Zuma gaan glo op die stokkies lê, maar het geregtigheid geseëvier?

  • 5

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

The accountant of Auschwitz op Netflix is lank reeds op my kyk-lys, maar voor hierdie naweek het ek net nooit daarby uitgekom nie. Einde Junie word dit verwyder en ek moes dus noodgedwonge vinnig ‘n plan maak om te kyk.

Dit gaan oor ’n bejaarde Nazi wat verhoor word vir dade tydens sy jeug gepleeg. Onder andere word daar gevra hoeveel sin daarin is om iemand aan die einde van sy lewe direkte gevangenisstraf op te lê. Toevallig dat ek dit kyk enkele dae voordat ’n ander bejaarde hier by ons moet hoor dat hy 15 maande direkte gevangenisstraf opgelê word vir minagting van die hof? Ek glo nie aan toeval nie.

........

Die Konstitusionele Hof se uitspraak dat die voormalige president van die land direkte gevangenisstraf moet uitdien, was onverwags maar broodnodig. Zuma het gedurende sy bewind, en daarna, die Grondwet en alle hofbevele soos sy persoonlike Baby Soft 3-ply gebruik.

.........

Die Konstitusionele Hof se uitspraak dat die voormalige president van die land direkte gevangenisstraf moet uitdien, was onverwags maar broodnodig. Zuma het gedurende sy bewind, en daarna, die Grondwet en alle hofbevele soos sy persoonlike Baby Soft 3-ply gebruik. En ander klein mannetjies met grootmansindroom het sy voorbeeld begin volg.

Dat die hof ’n definitiewe standpunt moes inneem, is dus nie vir my in twis nie. Verder kan ek net my kop skud vir die minderheidsuitspraak wat in effek reken dat ’n opgeskorte vonnis die gewenste uitwerking sou hê. Dit sou nie. Nie op die glibberige meester van wie gesê kan word “a man who lives in a rondavel cannot be pushed into a corner” nie.

Ek is net jammer dat die uitspraak nie gemaak is op ’n stadium toe dit die Zondo-kommissie kon help nie.

Maar gaan Zuma regtig ’n dag in die selle deurbring? Ek vind dit moeilik om te glo. Ek is bereid om my inkomste vir die res van my lewe te verwed dat hy voor Sondag, wanneer hy veronderstel is om sy vonnis te begin, of op dag 1 van sy vonnis, ’n ernstige siekte gaan ontwikkel wat sy aanhouding sal verhoed.

.......

Die man in die rondawel kan nie appelleer teen die hoogste hof in die land se bevel nie, en hy kan nie staatmaak daarop dat die huidige staatspresident hom gaan begenadig nie. Gaan dit hom keer om die proses te probeer manipuleer? Natuurlik nie.

.........

Die man in die rondawel kan nie appelleer teen die hoogste hof in die land se bevel nie, en hy kan nie staatmaak daarop dat die huidige staatspresident hom gaan begenadig nie. Gaan dit hom keer om die proses te probeer manipuleer? Natuurlik nie.

Die Nazi’s wat op hul oudag aangekeer is, het baie keer siek gespeel om aan die gevolge van hul dade te probeer ontkom. Zuma het siekte gebruik om sy makkers uit die gevangenis vry te laat. Onthou hoe dodelik siek Schabir Shaik was? Zuma het ook al siekte in sy eie sake voorgehou. Daar is geen rede om te dink hy sal dit nie nou weer doen nie. En daar is geen rede om te vermoed daar is nie iewers ’n dokter of twee gereed met ’n diagnose om hom uit die tronk te hou nie.

En as hy wel aanmeld by die tronk, en nie “vergesel” moet word soos per die hofbevel nie, is die kanse dat hy in die algemene tronkbevolking gaan beland, bitter skraal. Die paar maande wat hy in aanhouding deurbring, sal in alle waarskynlikheid iewers in ’n hospitaal wees. Nie die tronkhospitaal nie, o nee. ’n Privaathospitaal met besoekure en dies meer. Op staatsonkoste, soos gewoonlik. En met parool vir goeie gedrag is hy voor die einde van die jaar weer op vrye voet.

Vrae wat oor die volgende ruk gevra gaan word, is die volgende: Moes die Konstitusionele Hof direkte gevangenisstraf beveel? Het hulle nie hul mandaat oorskry nie? Is die lengte van die vonnis nie buitensporig nie? Is dit nie onmenslik om ’n bejaarde man tronkstraf op te lê nie? Behoort ’n voormalige president van die land so onwaardig behandel te word?

Die vraag vir my is baie eenvoudiger: Was hy vir die regte oortreding tronk toe gestuur? Zuma het oor die jare soveel misdade gepleeg dat dit soos ’n antiklimaks voel dat hy vir minagting van die hof tronk toe te gaan. Dis bietjie soos Al Capone wat vir belastingontduiking vasgetrek is, terwyl hy skuldig was aan soveel erger dinge.

 ’n Gegewe perd kan nie in die bek gekyk word nie. Maar Zuma, tesame met sy netwerk, het ons land eiehandig tot op die randjie van vernietiging gebring. Dit gaan dekades neem om te herstel. Ek kan nie anders as om te voel dat hy nooit verantwoording gaan doen daarvoor nie.

Die porsie van 15 maande wat hy wel uitdien, voel nie soos geregtigheid nie, bejaard of nie.

 

 

  • 5

Kommentaar

  • Absoluut reg. Hierdie vonnisoplegging vir 'n veel mindere oortreding vir wat hy gedoen en die land skade berokken het, is soos 'n tik op die vingers. Te veel skuiwergate om dinge vir hom makliker te maak. Die gewone man in die straat sou dadelik selle toe moes stap. Wat my diep laat dink oor die effektiwiteit van ons regters en regstelsel.

  • Gustaf Claassens

    Oud President Zuma is die gesig, maar ook die simptoom van korrupsie in die ANC; meerendeels as gevolg van, en danksy, die rol van die media. Die uitspraak van die Konstitusionele Hof was daarom reg en nodig. Niemand maar niemand is bo die reg verhef nie.

    Ongelukkig is die korrupsie diep gebed in beide faksies wat saamgesnoer is in 'n party wat met onderskeiding sy onvermoë en hopeloosheid om te lei en te regeer, die afgelope 27 jaar sig- en tasbaar gedemonstreer het. President Ramaphosa weet dat dit die geval is. Die geluk is dat die mag tans in hom en sy faksie gesetel is. Hofuitsprake is gewoonlik meer gunstig vir sodanige groepering. Alhoewel President Ramaphosa sy hofgeding oor die CR17 veldtog gewen het, is geweldig baie mense glad nie so oortuig dat sy hande heeltemal skoon is nie. Daar is 'n sterk gevoel dat ons nie die laaste hieroor gehoor het nie. Intussen is die land in 'n knyptang van algehele agteruitgang en ons gaan baie wysheid en 'n sterk wil nodig hê om hieruit te kom.

  • Zuma het hom onwaardig gedra en onwaardig opgetree as voormalige staatspresident, dus is tronkstraf vir hom nie onwaardig nie.

  • Johann Basson

    Suid-Afrikaners is by die kruispaaie van geregtigheid en demokrasie: Gaan die burgery die Suid-Afrikaanse kriminele regstelsel toenemend as regverdig en effektief beleef al dan nie? Gaan die burgery toenemend vertroue in die politieke verkiesingstelsel en 'n demokratiese stelsel verkry of nie?

  • Gaan Bheki Cele stappe neem teen Jacob Zuma en Carl Niehaus vir verontagsaming v Covid-regulasies en ook teen die stasiebevelvoerder van SAPD Nkandla en ook die Nasionale Kommissaris vir pligsversuim deur nie Covid-regulasies af te dwing nie? Die publiek is nie blind nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top