Die Zuma-Cele-pokerspel en leemtes in die prosesreg

  • 1

Foto van kaartspel: Pixabay; foto van Frederik van Dyk: verskaf

........

Die Zuma-tronkverhaal word alom as Suid-Afrika se grootste staatsregtelike toetsing sedert die verkiesing van 1994 geag.

.......

Die Zuma-tronkverhaal word alom as Suid-Afrika se grootste staatsregtelike toetsing sedert die verkiesing van 1994 geag. Ten spyte van die geblaas en geraas van Zuma se medestaatskapers, blindlojale moerasmuggies (Carl Niehaus) en verdwaalde Zoeloe-legioenarisse is Zuma op die aand van 7 Julie 2021 toe wel tronk toe. Hy het homself, tot wye verbasing, oorgegee. Spekulasies loop oor wat presies die versetlike oudpresident tog kon oorgehaal het om self tronk toe te gaan. Vrees vir ’n bloedbad, asook sy eie welstand? Het ’n polities goedgeplaaste hom oorreed? Het sy lyfwagte, immers polisielede, onder die druk van ’n memorandum van bo geswig? Of dalk het Zuma se senuwees bloot soos dié van ’n paniekerige potspelspeler gevou?

Wat ook al die werklike rede vir Zuma se oorgawe, een aspek van die petalje staan soos ’n paal bo water, en dit is dat Jacob Zuma dit kon regkry om vir dae lank op heeltemal regsmoontlike wyses kat en muis met die regstelsel en wetstoepassers te speel, en oplaas het hy hom klaarblyklik op eie inisiatief aan die polisie oorgegee. Wat hierdie skynbare inisiatief selfs meer bekommerenswaardig maak, is dat dit ingekleur word deur ’n minister van polisie wat, sy Wilde Weste-persona ten spyt, klaarblyklik toe geen bedrewe pokerspeler is nie. Daarby staan Zuma se oorgawe uit teen die agtergrond van ’n siviele prosesreg wat ook net-net nie onder Dali Mpofu SC (staan dit dalk in sy geval vir semper confundus?) se uiters kreatiewe litigasiestrategie op sigself inmekaar gestort het nie. Beide die siviele prosesreg en die wetstoepassingsmodel in Suid-Afrika sal ernstig heroorweeg moet word indien ons die regstaat teen ’n steeds gevaarlike bende staatskapers en RET-faksie-ideoloë wil staande hou.

........

Jy kan eenvoudig nie ’n laer hof vra om ’n hoër hof se bevele op te hef nie. Dit is ook gevestigde reg dat sy tronkvonnis nie outomaties opgehef word deur die herroepingsaansoek wat hy kort na sy vonnis by die Konstitusionele Hof ingedien het nie, laat staan nog voor die verkeerde geregshof vir opheffing van die tronkbevel vra!

.........

Ek het na Dali Mpofu se onsamehangende relaas voor die Pietermaritzburgse Hooggeregshof geluister – en was verward. Wat my laat kopkrap en oplaas ’n slapelose nag besorg het, was die vraag waarom Zuma steeds soveel onsekerheid en chaos kon saai in ’n saak wat, regtens beskou, ’n doodgewone geval van strafbare minagting en die uitvoer van ’n arrestasiebevel was. Zuma se smeekbede voor die Hooggeregshof was boonop voor die verkeerde platform, en inhoudelik hopeloos. Jy kan eenvoudig nie ’n laer hof vra om ’n hoër hof se bevele op te hef nie. Dit is ook gevestigde reg dat sy tronkvonnis nie outomaties opgehef word deur die herroepingsaansoek wat hy kort na sy vonnis by die Konstitusionele Hof ingedien het nie, laat staan nog voor die verkeerde geregshof vir opheffing van die tronkbevel vra! Miskien sou Zuma en sy regspan die Konstitusionele Hof verlede week kon oortuig om hul tronkbevel op te hef totdat die herroepingsaansoek van Maandag 12 Julie gehoor en beslis is. Gegewe die onversetlike skel wat Zuma en sy kornuite teen die Konstitusionele Hof gemik het, selfs na sy vonnis, het sy regspan seker gevoel dat daardie hof korte mette met hul hulpelose argumente sou maak. Maar waarom dan ’n hooggeregshof nader waarvan Mpofu moes geweet het dat dit geen jurisdiksie oor die Konstitusionele Hof het nie?

Die gevolg van hierdie keuse was groot verwarring in die media en selfs onder regsgeleerdes. Op Sondag 4 Julie basuin Rapport dit uit dat Zuma weer die tronk vryspring. Die koerant se uitleg van die kwessie was dat Zuma se herroepingsaansoek, asook sy opheffingsaansoek, sy tronkstraf uitstel. Selfs Pierre de Vos, die Grondwetkenner van die UK, het heel vreemd gesuggereer dat die Pietermaritzburgse Hooggeregshof kán beslis dat die tronkbevel se uitvoering gestaak moet word totdat Zuma se herroepingsaansoek van 12 Julie afgehandel is. Buiten die kenners se spekulasies en gestry was daar die praktiese gevolg dat Bheki Cele en sy polisie geweifel het. Cele was so verskrik deur die skynbare onsekerheid oor wat gedoen moet word dat hy bedees aan die Konstitusionele Hof geskryf het en aangedui het dat hy nie die arrestasiebevel sal uitvoer totdat die Hof vir hom aandui dat hy dit regtig moet doen nie.

.......

Om dit te doen het Mpofu iets besonder belangrik geweet wat talle van ons misgekyk het omdat ons in sy onbeholpe regspleging vasgekyk het. Dali Mpofu begryp dat tyd die animerende oftewel lewegewende element van regskrag is.

.......

Die tronkbevel kon nie duideliker uitgestippel gewees het nie, maar Mpofu en Zuma het daarin geslaag om die man te speel en nie die bal nie. Om dit te doen het Mpofu iets besonder belangrik geweet wat talle van ons misgekyk het omdat ons in sy onbeholpe regspleging vasgekyk het. Dali Mpofu begryp dat tyd die animerende oftewel lewegewende element van regskrag is. Sonder tydsperiodes en -limiete is enige bevel soos ’n geweerskoot in die ruimte – sonder suurstof om die knal aan te vuur. Mpofu het daarom bloot strategies tyd gekoop deur ’n inhoudelik hulpelose aansoek voor die verkeerde hof te bring, en daarop gereken dat hy die eweneens onbeholpe Cele en die polisie onder soveel druk kan plaas dat hulle sou weifel om Zuma te arresteer. Dan sou Cele-hulle self in minagting van die hof wees, sou Zuma nie teen Woensdagnag 7 Julie gearresteer wees nie. Mpofu het geweet die prosesreg laat hom toe om Zuma se saak te stel, selfs voor ’n hof wat nie jurisdiksie het nie. Dit het vir hom die hele Dinsdag gekoop. Daardie hof moes boonop tot Vrydag toe tyd neem om uitspraak te lewer. Aangesien Vrydag se uitspraak eers ná Woensdag se afsnypunt vir die tronkbevel sou kom, het Zuma en Mpofu hul kaarte geweldig strategies gespeel: Die reeds weifelende Cele is geroep om sy hand te wys, en hy het byna heeltemal onder die Zuma-Mpofu-bluf verkrummel en gevou. In Cele se kop was hy tussen die duiwel en die dam krokodille: Arresteer hy vir Zuma en die Hooggeregshof hef die bevel op, is hy en die regering die varke in die verhaal. Arresteer hy hom nie, verkeer hy ook in minagting van die hof.

Die Pietermaritzburgse hof wys toe Vrydag Zuma se aansoek wel af, sonder om ’n ellelange uitspraak te lewer. Maar die feit dat die hof se beslissing eers na Woensdag se afsnypunt gelewer is, het politieke druk op Cele as enigste uitweg gelaat om ’n grondwetlike krisis te vermy. Ons sal seker binnekort die fluisterbesonderhede hoor oor hoe Cele uiteindelik oorgehaal is om halfhartig polisielede na Nkandla te stuur. Cele is dit in elk geval gespaar om op die gebluf te antwoord, want Zuma het homself oorgegee. Deur op hierdie manier tyd te koop, geregtelike tydsperiodes te manipuleer en vir Cele te speel, het Mpofu amper die siviele prosesreg op sigself ineen laat stort, sodat net magspolitiek uiteindelik ’n oplossing kon beding.

Oplossings

.......

Hierdie verhaal wys twee probleme uit. Die eerste is dat die siviele prosesreg vatbaar is vir manipulasie van tydsperiodes. Die tydsperiodes waarbinne bevele uitgevoer moet word, is soos ’n sitkamermat, en die werklike wêreld van strategiese, regsmoontlike litigasie speel daarop uit. Soms is die mat eenvoudig te klein vir wat prosesregtelik moontlik is.

........

Hierdie verhaal wys twee probleme uit. Die eerste is dat die siviele prosesreg vatbaar is vir manipulasie van tydsperiodes. Die tydsperiodes waarbinne bevele uitgevoer moet word, is soos ’n sitkamermat, en die werklike wêreld van strategiese, regsmoontlike litigasie speel daarop uit. Soms is die mat eenvoudig te klein vir wat prosesregtelik moontlik is. Dringende aansoeke wat nie voor die afsnydatum van betwiste hofbevele beslis word nie, is ’n voorbeeld hiervan. In Zuma se geval was dit moontlik om kort voor die afsnytyd van die arrestasiebevel ’n hofaansoek te bring in ’n hof sonder jurisdiksie, en tog eers drie dae later uitspraak te kry. Hiervoor is ex tempore-beslissings ’n moontlike oplossing. Só ’n beslissing word gemaak voordat geskrewe uitspraak gelewer word en is ontwerp om tyd te bespaar en die vloei van tydsperiodes te handhaaf. ’n Hofreël behoort te bepaal dat ’n beslissing oor ’n betwiste hofbevel minstens 24 uur voor die afsnypunt van sodanige bevel gemaak moet word, en so ’n uitspraak kan ex tempore gelewer word. So ’n hofreël sal regsekerheid aanmoedig en bewerige spelers soos Cele die nodige plaasvervangerruggraat gee om wel regseker op te tree. In Zuma se geval kon regter Mnguni van die Pietermaritzburgse hof die aansoek uit die staanspoor met ’n ex tempore-beslissing geweier het.

........

Die tweede probleem is die amperse weiering deur die wetstoepassers onder Cele om die Konstitusionele Hof se arrestasie- en tronkbevel uit te voer.

.........

Die tweede probleem is die amperse weiering deur die wetstoepassers onder Cele om die Konstitusionele Hof se arrestasie- en tronkbevel uit te voer. ’n Verdere ondersoekbare oplossing om die gate toe te stop wat ’n weifelende wetstoepasser in die regstaat veroorsaak, is om ’n aparte wetstoepassingsliggaam onder die regsprekende gesag daar te stel. So ’n eenheid sou in afdelings aan die balju’s van hul onderskeie howe rapporteer en toegerus moet wees om onder vyandige toestande en wanneer die polisie weifel om hofbevele uit te voer die howe se bevele gestand te doen. Wetgewing behoort hierdie tipe eenhede onder die balju’s op te rig, soortgelyk aan die eenhede wat die Departement Justisie in die VSA se bevele uitvoer, naamlik die US Marshals Service. Dit sal die howe meer onafhanklik van die wil en wee van die uitvoerende gesag maak.

Lees ook:

Zuma gaan glo op die stokkies lê, maar het geregtigheid geseëvier?

Zuma en die Konstitusionele Hof: Vinnige vrae aan Chris Marnewick

  • 1

Kommentaar

  • Johann Basson

    Die Konstitusionele Hof moes duidelik uitgespel het wat die minimum tydperk is wat Jacob Zuma in die tronk sonder parool aangehou moet word. Dit sou verhoed dat die uitvoerende gesag nie om politieke redes die Konstitusionele Hof se 15 maande tronkstraf oplegging kan verwater ter ondermyning van die Konstitusionele Hof se gesag.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top