Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang

  • 2

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

 

Foto: http://www.2oceansvibe.com

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting

Terwyl ek nou met dieremetafore werk: ek mag die kat aan die stert beet hê, maar ek verbeel my die benaming “Die Groot Krokodil” vir PW Botha – in lewe eerste minister en later uitvoerende staatspresident van Suid-Afrika – was die geesteskind van Piet Cillié toe hy nog redakteur van Die Burger was. Vermoedelik het dié benaming gesinspeel op Botha se bekende kort humeur en onvoorspelbaarheid.

Dit was ‘n erg verbitterde Botha wat in 1989 onder groot druk van senior NP-politici as staatspresident bedank het. Na sy uittrede het hy in sy vakansiewoning aan die verruklike Wildernismeer, nie ver van George af nie, gaan woon. Hy was erg krities oor die beleidsrigtings van FW de Klerk – tot so ‘n mate dat hy sy lidmaatskap van die Nasionale Party, wat altyd sy politieke tuiste was, opgesê het. Hy was ‘n uitgesproke teenstander van die politieke omwenteling van 1994.

Botha het magtige posisies in die staatsbestel voor 1994 beklee: hy het in 1958 ‘n adjunkminister geword, gevolg deur ‘n volle kabinetspos in 1961. In 1966 het hy minister van verdediging in die Verwoerd-kabinet geword – ‘n portefeulje wat hy ook vir die volle duur van die Vorster-administrasie behou het. Botha het Vorster in 1978 as premier opgevolg en het in 1984 Suid-Afrika se eerste uitvoerende staatspresident geword.

As minister van verdediging, premier en latere staatspresident was Botha intens betrokke by Suid-Afrika se veelbewoë geskiedenis tussen 1960 en 1994: Sharpeville; Republiekwording; die “bosoorlog” in Rhodesië; die opbou van die vasteland se mees formidabele militêre vermoë; die sluipmoord op Verwoerd; militêre ingrypings in Suidwes-Afrika (nou Namibië) en Angola; die vervaardiging van gesofistikeerde wapentuig, selfs kernwapens; pogings om die verhoudings met byvoorbeeld Mosambiek te normaliseer; streng sensurering van die binnelandse media; die totstandkoming van die magtige Staatsveiligheidsraad; Suid-Afrika se toenemende buitelandse isolasie; die rampspoedige disinvestering deur buitelandse maatskappye; die Rubicon-fiasko; die eerste geheime gesprekke met Nelson Mandela op die pad na ‘n “nuwe Suid-Afrika”. So sou ek kon voortgaan.

Na die totstandkoming van ‘n nuwe demokratiese bestel in 1994 het die Mandela-regering nie gras onder sy voete laat groei om die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening[1] te laat aanneem nie. Artikel 2 het die Kommissie vir Waarheid en Versoening (WVK) in die lewe geroep. Die oogmerke van die kommissie was, onder meer, “om nasionale eenheid en versoening te bevorder in 'n gees van begrip wat uitstyg bo die konflikte en die verdeeldheid van die verlede”. Die kommissie moes ‘n volledige beeld verkry van die oorsake, aard en omvang van “die growwe skendings van menseregte” wat gedurende die tydperk 1 Maart 1960 tot die einde van die blanke bewind (1994) gepleeg is.

Ruimte ontbreek om al die oogmerke van die WVK, soos in die betrokke wet verwoord, uiteen te sit. Wat van belang is, is die tydvak wat die kommissie moes ondersoek: die jare tussen 1960 en 1994, wat grotendeels oorvleuel het met PW Botha se loopbaan as minister, premier en staatspresident. Dit sou naïef wees om te ontken dat die WVK baie graag PW se kant van die verhaal sou wou gehoor het.

Die WVK het wye ondersoekbevoegdhede geniet – onder meer om persone soos Botha te dagvaar om voor hom te verskyn. Agter die skerms is daar hard – dog vrugteloos – gepoog om PW sover te kry om vrywillig te gaan getuig. Dit verklaar straks waarom die kommissie so lank gewag het om ‘n dagvaarding vir hom uit te reik.

Nou moet ek eers net ‘n paar regstegniese punte verduidelik. Die kommissie moes sy werksaamhede binne 18 maande voltooi. Sou dit nie vermag kon word nie, het die betrokke wet aan president Mandela die bevoegdheid verleen om die kommissie se “lewe” met hoogstens ses maande te verleng. Die kommissie het sy werksaamhede op 15 Desember 1995 begin, wat beteken dat hy maksimum tot 14 Desember 1997 regsgeldiglik kon funksioneer.

Toe dit duidelik begin word het dat méér tyd nodig sou wees, is die betrokke wet gewysig[2] en is die kommissie se lewe tot 30 April 1998 verleng. Die wysigingswet het op 10 Desember 1997 van krag geword. Onthou dié datum.

‘n Paar dae vóór 10 Desember 1997 – en wel op 5 Desember – is ‘n dagvaarding op PW Botha bestel waarin hy beveel is om op 19 Desember 1997 voor die kommissie te verskyn om getuienis te lewer. Dié dagvaarding het Botha geïgnoreer, waarna hy strafregtelik aangekla is. Hy is in die streekhof op George verhoor, skuldig bevind en ‘n vonnis van R10 000 of ‘n jaar gevangenisstraf opgelê. ‘n Verdere gevangenisstraf van ‘n jaar is vir ‘n periode van vyf jaar opgeskort.

In sy daaropvolgende appèl tot die hooggeregshof in Kaapstad het Botha sy saak tot ‘n enkele uiters tegniese punt – die regsgeldigheid van die dagvaarding van 5 Desember 1997 – beperk. Sy advokaat, HR (Lappe) Laubscher SC, het geargumenteer dat toe die dagvaarding op 5 Desember 1997 op Botha beteken is, die einde van die WVK se “lewe” in sig was: dit sou op 14 Desember 1997 gebeur, soos ek hier bo verduidelik het.

Botha se dagvaarding het hom beveel om op 19 Desember voor die WVK te verskyn, maar – het Laubscher geargumenteer – die WVK se amptenare het mos op 5 Desember gewéét dat die kommissie nie op 19 Desember regsgeldiglik kon funksioneer nie. So gesien, was die dagvaarding van 5 Desember ongeldig. Immers: die wysigingswet – wat die WVK se lewe regsgeldiglik verleng het tot 30 April 1998 – het eers op 10 Desember 1997 regskrag verkry, toe dit in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit was vyf dae nádat Botha sy dagvaarding ontvang het.

Erg tegnies, as jy my sou vra.

Regters Selikowitz en Foxcroft het in hul uitspraak van 1 Junie 1999 – vandeesweek 17 jaar gelede – Botha se appèl gehandhaaf.[3] In ‘n besonder lang uitspraak het die hof beslis dat die WVK ‘n statutêre skepping was wat geen inherente magte – buiten dié wat die Wet aan hom verleen het – geniet het nie. Die WVK was op 5 Desember 1997 dus geregtig om dagvaardings slegs vir verhore tot 14 Desember van daardie jaar uit te reik, wanneer sy lewe regsgeldiglik tot ‘n einde sou kom. Om in die verwagting dat sy lewe deur wetgewing verleng sou word tot 30 April 1998, reeds op 5 Desember vir Botha te dagvaar om op 19 Desember (dws gedurende die WVK se “verlengde lewe”) voor hom te verskyn, was voortydig – en dus ultra vires – het die hof beslis. Die WVK moes maar net tot 10 Desember 1997 gewag het met sy dagvaarding.

Botha is onskuldig bevind en ontslaan.

Hierdie aflewering van Regsalmanak word lank, maar tog ag ek dit nodig om die volgende slotopmerkings uit regter Selikowitz se uitspraak aan te haal:

I should like to record that this Court is mindful of the fact that there will be many who may consider that it is unjust that the appellant should succeed in his appeal upon the basis that the section 29(1)(c) notice issued by the TRC and served on him on 5 December 1997, was unauthorised because it was prematurely issued […] The TRC was established to perform a noble and invaluable task for our country. It remains, however, a statutory body clothed only with the powers that the Legislature has given it. This Court is duty-bound to uphold and protect the Constitution and to administer justice to all persons alike without fear, favour or prejudice, in accordance with the Constitution and the law. Suffice it to say that the same law, the same Constitution which obliges the appellant to obey the law of the land like every other citizen, also affords him the same protections that it affords every other citizen.

‘n Mens kan maar net spekuleer oor wat als sou uitgekom het sou Botha wel voor die WVK getuig het. Dalk sou hy baie van die wilde bewerings en gerugte wat oor sy bewindsjare rondgeslinger is, die nek kon inslaan; kon verduidelik, perspektief kon gee. Maar dalk kon dit hom ook erg benadeel het. Wie sal weet?

Sy appèlsaak was Botha se spreekwoordelike swanesang. Hy het daarna grotendeels uit die openbare oog verdwyn, behalwe dat hy glo kort voor sy dood op 31 Oktober 2006 aan die joernalis Cliff Saunders ‘n onderhoud toegestaan het wat nog nie uitgesaai is nie.

Op ‘n persoonlike noot: ek versamel al van kindsbeen af handtekeninge van bekendes en berugtes en het ‘n besondere belangstelling in dokumente van geskiedkundige belang. Met Botha se verhoor in die streekhof op George het ek nog as prokureur op daardie dorp gepraktiseer. Een van streeklanddros Victor Lugaju se assessore, was adv Burton Fourie SC (nou ‘n Kaapse regter wat dikwels as appèlregter waarneem). Ek het hom goed geken en ons het dikwels saam sake behartig. Hy was destyds so vriendelik om vir my ‘n afskrif van PW Botha se dagvaarding en die klagstaat te bekom en laasgenoemde deur ál die rolspelers – die landdros en sy assessore, die aanklaers, PW se regspan én PW self – te laat teken:

Afskrif van dokument hierbo: Verskaf

[1] Wet 34 van 1995

[2] Vgl Wet 84 van 1997

[3] S v Botha 1999(2) SACR 261 (C)

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Danie Coetzee

    As mens nou almal bymekaar sou kon kry om die gebeure jare gelede te bespreek teenoor wat gebeur het na die tyd sal mens niks anders kan doen as om te verstaan en saam te stem dat Oom PW wel reg was met wat hy gesê het nie, dat sy drie-kamerparlement wel die beste oplossing was vir SA (Alhoewel dit ook nie sou gewerk het nie). Ek sou graag wou hoor wat Nelson Mandela sou sê as hy moes sien wat vandag aangaan as Oom PW vir hom sê, toe sien jy nou, presies waarteen ek gewaarsku het ... ek wonder of hy dan sou instem om sonder geweld saam te werk om die land te laat werk en die wat afbreek in tronke te stop. Helaas, nou sit ons met 'n klomp wat die land afbreek en 'n klomp wat vir hulle stem ...

  • Ongelukkig word die geskiedenis dikwels geskryf en gemanipuleer deur diegene aan bewind wat hulself as 'oorwinnaars' beskou en om die rede verklaar President Zuma dat Jan van Riebeeck se koms die begin van al die teenspoed was, wat in sy siening die land met sy vredeliewende mense getref het.
    Amper soos die slang in die paradys wat Adam en Eva se idilliese bestaan met 'n slenter en slimpraatjies omver kom krap het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top