Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande

  • 2

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Bron van brandbestryderfoto: http://wallpapercave.com/fireman-wallpaper

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang

En daar (by die skryf hiervan) staak die 300 Suid-Afrikaners wat met ‘n groot gedoe Kanada toe is om te gaan help om die voortslepende bosbrande te bestry, toe oor ‘n loongeskil. Mooi so, mense! Maak ons land se naam lekker krater. Dit – krater maak – het ons nasionale sport geword; ook wanneer ons oorsee is.

Die Kanadese bosbrande is die grootste en duurste ramp wat dié land in menseheugenis getref het. In die stad Fort McMurray, waar die brand ontstaan het, is 2 400 strukture – dit is ongeveer 10% van die stad – vernietig. Ruim 80 000 mense moes vir hul veiligheid vlug. Op sy hoogtepunt het die brand oor ‘n gebied van 500 000 hektaar gestrek. En nog is het einde niet.

Suid-Afrika word ook gedurig deur omvangryke brande geteister. In 1999 het die wetgewer die erns daarvan ingesien en besef dat die toe bestaande wetgewing oud en uitgedien was. Die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande, Wet 101 van 1998, het op 1 April 1999 in werking getree.

Die wet plaas verantwoordelikhede op landelike bewoners om nie alleen hulself teen brandskade te beskerm nie, maar ook om om te sien na die belange van hul bure. As ‘n mens die wet oortree, kan jy swaar beboet word of selfs gevangenisstraf opgelê word.

Die bestryding van brande in landelike gebiede word dikwels bemoeilik deur damme wat leeg is en die feit dat die landelike gebied al hoe meer vir private bewoning gebruik word. Terselfdertyd gaan boerderygemeenskappe dwarsdeur die land gebuk onder finansiële probleme, hoofsaaklik vanweë die droogte. Dit het tot gevolg dat landbouers uitgawes besnoei en in die proses hul oë sluit vir die verpligtinge wat op hulle rus om die ontstaan en verspreiding van veldbrande te voorkom, asook om hul eiendomme omvattend teen brand te verseker.

In ‘n neutedop maak die Wet op Veld- en Bosbrande daarvoor voorsiening dat as daar op ‘n stuk grond ‘n brand kan ontstaan, of as ‘n brand van daardie grond af elders heen kan versprei, die eienaar daarvan ‘n brandstrook aan die grense van die grond moet maak. Die woord “eienaar” sluit “huurder” – of enige ander persoon wat die grond beheer – in.

Die wet het bevat ook voorskrifte oor hoe ‘n brandstrook moet lyk; hoe groot dit moet wees; presies wáár die brandstrook geleë moet wees; en hoe dit in stand gehou moet word.

Die belangrike kwessie van brandbestryding – soos byvoorbeeld toerusting wat vereis word, die dra van beskermende klere, hoeveel werkers afgesonder moet word om ‘n brand te bestry en wat ‘n mens moet doen as jy ‘n brand ontdek wat ‘n gevaar kan inhou – word ook in die wet behandel.

Die wet reël verder ook situasies soos wanneer die eienaar van grond afwesig is en daar ‘n brand op sy grond ontstaan; of ‘n mens in die bestryding van ‘n brand private grond mag betree; wanneer ‘n mens ‘n eis vir brandskade kan instel en teen wie; onder watter omstandighede ‘n vuur aangesteek mag word en watter beheer daaroor uitgeoefen moet word.

Landelike bewoners word ten sterkste aangeraai om hul te vergewis van die besonderhede van die wet, veral in die lig van die hoë risiko vir die verspreiding van brande waarna hier bo verwys is.

Dit is ook belangrik dat grondeienaars moet besef dat brandweerdienste baie duur is. Ingevolge die Brandweerwet, Wet 99 van 1987, is ‘n munisipaliteit daarop geregtig om die koste vir die lewering van brandweerdienste van grondeienaars te verhaal. Hierdie soort dienste is nie gratis nie.

Wat ook belangrik is om in gedagte te hou, is dat ‘n munisipaliteit nie aanspreeklik is vir die nagevolge van brande nie. Munisipaliteite se vermoë om brande effektief te bestry is beperk. Die wetgewer het hierdie beperkte vermoë van owerhede om brande effektief te bestry in gedagte gehou toe die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande op die wetboek geplaas is. Soos hier bo verduidelik is, rus daar ingevolge hierdie wet ‘n baie groter plig op landelike bewoners om self hul huis in orde te kry en te voorkom dat veldbrande op hul eiendom ontstaan of daaroor versprei.

Laastens is dit van wesentlike belang dat grondeienaars moet seker maak dat hulle ten volle en omvattend teen rampe van hierdie aard verseker is. En selfs indien hul verseker is, kan ‘n versuim om die bepalings van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande nougeset na te kom, grondeienaars se bestaande versekeringsdekking in gevaar stel. Die versekeringsmaatskappy mag dus onder gepaste omstandighede weier om ‘n eis uit te betaal, veral waar die bepalings van die wet nie nagekom is nie.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Susan La Grange

    In 'n klein dorpie Bathurst - geleë tussen Grahamstad en Port Alfred - is ten minste 90% van die huise in die 'dorpie' omring deur digte bosse, sommige woonerwe is soms aan 2 of 3 kante omring deur Munisipale meentgrond (dig bebos). Is dit dan nie die verantwoordelikheid van die plaaslike munisipaliteit om toe te sien dat daar 'brandpaaie' gemaak word nie? Watter wet is hier van toepassing?

  • Dis nie die Suid-Afrikaanse brandbestryders wat ons land se naam krater gemaak het nie - dit was hulle gierige base ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top