Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?

  • 1

jutalaw600

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Fotobron: www.etsy.com

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande

Noorweë was die eerste land wat dit heeltemal deur wetgewing verbied het. Volgens ‘n Wikipedia-artikel[i] was daar in Maart 2016 reeds 50 lande wêreldwyd waar dit ook verbied is. ‘n Paar lande op die lys laat my nogal van verbasing frons: die Republiek van die Kongo, Kenia, Israel, Nicaragua, Tunisië en ‘n paar ander Moslem-lande. Israel verbaas my, want was dit nie die wyse Ou-Testamentiese Salomo wat gemaan het téén die roede spaar nie?[ii]

In “verligte” lande soos die VSA, Kanada, Frankryk en Australië is dit nog – binne perke – toelaatbaar. So ook in Suid-Afrika, maar hier is dinge besig om te verander.

Met “dit” verwys ek natuurlik na ouerlike tugreg – ‘n omstrede kwessie wat al ‘n paar keer in ons howe ter sprake gekom het. ‘n Voorbeeld is ‘n uitspraak van die hooggeregshof van Bophuthatswana – nou saliger – in die saak van pa A teen stiefpa B.[iii] Die saak het vroeg in Junie 1990 voor die hof gedien.

Die agtergrond was 'n relletjie in stiefpa B se woonhuis oor Sondagskoolboeke. Om dit te verstaan moet ons egter 'n bietjie teruggaan in die geskiedenis.

Pa A is in 1979 van sy vrou geskei. Hulle het twee kinders – 'n seun en 'n dogter – gehad wat 'n jaar uit mekaar uit was. Die beheer en toesig oor die twee kinders is deur die hof aan ma A toegeken.

Ongeveer twee jaar later is ma A met stiefpa B getroud. Hy was 'n streng godsdienstige man en 'n ouderling in sy kerk. Voor die troue het hy met pa A gepraat en gesê dat hy nooit 'n stiefvader vir die twee kinders sou wees nie. Hy het gesê dat die deure van sy huis altyd sou oopstaan vir pa A om sy kinders te besoek. Hy het egter aan dissipline geglo en aangesien die kinders nou onder sý dak sou woon, sou hulle onder sý gesag val en sou hy hulle op 'n vaderlike manier dissiplineer.

Skynbaar was pa A tevrede met hierdie toedrag van sake.

Die twee kinders het egter tienderjariges geword, en almal wat al met tienderjariges te make gehad het, sal wéét hoe moeilik húlle soms kan wees.

Dit bring ons by die relletjie op 'n aand in 1987 in stiefpa B se huis oor die Sondagskoolboeke. Stiefpa het dit sy plig geag om seker te maak dat die twee kinders hulle huiswerk vir die volgende dag se Sondagskoolles gedoen het. Die seun het aan die huil gegaan en gebieg dat hy nog nie sy huiswerk gedoen het nie, waarna Stiefpa hom 'n paar houe op die agterstewe met die plathand gegee het.

Die ouer sussie was egter baie moeiliker toe hy haar Sondagskoolboeke gevra het. Sy het haar ernstig gewip en uit die huis gestorm. Na 'n lang soektog het hulle haar in 'n hoek van die tuin sien wegkruip. Die stiefpa het haar huis toe gestuur en vir haar ma gevra om met haar te praat. Wat veronderstel was om 'n rustige, kalm moeder-en-dogter-gesprek te wees, het egter in 'n woorde-oorlog tussen die twee ontaard. Ma het Stiefpa se hulp ingeroep en hy het, gewapen met 'n gordel in die hand, probeer om op 'n redelike wyse met die dogter te praat. Hy het vir haar verduidelik dat haar optrede nie pas by 'n Christelike dogtertjie nie en dat as hy haar nie sou straf nie, hy ongehoorsaam sou wees aan wat die Bybel hom beveel. Sy het aggressief geraak, waarna hy haar gegryp en goed met die gordel gelooi het.

En dit is waar haar eie pa (A) in die prentjie kom. Sy het hom natuurlik gebel en in kleur en geur vertel van hoe sy deur haar stiefpa aangerand is. A het haar medies laat ondersoek en die dokter het saamgestem dat daar tekens was dat sy pak gekry het.

Pa A het daarna 'n aansoek na die hooggeregshof in Mafikeng gebring waarin hy die hof gevra het om die stiefpa te verbied om die kinders aan te rand, te molesteer of op enige wyse fisiek te tug.

Die regter het beslis[iv] dat ouers volgens ons gemenereg die reg het om kinders lyfstraf toe te dien in hulle opvoeding. Die straf moet egter matig en redelik wees. As ‘n kind se ouers geskei is, het die ouer aan wie beheer en toesig gegee is, hierdie tugreg. Die ouer aan wie nié beheer en toesig toegeken is nie, maar wat 'n reg van toegang tot die kinders het, het ook die reg om die kinders te tugtig wanneer hulle byvoorbeeld tydens 'n naweek of vakansiebesoek by hom of haar kuier. Of die tug wat 'n ouer toedien redelik en billik is sal afhang van – onder meer – die aard van die oortreding, die kind se fisieke en geestelike toestand, die motief van die ouer wat die kind tugtig, die erns van die tugtiging en die graad van geweld wat ter sprake is, enige hulpmiddels wat die ouer gebruik om die kind te tugtig, en die kind se ouderdom en geslag.

'n Moeiliker vraag voor die hof was die posisie van die kinders se stiefpa. Het hý die reg gehad om die kinders te tugtig? Die hof het daarop gewys dat dit volgens ons gemenereg wel moontlik is dat mense in die plek van die ouers aangestel kan word om kinders te tugtig. 'n Goeie voorbeeld is koshuisvaders, skoolhoofde en onderwysers. Hoewel lyfstraf vandag in ons skole afgeskaf is, het hierdie mense nog steeds die bevoegdheid om kinders op ander maniere te straf ten einde dissipline in die skool of koshuis te handhaaf. Soos in die geval van die ouers, moet hulle tugtiging matig en billik wees.

Aangesien ouers dus die bevoegdheid het om hulle tugtigingsreg oor te dra aan skoolhoofde en onderwysers, kon die hof geen rede sien waarom 'n stiefouer nie ook opdrag van die kind se regte pa of ma kan ontvang om die kind te tugtig nie. Dit beteken dat 'n stiefouer aan wie 'n tugreg oorgedra of gedelegeer is, ook die kind op 'n redelike en 'n billike en regverdige manier moet tugtig.

Wat die stiefpa se posisie betref, het die regter daarop gewys dat hy die hoof van die huishouding is en as hy nie hul eie ma sou bystaan om dissipline in die huis te handhaaf nie, daar 'n gevaar kon ontstaan dat die kinders sou grootword in 'n atmosfeer waar daar geen dissipline is nie. Die hof het gevolglik in antwoord op pa A se aansoek bevind dat ma A wel die reg gehad het om haar kinders te tugtig en dat sy voorts die bevoegdheid gehad het om die stiefpa te vra om haar daarmee by te staan – natuurlik mits die tugtiging redelik en matig was. Pa A aan die een kant en stiefpa B en ma A aan die ander kant is gelas om elkeen hulle eie regskoste te betaal, want, het die regter bygevoeg, in 'n situasie soos hierdie is daar in werklikheid geen wenner nie.

Sedertdien het die Grondwet van 1996 in werking getree. Artikel 28 – wat deel vorm van die Handves van Regte – bepaal onder meer dat kinders die reg het “om teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering beskerm te word”. Die artikel bepaal ook, wydlopend, dat ‘n kind se “beste belang” van deurslaggewende belang is “in elke aangeleentheid wat die kind raak”. Dit moet saamgelees word met artikel 12 van die Grondwet wat bepaal dat elkeen in ons land die reg het om “op geen wyse gemartel te word nie”, en “nie op ‘n wrede, onmenslike of vernederende wyse behandel of gestraf te word nie”.

In die lig van bogemelde bepalings van die Grondwet het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling reeds in 2014 konsepwetgewing ter wysiging van die Kinderwet[v] voorgelê. Daarvolgens word lyfstraf – en enige ander vorm van die wreedaardige, onmenslike en vernederende bestraffing van kinders – verbied. Die gemeenregtelike verweer van “redelike tugtiging” wat tot dusver tot ‘n ouer se beskikking was as hy of sy weens beweerde aanranding vervolg sou word, word afgeskaf.

Die verduidelikende memorandum van die Departement stel dit duidelik dat die vervolging van ‘n ouer wat die voorgestelde wysigings aan die Kinderwet sou oortree, as ‘n laaste uitweg beskou moet word. “Die reg hou hom immers nie op met beuselagtighede nie,” word tereg opgemerk – mits dáármee bedoel word daardie soort ligte skermutselinkies wat maar in elke huishouding voorkom.

Die klem moet eerder op voorligting, ouerleiding en die ontginning van ander toepaslike tugmaatreëls gelê word. Immers: die voorstanders van die afskaffing van lyfstraf verwys na ‘n ánder spreuk van die wyse Salomo: “Gee leiding aan ‘n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.”[vi] Met ander woorde: gee leiding; dit help nie om die kind te laat ly nie.

Die reg van ouers om hul kinders te tugtig soos hul dit die beste ag sal altyd ‘n omstrede kwessie bly. Dit lyk egter asof in ook Suid-Afrika die skrif aan die muur is vir lyfstraf: afskaffing is sy voorland.

 

[i] https://en.wikipedia.org/wiki/Corporal_punishment_in_the_home.

[ii] Spreuke 22:15: “Onverstandigheid is eie aan ‘n jongmens, maar ‘n pak slae haal dit uit hom uit.”

[iii] Ek verswyg liefs die partye se regte name, hoewel dit nog in die hofverslag van 1990 verskyn. Deesdae mag die name van partye in huweliksgedinge en waar dit minderjariges se belange raak, nie gepubliseer word nie; en tereg.

[iv] As jy die uitspraak wil naslaan, kyk daarna by 1990(4) SA 46(BG).

[v] Wet 38 van 2005.

[vi] Spreuke 22:6.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Hanno Visagie

    Die staat mag nie toegelaat word om inbreuk te maak op liefdevolle Christenouers se Goddelike verantwoordelikheid om hul kinders volgens Bybelse riglyne op te voed nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top