Alhoewel meer as 90% van die Wynlandse Filharmoniese Orkes nie professionele musikante is nie, het dié groep weer eens bewys dat hulle nie by ’n professionele orkes afsteek nie. Die hoofklarinettis het in die eerste item, Marquez se “Danson nr 2”, uitgeblink met die openingsdansmelodie wat aan die Argentynse tango herinner, voordat hy deur die hobo in ’n kort pas de deux begroet is. Die strykers het met besonderse samehorigheid vloeiende ondersteuning gebied. Die vioolsolo’s was meesleurend en roerend, met (Veronica) Bell se volle vibrato en entoesiasme, en die finale produk het van ’n goeie balans getuig.
Die bekende opening van Gershwin se “Rhapsody in blue” is meestal deur alle solospelers van die orkes netjies en in karakter behartig. Veral die hoofklarinettis het die jazzagtige gevoel met baie vaardigheid oorgedra. Die drama in die jonge Wang se klavieropening was besonder bevredigend vir diegene wat die werk ken en het die luim vir die hele eerste deel pragtig gestel. Die diversiteit van Wang se vermoëns is mooi ten toon gestel in hierdie dinamiese werk, waar die pianis ook uitstekend deur die orkes ondersteun is. Die soloklarinet- en -trompetgedeeltes se jazzmotiewe is met gepaste sensitiwiteit vir die humor uitgevoer.
.........
Die bekende opening van Gershwin se “Rhapsody in blue” is meestal deur alle solospelers van die orkes netjies en in karakter behartig ... Die diversiteit van Wang se vermoëns is mooi ten toon gestel in hierdie dinamiese werk, waar die pianis ook uitstekend deur die orkes ondersteun is. Die soloklarinet- en -trompetgedeeltes se jazzmotiewe is met gepaste sensitiwiteit vir die humor uitgevoer.
.........
Die eerste cadenza se soms oordrewe rubato’s is teengewerk met die mooi verskeidenheid nuanses wat die musiek vereis. Die pianis is in beheer van sy ritmiese wisselings. Die balans was soms te veel in die guns van die orkes, waar die klavier se stem nie bo die vol orkes gehoor kon word nie. Die vinnige trapsgewyse passasies met klavier en koperblasers is in perfekte ensemble pragtig saamgesnoer. ’n Afgeronde en warm aanbieding.
Die byna pastorale kleur van die begin van Copland se “Appalachian spring” was tegelyk ryk en sensitief en het dieselfde verwagting by ons Wynlanders geskep as die hoop wat ons het vir warmer dae! Die tema wat skielik uit die mistigheid uitrys, was sprankelend en kleurryk, die eerste en tweede klarinette rats en netjies, alhoewel van die ander houtblasers se intonasie ook ná die pouse ietwat onsuiwer was. Die viole het met uitdagende vinger- en telwerk die ligtheid van die werk beklemtoon en wonderlik daarin geslaag. Die slagwerk, wat die kersie op die koek van hierdie werk is, was eersteklas, en die orkes was in die geheel goed voorberei en in volmaakte eenheid met mekaar, wat van goeie leiding spreek, veral met so ’n lang werk, wat veel konsentrasie verg. Om nog energie te hê vir die alomgeliefde “New York, New York” as ’n nagedagte, spreek van die orkes se genot en toewyding.
Dankie vir 'n heerlike aand!
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor American rhythms