek het dit die eerste keer in standerd sewe gelees. My oupa Goliath Davids het die rol van Boesman gespeel in die 1970’s. My oom Lloyd Davids het die rol in 2004 by die NAF gespeel en hier word ek die geleentheid gebied om dit in 2025 te regisseer. Dis ’n toneelstuk baie na aan my hart en ek sien baie uit om my interpretasie daarvan aan te bied.

BD: Ek is konstant in die mark om betrokke te raak in teater.

AS: Ek en (veral) Christo, Lee-Ann en Brendon het al saam hordes produksies aangepak. Ek is ’n groot aanhanger van hul almal se werk en talent. Hierdie stuk bied my die geleentheid om weer eens saam met hulle te werk. Natuurlik verloop hierdie prosesse nie altyd sonder sy eie dramatjies binne elke drama nie! Met Siener in die suburbs destyds was ons senuwees gaar, omdat Brendon moes leer motorfiets ry ... En ek en Christo, wel, daaroor kan ek ’n hele boek skryf. Ons baklei verskríklik: oor spertye van tekste, oor rolverdelings, oor stelontwerp, oor hy wat dink hy kan nog steeds soos in sy dertigs 20 projekte op een slag aanpak.

En dan my gunstelingherinnering: Einste met Siener in die suburbs, toe hy die rol van Tjokkie vertolk het, was hy, ter wille van sy eie veiligheid, natuurlik, persoonlik verantwoordelik om die nodige te doen ten einde die kar op homself te laat neersak, sodat die karakter geloofwaardig selfdood pleeg. Een aand tydens ’n optrede by Artscape vergeet hy toe om die laaste bout te verwyder en die kar sak nie. Tjokkie lê toe daar en stuiptrekkings kry, met wyle Shaleen Surtie-Richards wat haarself so groot moontlik oor die kar se voorkant probeer drapeer terwyl sy wenend haar kind se “sterfte” moet beleef. Ek het vir Christo gesê: “Vir elke bout wat jy vergeet, trek ek R1 000 van jou salaris af.” As ek reg onthou, het hy daarna nooit weer vergeet nie!

MR: Wat hoop jy vermag hierdie toneelstuk in mense se koppe en harte?

CD: Ek hoop dit gee mense ’n beter verstaan van hulle by wie ons elke dag verby ry. Die effek wat die verlede nog steeds op die hede het. Ek hoop hierdie toneelstuk leef in mense se harte nadat hul dit gesien het. Dis partykeer die moeite werd om die wêreld deur ander se oë te sien.

BD: Hopelik stel gehore hulself bloot aan die ervaring om sodoende rou en ware emosies te beleef.

MR: Waar het jou pad die eerste maal met die toneelstuk gekruis – was dit ’n voorgeskrewe teks op skool; het jy dit dalk iewers op die verhoog gesien?

BD: My enigste konneksie met die stuk is toe ek dit gesien het by KKNK met Vinette Ebrahim en (oorlede) Ivan D Lucas wat die rolle vertolk het.

AS: Boesman en Lena staan natuurlik op my oorvol boekrak, hoe dan anders?

MR: Wat beteken Boesman en Lena vir jóú?

CD: Boesman en Lena is ’n passie vir my. Dis ’n tick op my bucket list. Dis een van die grootste voorregte wat my al te beurt geval het.

BD: Dit gun my ’n geleentheid om ’n bekende stuk te laat herleef.

  • Die vertoning duur 85 minute en geen o13’s (T/G/V) word toegelaat. By Momentum Aardklop is die vertonings op 7 en 10 Oktober om 19:30; 8 en 11 Oktober om 09:30; en 9 Oktober om 14:00 in die Elgro Hotelsaal. Meer inligting by aardklop.co.za, waarvandaan direk kaartjies bespreek kan word by Webtickets.

Die finale kleedrepetisie op 6 Oktober om 10:00–11:30 is spotgoedkoop teen R100 oop vir die publiek.

  • Die vertonings by die Toyota Stellenbosch Woordfees is op 15 Oktober om 14:30; 16 Oktober om 20:00; 18 Oktober om 13:00; 18 Oktober om 17:00; en 19 Oktober om 14:00 by Idasvallei Primêr. Kaartjies by Quicket.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top