Kwarantynketting: "The Afrikaans patient" deur Naomi Meyer

  • 7

Met die land wat tans in kwarantyn is, voer skrywers ’n korona-kettinggesprek oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd.

Naomi Meyer skryf oor haar ervaring in die grendeltyd (Fase 4).

The Afrikaans patient

Die man in die huis is siek.

“Ek hoop nie dis dit nie,” whatsapp ’n vriendin.

Ek hoop ook nie so nie.

In die bed lyk hy grys in die gesig. Ek voel bekommerd oor hom. En oor die wêreld. In die tyd van COVID-19 dink ek aan die film The English patient, met al die siekte en boonop die Tweede Wêreldoorlog wat op Die Groot Depressie gevolg het.

Hy het nie koors nie. Maar hy is nie lekker nie. Die virus kan allerlei eienaardige gedaantes aanneem. Wat is die volgende simptoom van COVID-19 wat ontdek sal word: ingroeitoonnaels?

Ingroeitoonnaels – dis nie snaaks nie. Die virus het alles verander. Die grappies oor alkohol en lang hare op die sosiale media stroom in, maar as ons nou lag, lag ons minder.

’n Ruk terug sou hierdie selfde vriendin reageer het met: “Man flu?” Ek sou ’n emotikon teruggestuur het van ’n gesiggie wat haar oë rol (“jy weet mos”).

COVID-19 het normale interaksie verander. Wat is snaaks, watter wetgewing is grondwetlik in hierdie dae, wat is die virussimptome? Alles het verander: politiek, ekonomie, feeste, teater, sport, universiteite. Is dit meer gesond om ons in huise af te sonder, of meer gesond om dit nie te doen nie? Dis waaroor nou gepraat word.

Sekere gesprekke het heeltemal vervaag. Afrikaans op universiteitsvlak is in die intensiewe eenheid, maar die gesprek het verdwyn, saam met gesprekke oor ander lewensgevaarlike siektes. Oor ’n toekoms met geleenthede word ook nie gepraat nie.

The Afrikaans patient se vrou

The Afrikaans patient se vrou is ook siek. Sy is siek en sat vir al die daaglikse onderbrekings. Sy is bevoorreg om ’n werk te hê en ’n man en kinders vir wie sy lief is in haar huis. Sy is wel siek en sat vir haar biologiese samestelling, met haar medulla oblongata, wat sy op skool geleer het verleng is om toe te laat dat sy gelyktydig aan meer as een taak kan aandag gee.

Sy is siek en sat vir al die boeke wat sy nie skryf nie. Sy sien op die sosiale media dat daar baie ander vroue is wat ook siek en sat is vir al die navorsing wat hulle nie doen nie, en wat skakels uit The Guardian deel van al die ander vroulike akademici wêreldwyd wat nie navorsing doen nie, terwyl manlike akademici se navorsing inderwaarheid toeneem.

Ek stap in die oggend en dink aan tendense wat skuif, soos aardplate onder die kors van die grond waaroor ek loop.

Dié wat voorheen geld gehad het vir kos, het met vreugde piesangbrode gebak. Nou wonder almal wat bevoorreg genoeg is om kos in die huis te hê watter ete hulle volgende vir hul gesin sal uitbroei. Toe die eerste fase van inperking verby is, het mense uitgelate soos kinders strate toe gehardloop om weer oefening binne vyf kilometer van hul huise af te doen. Nou lyk al hierdie selfde mense agter hulle lappe soos beelde uit The English patient. Ek vrees die langtermyneffek van die virus: so baie siekte en dood, ekonomiese depressie, opstand, nasionalisme en oorloë. En ook: Het die staat van inperking plaasgevind net sodat daar massagrafte gegrawe kon word?

The Afrikaans patient se ouers

Die ouers word verpak as “bejaard” en het nou heeltemal verdwyn. Hulle moet opgepas word om nie aan die kieme blootgestel te word nie en in die proses het hulle onsigbaar geword. Niemand sien hulle meer raak nie.

Almal is nie gelyk voor die virus nie. Ouderdom, geslag en ekonomiese omstandighede bewerkstellig groter ongelykheid as wat voorheen die geval was.

The Afrikaans patient se kinders

Die kinders se lewens is aanlyn soos nooit tevore nie. Grense vloei ineen, die huislike en die skoollewens vermeng. Dis vir die dogtertjie in die huis nou baie belangrik om die kartonpophuis waaraan sy lank  gelede begin werk het, op koers te kry, voordat tuisskool soggens begin. Haar eie pophuis, wat sy een slag vir Kersfees gekry en ten volle gemeubileerd is, staan bo in haar kamer. Die seun se krieketproewe hang in die lug soos onvoltooide storielyne van al die boeke wat sy ma nie skryf nie, omdat sy besig is om rys op die stoof te verbrand in die tyd wat haar man te siek is om kos te maak.

The Afrikaans patient en sy vrou weet nie of hulle hul kinders moet skool toe stuur as die onderwysdepartement uiteindelik besluit het wat moet gebeur nie. The Afrikaans patient sit met sy voorgeslagte se bagasie. Hy hoor uitsprake deur die onderwysdepartement op TV en hy weet nie of hy kan vertrou wat enigiemand sê nie. The Afrikaans patient is enersyds nie ’n eiland nie (“no man is an island”), maar andersyds woon hy steeds op ’n eiland. Daar is buurte, so onsigbaar soos bejaardes in afsondering, waar mense in hierdie dae verhongerd dwaal. Die virus het net nóg groter klowe bewerkstellig.

The Afrikaans patient zoom sy dokter. Hy het toe oplaas nie die gevreesde virus nie. Hy’t iets anders, waarvoor daar medikasie bestaan om hom te genees. Uiteindelik staan hy gesond op, draai hy ’n lap om sy gesig en stap die strate binne. ’n Nuwe dag, ’n nuwe virus, ’n nuwe onbekende toekoms tegemoet.

Lees ook

  • 7

Kommentaar

  • Naomi, 'n insigryke kwatrynketting met verskillende karakters se denke en gevoel wat jy belig. So voel ons almal! En dan die gelukkige en salige slot. Mooi so!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top