The road op die TV: skermgrepe van die afgelope 48 uur

  • 0

Voorblad van Cormac McCarthy se The road; foto van pad: Unsplash.com

Naomi Meyer skryf oor die afgelope twee dae se TV-verslaggewing rondom die protes en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng.


Maandag 12 Julie 2021

Covid het opgehou bestaan.

Die man op die TV dra nie ’n masker nie, hy dra ’n boks. By ’n gebou uit waarop die letters staan: SANBS.

Cyril Ramaphosa is nou besig met sy toespraak en ek sien die man met die boks op ’n klein vensterskermpie in die hoek. Ek google: Ja, sowaar, dis die South African National Blood Service.

“Hoekom die bloedbank?” vra ek.

Die mense soek bloed, maak iemand van die gesin ’n wrang opmerking. Niemand lag nie.

Tydens die middag se beeldmateriaal van protes wat oorgespoel het na golwe van winkelinbrake, was daar ’n gevoel van dringendheid. Op die TV-skerm was dit ’n miernes van bedrywighede. Die mense het vinnig heen en weer gedraf. Dis honger mense, het ek gedink. Niemand het hulle nog ooit gehóór nie. Wat nog te sê gesien. Vanaand, in die klein skermpie tydens die Staatspresident se toespraak, stap almal rustig heen en weer.

Die winkelsentrum se deure staan wawyd oop.

Die mense stap in met trollies en pak dit vol. Mense van alle ouderdomme. Taamlik bejaarde mense, mans en vroue. Kinders help dra. Die kamera wys twee wit tienerseuns met bokse in hul arms.

Die lorries staan by Durban se hawe, vertel ’n familielid in Durban. Bang hulle word aan die brand gesteek. Voor Covid al was daar vragmotorbestuurders wat bang was vir gevare op die pad. Tóé was daar ander bespiegelings: Is dit xenofobie? Die gesprek het oorgewaai, soos dit gaan.

Daar is ’n advertensie op die televisie. Spesiale aanbiedinge by ’n groot winkelgroep. Twee vir die prys van een!

Ná die handelsflits kyk ons verder hoe die mense rustig produkte uit winkelsentrums dra.

Ek sien nie plakkate om te kan lees waaroor die protes gaan nie, maar dalk is alle protes, soos alle ongelukkige gesinne, nie dieselfde nie. ’n Familievergadering het nie hierdie saak opgelos nie. Dalk is mense moeg vir protes sonder dat iets verander. Dalk is dit nie alles protes nie.

Militêre optrede is afgekondig, en betrokkenheid van die weermag.

In 2012 is Cyril Ramaphosa daarvan beskuldig dat hy te hardhandig by Marikana opgetree het.

Hoe klink sy boodskap aan die weermag in 2021?

Dinsdag 13 Julie 2021

Dis die volgende dag. Die wetenskapfiksie op die TV duur voort.

Geboue brand. Daar is leë strate. Iemand in Durban vertel my per Whatsapp hulle het in hulle dagklere geslaap. Die bietjie wat hulle kon slaap.

Op die TV dra iemand ook dagklere. In hulle arms. Uit die winkel.

Die materiaal van die land se regstelsel het losgetorring.

Enkele dae gelede is tyd gemors deurdat ’n laer hof ’n hoër hof se saak aangehoor het om ’n uitspraak daaroor te maak. Tot nou-nou nog het pryse op produkte ’n kontrak beteken: Jy betaal jou swaarverdiende geld by die kassiere en ontvang ’n produk in ruil daarvoor.

Vanoggend sit Bheki Cele in ’n paneel op TV agter sy masker terwyl die voertuie en geboue brand.

Daar staan ’n lang ry bakkies op die TV, almal volgepak van vermoedelik gesteelde goedere, en daar is geen polisiepersoon in sig nie. Hulle probeer lap en stop op ander plekke, maar dan skeur daar iets elders oop.

In die spekulatiewefiksieboek The road is die pa en die seun op pad. Hulle is vuil en verhongerd. ’n Apokalips het gebeur. Hulle vlug. Ek lees:

An hour later they were on the road. He pushed the cart and both he and the boy carried knapsacks. In the knapsacks were essential things. In case they had to abandon the cart and make a run for it. Clamped to the handle of the cart was a chrome motorcycle mirror that he used to watch the road behind them. He shifted the pack higher on his shoulders and looked out over the wasted country. The road was empty.

Vroeër, toe Covid die krisis was, het ek my met dankbaarheid in my middelklasbestaan verlustig in elke sportgeleentheid wat by die skool plaasgevind het.

Vandag oefen hulle hokkie!

Ook al was daar bevindinge dat die deursnee-graadtweeleerling van 2021 dieselfde hoeveelheid kennis het as die deursnee-graaddrieleerling van 2021.

Daar was vreugde te midde van die tamheid.

Op die TV-skerm sien ek die mense stap met armsvol bier en wyn.

Kantaantekening: Mense is moeg. Moeg vir reëls en regulasies. Nog ’n alkoholverbod? Nee wat.

Nou is dit al die volgende aand, nadat die toespraak gelewer is dat die polisie en die weermag sou ingryp. Die kamera se oog wys my nie waar die polisie is nie, maar ek lees op Netwerk24 ’n polisieman sê al die rubberkoeëls is opgebruik, so baie het hulle geskiet.

Ek is nie seker of militêre ingryping die antwoord is nie, want ek weet nie wat die vraag was nie.

Op Facebook deel sommige van my Facebook-vriende ’n sinvolle ontleding deur Vukani Mde. Hy meen ons het te doen met protes weens Jacob Zuma en ’n verdeelde regering; ons het ook te doen met buitensporige ongelykheid in die samelewing en armoede wat net nooit raakgesien word nie, sowel as met kriminaliteit en opportuniste. 

Op die TV se eNCA-nuus sê ’n verslaggewer hulle het enkele van die plunderaars gevra: Hoekom doen julle dit?

Die antwoord was: Hoekom nie?

Langs ’n ander pad, met lang stringe stilstaande motors soos tydens spitsverkeer, sê nog ’n TV-verslaggewer: “This is incredible. A traffic jam of looters.”

Ons land sit in ’n bottelnek van ’n verkeersknoop. Die pad gaan aan, maar die bestemming is nie in sig nie. Dit val my op: Die uitsigloosheid op die pad. Was dit waar dit begin het, baie lank gelede al?

Die land se psige is steeds besig om geplunder te word.

Covid het opgehou bestaan. Ek wonder of die land gesond genoeg is om te oorleef.

Lees ook:

Zuma gaan glo op die stokkies lê, maar het geregtigheid geseëvier?

Zuma en die Konstitusionele Hof: Vinnige vrae aan Chris Marnewick

Die Zuma-Cele-pokerspel en leemtes in die prosesreg

Voedselsekerheid wanneer die winkels leeggedra word: ’n onderhoud met Christo van der Rheede

Seen elsewhere: NO FOOD to buy in Howick

Under siege in Durban

Seen elsewhere: The aeroplane analogy

Seen elsewhere: What's left after the looting

Are property owners, or their security personnel, allowed to use force?

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Magnus Heystek

Kwarantynketting: "The Afrikaans patient" deur Naomi Meyer

Press release: SACC appeals for calm in the midst of violence & looting

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top