Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?

  • 1

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Fotobron: www.wscar.net

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting

Die bekende omgewingswetenskaplike van Noordwes-Universiteit, Kobus van der Walt, het vroeër vandeesmaand in sy weeklikse omgewingspraatjie (Saterdae om 06:45 op RSG) verwys na ‘n artikel oor die sogenaamde vierde industriële revolusie wat die mensdom tans binnegaan. Die skrywer is ene Udo Gollub van Berlyn, wat onlangs ‘n konferensie van die Amerikaansgedrewe Singularity University bygewoon het.

Gollub se interessante opsomming van die konferensie kan gelees word by hierdie Facebook-inskrywing.

Gollub, lees ek, is ‘n kêrel wat programme verkoop wat jou help om ‘n vreemde taal aan te leer. Hy reken jy hoef nie meer as 17 minute per dag aan jou nuwe taalleerstokperdjie te wy nie. Gollub – wat skynbaar goed bevriend is met invloedrykes soos Richard Branson – vertel dat kleiner tale wêreldwyd besig is om teen ‘n verbysterende tempo uit te sterf. Ek weet nie of dit ‘n bemoedigende teken is of nie, maar Afrikaans verskyn wel (nogal eerste!) op sy lys van 80 tale wat hy mense wil help onder die knie kry.

Tydens die Singularity University-konferensie wat Gollub bygewoon het, is daar vertel hoe rekenaarsagteware binne die volgende 5–10 jaar die meeste gevestigde bedrywe op hul kop sal keer. Uber, vertel hy (as ‘n voorbeeld), is die grootste taxi-onderneming in die wêreld, maar besit g’n enkele motorkar nie, want Uber is eintlik maar net ‘n stuk sagtewaregereedskap. Dit is besig om die dekades oue huurmotorbedryf onherkenbaar te verander – selfs in Suid-Afrika, waar vetes tussen die tradisionele meter-taxi’s en hul Uber-mededingers sporadies selfs met skietgevegte besleg word.

Kunsmatige intelligensie; reusespronge in gesondheidsdienste, landbou en onderwys; elektries-aangedrewe, selfbesturende motorvoertuie en die vinnige groei in 3D-druktegnologie is maar enkele voorbeelde van wat Gollub die eksponensiële era noem. Ruimte ontbreek om al die interessante verwikkelings wat hy vermeld te herhaal. Lees dit gerus self.

Wat my as juris laat regop sit het, is die volgende uitkoms van die “eksponensiële era” wat Gollub vir spesifiek die regsprofessie voorspel:

In the US, young lawyers already don’t get jobs. Because of IBM Watson, you can get legal advice (so far for more or less basic stuff) within seconds. With 90% accuracy, compared with 70% accuracy when done by humans. So if you are studying law, stop immediately. There will be 90% fewer generalist lawyers in the future; only specialists will be needed … By 2030, computers will have become “more intelligent” than humans.

Ek tob nou al dae lank hieroor, maar ek deel nie Gollub se voorspooksels nie. Ek dink nie hy weet waarvan hy praat nie.

Om mee te begin: in Suid-Afrika is daar ook honderde – indien nie duisende nie – jong regspraktisyns met wie dit maar broekskeur gaan. Maar ek dink nie dit is omdat die rekenaar besig is om mense uit die regsprofessie te verdryf nie; daar is na my beskeie oordeel gewoon maar net ‘n óórproduksie van LLB’s aan ons universiteite. Dalk het die gewilde misdaadreekse op televisie iets daarmee te make.

En ‘n mens begín ook nie jou loopbaan as ‘n gesoute en gerespekteerde juris nie. Soos in enige van die professies is dit maar ‘n opdraande stryd boontoe.

Ek sal ook nie so maklik-maklik – soos Gollub doen – iemand wat in die regte studeer aanmoedig om summier tou op te gooi nie. ‘n Regskwalifikasie maak immers baie ander deure – naas dié van die professie self – oop vir enigiemand wat hard en toegewyd wil werk.

Ja, die rekenaar maak dit wel moontlik vir Jan en alleman om binne sekondes betroubare regsadvies in te win, maar dan slegs maar op ‘n elementêre vlak – inderdaad die “basic stuff”, soos Gollub aantoon: regsgeldige testamente; eenvoudige kontrakte; aspekte van die belastingreg; die huweliksreg; geskille by die werk; klein eise – die lys is straks lank.

Ek dink ook min van my kollegas sal van my verskil as ek sou opmerk dat sonder die rekenaar en, daarmee saam, sonder die uiters kragtige sagteware wat spesifiek vir die regsberoep ontwikkel is (en wat in sigself steeds eksponensieel groei), g’n regspraktisyn meer doeltreffend kan funksioneer nie.

Maar ek wonder of die rekenaar ooit die mens in die miljoene hofdramas wat hul daagliks oor die wêreld heen afspeel, sal kan vervang.

Sal hy die intensiewe menslike speurwerk wat dikwels met die blootleggingsproses in siviele gedinge gepaard gaan – die nagte deur met jou neus in dokumente sit – kan vervang? Ja, help sal hy wel kán.

Sal die rekenaar ooit ‘n geslepe getuie, wat suinig met die waarheid is, kan kruisverhoor?

Sal die rekenaar ooit die fyn spel tussen ‘n ervare advokaat en ‘n getuie kan naboots? Sal hy in staat wees om die senuagtige trek om die mond, die ontwykende kies van woorde, die natgeswete handpalms, die vermyding van oogkontak – noem maar op – te interpreteer met die oog op die volgende vraag? Altyd, altyd maar versigtig: nes jy ‘n trop skape aankeer kraal toe; en dan maak jy die hek agter die liegbek toe.

Kán ‘n rekenaar?

Sal die rekenaar járe se ervaring – dikwels deur menslike skandes en skades verwerf – kan vervang?

Ek twyfel.

Belangrikste van als: Sal hy, kunsmatige intelligensie en al, die vermoë ontwikkel om die sluitsteen van die regsprofessie – etiese gedrag – in sy “regspraktyk” toe te pas?

Vir seker nie.

Ons praat immers van een van die mensdom se oudste professies ...

Naskrif: Vir Gollub en Singularity University (én prof Kobus!): daar is ‘n interessante terugkeer oral in die wêreld na viniellangspeelplate, van alle dinge. Ons kitaarspelende jongste het selfs ‘n onlangse langspeelplaat van die kitaarvirtuoos Dan Patlansky in sy besit.

Dis aanmoedigend geteken “Go brother!”

Soos van ouds.


Besoek ook Dan Patlansky se Facebookruimte om foto's van hierdie ghitaarspeler te sien. 

Lees ook: https://www.facebook.com/udo.gollub/posts/10207978845381135, “Into the future”, deur Udo Gollub, Messe Berlyn, Duitsland.

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek wonder of daar enige lesers is wat nog vir ANITA kan onthou wat in die jare 70 haar verskyning in Suid Afrika gemaak het. Nee sy was niemand se skelmpie nie, want ANITA was naamlik die akroniem vir 'A New Inspiration To Arithmetic, or A New Inspiration To Accounting'. Sy het die meganiese lawaaierige rekenaar vervang en almal het in verwondering by my kantoor ingeloer om te sien wat ek alles met die dame kon aanvang.
    Haar leeftyd was egter van korte duur en spoedig het meer gevorderde rekenaars haar vervang. Van ANITA van eenvoudige toetsbord en buis tot vandag se sagte en hardeware, is inderdaad 'n reuse-sprong in so 'n kort tydperk.
    Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top