Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik. Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.

Hierdie voorbeeld van 'n sannageweer verskyn op die voorblad van Feliz Lategan se Die Boer se Roer (Tafelberg, 1974).
Vandeesweek iets oor die merkwaardige lastersaak Geyser en 'n Ander v Pont[i] wat gedurende Februarie tot April 1967 in Johannesburg verhoor is.
AD Pont was 'n geordende predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk en 'n professor aan die Universiteit van Pretoria. Hy was 'n sterk voorstander van artikel 3 van die Kerkorde, waarvolgens slegs blankes lidmate van die Hervormde Kerk kon wees.[ii]
Pont het die sogenaamde ekumeniese beweging sterk teengestaan. Dit is 'n beweging wat uitgaan van die standpunt dat daar slegs één kerk vir alle Christene hoef te wees, en wat daarop toegespits is om die versplintering binne die Christelike kerk te herstel en 'n wêreldwye eenheid in die kerk te bewerkstellig.
AS Geyser was óók 'n predikant van die Hervormde Kerk en, soos Pont, 'n professor in teologie – eers aan Tukkies en daarná aan Wits.
Die derde persoon in die drama was die bekende Beyers Naudé, 'n voormalige predikant van die NG Kerk en direkteur van die Christelike Instituut.
Pont aan die een kant en Geyser en Naudé aan die ander kant het beslis nie langs dieselfde vuur gesit nie. Oor die teologie het die twee kampe dikwels skerp gebots, want sowel Geyser as Naudé was kampvegters vir onder meer die ekumeniese beweging.
Oor 'n tydperk van nege maande – tussen September 1964 en Junie 1965 – het Pont vir Geyser en Naudé erg belaster in 'n maandelikse rubriek in die kerkblad, Die Hervormer. Hy het onder meer gesuggereer dat Geyser en Naudé die kommunisme bevorder het; dat hul leuenagtig en lafhartig was; dat hulle hul protestantse geloof, hul Christelikheid en God verloën het; dat hulle ondersteuners van sabotasie was; dat hulle die moord van vrouens en kinders en 'n bloedbad in Suid-Afrika sou bevorder het; ens.
Geyser en Naudé het daarna 'n lasteraksie teen Pont ingestel. Dit was 'n maratonverhoor wat duisende rand gekos het. Die hof, by monde van regter Trollip, het uiteindelik ten gunste van Geyser en Naudé beslis en aan elk van hulle R10 000 skadevergoeding toegestaan. In sy outobiografie[iii] merk “oom Bey”, soos Naudé later algemeen bekend gestaan het, tereg op: “[D]it was in daardie jare ‘n fortuin!”
Pont het slegs teen die bedrag skadevergoeding geappelleer, en op 15 Februarie 1968 het die appèlhof in Bloemfontein begin om die appèlsaak aan te hoor. In sy latere uitspraak[iv] het hoofregter Steyn onder meer bevind dat die lasterlike uitlatings nie geskryf is "in die hitte van 'n emosioneel gelaaide woordestryd waarin onbedagte woorde die spreker maklik ontglip het nie. Hulle is van maand tot maand op skrif gestel vir 'n ernstige rubriek." Die feit dat Pont met sy belastering volgehou het nadat hy moes besef het dat hy hom op twyfelagtige terrein bevind, was 'n verswarende omstandigheid wat teen hom getel het. Die hoofregter het beslis dat hoewel die skadevergoeding wat aanvanklik toegeken is, ongekend hoog was, ook die laster ongekend was.
Die appèl is met koste van die hand gewys. Dit was 'n roemlose einde aan 'n uiters onverkwiklike kerklike twis. Naudé skryf soos volg daaroor in sy reeds aangehaalde outobiografie:[v]
Toe die Regter (Trollip in die hof a quo – CGP) vir Adriaan Pont ná die uitspraak vir ‘n lys van sy besittings vra, was sy antwoord kort en klaar: al wat hy besit, is sy Bybel en sy sannageweer. (Dis net ‘n Boer wat so iets sal sê!) Toe het die regter besluit dat op grond van sy inkomste as professor hy maandeliks R65 aan ons moes betaal as afbetaling van die R10 000 wat hy aan elkeen van ons skuld. Ons het onmiddellik gesê ons wil nie die geld hê nie; ons was bereid om hom kwyt te skeld mits hy bereid was om net een woord te spreek en te sê hy is jammer. Maar dit het hy nog konstant deur die jare geweier. Ek het met sy vader sowel as met van sy ander familie gepraat en ek wou graag die saak met hom persoonlik bespreek, maar hy was nie bereid om dit te doen nie. Vandag (1995 – CGP) nog vind ek dit pynlik dat hier geen versoening kon plaasvind nie.”
[i] 1968(4) SA 67(W).
[ii] Dié bepaling van die Kerkorde was oplaas in stryd met die gelykheidsbeginsel in die Handves van Regte van die Grondwet (1996) en sou dus onafwendbaar gewysig moes word. Dit het tydens die Algemene Kerkvergadering van 1997 gebeur. (Ek neem aan dat daar ook ánder sterk oorwegings was vir die Hervormde Kerk om dié bepaling in sy Kerkorde te wysig.) In 2013 het ordereël 4 van die Kerkorde gelui: “Die Kerk is ‘n volkskerk met sy eie kerklike kultuur, geskiedenis, taal en tradisie wat geroepe is tot die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus aan die Afrikanervolk en tegelyk aan alle mense” en ordereël 4.1.1: “Almal wat deur God in genade geroep is en deur die Heilige Gees in Jesus Christus glo, is lede van sy liggaam.” Die Kerk se (finale) veroordeling van apartheid tydens die Buitengewone Algemene Kerkvergadering van Oktober 2011, het nie sonder ‘n goeie skeut omstredenheid gepaard gegaan nie. Die interessante notule van daardie vergadering kan gelees word op die kerk se webblad: http://www.nhka.org/index.php/so-werk-ons-11/amptelike-dokumente.html.
[iii] Naudé, Beyers, My land van hoop (1995: Human en Rousseau, Kaapstad), bl 77.
[iv] Pont v Geyser en 'n Ander 1968(2) SA 545(A).
[v] Op. cit. 78.



Kommentaar
Ek lees baie graag die Regsalmanak van Gustaf Pienaar.