Regsalmanak: Twee juriste

  • 0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Foto: wikipedia

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA

Die sterfdatums van twee bekende regsgeleerdes word gedurende Augustus herdenk: adv Beauclerk Upington, wat op 23 Augustus 1938 oorlede is, en hoofregter John Stephen Curlewis, wat op 24 Augustus 1940 gesterf het. Albei se vaders was óók juriste.

Beauclerk Upington[i] was die seun van 'n eerste minister en latere regter van die Kaapkolonie, sir Thomas Upington, die man na wie die fraai dorp aan die Oranjerivier vernoem is. In sy vroeë jare het die jong Upington se kop ook politiek toe gestaan en was hy 'n ruk lank parlementslid, maar dit het hom verveel. Hy het baie meer tuis gevoel in die hof, waar hy hom as 'n skitterende advokaat onderskei het – veral in strafsake.

Van die baie storietjies wat oor hom vertel word, is daar net vir twee plek. Upington en 'n sekere Kaapse regter het g'n ooghare vir mekaar gehad nie, en as Upington voor hom verskyn het, het die vonke omtrent altyd gespat. Op 'n dag was die twee weer in 'n hewige argument in die hof betrokke. Toe dit etenstyd word, het die regter na sy horlosie gekyk en gesê: "Dit is tyd om te verdaag, mnr Upington. Die afgelope paar uur het u uit u pad gegaan om u minagting vir hierdie hof te demonstreer", waarop Upington blitsvinnig teruggekap het: "Ek is verbaas, u Edele. Ek dog ek het uit my pad gegaan om my minagting vir die hof te verberg!" Wonder bo wonder het hy uit die tronk gebly.

Gedurende sy laaste lewensjare moes Upington dikwels geld by dese en gene leen om aan die lewe te bly, hoewel daar stapels en stapels tjeks en selfs kontant in sy kantoor was wat hy net nooit in sy bankrekening inbetaal het nie. Geld was nie vir dié eksentrieke advokaat belangrik nie, en hy het met die grootste gemak onbetaalde rekeninge en ongewisselde tjeks naas mekaar as boekmerke in sy biblioteek gebruik.

Hoofregter Curlewis,[ii] of "Curly" soos hy liefderik onder sy tydgenote bekend was, was 'n baie sjarmante en innemende mens in die gewone omgang, maar 'n bitter moeilike regter om voor te verskyn. Hy was pynlik presies en om daardie rede baie stadig.

Veral gedurende sy dae as regter in die eertydse Transvaal het hy die wêreld vir advokate en prokureurs moeilik gemaak as hy die dag sou voorsit in die mosiehof, dit wil sê 'n hof wat nie sake in die gewone sin van die woord verhoor nie, maar aansoeke van allerlei aard aanhoor. ‘n Voorbeeld is ‘n tussentydse (ook genoem interlokutêre) aansoek in ‘n siviele geding om een van die partye te verplig om die dokumente wat onder sy beheer is en wat op die saak betrekking het, bloot te lê. Die gedagte agter blootlegging is dat die een party in ‘n siviele geding nie die ander mag verras met dokumente wat eers tydens die verhoor beskikbaar gestel word nie. Die blootlegging van dokumente is dus ‘n noodsaaklike stap ter voorbereiding van ‘n verhoor.

Normaalweg word getuienis nie in die mosiehof gelewer nie en word die aansoeke vooraf skriftelik uiteengesit en aan die regter voorgelê. Soms gebeur dit dat 'n party 'n aansoek teenstaan, maar baie dikwels hoor die mosiehof onbestrede aansoeke aan.

Dit het gelyk asof regter Curlewis behae daarin gevind het om die hofstukke voor hom met die spreekwoordelike vergrootglas deur te gaan, en as hy die geringste foutjie gevind het, sou hy die aansoek "uitgooi", van die hand wys – ongeag of dit bestrede of onbestrede was! Op sulke dae sou advokate en selfs sy kollegas op die regbank dikwels spottenderwys sê: "Curly is al weer vandag besig om ongeopponeerde aansoeke te opponeer!"

Daar bestaan egter geen twyfel nie dat Curlewis 'n juris van hoogstaande gehalte was, wat tot gevolg gehad het dat hy in 1927 appèlregter geword het, en in 1936 hoofregter.

Sy seun, Ivan, was jare lank self regter van die Transvaalse Provinsiale Afdeling van die hooggeregshof; so ook sy kleinseun, David. Soos hul beroemde pa en oupa, is ook hulle in die omgang Curly genoem.

En dan is daar nog Llewellyn Curlewis, die strafregkenner van Pretoria wat naam gemaak het met sy eenvoudige, praktiese verduidelikings van die verloop van Oscar Pistorius se uitgerekte hofsage. Ek het ‘n sterk spesmaas dat ook hy ‘n nasaat van die eertydse hoofregter is. (Ek wonder of daar iemand is wat dit kan bevestig; Facebook help nie dié keer nie.)

Eendag moet ons nog praat oor die interessante verskynsel van vaders en seuns – en in een geval 'n vader en sy dogter – op ons regbank.

[i] Vgl in die algemeen Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, vol 3, bl 814 en South African Law Journal, Februarie 1990, jg 107, ble 131 ev.

[ii] Vgl Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, vol 4, bl 101 en South African Law Journal, Mei 1988, jg 105, ble 362 ev.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top