Toyota Stellenbosch Woordfees 2024-persverklaring: Wenner van vanjaar se kortverhaalkompetisie

  • 0

Emile Joubert, wenner van die 2024 Woordfees-kortverhaalkompetisie en Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Woordfees. (Foto: verskaf)

Emile Joubert is as algehele wenner van die 2024 Woordfeeskortverhaalkompetisie bekroon by die bekendstelling van die bundel in die Eikestad op 28 September.

Emile, wat al voorheen in die bundel opgeneem is, wen R30 000 met die komplimente van EasyEquities vir sy plattelandse droomverhaal “Die berghaan het sy seer laat val”.

In nege jaar het die bundel van krag tot krag gegroei, met 368 inskrywings wat vanjaar ontvang is. Elke ander skrywer in die bundel ontvang prysgeld van R5 000. (Klik hier om te sien wie die ander 21 skrywers is wat vanjaar se bundel gehaal het, en hier om meer oor die Woordfees se kortverhaalprojek te lees.) 

“In ’n wêreld wat ’n dolle gejaag geword het, heeltyd aangedryf deur tegnologie, tref “Die berghaan het sy seer laat val” met sy absolute eenvoud. ’n Seun leef geborge saam met sy ouers en skoolmaats in ’n dorre karoolandskap, maar hy voel ook vasgevang daarin. Wanneer hy ’n beseerde berghaan red, verander dit sy hele lewe. Die magies-realistiese slot is tegnies briljant en maak hierdie verhaal onvergeetlik. Dr. Frederick Botha, een van die hoofkeurders, beskryf dit so: “Daar is ’n broosheid maar ook sjarme in die vertelling wat my só bekoor het dat ek dit dadelik weer wou lees,” het Suzette Myburgh, wat reeds sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is, gesê.

Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.

Oor die toekenning het ’n verbaasde Emile gesê: “Vir iemand soos ek wat as skrywer nie in fiksie spesialiseer nie, gryp ek gretig ’n geleentheid aan om te sit en uit my gemaksone te kom en ’n verhaal te verbeel. Die Woordfees-bundel het deur die jare hom bewys as ’n vername aanspoorder vir hierdie skryf-droom-oefening – ek het al vier keer ingeskryf, een keer die kortlys gehaal in 2020, en nou op die wennerspodium beland. Ek kan nie anders as om ’n cliché uit te pak en te sê dat ek net soveel verras was om te wen as verheug is nie.”

“Dis ’n helse eer, veral nadat ek Saterdagaand voor die aankondiging verneem het hoe deeglik Suzette Myburgh en haar mede-keurders te werk gaan om die kortlys saam te stel en dan by die wenner uitkom. Die storie gaan oor ’n plattelandse seun wat droom oor wat aan die anderkant van sy beklemmende horisonne lê, en op die dag wat hy op ’n beseerde Bateleur-arend (berghaan) afkom, begin daar in hom die moontlikheid opflikker dat sy – die seun – se oë en siel uit sy bestaan gelig kan word. Die aansporing vir die verhaal was my vriend, die wynlegende Danie de Wet, wat sy beste Chardonnay-wyn ook na die Bateleur-arend genoem het deur iets te skep wat ver bo die wêreld sweef in ’n staat van onfeilbare, sielsverheffende vrede.”

Emile is ’n gebore Kapenaar en is ’n bemarking- en mediakonsultant in die wynbedryf.

Alle skrywers in dié bundel ontvang ook ’n gratis EasyEquities-rekening om na voorkeure in verkeie opsies te belê. EasyEquities borg sedert 2022 die EasyEquities Skrywersfees by die Woordfees en gee die bogenoemde voordeel ook aan elke skrywer op die skrywersprogram.

Die bundeltitel is altyd dieselfde as die Stellenbosch Woordfees-tema. Vanjaar is dit Speel, wat aansluit by die spontaneïteit en vryheid waarmee skrywers aangemoedig word om die kompetisie te benader, volgens Saartjie Botha, direkteur van die Stellenbosch Woordfees. 

“Hoe speel skrywers? Met woorde, ja. Maar skrywers speel ook ’n intieme, meer verwikkelde spel met lesers. ’n Stil-spel, deels begelei, maar ook met talle oomblikke sonder ’n hand wat vashou. Die kortverhaal is ’n uitstekende speelmaat in ’n gejaagde wêreld,” skryf Botha in haar voorwoord in die Speel-bundel.

Botha het al die skrywers, in besonder Emile Joubert, geluk gewens op hulle prestasies.

Die bundel is vir die duur van die Woordfees, tot 6 Oktober, in die ATKV-boekwinkel te koop. Daarna sal dit beskikbaar wees by Exclusive Books se Somerset-Wes-tak.

Vind die Stellenbosch Woordfees-program hier.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfeeskortverhaalbundel 2024: ’n onderhoud met Michèle Meyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top