Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Die akkerbome waarna in hierdie artikel verwys word is nie so bekend soos die sagtevrugte van die Ceres-omgewing nie - soos die vye op hierdie foto. Bron: https://www.travelground.com/blog/fruit-picking-in-the-western-cape/
| Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke |
|---|
| • Die "kousale ketting" in strafsake |
| • Diefstal van eie goed |
| • Bram Fischer |
Mnr Malherbe was 'n boer van Ceres se wêreld wat sy kapitaal, soos dit 'n wyse man betaam (is daar indertyd geglo), in eiendom gesteek het. In Voortrekkerstraat op dié pragtige Bolandse dorp het hy 'n gebou aangeskaf en aan 'n handelsbank verhuur.
Op die sypaadjie voor die bank het drie majestueuse akkerbome gestaan. Die sypaadjie was munisipale eiendom. Soos elke akkerboom wat sy sout werd is, het die drie bome voor die bank getrou jaar in en jaar uit met die wisseling van die seisoene hulle blare en akkers laat val. Sommige daarvan het in die geute van mnr Malherbe se gebou beland en dit verstop, met die gevolg dat die mure klam geword het. Die wortels van die drie bome het ook die fondamente van die gebou tot 'n mate beskadig.
Vroeg in 1950 het mnr Malherbe die Hooggeregshof in Kaapstad genader om 'n bevel wat die munisipaliteit sou verplig om die hindernis wat deur die akkerbome veroorsaak is, te verwyder. Hoewel hy dit nie in soveel woorde gesê het nie, was dit duidelik dat hy wou hê dat die bome afgekap moes word.
Die Munisipaliteit het 'n versoenende houding ingeneem en aangebied om die takke wat oor mnr Malherbe se grens gehang het, af te kap en sy regskoste tot datum te betaal.
Dié aanbod is nie aanvaar nie, en die partye is hof toe in die Kaap, waar regter Newton Thompson in die guns van die munisipaliteit beslis het. Toe appelleer mnr Malherbe na die Appèlhof, en in September 1951 dien die saak in Bloemfontein voor hoofregter Centlivres en twee appèlregters.
In sy latere uitspraak[i] beslis die Appèlhof dat die reg van 'n eienaar om op sy grond te maak soos hy wil, nie onbeperk is nie. Die vraag is op welke wyse hierdie reg beperk word. Die hof kom tot die gevolgtrekking dat die beperking dáárin lê dat 'n grondeienaar nie sy eiendom op 'n abnormale of dan onnatuurlike wyse mag gebruik nie. 'n Eenvoudige voorbeeld is waar iemand giftige bome op sy eiendom plant en dit dan 'n invloed uitoefen op sy bure se eiendom. Dit, sê die hof, sou op 'n onnatuurlike en buitengewone gebruik van eiendom neerkom.
Met dit as uitgangspunt, kom die hof tot die gevolgtrekking dat daar niks buitengewoons was aan die gebruik deur die munisipaliteit van Ceres van hulle grond voor mnr Malherbe se gebou nie. Trouens, die plant van akkerbome langs die strate van dorpe en stede in die Wes-Kaap word as die gewone en natuurlike gebruik van daardie strate beskou. Akkerbome is net so onskadelik as wat hulle skaduryk en sierlik is (wel, dit was die siening van die Appèlhof in 1951). En as die blare van akkerbome deur die wind op aangrensende persele gewaai word, moet die eienaars van daardie persele dit maar verdra as die natuurlike gevolg van die gewone gebruik van die straat deur die munisipaliteit. Buitendien sou dit mnr Malherbe destyds maar sowat sestien sjielings – een rand sestig! – per jaar gekos het om die geute van sy gebou skoon te hou.
Mnr Malherbe se appèl is van die hand gewys en hy was verplig om die munisipaliteit se regskoste ook te betaal. En dit was sweerlik meer as sestien sjielings. Hierdie uitspraak van die Appèlhof geniet nog steeds oortuigende gesag in alle bureregdispute.
Ek sluit af met goeie en slegte nuus. Tydens 'n besoek aan Ceres enkele jare gelede het ek navraag gedoen oor die akkerbome wat mnr Malherbe se siel so versondig het. Die slegte nuus is dat hulle oplaas afgekap is – glo omdat hulle siek geword het, soos wat skynbaar maar akkerbome se lot hier in Suid-Afrika is. Die goeie nuus is dat die munisipaliteit voor die vermaledyde Volkskas-gebou in Voortrekkerstraat twee nuwe akkerboompies geplant het, wat oënskynlik fris en gesond was toe ons daar aangedoen het. Trouens, omtrent ál Ceres se akkerbome het indertyd vir my lewendig en gesond gelyk. Ek glo teen dié tyd van die somer pronk hulle alreeds in hulle pragtige groen somersdrag.



Kommentaar
Het nou weer tyd om bietjie te lees ... kleinkinders was hier vir Kersfees ... en toe lyk "majestueus" net vir my snaaks. Moes nie dalk "majestieus" gewees het nie? As ek verkeerd is, jammer. Groete aan Leon...was saam met my in matriek.
Hennie, majestueus is wel reg ...