Toyota Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel 2024: ’n onderhoud met Michèle Meyer

  • 1

Foto van Michèle Meyer: LitNet; Woordfeeskortverhaalbundel: woordfees.co.za

Dis ’n prestasie as ’n kortverhaal in die Toyota Stellenbosch Woordfees se kortverhaalbundel opgeneem word. Dis ’n nog meer sonderlinge prestasie as iemand se verhale meer as een keer in die bundel opgeneem is. Michèle Meyer praat met Naomi Meyer oor Michèle se vyfde kortverhaal wat in vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees se kortverhaalbundel opgeneem word.

Michèle, jy is een van twee skrywers (die ander een is Deborah Steinmair) wat dit reggekry het om vyf keer in die Woordfeeskortverhaalbundel opgeneem te word. Net een skrywer het ’n beter rekord: Gerda Taljaard-Gilson het die bundel al sewe uit nege keer gehaal. Vyf opnames is ’n baie groot prestasie! Soos om iemand te vra oor die fontein van ewige jeug: Wat is jou geheim om dit keer op keer reg te kry?

Opreg dankie vir die kompliment en erkenning, Naomi. Doodeerlik dink ek regtig ek was telkens bloot gelukkig. Die keurproses, hoewel dit ’n blinde proses is, bly tot ’n mate subjektief; ’n (naamlose) skrywer kan iets instuur waaraan een beoordelaar geen erg het nie, terwyl ’n volgende individu mag glo dieselfde storie verdien ’n kans. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval. Om te kwalifiseer is daar vir elke geslaagde verhaal ook sekerlik ’n onsuksesvolle poging uit my pen! Dit bewys dat die Woordfeeskortverhaalbundel se beoordeling werklik eerlik is.

Lees jy baie kortverhale en dink jy baie kortverhale uit?

Ek het ’n sterk aangetrokkenheid tot die kortverhaal. As skoolkind in Pietersburg (nou Polokwane, Limpopo) het ek die dik voorgeskrewe bundels waaruit ons ses of sewe verhale moes lees van hoek tot kant verslind. In Afrikaans sluit my kortverhaalikone in: Hennie Aucamp, Abraham H de Vries, Jeanne Goosen, Riana Scheepers, Jan Rabie, Gerda Taljaard, Lynthia Julius, Pirow Bekker en Kirby van der Merwe.

........
Die lewe is ’n storie. Mens moet net kyk en luister; dis daar. Ek sien en hoor stories wanneer ek in Checkers wag om te betaal, ’n koffie kry in Kauai, ’n papegaai by ’n troetelplaas dieselfde vreemde frase hoor herhaal. Soms is daar ’n enkele kyk op iemand se gesig wat ’n kortverhaal vertel. 
.............

Die lewe is ’n storie. Mens moet net kyk en luister; dis daar. Ek sien en hoor stories wanneer ek in Checkers wag om te betaal, ’n koffie kry in Kauai, ’n papegaai by ’n troetelplaas dieselfde vreemde frase hoor herhaal. Soms is daar ’n enkele kyk op iemand se gesig wat ’n kortverhaal vertel. 

Waaroor handel hierdie spesifieke kortverhaal van jou?

“Vasbyt” handel oor mortaliteit. Die ononderhandelbaarheid van die dood. So traumaties soos wat dit is om die dood te konfronteer of om met die Grou Maaier gekonfronteer te word, is daar tog ook lagwekkende momente. Ek speel ook met perspektief. 

Het jy dit net een dag as geheel gesien en gaan sit en dit geskryf? Of hoe het die skryfproses hiervan gewerk?

My pa se dood in Maart 2017 het die ding gesneller. Hoe ek ook al probeer het, alles wat ek direk daarna neergepen het, het banaal geklink. Toe los ek dit. Daardie pogings broei tog maar iewers in die onderbewussyn. In 2018 moes ek tydens ’n skryfoefening vinnig (lees: 10 minute) iets skryf oor ’n gebeure wat my geroer het. Toe’s ek weer langs my pa se bed. By die teruglees van die gekrabbel stel Riana Scheepers toe voor ek skryf dit weer, maar vanuit die perspektief van die man wat magteloos is teen dit wat met hom gebeur. Dit was ’n goeie oefening, en ek is Riana opreg dankbaar daarvoor. Ek hou joernaal, en die twee slordige skrywes is sommer los in ’n joernaal gesit. Toe ek vyf jaar later daarop afkom, was my kop gereed om alles oor te doen, met genoeg ryk kompos waarin ek lekker kon skoffel.

Broei daar reeds weer ’n volgende kortverhaal in jou kop? Is dit dalk jou volgende boek – ’n bundel kortverhale?

Die lewe is ’n storie. Ek kyk en luister maar. 😀 Dit bly ’n droom om wel eendag ’n kortverhaalbundel of versameling reisverhale te kan saamstel. Die werklikheid is uitgewers is nie oorgretig om kortverhaalbundels uit te gee nie, omdat dit klaarblyklik nie goed verkoop nie. My opinie is mense lees wel deesdae graag korter stukke, bloot omdat ons oorweldig voel deur massas inligting wat uit elke oord oor ons swalp. Carien Smit se sukses met Bot (Tafelberg, 2022) en Frederik de Jager se Man op ’n fiets êrens heen (Aristata, 2021) bewys dit.

Wat beteken die publikasie van die Woordfees se kortverhaalbundel vir skrywers?

............
Die Woordfeesbundel is plaaslik seker die kragtigste duikplank vir voorheen ongepubliseerde skrywers – alle skrywendes. Ek het jare lank geglo my werk het nie regtig waarde nie.
.........

Die Woordfeesbundel is plaaslik seker die kragtigste duikplank vir voorheen ongepubliseerde skrywers – alle skrywendes. Ek het jare lank geglo my werk het nie regtig waarde nie. My man het my in September 2016 oorreed om in te skryf vir die Woordfeeskortverhaalkompetisie. Ek onthou hoe vrekbang ek was. Toe ek daardie Desember Suzette Kotzé-Myburgh se e-pos kry – in Steynsburg van alle plekke – was ek stomgeslaan om te lees “Langsaan” het dit gemaak vir die 2017-bundel. Op daardie presiese oomblik het ek in my eie werk begin glo. Ek bly Suzette en haar Woordfeesbundel-span ewig dankbaar, ook vir hul skitterende leiding en redigering. Die kompetisie bied volgens my beperkte kennis ook plaaslik die grootste geldelike vergoeding aan skrywers wie se verhale opgeneem word. Suid-Afrikaanse skrywers werk hard (ja, dis ’n regte werk!) vir relatief min geld. Die Woordfeesbundel se ruim vergoeding laat skrywers voel hul werk is waardig. Daarvoor het ek die hoogste agting.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024-persverklaring: Wenner van vanjaar se kortverhaalkompetisie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor American rhythms

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Carla Smith

Persverklaring: Strauss & Co-kunsuitstalling by Oude Leeskamer tydens Toyota Stellenbosch Woordfees 2024

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top