Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd

  • 5

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Stephan Weltz (foto: YouTube)

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed

Met die afsterwe van Stephan Welz op Kersdag 2015 het Suid-Afrika nie alleen ‘n invloedryke kunskenner verloor nie, maar ook een van sy kleurrykste afslaers van als wat mooi en waardevol is: die skilder- en beeldhoukuns; Kaapse silwer; eetgerei; waardevolle ornamente; antieke gereedskap; juweliersware – noem maar op. Vergeet ook nie mooi en waardevolle Africana-boeke en dokumente nie. En dit is juis die verkoop tydens ‘n veiling van ‘n besondere boek in drie volumes wat Welz in die 1990’s in ‘n hewige hofstryd laat beland het wat oplaas in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein besleg is. Ek vind dit merkwaardig dat tussen al die huldeblyke oor Welz wat sedert sy afsterwe die lig gesien het, daar – sover my kennis strek – geen melding van hierdie klaarblyklik senutergende fase in sy lewe gemaak is nie.

Die agtergrond is die volgende: sir Alfred Beit (1903–1994), ‘n eertydse Britse Konserwatiewe (Torie-) politikus, kunsliefhebber, filantroop en broerskind van die bekende Suid-Afrikaanse mynmagnaat met dieselfde naam, het in 1991 aan Stephan Welz opdrag gegee om sy Suid-Afrikaanse versameling van Africana-boeke, skilderye, meubels en silwer tydens ‘n veiling in Kaapstad van die hand te sit.

Beit was ‘n welvarende man, danksy ‘n kosbare erflating deur sy vader, Otto, van onder meer kunswerke van die hoogste orde. Sir Alfred en lady Beit het op die hakke van die Tories se ontnugterende verkiesingsnederlaag, so kort ná die Tweede Wêreldoorlog, na Suid-Afrika verhuis. Hier, weer, het die wetlike verskansing van apartheid ná die NP se oorwinning in 1948 hul dermate ontnugter dat hul oplaas Ierland as hul permanente tuiste gekies het. Daar het Beit in 1952 die eeue oue herehuis Russborough House – met ‘n vooraansig van 210 meter lank – in die graafskap Wicklow gekoop. Dié huis was eksieperfeksie vir die Beits se kunsversameling, wat werke van Goya, Vermeer, Rubens en Gainsford ingesluit het. (Die versameling is sedert 1972 nie minder nie as vier keer gesteel, maar gelukkig telkens teruggevind. Deesdae behoort dit aan die Beit-stigting, wat dit steeds vir besigtiging deur die publiek ten toon stel.)[i]

Maar terug na die veiling deur Stephan Welz van Beit se Suid-Afrikaanse bates in die stadsaal van Milnerton in die Kaap op 27 Mei 1991. Een van die skriftelike bepalings van die veiling was dat ‘n bod op ‘n bieër toegeslaan sou word “met die val van die hamer”. Normaalweg beteken dit dat ‘n bindende koopooreenkoms op daardie oomblik tot stand kom. Die veilingsvoorwaardes het egter aan die afslaer die reg verleen om enige dispuut tussen bieërs onmiddellik in sy absolute diskresie te besleg – insluitend die reg om die besondere lot weer op te veil. Daar is ‘n klankopname van die verrigtinge gemaak, wat later geblyk het waardevol te wees.

Lot nommer 537 was ‘n baie skaars eksemplaar van Louis Vaillant se epiese reisjoernaal Voyage dans l'Interieur de l'Afrique, par le Cap de Bonne-Espérance (een volume) en sy tweede Voyage dans l' Interieur de l'Afrique (in twee volumes). Die werk het in 1796 in Parys verskyn en sir Alfred se haas ongeskonde eksemplaar was in weelderige rooi Marokkaanse leer gebind. Vooraf het Stephan Welz self gereken dat hierdie lot teen tussen R25 000 en R40 000 opgeveil sou word, en omdat hy ‘n mandaat van ‘n onbekende bieër gehad het om die lot teen ‘n maksimum bedrag van R37 000 te koop, het hy R25 000 as aanvangsbedrag aangekondig.

Daar is fluks tussen twee bieërs – L Fryde, die direkteur van ‘n bekende handelaar in geskiedkundige boeke, en ene Paul Mills – gebie en die bod is oplaas teen die onverwags hoë bedrag van R80 000 op mnr Fryde toegeslaan. Dit was nadat Welz – volgens die klankopname – binne die bestek van 16 sekondes 11 keer verdere botte op dié hoë bedrag uitgenooi het voordat hy die hamer laat klink het.

Sekondes ná die toeslaan van die bod op mnr Fryde is Welz se aandag egter daarop gevestig dat ‘n Durbanse versamelaar van Africana, R Levitt, wel op die laaste oomblik tot die bieëry toegetree het en ‘n hoër bod van R85 000 vir die Vaillant-boeke gemaak het. Sonder om te huiwer het Welz die bieëry op R85 000 heropen en – ondanks ‘n beswaar deur mnr Fryde – met die veiling van die betrokke item voortgegaan. Toe was dit Fryde teen die nuweling, Levitt. Uiteindelik het Fryde wéér gewen, maar dié keer teen ‘n astronomiese R300 000. ‘n Mens kan jou voorstel dat hy mor-mor met die Vaillant-boeke onder die arm daar weg is.

Omdat Fryde en Welz al ‘n lang pad saamgeloop het, het Fryde 30 dae grasie gehad om die koopprys van R300 000 op te dok. Maar toe D-dag aanbreek, het hy slegs die oorspronklike bedrag van R80 000 ter betaling aangebied. Sy argument was dat aangesien daar in werklikheid geen dispuut tussen hom en enige ander bieër bestaan het toe Welz die hamer laat klink het nie, daar ‘n afdwingbare ooreenkoms tussen hom en die verkoper, sir Alfred, tot stand gekom. Hy het slegs onder protes verder aan die veiling van die besondere lot deelgeneem.

Welz, weer, het hom op sy diskresionêre bevoegdhede ingevolge die veilingsvoorwaardes beroep. Tydens die verhoor van die daaropvolgende aksie wat Welz teen Fryde se maatskappy ingestel het, het die partye ooreengekom dat die hof oor die eenvoudige vraag moes beslis of Welz die bevoegdheid gehad het, al dan nie, om die veiling te heropen nadat hy reeds die bod op Fryde toegeslaan het.

Regter Blieden van die Witwatersrandse plaaslike afdeling van die hooggeregshof het op 9 Mei 1994 in Welz se guns beslis. Soos die toeval dit wou hê, is sir Alfred Beit slegs drie dae later oorlede en in Fryde se maatskappy se daaropvolgende appèl na die appèlhof in Bloemfontein was sir Alfred se boedel nou die respondent.

In sy uitspraak van 22 Augustus 1996 ontleed hoofregter Corbett die getuienis wat voor regter Blieden gelewer is opnuut uitvoerig.[ii] ‘n Kernvraag was of daar bewys is dat Levitt wel betyds – dws vóór die val van die hamer – ‘n hoër bod gemaak het. Die hof aanvaar oplaas die getuienis dat Welz se aandag op die twee mededingende bieërs, Fryde en Mills – wat redelik agter in die saal gesit het – gevestig was. Die nuweling, Levitt, het in die vierde ry van voor – maar byna heeltemal links – gesit. Buitendien het hy, as ‘n gesoute bieër op veilings, nie met ‘n groot gedruis gebie nie. Inteendeel: hy het bloot met sy pen in sy linkerhand in Welz se rigting gewaai ter aanduiding van sy bod van R85 000. Daarby is Welz se uitsig op Levitt ietwat deur ‘n ander persoon met ‘n uitdyende buik, wat voor Levitt gesit het, versper. Gelukkig vir Welz het een van sy opmerksame personeellede, Vanessa Phillips, Levitt se bewegings met sy pen raakgesien, en was haar mededeling aan Welz – sekondes ná die insident – dat daar inderdaad betyds ‘n hoër bod was, deurslaggewend.

Die hoofregter wys in sy uitspraak daarop dat dispute tussen bieërs tydens veilings dikwels opduik. Die betrokke veilingsvoorwaardes was funksioneel en duidelik en die hof was ten gunste daarvan om ‘n uitgebreide uitleg – eerder as ‘n beperkte uitleg – aan die begrip “enige dispuut” in die veilingsvoorwaardes te heg. So gesien, wás daar dus ‘n “dispuut” tussen Fryde en Levitt, en was Welz volkome daarop geregtig om dit te besleg op die wyse wat hy gekies het.

Fryde se maatskappy is gelas om die bedrag van R300 000 – waarskynlik met rente – aan die boedel van sir Alfred Beit te betaal. Dan was daar natuurlik ook nog die aansienlike regskoste wat die verloorder moes opdok. My raaiskoot is dat die uiteindelike som wat Fryde se maatskappy verskuldig was, hierdie verhandeling van ‘n weliswaar waardevolle stuk Africana straks een van die duurstes nóg maak.

 

[i] Wikipedia

[ii] Frank R Thorold (Pty) Ltd v Estate Late Beit 1996 (4) SA 705 (A)

 

  • 5

Kommentaar

  • Dankie Ton, vir jou 'endorsement'. Vir my , dra dit by tot die voller prentjie van Stephan - 'n Mens kon altyd staatmaak op sy integriteit!
    Dankie ook aan Gustaf! Groete , CW

  • Albe Grobbelaar

    Wat 'n interessante stukkie onlangse geskiedenis, gebou op eeue oue geskiedenis! Heerlik gelees. Toevallig dat ek met my studente (Mediastudies en Joernalistiek) 'n hoofstuk oor omgewingsjoernalistiek doen, waarin ons redelik volledig die reise en latere "verhoogoptredes" in Europa van Louis Vaillant behandel. Hierdie skrywe oor die veiling sal voortaan baie lekker kleur gee aan die lesings.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top