Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA

  • 0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Fotobron: smokeandstir.org

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak

Een van Suid-Afrika se hoofregters, regter James Stratford, is op 19 Julie 1869 naby Port Elizabeth gebore. Weens sy vader se vroeë dood kon hy aanvanklik nie universiteit toe gaan nie en het hy eers as koerantverslaggewer en daarna as landmeterassistent in Pretoria gewerk.

Sy kans om verder te gaan studeer het in 1895 gekom toe hy hom in Engeland in die regte gaan bekwaam het. Terug in Suid-Afrika het hy gou 'n florerende regspraktyk as advokaat opgebou. Hy het in 1921 regter geword en in 1927 appélregter, en in 1938 is hy as hoofregter aangestel – 'n amp wat hy slegs tot met sy aftrede die volgende jaar beklee het.

Regter Stratford was bedeeld met 'n skerp intellek, 'n fyn onderskeidingsvermoë, die gawe van helder uiteensetting en 'n ongelooflike werkvermoë. Daarby was hy terwyl hy as ’n advokaat gepraktiseer het, 'n meester met die kruisverhoor van getuies in die hof. Hy is in 1952 in die ouderdom van 82 jaar oorlede.

Weet jy dalk van die saak wat Ethiopië en Liberië in die vroeë jare sestig teen Suid-Afrika voor die Internasionale Geregshof aanhangig gemaak het? Vandeesweek net mooi 50 jaar gelede – op 18 Julie 1966 – het die hof sy uitspraak gelewer. Suid-Afrika het die saak net-net gewen nadat die president van die hof, regter Percy Spender van Australië, sy beslissende stem ten gunste van die Republiek uitgebring het. Dit het só gebeur: daar was aanvanklik 15 regters. Een het gedurende die hofsaak gesterf, wat die weg gebaan het vir ’n staking van stemme. Die president van die hof sou dan in so ’n geval ’n beslissende stem kon uitbring. En dit is presies wat op daardie dag gebeur het.

Die geskil het hoofsaaklik gehandel oor die wyse waarop Suid-Afrika die gebied Suidwes-Afrika (nou Namibië) geadministreer het. Suidwes is ná die Eerste Wêreldoorlog deur die Volkebond as 'n mandaatgebied aan Suid-Afrika toegeken om dit ten behoewe van die inwoners te bestuur.

Die Volkebond het na die Tweede Wêreldoorlog ontbind sonder dat daar behoorlike aandag geskenk is aan die toekomstige status van die verskillende mandaatgebiede. Na die stigting van die VVO (nou die VN) het die regering van genl Smuts die taktiese fout begaan om die organisasie se toestemming te vra om Suidwes by die destydse Unie in te lyf. Streng gesproke was dit nie nodig nie, want die VVO het nie regtens die Volkebond opgevolg nie.

Genl Smuts was glo erg verbaas toe die toestemming geweier is, maar die blote versoek het die VVO vatkans gegee om in die toekoms rekenskap van Suid-Afrika oor sy administrasie van Suidwes te eis.

Vanaf 1949 het verskillende sake rakende Suidwes voor die Wêreldhof gedien wat Suid-Afrika sekerlik miljoene rande gekos het. Dié reeks sake het 'n soort klimaks bereik toe Ethiopië en Liberië in 1960 hul aanklagte teen Suid-Afrika aanhangig gemaak het. Die vernaamste was dat Suid-Afrika sou nagelaat het om die stoflike en morele welvaart van die inwoners van Suidwes te bevorder deurdat die beleid van apartheid ook in dié gebied toegepas is.

Die hof se uitspraak van 18 Julie 1966 was ietwat van 'n antiklimaks. Die hof het eenvoudig beslis dat Ethiopië en Liberië nie daarin geslaag het om te bewys dat hulle regtens 'n belang by die saak gehad het nie; gevolglik is hul aansoeke van die hand gewys.

Verskeie vooraanstaande Suid-Afrikaanse regsgeleerdes, onder wie Pik Botha (later minister van buitelandse sake in die Vorster-, PW Botha- en De Klerk-kabinette), was oor die ses jaar wat die hofsaak geduur het, lede van die regspan wat Suid-Afrika tot ’n naelskraapse oorwinning gelei het – 'n oorwinning wat egter van korte duur was, soos Suidwes se geskiedenis daarna bewys het.

Namibië is vandag ’n stabiele, vreedsame en vooruitstrewende staat. Daar kan min twyfel wees dat Suid-Afrika se administrasie van dié gebied oor soveel jare tot ‘n groot mate die grondslag vir die hedendaagse voorspoed gelê het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top