Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, en so meer: Die ongewerwelde-trilogie – ’n resensie

  • 0

David Viviers en Wessel Pretorius in ’n Lewe in die dag van ’n vrugtevlieg, en so meer: Die ongewerwelde-trilogie (Foto via woordfees.co.za)

  • Met David Viviers en Wessel Pretorius
  • Teks, regie en vervaardiger: Wessel Pretorius

Daar sit ons, saam met die twee vliegies, en droom van vrotter weivelde. Van ’n wêreld waar brommers meer inklusief is, waar liefde en passie gevier word en waar vriendskap in die onwaarskynlikste plekke gevind word: by ’n tap dance-kompetisie.

Dié splinternuwe Pretorius-skepping volg die trant van soveel van sy vorige verbeeldingryke toneelstukke. Die outentieke stel is versier met vyf of wat tasse waaruit daar allerhande props en kostuums verskyn – almal, soos Pretorius in die middel van die vertoning verduidelik – skatte gevind in Hospice-winkels, saamgeflans om dié reisende duet (Viviers en Pretorius) aan die lewe, en uit die hospitaal uit, te hou. (’n Tong-in-die-kies verwysing na Viviers se terugkeer na die verhoog na twee jaar op Binnelanders.)

Dit is uiters ontspannend om die twee dop te hou. Dis duidelik dat die spelers al vir jare saam speel. Daar is ook spasie gelaat vir ’n paar veelseggende kyke na die gehoor se kant toe in sekere komiese oomblikke, wat die gehoor onmiddellik deel maak van die storievertelling. ’n Mens ook sien hoe “die skrywer”- en “die akteur”-karakters effe mee gek geskeer word, soos Pretorius die een absurde bevel na die ander vir Viviers gee. “Die volgende storie is deurspek met Duits.”

........
Dié wat bekend is met Pretorius se werk, soos Klara Maas se hart is gebreek, sal die trilogieformaat herken. Die stories is as volg: Dié van ’n vrugtevlieg wat vir die eerste keer tienerliefde voel toe hy van aangesig tot aangesig kom met Timothée Chalamet. Dan die boudoireske mot wat vertel oor haar vlietende liefde met ’n kers, en Andries die Reën Spinnekop, a recovering alcoholic wat ’n tweede kans kry dmv tap dancing.
........

Maar dis juis die kamma spoeg-en-plak-kwaliteit wat die toneelstuk só snaaks maak. Die taalgebruik en woordkeuses is skerp en die stories is vol verrassings, en sodoende tref dié komiese oomblikke byna elke keer ’n kolskoot. Dié wat bekend is met Pretorius se werk, soos Klara Maas se hart is gebreek, sal die trilogieformaat herken. Die stories is as volg: Dié van ’n vrugtevlieg wat vir die eerste keer tienerliefde voel toe hy van aangesig tot aangesig kom met Timothée Chalamet. Dan die boudoireske mot wat vertel oor haar vlietende liefde met ’n kers, en Andries die Reën Spinnekop, ’n recovering alcoholic wat ’n tweede kans kry dmv tap dancing.

Pretorius kry dit weer reg om ’n menslikheid na die absurde karaktertjies te bring. Pretorius ondersoek in die toneelstuk watter drange ons as mense onderdruk, of dit nou seksualiteit is, of ’n drang om te tango met dit wat ons kan vernietig, of ’n vuisgeveg teen eensaamheid. Hoe ver sal ons as mense gaan vir dit waarvoor ons lief is? Dit is die tipe drange wat sommiges, veral die mensspesies, in die stories ontken. Die stories volg dikwels vertakkings wat fokus op die mense rondom die goggas. In daardie sin herinner dit aan Andrew Buckland se Ugly Noo Noo, waar die mense as “die ander” geskets word. Viviers en Pretorius verander hulle stemme en fiskaliteit om karakterveranderings aan te dui. Viviers, met sy witgepoeierde gesig, gebruik clowning-tegnieke om, soos hul van plek en karakter verander, die pas lekker flink te hou. 

Hoekom werk hierdie tipe produk wat Pretorius geskep het? Dit is net eenvoudig skreeusnaaks, en as jy een gaan kyk het, is jy hooked. Ek vra ná die vertoning vir Pretorius of die verwysing na “Wakkerfontein”, soos in Ontelbare 48, iets te doen het met ’n fiktiewe wyer wêreld wat hy skep. ’n Onuitputbare bron waaruit allerhande stories kan kom, soos die einste tasse op die verhoog. Hy sê dit is bloot toevallig. Maar vir my voel dit soos ’n tipe inside joke waarvan die gehoor deel is.

Teen die einde laat die toneelstuk ’n atmosfeer van ekstase; daar is altyd hoop en liefde te vind in hierdie donker lewe. As jy hou van lekker lag en iets van die teerheid en passie van mens-wees wil ervaar, dan is Vrugtevlieg die een vir jou.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Hoe het dit skielik laat geword? – ’n resensie

Die koning se bruid by Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n resensie

Metropolar at Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: a review

Hollywood at Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Glitz, glam and razzle-dazzle – an Instagram review

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Othello – an Instagram review

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top