Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n oorsig

  • 0

Chaos in Kruispad of die legende van die goue vis met Edwin van der Walt, Beer Adriaanse, Carla Smith en Eben Genis. (Foto: Clifford Roberts)

Speel was lanklaas só lekker!

Die 2024-Toyota Stellenbosch Woordfees wat vanjaar met die feestema van #speel gespog het, was weer dié kulturele samekoms waaroor almal nog lank gaan gesels. Daar was meer as 400 unieke produksies wat in ongeveer 60 venues in en om Stellenbosch aangebied is en het elke moontlike kunsvorm – van dans tot boekgesprekke; kunsrondleidings tot wynskole; klassieke musiek tot komedie – ingesluit.

Feesgangers kon uit 12 afdelings op die program kies, waaronder die EasyEquities Skrywersfees, Dans, Diskoers, Filmfees, Kinderfees, Klassieke Musiek, Komedie, Leefstyl, Toneel, Toyota Musiekfees, Visuele Kuns en die WOW-fees.

“Speel ontsluit nuwe moontlikhede, dit ontdek wêrelde, en dit plaas jou op ’n ongebreidelde plek waar jy net in die oomblik kan wees,” het Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, vertel. 

“Om te kan speel moet jy die pause-knoppie druk – halfgebak speel is kroek. Speel vra totale oorgawe, verbeelding, en gewoonlik maats. Speel is ’n dans met die werklikheid, van ’n wêreld wat is, maar ook ’n wêreld wat word. Waar ander reëls geld, waar die onmoontlike haalbaar en selfs moeiteloos word.” 

........
“Om te kan speel moet jy die pause-knoppie druk – halfgebak speel is kroek. Speel vra totale oorgawe, verbeelding, en gewoonlik maats. Speel is ’n dans met die werklikheid, van ’n wêreld wat is, maar ook ’n wêreld wat word. Waar ander reëls geld, waar die onmoontlike haalbaar en selfs moeiteloos word.” – Saartjie Botha
........

En hoe is daar nie gespeel nie! Wyd en syd oor genres; in tente en skoolsale, wynproelokale, galerye en tuine.

Die Toyota Musiekfees het aansienlik uitgebrei met 57 aanbiedings: vyf groot opelugkonserte, 29 klassieke musiek-programaanbiedings, 45 aanbiedings op die visuele kuns-program en 36 toneelaanbiedings waarvan 13 op die fees gedebuteer het.

Dis moeilik om met soveel aanbiedinge jou gunstelinge te kies en boonop ’n goeie balans te handhaaf om jou lagspiere te prikkel, jou brein uit te daag en nuwe boeke en outeurs te ontdek. Die verkeer – ten spyte van ’n wonderlike pendeldiens – was vanjaar weer ’n groot frustrasie en as jy van die een kant van die dorp na die anderkant moes gaan oor sekere tye, was ’n uur tussen vertonings nie genoeg tyd nie en mense was vir verskeie vertonings laat.

Dié wat al voorheen met die verkeer baklei het, het geweet om nie te veel vertonings te bespreek nie. Tegniese probleme het ook sommige vertonings soos Kruispad of die legende van die goue vis met 40 minute vertraag, terwyl verskeie ander met 15, 20 minute agter was en wat natuurlik beteken het die vertonings wat daarop gevolg het, was ook laat en het verhoed dat feesgangers toegang kon verkry.

Die weer was vanjaar ook ’n byspeler: Dit was vir etlike dae só koud en nat dat die Langtafel geskuif moes word en buite-uitsendings van RSG vinnig onderdak moes skuif. Teen Donderdag het die kraaie gegaap en Vrydag was die beste plek om te wees iewers met lugversorging en koue Sauvignon Blanc. Gehore het in sommige venues net so hard soos die akteurs gesweet!

Die foto’s en stukke wat hier onder volg, is ’n klein kykie in die magdom talent wat vanjaar hul alles gegee en voluit gespeel het. Ek wens die fees was die hele maand, dat ons meer kon sien.

Daar was temas van eensaamheid; vereensaming; vervreemding tussen pa’s en seuns, ma’s en kinders; die soeke na ontwykende geluk en baie verlies.

Verskeie mense met wie ons voor en ná vertonings oor ’n glas wyn of onderweg in die pendeldiens gesels het, het gevoel baie toneelstukke was te lank en het hulle weerhou om meer werke te gaan kyk. Ander het gereken die lengtes was net reg. Groot name het weer sale volgepak; debuutwerke het nie altyd kaartjies verkoop nie, maar baie keer die grootste verrassings gelewer.

Enkele hoogtepunte wat vir my uitgestaan het, is onder meer:

Othello. Ek was skrikkerig oor die 200 minute hogere Shakespeare-Engels wat wag, maar is gou gerusgestel toe dié mengsel hiervan, met Afrikaans en isiXhosa tussenin, toe glad nie so swaar en hoogdrawend was nie.

Die stuk is verplaas na die konflik in Duitswes-Afrika – op die “donker kontinent” – en met twee kaarte van die wêreld in daardie tyd as agtergrond wat soos skoongevrete skedels lyk, is geen doekies omgedraai oor rassekonflik en die vervlietendheid van die lewe nie. Othello is een oomblik die goue seun, die volgende onttroon en uitgewerp. Hebsug en mag en liefde en afguns speel om die beurt eerste viool, maar almal kom tegelyk tot ’n val. Lago stook kwaad en twyfel, maar is op die ou einde die grootste verloorder. Die akteurs verdien almal eervolle vermelding en die stel is een wat nog lank by my sal bly.

Carla Smith en Atandwa Kani in Othello wat in Duitswes-Afrika – op die “donker kontinent” – afspeel. (Foto: Clifford Roberts)

Daar is groot besluite wat geneem word in Othello. Hier is Morné Visser, Lyle October en Brendon Sean Murray in diep gesprek oor die huwelik tussen Othello en Desdemona. (Foto: Clifford Roberts)

’n Toneel uit Othello waarvan die kostuums, stel en spel almal ewe veel beïndruk het. (Foto: Clifford Roberts)

Speelgoed van glas. ’n Vertaling en verwerking van Tennessee Williams se The glass menagerie deur die meesterlike Nico Scheepers met ewe meesterlike akteurs, Anna-Mart van der Merwe, Ben Albertyn en Carla Smith, wys hoe breekbaar ons is – soos ragfyn glasspeelgoed. As ’n pa die pad vat – of soos die ma verduidelik verlief raak op afstand – val die gesin uitmekaar. Sy wil haar kinders beskerm, maar sy versmoor hulle. Dis die eerste maal wat ons agter die verhoog sit in vyf rye op dié ongewone plek en as’t ware inkyk na die toneelstuk met die groot gehoor agter die akteurs. Mens kyk en ervaar die toneelstuk heeltemal anders, want die gehoor se reaksies word deel van die teks. Hoe meer goed die ma wil doen, hoe dieper grawe sy die gat van verdoemenis.

Anna-Mart van der Merwe en Ben Albertyn in Speelgoed van glas (Foto: Clifford Roberts)

Die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy se Hollywood het die gehoor uitasem van genot gelaat. Die kostuums, uitstekende choreografie en lekker verskeidenheid het die gehoor deur die glansryke en komplekse wêreld van Hollywood en sy geliefde genres meegeneem – van die Goue Era van rolprente tot film noir en kontemporêre romantiese komedies. Die produksie verken ook die prys van roem, Tinseltown-politiek en die opofferings wat mense moet maak om ’n plek in die filmgeskiedenis in te neem.

Die Luitingh Alexander Musical Theatre Academy se Hollywood het die gehoor uitasem van genot gelaat. (Foto: Clifford Roberts)

 Met Marthinus Basson in die regisseurstoel van die vertaling van die Estlandse skrywer Jaan Tätte se magiese sprokie oor die grense van liefde, verraad en die mag van geld – Kruispad of die legende van die goue vis – het ons heerlik gelag, ons eie oordeel betwyfel en amper weer in sprokies begin glo. Toe ’n jong paartjie, gespeel deur Carla Smith en Edwin van der Walt, in die vriesende koue nie ’n saamrygeleentheid na ’n partytjie kry nie, stap hulle na ’n afgeleë hut in die woud. Oswald (Eben Genis), ’n vreemde alleenloper, bied slegs vir haar skuiling en vertel dat ’n vis sy wens waar gemaak het en hom na haar gestuur het. Die arme jong man moet buite wag. Die aand het ’n interessante wending en gou kry die mag van rykdom die oorhand en almal verloor kop. Dis so lekker om uitstekende spel, ’n uitstekende stel en kostuums te sien, waar die aandag aan elke klein detail jou tussen die skerp dialoog kan vermaak. En Carla Smith en Eben Genis se vertolkings van Laura en Oswald verdien ’n staande ovasie. Ek sal weer die stuk wil sien, want dit voel my daar is so baie wat ek misgeloop het terwyl my mond oopgehang het van lekkerte en vasgenaeldheid op die karakters.

Carla Smith en Eben Genis in Kruispad of die legende van die goue vis (Foto: Clifford Roberts)

As twee mans vir dieselfde meisie flikflooi in Kruispad of die legende van die goue vis: van links is Eben Genis, Edwin van der Walt en Carla Smith. (Foto: Clifford Roberts)

Ons het ook heerlik gelag vir Nik Rabinowitz se nuwe vertoning, Pension killer, waarin hy geen heilige koeie ontsien nie en almal, van die president tot dié wat Australië toe verhuis het, die Tweede Wêreldoorlog en alles tussenin, laat deurloop. En as jy braaf genoeg wou wees om in die voorste ry te sit, moet jy maar ’n skootdans-demonstrasie onder jou neus verdra!

Daar is darem maar niks so lekker soos lekker lag saam met Nik Rabinowitz nie! (Foto: Clifford Roberts)

’n Begin met Cintaine Schutte en Carel Nel lyk aanvanklik voorspelbaar: Almal is huis toe, maar een man bly agter en hy en die gasvrou leer mekaar beter ken. Soos die ure aanstap, ontbloot hulle hul siele aan mekaar, maar hou vol dat hulle mekaar nie ken nie. Daar is ’n interessante kinkel in die storie, maar versugting en die verlange na die geluk wat hulle ontwyk – hoe verskillend ook al – is die goue draad wat hulle saamsnoer.

n Begin met Cintaine Schutte en Carel Nel (Foto: Clifford Roberts)

Die mooie woorde van die digter, Rosa Keet, wat deur Anna-Mart van der Merwe en Henriëtta Gryffenberg in die aanbieding Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes voorgelees is, het my weer trots gemaak op my taal en besef hoe raak jy iets kan beskryf, as jy jou woorde goed kies. Lang stories is nie nodig om jou gevoelens weer te gee nie.

Die mooie woorde van die digter, Rosa Keet, wat deur Anna-Mart van der Merwe en Henriëtta Gryffenberg in die aanbieding Eendagsvlieg en ander vlietende gedagtes voorgelees is. (Foto: Clifford Roberts)

Philip Southey – of vir sy Afrikaanse studente aan die US, doktor Soutie – wat fisika en musiek en humor perfek byeengebring het in Doktor Soutie: Symphony & science het my nie een of twee goed oor die spoed van lig en swaartekrag geleer nie, maar vir ’n hele uur van alles laat vergeet en voettikkend tussen sy vlytigheid op die klavier, klawerbord, elektriese kitaar en doedelsak laat fladder.

Philip Southey – of vir sy Afrikaanse studente aan die US, doktor Soutie – wat fisika en musiek en humor perfek byeengebring het in Doktor Soutie: Symphony & science. (Foto: Clifford Roberts)

Dit was heerlik om Elzabé Zietsman weer op die verhoog te sien in ’n kabaret-agtige skemering met kerse oral brandend en druppend en haar bekende, diep stem wat om die note vou. Sy het baie stories gedeel en Tony Bentel se vingers het oor die klaviernote gedans in Vier Panado’s en ’n Chardonnay. Daar is ’n rede hoekom sekere mense al vir soveel jaar uitblink as kunstenaars, want hulle het die kunste behoorlik bemeester.

Elzabé Zietsman en Tony Bentel in Vier Panado’s en ’n Chardonnay (Foto: Clifford Roberts)

Elzabé Zietsman in Vier Panado’s en ’n Chardonnay (Foto: Clifford Roberts)

Stellenbosch Wynroetes se insiggewende wynskool het nie net aan feesgangers die geleentheid gebied om meer oor die streek se bekendste wynkultivars te leer nie, maar ook om vrae aan wynmakers te vra en raar oesjare saam met hulle te proe. Elke bywoner is boonop huis toe met ’n sertifikaat! Die Pinotage-proe met Abrie Beeslaar van Kanonkop, Wynand Lategan van Lanzerac, Beyers en sy seun Anri Truter van Beyerskloof, Johan Jordaan van Spier, Danie Steytler van Kaapzicht, Nicholas Husselman van Koelenhof en Martelize Brink as aanbieder, was ’n hoogtepunt. Pinotage – Suid-Afrika se eie unieke kultivar – vier aanstaande jaar 100 jaar en om van die landgoedere waar die eerste Pinotagestokke geplant, eerste wyn gemaak en eerste kommersiële wyne gebottel is, te hoor, was baie besonders. Gaste het só aan die wynmakers se lippe gehang, die wynskool was twee maal so lank!

By die Pinotage-proe was van links Abrie Beeslaar van Kanonkop, Wynand Lategan van Lanzerac, Beyers en sy seun Anri Truter (heel regs) van Beyerskloof, Johan Jordaan van Spier en Nicholas Husselman van Koelenhof. (Foto: Clifford Roberts)

32 Lavender Close het aanvanklik soos ’n ligte komedie begin, maar die toneelstuk het homself vinnig ontbloot as ’n veelvlakkige binnekyk na eensaamheid en jonkwees en die behoefte om jouself – en daardie spesiale een – te vind. Een woonstelmaat is ligsinnig en oënskynlik sorgeloos. Die ander is ernstig en dra diep trauma met haar saam. Sy maak collagekuns om te probeer om die stukkendheid van haar lewe weer heel te maak. In die veilige ruimte van die vier mure ontdek hulle albei ’n dieper emosie en soos die lae klere wat hulle afstroop, ontbloot dit hul ware kleure. Elkeen se seer en verlede laat letsels en elkeen dra en hanteer dit anders.

Grace Matetoa en Christie van Niekerk in 32 Lavender Close (Foto: Clifford Roberts)

Die bekroonde kunstenaar, Marlene Steyn, was vanjaar se feeskunstenaar en sy het onder die titel between my i’s: tussen my oë uitgestal. Haar werk het die boonste vloer van die US Museum beslaan en onder meer keramiekbeelde en kunswerke ingesluit. Haar werk is kleurryk en besig en vrolik en bied baie stof tot nadenke.

Die bekroonde kunstenaar Marlene Steyn was vanjaar se feeskunstenaar en sy het onder die titel between my i’s: tussen my oë uitgestal. (Foto: Clifford Roberts)

Twee stukke het die onvermoë tussen pa’s en hul seuns om te kommunikeer op baie verskillende maniere uitgebeeld: Albatros en Stinkhout.

In Albatros herhaal die hartseer van die pa weer in sy eie seun se lewe. Alkoholisme beroof hulle elkeen van iets. Maar dis hul stomheid, hul hardkoppigheid en hul blindheid vir die seer wat dit veroorsaak, wat die gaping tussen hulle groter maak. Die seun glo sy pa kan niks voel nie en bejeën sy pa met weersin omdat hy nie kan insien dat depressie en verlies nie soos ’n gebreekte arm genees kan word en die gips afgehaal kan word nie. Die pa dra ’n geheim wat baie dinge verduidelik. Hier het Ben Albertyn in verskeie rolle, as eers jong man en toe pa van ’n jong kind, regtig uitgeblink.

Louw Venter en Ben Albertyn wat onderskeidelik die pa en seun speel in Albatros. (Foto: Clifford Roberts)

In Stinkhout deur Philip Rademeyer wat weet hoe om te vermaak en stof tot nadenke te gee, ry jou emosies wipplank tussen waar jou simpatie lê: Soms is dit by die pa Gert wat sy seuns Schalk en Louw alleen moes grootmaak nadat hul ma haarself aan die boom opgehang het; soms is dit by die seuns wat deur dié daad geknak is. Soos die storie ontvou en die stryd van ’n vrou wat heel moontlik bipolêre gemoedsversteuring gehad en dit aan haar een seun oorgedra het, duideliker word, is jy verskeurd oor wie se hartseer nou eintlik die grootste is, maar ook wie die meeste blaam moet dra vir al die vermorste jare.

Wilhelm van der Walt en Frank Opperman in Stinkhout wat die seun Louw en pa Gert speel.

RSG het lewendige uitsendings van Die Khaya neffens Erfurthuis gedoen en toe die reën uitsak oor die naweek, is almal binnetoe gedwing. Maar toe die son skyn, het die verhoog onder die bome dié kuierplek geword.

Die ateljeebesoeke en kunsrondleidings was weer ’n lekkerte en al die vrae wat jy in jou kop ronddra oor tegnieke en inspirasie en waagmoed, kon daar aan kunstenaars gevra word. Ons het by Ingrid Winterbach en Andries Gouws se ateljees in Jamestown gekuier en hoewel hulle ’n lewe en tuiste deel, is hul kuns teenoorgestelde pole.

Ateljeebesoeke by kunstenaars was baie gewild. Hier gesels Ingrid Winterbach in haar ateljee in Jamestown. (Foto: Clifford Roberts)

Een van die stukke wat ons waarskynlik die meeste omgekrap én terselfdertyd die meeste geraak het weens die karakter se diepgewortelde seer, was Why do moths fly like crazy Kcufs in the night? met Sue Pam-Grant in die rol van Louise Bourgeois, een van die produktiefste en fassinerendste visuele kunstenaars van die 20ste eeu, maar ’n vrou wat erg getraumatiseerd is deur haar kinderjare.

Sue Pam-Grant in die rol van Louise Bourgeois in Why do moths fly like crazy Kcufs in the night? (Foto: Clifford Roberts)

Die aanvanklike venue is geskuif en die nuwe venue in Ryneveldstraat met sy verskillende vertrekke op die boonste vloer, balkon wat op die straat uitkyk en groen eikeboomtakke wat oor die stoep vee, het bygedra tot die storie en dit ’n plek gegee met houtvloere en dik kosyne. In hierdie portret word die verhoog getransformeer in ’n poëtiese, liminale ruimte wat die grens tussen galery, teater en kunstenaarsateljee ophef namate die gehoor die kunstenaar se worsteling met haar werk, lewe en persoonlike duiwels beleef.

Lees ook:

Fotoblad: Langtafel vol lag en deel – Toyota Stellenbosch Woordfees 2024

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Fotoblad 1 van sprekers (EasyEquities Skrywersfees en diskoersgesprekke)

Toyota Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel 2024: ’n onderhoud met Michèle Meyer

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Carla Smith

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Cintaine Schutte oor ’n Begin

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe

Metropolar at Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: a review

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Paranoid Android – an interview with José Dias

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, en so meer: Die ongewerwelde-trilogie – ’n resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Exit/Exist – an Instagram review

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: American rhythms deur die Wynlande filharmoniese orkes – ’n resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Hoe het dit skielik laat geword? – ’n resensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top