Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë

  • 0

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Bron: en.wikipedia.org

Wat behels die redelike-voorsienbaarheid-toets by delikte?

Die jaar gaan te vinnig verby. Kyk, hier trek ons al by Meimaand, en daar is nog een storie wat oorstaan van Aprilmaand. Hier is hy: Op die middag van 29 April 1975 was die 59-jarige mnr Murray van Durban in digte verkeer in Umgeniweg met sy motorfiets op pad huis toe. In die stadig-bewegende verkeer het hy 'n dieselaangedrewe bus genader wat links van die pad stilgestaan het, vermoedelik om passasiers op en af te laai. 'n Gaping het in die verkeer voor mnr Murray ontstaan en die busbestuurder het vinnig weggetrek om weer in die verkeer terug te kom.

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël

Op daardie oomblik was mnr Murray presies langs die bus se uitlaatpyp, wat net voor die regteragterwiel en sowat 40 cm bokant die grond geplaas was. Met die skielike versnelling het 'n digte swart rookwolk by die uitlaatpyp uitgeborrel – bo-oor mnr Murray, wat nie 'n beskermende bril gedra het nie. In die rook was daar onder meer koolstofdeeltjies wat in sy oë beland het en permanente skade veroorsaak het.

Mnr Murray het daarna 'n aksie om skadevergoeding teen die eienaars van die bus en hul derdepartyversekeraars ingestel.

Ten einde met sy aksie te kon slaag, moes hy bewys dat die bestuurder van die bus of die eienaars daarvan nalatig was. In sy dagvaarding het hy talle gronde van nalatigheid aangevoer – onder meer dat die eienaars versuim het om die bus behoorlik in stand te hou; dat die uitlaatpyp op 'n veiliger plek geplaas moes gewees het; dat die uitlaatpyp van 'n filter voorsien moes gewees het, en so meer.

Veral mnr Murray se laaste grond van nalatigheid het die hof se aandag getrek: hy het naamlik aangevoer dat die busbestuurder redelikerwys behoort te geweet het dat as hy skielik sou wegtrek, skadelike uitlaatgasse deur die dieselenjin vrygestel sou word en op mense in die nabyheid van die bus kon beland.

Albei partye het kenners van dieselenjins geroep om as deskundiges te getuig. Hulle het verduidelik dat indien die versneller van 'n dieselenjin te vinnig ingetrap word, daar onvoldoende suurstof is om al die brandstof gelyktydig te verbrand. Onverbrande brandstof word dan in die vorm van, onder meer, koolstofdeeltjies deur die uitlaatstelsel in die atmosfeer vrygestel, en dit is dán wanneer 'n mens daardie swart rookwolk by 'n wegtrekkende dieselvoertuig se uitlaatpyp sien uitborrel.

Die koolstofdeeltjies wat op hierdie manier by die uitlaatpyp uitgeblaas word, is swaar en val gou grond toe. Daarom het die deskundiges kopgekrap oor die rede waarom van die koolstofdeeltjies in mnr Murray se oë beland het terwyl hy op die saal van sy motorfiets soveel hoër as die uitlaatpyp gesit het. Hul gevolgtrekking was dat dit deur 'n uitsonderlike kombinasie van verskillende faktore veroorsaak is.

Die hof het bevind dat daar nie iets geskort het met die uitlaatpyp of die instandhouding van die bus nie. Die regter het beslis dat die voorval suiwer veroorsaak is deur die skielike en vinnige wyse waarop die busbestuurder versnel het toe hy die gaping in die verkeer voor hom gesien het. Maar was dit in sigself nalatig? Wat sou jy sê? Tog nie.

Die regter het beslis dat die busbestuurder nie onredelik opgetree het deur die versneller vinnig in te trap toe hy die gaping wou vat nie. Buitendien sou die redelike motoris in die posisie van die busbestuurder nie onder die omstandighede die moontlikheid van skade aan mnr Murray se oë voorsien het en daarteen gewaak het nie. Hoeveel simpatie die hof ook al vir die totaal onskuldige mnr Murray gehad het, was daar geen getuienis van nalatigheid aan die kant van óf die busbestuurder óf die eienaars van die bus nie. Sy aksie is gevolglik met koste van die hand gewys.[i] Vir hom het die ongelukkige spreuk, “Die skade rus waar dit val” waar geword.

Gelukkig het die tegnologie rondom dieselenjins sedert 1979 reusespronge gemaak, en rook dieselaangedrewe voertuie deesdae baie minder. Nogtans is daar nog ‘n paar ou strydrosse op ons land se paaie wat jy wie weet hoe ver kan sien aankom, maar niemand by Omgewingsake of die verkeerspolisie steur hul nou juis dááraan nie ...

[i] Murray v Union and South West Africa Insurance Co Ltd and Another 1979 (2) sa 825 (d)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top