Regsalmanak: Skuldlose aanspreeklikheid van ‘n werkgewer

  • 0

 Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.         

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset
Regsalmanak: Oor fyn-van-nerf verkeersbeamptes
Regsalmanak: 'n Grusame botsing en die waarde van deskundige getuienis
Regsalmanak: “Grassnyer” toe al die tyd mooitjies ‘n “motorvoertuig”

'n Sekere mnr Baloyi het vir 'n bekende groothandelonderneming in Johannesburg as die bestuurder van 'n afleweringsvoertuig gewerk. Op ‘n dag in 1943 het hy soos gewoonlik aflewerings in die noordelike voorstede van Johannesburg gedoen. Hy was veronderstel om ná werk die voertuig vir die res van die naweek by 'n garage in die middestad te gaan berg, maar het daarmee na Sophiatown gery, waar hy saam met 'n paar vriende gekuier het.

Sophiatown, sal jy dalk onthou, was ‘n swart woonbuurt wat gedurende die 1960’s sogenaamd “opgeruim” is en in ‘n blanke woonbuurt omskep is. Die nuwe buurt het Triomf geheet, maar ná 1994 is dit herdoop na sy oorspronklike naam, Sophiatown. (Lees gerus Marlene van Niekerk se roman Triomf.)

Ewenwel, tydens mnr Baloyi se besoek aan Sophiatown het die voggies ook maar gevloei, en toe hy laatmiddag terugry om die voertuig in die garage te gaan berg, was hy in 'n botsing betrokke waarin die vader van twee jong kinders gedood is. Die botsing is deur mnr Baloyi se nalatigheid – en wat hy te drinke gehad het – veroorsaak.

Die moeder van die kinders het daarna 'n aksie om skadevergoeding ten bedrae van R5 000 teen mnr Baloyi se werkgewers ingestel. (In vandag se geld is dit natuurlik aansienlik meer.) Sy het beweer dat mnr Baloyi tydens die voorval binne die bestek van sy diensverhouding met die groothandelonderneming opgetree het – 'n bewering wat heftig ontken is.

Alvorens 'n werkgewer aanspreeklik gehou kan word vir ‘n onregmatige daad van sy werknemer, moet bewys word dat daar 'n dienskontrak tussen hulle bestaan het. So 'n kontrak kom tot stand as die werknemer sy arbeidskrag teen vergoeding tot die beskikking van die werkgewer stel, op so 'n manier dat die werkgewer oor hom gesag voer en oor hom toesig hou. Dit was nie ‘n moeilike hekkie vir die weduwee om oor te seil nie.

As so 'n dienskontrak eenmaal bewys is, moet dan ook bewys word dat die werknemer die onregmatige daad in die uitvoering van sy pligte gepleeg het. Dít is waar die knoop in Baloyi se geval gelê het. Die werkgewer het aangevoer dat Baloyi nie gemagtig was om die voertuig te gebruik om saam met sy vriende in Sophiatown te gaan fuif nie.

Die hooggeregshof in Johannesburg het nietemin ten gunste van die weduwee beslis, en teen dié uitspraak het die groothandelaar na die appèlhof in Bloemfontein geappelleer.

In sy uitspraak[i] beslis hoofregter Watermeyer dat die vraag of 'n werkgewer vir die onregmatige daad van sy werknemer aanspreeklik is, baie sal afhang van die feite van die besondere geval. As die werknemer sy werk heeltemal opsy skuif en met sy eie persoonlike dinge aangaan, mag 'n hof beslis dat die werkgewer dan nie aanspreeklik is nie.

As die werknemer nie sy pligte teenoor sy werkgewer heeltemal laat vaar nie, maar hom deels ook met sy eie persoonlike sake besig hou, sal die werkgewer nogtans aanspreeklik wees as die skade berokken is terwyl die werknemer na sy werkgewer se belange omgesien het. Selfs waar 'n werknemer blatant ongehoorsaam is, kan sy werkgewer in bepaalde gevalle aanspreeklik gehou word.

Met dit in gedagte beslis die hof dat toe die botsing plaasgevind het, Baloyi besig was om ook sy werkgewer se belange te behartig, want hy was immers in beheer van die werkgewer se voertuig. Boonop was hy op pad om dit, ooreenkomstig opdragte, by 'n garage in die middestad van Johannesburg te gaan berg. Al het hy sonder toestemming met die voertuig gaan fuif, het hy nie sy werkgewer se belange volledig opsy geskuif nie.

Die groothandelaar is dus aanspreeklik gehou en moes die eisbedrag van R5 000 aan die weduwee betaal.

Nie te lank gelede nie moes die konstitusionele hof beslis oor die aanspreeklikheid van die Staat vir die onregmatige daad – trouens, dit was ‘n misdryf – van ‘n polisieman wat nie aan diens was nie; hy was slegs op “bystand”. ‘n Meisie van George het naamlik haar vertroue geplaas in ‘n polisieman wat op bystanddiens was, maar in ‘n polisievoertuig gereis het. Hy sou haar laatnag veilig huis toe neem, maar pleks daarvan het hy ‘n ander pad gekies en haar oplaas in die polisiemotor verkrag.

Die konstitusionele hof het beslis[ii] dat die Staat ‘n plig het om sy burgers te beskerm en dat die publiek geregtig is om hul vertroue daarvoor in die polisiediens te plaas. Dit, het die hof beslis, is die normatiewe basis om die staat deliktueel aanspreeklik te hou vir die misdade van polisiebeamptes, op voorwaarde dat daar ‘n voldoende skakel bewys word tussen die polisiebeampte se misdryf en sy diensverhouding met die Staat.

Op die feite het die hof beslis dat hoewel die betrokke polisiebeampte nie aan diens was nie, die polisiemotor waarin hy gereis het, ‘n deurslaggewende rol gespeel het: dit het die meisie se vertroue in die polisiediens en sy beamptes versterk en sonder die motor sou die polisiebeampte straks nie die misdryf gepleeg het nie.

Die staat is dus in die besondere geval middellik aanspreeklik gehou vir die onregmatige daad van sy werknemer – nes dit mnr Baloyi se werkgewer se lot was.

 

[i] Feldman (Pty) Ltd v Mall 1945 AD 733

[ii] F v Minister of Safety and Security and Others 2012 (1) SA 536 (CC)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top