Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts met die nuwe Canon R6
Dis naweek en daar is geen beter plek om jou siel te kom voed as by die 25ste Toyota Stellenbosch Woordfees nie. Die fees duur tot Sondag en daar is tot laataand vermaak, boekbesprekings, toneel, dans, kuns en klassieke musiek.
Kaartjies kan aanlyn bespreek word, of gaan loer by Erfurthuis in Ryneveldstraat in vir ’n bietjie hulp met keuses, of as iets uitverkoop is, is jy dalk gelukkig by die #SpaarBar waar kaartjies vir sekere vertonings ’n paar uur voor die vertoning teen halfprys verkoop word.
Parkeer jou motor buite die dorp en gebruik die pendeldiens, sodat jy vroeg genoeg arriveer om nog ’n koffie en kouding te geniet, voor jy vertonings ervaar.

Erfurthuis in Ryneveldstraat is die tuiste van die kaartjiekantoor en ook waar jy by die #SpaarBar kaartjies voor sekere vertonings teen halfprys kan koop. Daar is feesgidse beskikbaar en selfs plek vir ’n Woordfees-selfie.

As mens so na die verskeidenheid kyk, is dit moeilik om besluite te neem oor wat jy wil gaan kyk, maar gelukkig is daar meer as twee volle dae oor.

Nic de Jager: in my eie woorde was deel van die Spier Toneel-afdeling. Nic de Jager (regs), aanbieder van die geliefde radioprogram Nic se goed, het in dié eenmalige aanbieding ná bykans 85 jaar die sluier gelig en praat sélf oor sy liefdes, ervarings, teleurstellings en suksesse. Hy is ’n verteller soos min en ’n stylvolle raconteur wat nie skroom om die kollig hierdie keer op homself te rig nie. Coenie de Villiers was die aanbieder en het die musiek verskaf.

Kuns met Ludwig Binge, Wilhelm van der Walt en Wessel Pretorius is snaaks en hartseer tegelykertyd. Buiten dat smaak verskil, is daar al menige argumente gevoer oor wat kuns is – laat staan nog góéie kuns! Die vriendskap van drie ou vriende – Serge, Marc en Yvan – word tot die uiterste beproef wanneer Serge ’n groot, duur skildery koop. Uiteenlopende menings oor Serge se kopie kring gou veel wyer uit as bloot net ’n waardeoordeel oor kuns. Yasmina Reza, een van die mees gevierde kontemporêre Franse dramaturge, se vlymskerp Art is een van die suksesvolste komedies in eietydse teater. Dié produksie is bekroon met vyf Kanna-toekennings vir onder meer beste produksie, beste ensemble, beste ontwerp en beste akteur en het Marthinus Basson as regisseur en ontwerper. Daar is nog twee vertonings op 18 Oktober om 13:30 en 19 Oktober om 14:30.

In Die onderhoud met Mia Spies het dié multimediajoernalis en TV-aanbieder Mia Spies met vyf inspirerende Suid-Afrikaners gesels. Hier is sy saam met Thuli Madonsela, die voormalige Openbare Beskermer wat deesdae professor is aan die US en direkteur van die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid. Hulle het gesels oor die huidige stand van ons demokrasie, die rol van etiese leierskap en die ontkaping van die staat.

Thuli Madonsela se boek is by Exclusive Books-takke en ook by die feeskern tydens die fees te koop.



Die een wat bly, ’n Figure of 8-produksie met Grant van Ster, Shaun Oelf, Daneel van der Walt, is deels droom en deels getuienis, en gebruik die geselskap se persoonlike herinneringe as vertrekpunt om die verwikkelde verhouding tussen ma’s en seuns te skets. Dié samevoeging van dans, fisieke teater en drama wentel om ’n danser wat sy moeder aan die dood afstaan, en wandel deur die flitse van sy geheue om tot verhaal te kom oor sy verlede, identiteit, familie en toekoms. Daar is nog twee vertonings in die HMS Bloemhof-skoolsaal op 18 Oktober om 16:00 en 19 Oktober om 13:00.

Die Khaya- en Plataan-kafee bied heerlike kuierplekke om tussen vertonings te ontspan en soms kom die buitelug-gesprekke en uitsendings van RSG sommer na jou toe!

Die pragtige ontwerp van die geboue van die US Museum is kuns in eie reg.

Stellenbosch Wynroetes se Woordfees-wynskool: Chenin Blanc 101 het ’n stampvol saal gelok in die Hofmeyrsaal. Leer, proe, spoeg of sluk ... Die Woordfees-wynskool is ’n prestigeryke – maar allermins snobistiese – geleentheid waar jy meer kan leer oor wyn. Daar is drie klasse oor verskillende kultivars – Chenin, vonkelwyn en Pinotage – aangebied deur wynmakers en wynpersoonlikhede. Van die streek se bekendste Chenin-wynmakers pryk hier saam met aanbieder Martelize Brink (voor, middel).
Agter is van links Kayleigh Hattingh van Kaapzicht, Handré Visagie van Koelenhof, Abbi Mitton van die Chenin Blanc Assosiasie, Johan Jordaan van Spier, Jacques Steyn van Jordan, Miles Mossop van Miles Mossop Wines en Elmarie Rabe, bestuurder: Stellenbosch Wynroetes. Voor sit Nathan Valentine van Simonsig en Shawn Matthyse van Ken Forrester Wines weerskante van Martelize.



Die Stellenbosch Triennale: from the vault-uitstalling in die US Museum, met werke van Lungiswa Joe, Andile Dyalvane, Sisonke Papu en die US Antropologieversameling, is ’n improvisasie om iets te herstel sodat dit herbore kan word. Ons word die argief binnegenooi deur die fluisteringe van gedekontekstualiseerde objekte van Zoeloe-, Thembu-, Xhosa-, Swazi-, Pondo-, Sotho-, Ndebele-, Okavango-, Pedi-, Venda-, Tswana-, Nama/Dama/Boesman- (San-) en Khwe-Khwe-mense. Inheemse objekte wat die grens oorgesteek het van die heilige tot die antropologiese. Ons gebruik die spiese, horings, klere en patrone as ’n kompas om die verlede, die hede en die toekoms uit te lê. Ons luister na die sankofa-voël wat sing: Moenie bang wees om terug te kyk en te gaan haal wat agtergebly het nie.

Tony Leon is bekend as politikus, rubriekskrywer en politieke ontleder. In Being there: backstories from the political front het hy feesgangers saamgeneem om agter die skerms te kyk na presies wat gebeur het toe hy by was terwyl geskiedenis gemaak is. Die biograaf, sakejoernalis en Suid-Afrika se koning van algemene kennis Theunis Strydom het met hom gesels.




Die Veldhospitaal by Libertas-plaas is ’n plek waar wonde genees word en lywe kan rus. Dis ’n interessante verspreiding van kunstenaars in ou plaasgeboue wat almal afsonderlik uitstal, maar ’n eenheid vorm as kunstenaars.



Die US Museum het verskeie uitstallings, maar die feeskunstenaars Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix se werke ontgin grond, die landskap en die geskiedenis van Suid-Afrika as ’n gedeelde belangstelling. Deur werk te skep vanuit hul eie ervarings en ook hul begrip van die nalatenskap van kolonialisme en apartheid, verwys hul samewerking dikwels na teenstrydige uitbeeldings van die verlede as ’n manier om sin te maak van ons individuele en gesamentlike hede. Hul praktyk volg ’n multidissiplinêre benadering wat installasie, video, beeldhou-, tekstiel-, tapyt- en drukwerk insluit.

Die gratis VIA: Bier-uur met Arno onder die Leefstyl-kategorie by die Plataan-kafee was vet pret. VIA se musiekvasvra-program Klankbank is propvol opwinding, verraad en spanwerk. Feesgangers kon lekker onder die bome en bistroliggies sit en kyk of hulle die titels van bekende liedjies kon ontsyfer en sommer hul musiekkennis toets, terwyl hulle aan ’n yskoue biertjie geteug het en die VIA-aanbieder Arno Greeff hulle vermaak het.



Athol Fugard se ikoniese Boesman en Lena, met Brendon Daniels as Boesman, Veronique Jephtas as Lena en Tshamano Sebe as Outa, vertel van twee hawelose randfigure – uitgelewer aan mekaar, die elemente en ’n politieke bestel wat hulle nie ag nie. Dit bied ’n boeiende blik op die kompleksiteit van verhoudings en maatskaplike ongeregtigheid. Dit is ook ’n viering van die krag en weerbaarheid van die menslike psige en ons universele behoefte aan hoop, meelewing en menslikheid. ’n Gepaste huldiging aan Suid-Afrika se grootste dramaturg wat vroeër vanjaar oorlede is. Daar is nog drie vertonings in Idasvallei Primêr op 18 Oktober om 13:00 en 17:00 en 19 Oktober om 14:00.



Digkuns het vanjaar sy regmatige plek op die Woordfees-verhoë ingeneem en dis seker geen wonder nie, want Antjie Krog en Siphokazi Jonas deel vanjaar die posisie van feesdigter. Wees oral in die dorp op die uitkyk vir hul woorde teen mure en op papiere, op sypaadjies en suikerpakkies, en opgeplak in geheime plekkies.
- Al die foto’s is geneem met die nuwe Canon spieëllose R6. Sy tjoepstil sluiterspoed beteken aksiefoto’s kan in die teater of by boekbesprekings geneem word, sonder dat teatergangers die ewige gekliek-kliek hoor en die RF100-400-langlens bring daai akteur se gesigsuitdrukking tot amper op jou neus. Loer by www.canon.co.za.

