Voedselsekerheid wanneer die winkels leeggedra word: ’n onderhoud met Christo van der Rheede

  • 0

Foto van Christo van der Rheede: verskaf; foto van groente: Pixabay

Grootskaalse protesoptrede en plundery van winkels vind op die oomblik in dele van die land plaas, veral in KwaZulu-Natal en Gauteng.

Christo van der Rheede, die uitvoerende direkteur van Agri SA, het telefonies, teen die agtergrond van die afgelope paar uur se gebeure, met Naomi Meyer oor voedselsekerheid gepraat.

Christo, die protes en die plundering van verskeie winkels in KwaZulu-Natal en Gauteng laat mens nadink oor die impak hiervan op voedselsekerheid in algemene huishoudings. Wat is jou gedagtes hieromtrent?

........

Die skade en die impak is onmiddellik.

........

Ja, op kort termyn sien ons al klaar mense in lang toue in Pietermaritzburg en ander dele van  KwaZulu-Natal wat sukkel om kos in die hande te kry. Die skade en die impak is onmiddellik. Dis nou as ek praat oor die bestaande kos in die winkels. Die N3 is gesluit – hoe om kos in die streek in te kry en uit te kry, is een vraag.

Wat het alles met voedselsekerheid te doen?

........

So ek het nou van twee groepe mense gepraat: die boere en die algemene verbruiker. Albei groepe gaan sukkel en sukkel reeds.

.........

Kos in winkels. Invoere en uitvoere. Beskikbaarheid. Hoe kry mens uitvoerprodukte by die hawe om dit uitgevoer te kry? Die skade is baie groot in KwaZulu-Natal, as ek nou net van een streek praat. ’n Boer vertel my nou dis nie vir hom moontlik om sy tamaties op die regte plek te kry nie en ’n ander praat oor sy red pepper, sy soetrissie … Dis produkte wat sleg word as mens dit nie op die regte tyd kan vervoer na die plekke waar dit veronderstel is om heen te gaan nie. So ek het nou van twee groepe mense gepraat: die boere en die algemene verbruiker. Albei groepe gaan sukkel en sukkel reeds.

Die aspek van beskikbaarheid van kos …. ’n Belangrike faktor om in ag te neem as jy van kospryse praat, is beskikbaarheid van kos. As daar ’n skaarste is, dan styg die pryse. Die armstes van die armes gaan hieronder ly, dit is die punt.

.......

’n Belangrike faktor om in ag te neem as jy van kospryse praat, is beskikbaarheid van kos. As daar ’n skaarste is, dan styg die pryse.

.........

Wat het die afgelope tyd gebeur? Wie was die mense betrokke, dink jy?

Selfsugtige kriminele kom weg hiermee, dit is wat my pla. Daar is mense wat wegkom met sekere van die duurste produkte wat gesteel is en dan sien ek nou-nou iemand wegstap met ’n vark … Wat gaan hulle met die stomme dier maak? Die mense het gesteel en hulle kaste volgestop en nou gaan daar ander mense doodgaan van die honger.

........

Die mense het gesteel en hulle kaste volgestop en nou gaan daar ander mense doodgaan van die honger.

........

Watter skade sien jy alles?

.......

Ek sien onmiddellike en korttermynskade: skade aan infrastruktuur, skade aan eiendom, beskadiging van voorwerpe en kos wat uit winkels gesteel is.

.........

Ek sien onmiddellike en korttermynskade: skade aan infrastruktuur, skade aan eiendom, beskadiging van voorwerpe en kos wat uit winkels gesteel is. Ek dink dit beloop reeds miljarde en die kostes hou aan met styg. Ek sien allerlei bates wat geroof word, en dan praat ek net van die fisiese skade.

Op mediumtermyn moet ons maar sien hoe die kostes nog aanhou styg. Wanneer raak goed op, waarheen kring dit uit; is daar ander plekke en omgewings waarheen dit gaan versprei? Die skade is geweldig.

Dan is daar ook langtermynskade wat in ag geneem moet word. Uit ’n geldelike oogpunt praat mens van invoere of uitvoere – die produkte wat nou nie uitkom waar dit moet nie.

En twee ander vorme van skade, wat nie tasbaar is nie, maar mens gaan dit baie seer voel: Eerstens is daar mense se beleggersvertroue in die land – wie gaan hier wil belê?

En dan natuurlik ook die psigiese skade. Die mense wat hier in die land woon en sit en kyk wat gebeur.

.........

En twee ander vorme van skade, wat nie tasbaar is nie, maar mens gaan dit baie seer voel: Eerstens is daar mense se beleggersvertroue in die land – wie gaan hier wil belê?

En dan natuurlik ook die psigiese skade. Die mense wat hier in die land woon en sit en kyk wat gebeur.

.........

Wat van die regering in hierdie situasie?

Die probleem is die politiek word al weer gespeel en die regering is heeltemal onverhoeds betrap. Hulle het nie gou genoeg opgetree nie en is met die broek op die knieë betrap. Dis ’n donker tyd vir Suid-Afrika en ons hou net asem op dat hierdie gemors en kriminele aksies kan stop.

Lees ook:

Die Zuma-Cele-pokerspel en leemtes in die prosesreg

Die smal of die breë weg? Stof tot nadenke ook vir georganiseerde landbou!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top