Die smal of die breë weg? Stof tot nadenke ook vir georganiseerde landbou!

  • 3

Foto van Christo van der Rheede: Naomi Bruwer

Die ideologiese en filosofiese onderbou van ons minister van finansies, Tito Mboweni, se aangepaste begrotingsrede wat hy gelewer het, bied veel stof tot nadenke.

Hy haal Matteus 7 verse 13 en 14 aan wat soos volg lui: “Gaan deur die nou poort, want breed is die poort en breed is die pad wat tot ondergang lei, en baie betree dit. Maar die poort wat klein en smal is, dit lei tot die pad van lewe, en net ’n paar vind dit.” Hy is dan van mening dat ons land met ’n keuse tussen hierdie twee poorte gekonfronteer word. Die smal of die breë weg.

Terwyl die breë weg die afgelope dekade veral groot aanklank by leidende politici gevind het, het dit tot ongekende ekonomiese verval gelei. Dit is die taak nou van Mboweni om die ekonomie op die herstelpad te plaas. Daarom sy beroep op almal om van die breë weg af te sien en hul tot die smal pad te wend. Dit is duidelik dat hy en dr Zweli Mkhize groot vertrouelinge van president Ramaphosa is. Albei verstaan hul opdragte baie duidelik. Die een is verantwoordelik om die ekonomie te red, terwyl die ander een verantwoordelik is vir die land se gesondheid.

Die president is verantwoordelik vir die oorhoofse politieke bestuur van die land. Tot dusver het hy goed gedoen. Veral wat die bestuur van uiteenlopende ideologiese vertrekpunte in die ANC aanbetref.

Voor die uitbreek van die COVID-19-pandemie en die inwerkingstelling van die Nasionale Rampbestuurswet, het die verdeeldheid binne die ANC dikwels na die openbare domein oorgespoel. ’n Algehele gebrek aan partydissipline het geheers. Die COVID-19-pandemie het egter vir Ramaphosa ’n geleentheid soos min gebied om beheer oor die ANC te verkry en sy magsbasis binne die party te versterk.  

Dat hy van tyd tot tyd sy eie ideologiese standpunte ondergeskik moes stel aan sy minister van koöperatiewe regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma se voorkeure, is duidelik ’n teer saak vir hom. Maar hy het geen keuse as om haar te akkommodeer nie. Sy bly sy gedugste politieke teenstaander en is daarop uit om hom uit die kussings te lig om self president van die land te word.

Sy is ’n swaargewig politikus en is bekend met die geo-politieke omgewing. Sy word ook deur ’n beduidende groepering binne die ANC en in die kabinet ondersteun.  

Tito Mboweni (Fotobron: Wikipedia)

Die bestuur van die COVID-19-pandemie deur die verskillende kabinetslede en hoe hulle uitvoering gee aan hulle onderskeie opdragte, bied aan Ramaphosa ’n uitstekende geleentheid om te bepaal of die onderskeie ministers opgewasse is vir hul taak.   

Hulle prestasie is egter nie net beperk tot die president wat dit moet beoordeel nie. Dit is ook die algemene publiek wat die impak van besluite deur verskillende ministers soos geïmplimenteer deur hul onderskeie staatsdepartmente, eerstehands ervaar.

Hier is ’n gulde geleentheid vir die president om die kaf van die koring te skei. In dié verband het verskeie ministers hulself onderskei. Daar is egter ook ministers wat vele antwoorde aan die president verskuldig is, vanweë die swak bestuur van hul onderskeie portefeuljes. Dan is daar diegene wat tydens die inperking heeltemal uit die bus geval het.   

Vele redes kan aangevoer word waarom sekere ministers presteer en andere nie. Maar die belangrike rede wat deur sosiale wetenskaplikes aangevoer word, is die feit dat presterende ministers hul besluite grond op die wetenskappe, eerder as ideologie.

Daarmee saam volg hulle ’n omvattende konsultasieproses teenoor die afforseer van drakoniese maatreëls. Hulle erken die rol van die privaatsektor en strewe na ’n volhoubare langtermynvennootskap. Swak presterende ministers sien die staat as die kernrolspeler en is groot voorstaanders van ’n sterk sentralistiese benadering.   

Presterende ministers versoen politieke uitkomstes met ekonomiese uitkomstes, teenoor swak presterende ministers wat politieke uitkomstes ten koste van ekonomiese uitkomstes najaag. Populisme vind neerslag in alles wat hulle doen. Dis duidelik dat hulle die smal weg teenoor die breë verkies.   

In dié verband het die regsbank ’n kritieke en onafhanklike rol om te vervul en nie toe te laat dat die Nasionale Grondwet ondermyn word nie. Dit is om diegene wat hul skuldig maak aan grondwetlike vergrype, populisme, korrupsie en irrasionele aksies tot verantwoording te roep. Die vele hofsake wat deur maatskappye, opposisiepartye, burgerlikes en burgerregte-organisasies teen hulle gemaak word en die vele uitsprake ten gunste van hulle, is ’n bewys van die politieke bankrotskap wat reeds neerslag in ons regstaat gevind het. Die howe, vervolgingsgesag en die breë burgerlike samelewing kan daarom nie op hul louere rus nie.

Beide Mboweni en Mkhize beklemtoon die noodsaaklikheid om op die smal weg gefokus te bly. Addisioneel tot dit en om die ekonomie te red, vra die minister van finansies dat daar ook brûe gebou moet word. Dit behels die volgende:  

  • Fase 1: Beskerm die ekonomie deur middel van ’n stel onmiddellike, geteikende en tydelike intervensies. Uitdaging is dat die amptelike werkloosheidsyfer op 30.1% staan. Dit het die regering genoop om ’n hulppakket van R500 miljard aan te kondig om die ekonomie te ondersteun en om ’n veiligheidsnet aan huishoudings en besighede te bied om die impak van inperkings op ekonomiese aktiwiteite te versag. Die maatreëls is tydelik en bied ondersteuning waar dit die nodigste is.
  • Fase 2: Sit ’n plan in plek om van die onmiddellike gevolge van die krisis te herstel deur beleggings aan te moedig en werkskepping te weeg te bring. Die uitdaging is dat Suid-Afrika se ekonomiese groei onder geweldige druk is. ’n Daling in BBP van 7,2% word voorspel. Die bruto belastinginkomste wat gedurende die eerste twee maande van 2020/21 ingesamel is, het R142 miljard beloop, vergeleke met die aanvanklike voorspelling vir dieselfde tydperk van R177,3 miljard. Anders gestel - ons is reeds R35,3 miljard agter 2020/21 teiken. Gevolglik word die bruto belastinginkomste vir die boekjaar 2020/21 van R1,43 triljoen na R1,12 triljoen hersien. Dit beteken dat die tesourie hul belastingteiken vir hierdie jaar met meer as R300 miljard sal mis. Volgens die minister van finansies is die ekonomiese vooruitsigte baie onseker. Tog bied hierdie krisis ook die geleentheid om groot hervormings in werking te stel. Die smee van ’n nuwe ekonomie in ’n veranderde wêreldwye werklikheid sal ’n sosiale vennootskap vereis tussen sake, arbeid, gemeenskappe en die regering.
  • Fase 3: Skep ’n spilpunt wat groei vinnig aan die gang kan kry om die welvaart van die land oor die lang termyn kan herstel. Die uitdaging is dat bruto nasionale skuld bykans R4 triljoen sal beloop, of 81,8% van die BBP in vergeleke met ’n raming van R3,56 triljoen of 65,6% van BBP wat in Februarie voorspel is. Verder het die rand die afgelope maande met 18,1% teenoor die Amerikaanse dollar verswak. Suid-Afrika se risikopremie - dis die addisionele opbrengs wat beleggers vereis om te vergoed word vir die hoër vlakke van risiko - het op 15 Junie 2020 op 5,2% gestaan, vergeleke met 3,2% aan die einde van 2019. Effekteopbrengste het gestabiliseer weens die aankope van die Reserwebank van staatseffekte, maar bly hoër as voor COVID-19. Dit dui op onsekerheid oor Suid-Afrika se langtermyngroei en fiskale posisie, en beteken dat die regering meer sal moet betaal om geld te leen.

Terwyl minister Mboweni die ekonomie prioritiseer, vertel die aangepaste begroting ’n ander prentjie. Die wenners is soos volg:

  • Koöperatieweregering en tradisionele sake se begroting is vanaf R96 234 miljard met R10 955 miljard na R107 188 miljard aangepas.
  • Kommunikasie en inligtingsisteme is vanaf R721 miljoen met R30 miljoen na R751 miljoen verhoog.
  • Gesondheid is vanaf R55 516 miljard met R2 914 miljard na R58 430 miljard verhoog.
  • Maatskaplike dienste is vanaf R197 718 miljard met R25 474 miljard na R223 192 miljard verhoog.
  • Polisie en weermag se begrotings is gesamentlik met R6,58 miljard aangepas.

Die verloorders is soos volg:

  • Landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se begroting is vanaf R16 810 miljard met R2 394 miljard na R14 416 miljard verminder.
  • Vervoer se begroting is vanaf R62 047 miljard met R4 640 miljard na R57 407 miljard verminder.
  • Toerisme is vanaf R2 481 miljard met R1 000 miljard na R1 481 miljard verminder.
  • Handel en nywerheid is vanaf R11 082 miljard met R1 771 miljard na R9 311 miljard verminder.
  • Basiese onderwys vanaf R25 328 miljard met R2 095 miljard na R23 233 miljard verminder.
  • Hoër onderwys is vanaf R116 857 miljard met R9 857 miljard na R107 000 miljard verminder.

Hierdie besnoeing word genoodsaak vanweë die begrotingstekort van R761. 7 miljard, oftewel 15,7% van die BBP in 2020/21 in vergeleke met die tekort van R370, 5 miljard, oftewel 6,8% van BBP wat in Februarie geprojekteer is. Hierdie toename in begrotingstekort is hoofsaaklik toe te skryf aan die hersiene inkomsteprojeksies en uitbetalings van die Werkloosheidsversekeringsfonds.

Die tekort hou ernstige implikasies in vir die finansiering van kern staatsdepartemente verantwoordelik vir die herstel van die ekonomie. Die afskaling van begrotings is ’n terugslag vir departmente soos landbou, vervoer, toerisme, handel en nywerheid en opvoeding. Verder dui dit op ’n groter uitdaging, die regering se volgehoue fokus op welsynsintervensies, eerder as die ontsluiting van welvaartskeppende geleenthede.   

Dit is teen dié agtergrond wat ’n organisasie soos Agri SA ’n uiters belangrike rol het om te vervul. Dit is om die landbousektor as ’n welvaartskepper deurlopend te posisioneer, op grond van die wetenskappe en ekonomiese data wat dit onderlê. Ook om die nuwe geleenthede vir welvaartskepping en werkskepping wat dit bied te ontgin.    

Zweli Mkhize (Fotobron: Wikipedia)

Dit vereis van ons om ook ’n keuse te maak. Dit is om verbind te bly tot die smal weg en ’n fyn balans tussen die politieke en ekonomiese belange van die landbousektor te handhaaf. Die breë weg lyk op die oog af baie gewild. Deesdae is dit ’n gewilde tydverdryf om standpunte op Twitter te deel óf die regering in die Afrikaanse media sleg te sê. ’n Ander tydverdryf is om die landbousektor weer op grond van taal, ras en politieke ideologie te verdeel en om rassepolarisasie deur middel van vals nuus aan te dryf. Verduidelik egter hoe sulke aksies landbou tot voordeel strek?    

Die grondwetlike bedeling wat deur Suid-Afrika in 1994 aanvaar is, het ’n nuwe tydvak ingelui. Des te meer rus daar ’n verantwoordelikheid op georganiseerde landbou om, terwyl ons grondwetlike vergrype deur regering bloot lê, ook ’n bestekopname te doen oor ons eie verbintenis tot die waardes en ideale soos vervat in die Nasionale Grondwet.   

In respons tot die smal weg waarna die minister van finansies verwys, behoort georganiseerde landbou ons op nuut te verbind tot die volgende:

  1. Die herstel van mense se menswaardigheid, uitbou van gelykheid, menseregte, vryheid, nie-rassigheid, nie-seksisme en om die oppergesag van die grondwet ten alle tye te eerbiedig.
  2. Vestig en bou konstruktiewe verhoudings met die regering, veral met kabinetslede wat toegewy is tot deelnemende besluitneming en vennootskappe.
  3. Roep die regering tot verantwoording as dié skuldig is aan allerlei grondwetlike vergrype.
  4. Benut politieke, natuurlike, ekonomiese en tegnologiese wetenskappe as basis om ingeligte besluite te neem om die langtermynvolhoubaarheid van voedselproduksie te verseker.
  5. Vestig die Suid-Afrikaanse landbousektor as ’n wêreldspeler.
  6. Identifiseer nuwe geleenthede in alle fasette van die waardeketting en help opkomende entrepreneurs en nuwe boere om dit te ontsluit en ontgin.
  7. Mitigeer die risiko’s wat ’n pandemie soos COVID-19 inhou, met innoverende oplossings.  

Wat die laaste punt aanbetref, sluit ek af met drie scenario’s soos uiteengesit in ’n dokument deur Deloitte getiteld Recovering from COVID-19 – Considering economic scenarios for resilient leaders. Dit skets moontlike gevolge vir die Suid-Afrikaanse en wêreldekonomieë, afhangende van hoe die pandemie mag ontwikkel. Dis inderdaad nie net ’n smal poort nie, maar ons loop die gevaar dat die poort heeltemal kan sluit:

Scenario 1:

  • Pogings om pandemie onder beheer te bring, blyk suksesvol te wees
  • Dit manifesteer in ’n dramatiese, maar ekonomiese afplatting van korte duur. Dit gevolg word deur ’n geleidelike herstel.
  • Dit lei tot ’n daling in BBP, heelwat meer as wat ons gedurende die resessie van 2008-2009 ervaar het.

Scenario 2:

  • Die pandemie duur langer met golwe van infeksie deur die loop van die jaar tot en met die vierde kwartaal van hierdie jaar.
  • Daar is ook ’n herlewing van die virus op pad na 2021.
  • In hierdie scenario word die Suid-Afrikaanse ekonomie gekonfronteer met ’n langdurige stilstand wat tot aan die begin van 2021 strek.

Scenario 3:

  • Die virus bly muteer.
  • Die ontwikkeling van ’n entstof bly ons ontwyk.
  • Die wêreldwye en Suid-Afrikaanse ekonomieë verval in ’n depressie.

Elkeen van hierdie scenario’s bring elk ’n nuwe stel uitdagings na die tafel en vereis daarom ’n unieke stel oplossings. Ons sien dat meer sake- en sosiale aktiwiteite aanlyn bedryf word. Die krisis het e-handel ’n groot hupstoot gegee en het dié manier van hoe die formele kleinhandel sake bedryf, vir ewig verander. Voldoening aan gesondheids- en veiligheidsmaatreëls is nou vir almal ’n prioriteit. Die deurlopende betrokkenheid van mediese kundigheid en noodsaaklikheid van betroubare data in die werksplek sal toeneem.  

Georganiseerde landbou en georganiseerde partypolitiek bevind hulself in presies dieselfde bootjie. Beide het geen keuse as om ons ideologiese standpunte ondergeskik te stel aan die wetenskappe en die prioritisering van mense se wel en weë nie. Wat laasgenoemde aanbetref skuld die regering kiesers baie antwoorde. Veral wat die gebrek aan behoorlike behuising, gesondheidsdienste, munisipale dienste, werkskepping en die nakoming van ander basiese grondwetlike verpligtinge aanbetref.

Dit is teen dié agtergrond dat georganiseerde landbou nou meer as ooit van tevore ’n sleutelrol te vervul het. Nie om die rol van regering oor te neem nie, maar om op die smal weg, die landbou-ekonomie na nuwe hoogtes te neem. En ’n konstruktiewe bydrae tot ekonomiese en sosio-maatskaplike herstel te lewer!

  • 3

Kommentaar

  • Duidelik, logies en sonder ideologie. Miskien is die grootste uitdaging om ten spyte van 'n duidelike gebrek van regeringskant af van ondersteuning en erkenning aan of simpatie met die uitdagings wat boere moet hanteer, dat boere hulle koppe skoon sal hou en jou voorstelle laat realiseer.

  • Hendrina Grové

    Alhoewel my kennis mbt die ekonomie nie so in-diepte is nie, klink die uiteensetting vir my logies rakende wat op die oomblik in SA “afspeel”! En deur dit sal ons so sinvol as moontlik moet werk – ekself dink die “enger”-pad tesame met denke “veranderinge” sal die “ding” doen!

  • Patrick Jefthas

    Meer landbouskole op te rig en aanlegtoetse vanaf graad 8 om leerders te identifiseer om landbou as beroep te kies.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top