Regsalmanak: Die vere maak die voël

  • 4

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou

In April 1958 – dis ook al 58 jaar gelede – het die dra van togas deur landdroste en staatsaanklaers in ons laer howe verpligtend geword. Die oogmerk was om daardeur die waardigheid en voorkoms van die howe te verhoog. Prokureurs en advokate dra egter al jare lank togas in ons howe. Trouens, die gebruik dat regslui ten minste in die hooggeregshof togas dra, is baie oud.

Swart is ‘n gewilde kleur die wêreld oor. Volgens oorlewering kom dié voorkeur uit Engeland: met die begrafnis van koningin Mary (1662–1694) het al die Engelse regters die staatsbegrafnis bygewoon, in swart togas geklee – natuurlik as ‘n teken van rou. En omdat dié betrokke vorstin so geliefd was, het die rouproses vir etlike jare voortgeduur, en toe het hul sommer maar by swart gehou. Terselfdertyd het ook sowel Katolieke as Protestantse geestelikes swart togas begin dra, want dié kleur is beskou as ‘n simbool van waardigheid en goddelike gesag.

Maar terug by Suid-Afrika: die togas wat aanklaers en prokureurs in ons laer howe dra, lyk deurgaans dieselfde. Dit word normaalweg van swart poliëster-kasjmier vervaardig.

Landdroste se togas het ‘n sykoord op die skouerstuk en onder op die mou-opslae, met skarlakenrooi bande, 5 cm breed, aan die voorpante en moue.

Illustrasie: http://www.birchs.co.za/filter/robes/legal

Advokate dra slegs in die hooggeregshof togas; in die landdroshof verskyn ‘n advokaat gewoonlik geklee in ‘n netjiese donker pak. In die hooggeregshof dra 'n junior advokaat 'n swart toga waarvan die snit nogal taamlik verskil van dié wat deur prokureurs en landdroste gedra word. Net agter die linkerskouer is daar so 'n los flappie aangewerk, en aan die voorkant hang daar 'n langerige los band – alles van dieselfde swart materiaal. Dit herinner aan die vroegste beoefenaars van die advokaatsamp eeue gelede in die Romeinse Ryk.

Volgens oorlewering het die advokaat sy kliënt se saak in die Romeinse forum – 'n soort opelughof – bepleit. Omdat die advokate meesterlike redenaars was (party van hulle is dit nog stééds!) het die gewone burgery na die forum gestroom om na die regsdebatte te luister. Vir hulle was dit 'n vorm van ontspanning.

Die advokaat het volgens gebruik nie 'n fooi vir sy dienste gehef nie; watter beloning hy ook al gekry het, is as 'n geskenk beskou. Ek dink dit het ook sy onafhanklikheid, sy objektiewe beskouing van sake, beklemtoon. Daarom het hy 'n geldsakkie aan 'n langerige tou oor sy skouer gedra. Sy kliënt en die aanwesige burgery het daarin geldstukke geplaas, maar omdat die sakkie ágter sy rug gehang het, kon hy nie sien wie hoeveel geld daarin plaas nie – nóg ‘n demonstrasie van sy onafhanklikheid. Hoe beter die advokaat gedebatteer het, hoe meer geld het die aanwesiges in die sakkie geplaas. En as die sakkie nie gou genoeg in gewig toegeneem het nie, het die advokaat die tou so 'n paar plukke gegee sodat die geldstukke daarin geklingel het – natuurlik as 'n teken vir die skare dat hulle meer geld moes ingooi, anders sou hy gaan sit! Die los flappie en band aan die toga van die hedendaagse junior advokaat herinner aan daardie geldsakkie en tou van die advokaat in die destydse Romeinse forum.

'n Senior advokaat se toga verskil baie van dié van die junior advokaat, en die simbool van die tou en geldsakkie kom nie daarop voor nie. In die ou dae is senior advokate se togas van egte sy vervaardig – vandaar die uitdrukking dat 'n advokaat "sy neem" as hy 'n senior advokaat (SC, vir senior consultus) word. Volgens 'n bekende vervaardiger van togas word senior advokate se togas deesdae ook maar van gewone poliëster-kasjmier vervaardig, omdat sy geweldig duur geword het.

Regters van die hooggeregshof het twee soorte togas. In siviele gedinge dra 'n regter dieselfde swart toga as 'n senior advokaat:

Wanneer ‘n regter ‘n strafsaak verhoor, dra hy 'n swart-en-helderrooi toga:

'n Appèlregter – selfs die president van die hoogste hof van appèl – dra slegs die swart toga wat 'n gewone regter van die hooggeregshof in siviele gedinge dra. Die swart-en-rooi togas wat regters in strafsake dra, word nie in die stemmige hofsaal van die hoogste hof van appèl met sy stinkhoutmuurpanele gedra nie – selfs nie eens as ‘n strafappèl aangehoor word nie.

En dan is daar nog die stemmige togas van groen, swart en rooi wat regters van die konstitusionele hof dra:

Vergeet ook nie die blou-en-maroen togas van regters van die grondeisehof nie.

Voorwaar kleurvol in die reënboognasie! ‘n Mens sou kon sê: hoe meer dae, hoe meer dinge; hoe meer howe, hoe meer togas.

O ja, ons regslui dra nie pruike nie, maar ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat regters in Lesotho nog dié ondinge op hul koppe moet hê wanneer hul sake moet verhoor. Dit is vir seker wel die geval in hedendaagse Zimbabwe (hoewel hul president dikwels sy veragting uitspreek oor dié land se koloniale verlede):

As dinge in ons buurstaat se hooggeregshof woes begin raak, raak daardie regters seker warm onder die pruik; nie warm onder die kraag soos hul Suid-Afrikaanse eweknieë nie ...

‘n Interessante bron oor dié onderwerp is http://www.jjmccullough.com/judges.htm. Van die foto’s wat ek hier bo gebruik het, is uit daardie webruimte afkomstig. 

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top