Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset

  • 2

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste

Ek het al 'n paar keer in Regsalmanak verwys na die omskrywing van moord as die wederregtelike, opsetlike veroorsaking van die dood van 'n medemens. Vandeesweek iets meer oor die skuldelement in die definisie, naamlik opset. As iemand se dood op 'n nalatige wyse veroorsaak word, is dit nie moord nie, maar strafbare manslag. By moord word niks minder nie as opset vereis. Opset en nalatigheid sluit mekaar uit: iemand kan nie tegelyk opsetlik en nalatig ten opsigte van een en dieselfde misdryf handel nie.

Wat word met opset, of dolus, soos dit in Latyn bekend staan, bedoel?

In ons reg tree iemand opsetlik op as hy iets doen wétend dat dit onregmatig is. Hy doen iets “willens en wetens”, soos die spreekwoord lui. Daar is dus twee elemente by opset aanwesig: ‘n handeling en ‘n wete dat dit “verkeerd”, “onregmatig” is. Laasgenoemde is die sogenaamde “onregmatigheidsbewussyn” wat aanwesig moet wees by die een wat opsetlik optree. Om daardie bewussyn vas te stel, behels ‘n subjektiewe toets: daar moet vasgestel word wat in ‘n beskuldigde se “kop” aangegaan het.

In ons reg word daar basies drie vorme van opset onderskei, en oor dié drie vorme wil ek nou iets meer vertel.

Die eerste is dolus directus, of oogmerkopset, wat byna vanself spreek. Die gifmoordenares Daisy de Melcker het haar aan hierdie vorm van opset skuldig gemaak toe sy arseen in haar seun, Rhodes Cecil, se koffie gegooi het.[i] Sy het die direkte oogmerk gehad om hom op hierdie wreedaardige wyse om die lewe te bring.

Die tweede vorm van opset is dolus indirectus, of opset by sekerheidsbewussyn. Die gewapende aanvalle op motoriste wat 'n verskynsel van ons tyd is, is 'n goeie voorbeeld hiervan. Hoewel die aanvaller se hoofoogmerk is om die insittendes van die motor dood te skiet, moet hy noodwendig die sekerheid hê dat hy in die proses ook die voertuig se ruite fyn en flenters sal skiet. Hy het dus ook die opset om die voertuig te beskadig, wat natuurlik ‘n afsonderlike gemeenregtelike misdryf is: opsetlike saakbeskadiging.

Die derde vorm van opset word genoem dolus eventualis, of opset by moontlikheidsbewussyn. Die gewapende bankrower se hoofoogmerk is om geld te roof, maar hy voorsien vooraf die moontlikheid dat hy tydens die rooftog sy vuurwapen mag gebruik; selfs dat hy iemand in die proses kan doodskiet. Daar is dus ‘n element van roekeloosheid by hierdie vorm van opset ter sprake. As die bankrower hom met hierdie moontlikheid versoen en nogtans met sy rooftog voortgaan, maak hy hom aan hierdie vorm van opset skuldig as hy later tydens die wilde skietery tog iemand tref en om die lewe bring.

‘n Verskyningsvorm van dolus eventualis waaroor ek nou-nou iets meer sal sê, bring ons by vandeesweek se hofsaak, S v Harris.

Op 24 Julie 1964 het Frederick John Harris (1937–1965) 'n koffer in die hoofsaal van die toe nog nuwe Johannesburgse stasie geplaas. Op die koffer was daar 'n nota met die boodskap – nogal in Afrikaans – "Terug in tien minute". Binne-in was daar 'n bom bestaande uit, onder meer, agt dinamietkerse en ongeveer 10 liter petrol. Die bom het op die gestelde spitstyd – om 4:33 nm – afgegaan. 'n Bejaarde dame, Ethel Rhys, het 'n paar weke na die voorval aan beserings wat sy tydens die ontploffing opgedoen het, beswyk, terwyl 23 ander onskuldige omstanders ernstige en permanente beserings en letsels opgedoen het.

Die vorm van opset waaraan Harris hom skuldig gemaak het, word dolus indeterminatus genoem. ‘n Mens sou dit ook “onbepaalde opset” kon noem. Die dader het met hierdie vorm van opset nie 'n bepaalde slagoffer in gedagte nie; hy rig sy handeling teen wie dit ook al mag tref: Harris het nie vooraf geweet dat mev Rhys in die nabyheid van die bom sou wees toe dit op die bestemde tyd ontplof het nie; hy het trouens stellig geen bepaalde slagoffer – manlik of vroulik, swart of wit, kind of volwassene – in gedagte gehad nie.

Regsgeleerdes wys daarop dat daar eintlik nie ‘n afsonderlike bestaansreg vir dolus indeterminatus (as ‘n vierde verskyningsvorm van opset) is nie, omdat dit sulke sterk ooreenkomste met dolus eventualis – opset by moontlikheidsbewussyn – vertoon. Die element van roekeloosheid mbt die gevolge is ook hier ter sprake.

Harris (toe ‘n lid van die anti-apartheid African Resistance Movement) se vernaamste verweer was dat hy tydens die voorval ontoerekeningsvatbaar was, omdat hy geestelik versteur sou gewees het. Hy sou dus nie tussen reg en verkeerd kon onderskei nie, het hy aangevoer. Ek sou 'n afsonderlike Regsalmanak-artikel kon wy aan sy verbasende getuienis oor wat alles in sy gemoed omgegaan het terwyl hy besig was om die bom op die stasie te plant. Maar dit was alles louter snert, en dit is ook as sodanig deur die appèlhof verwerp toe sy skuldigbevinding en doodsvonnis in 1965 bekragtig is.[ii]

Harris is op 1 April 1965 tereggestel. Volgens Wikipedia is hy die enigste witmens wat ooit die doodsvonnis opgelê is vanweë ‘n misdryf wat gepleeg is as ‘n daad van verset teen apartheid.

Harris se daad van onbepaalde opset is in 2005 – 40 jaar na sy teregstelling – tydens ‘n seremonie by Vryheidspark herdenk, en in 2011 het pres Zuma tydens die onthulling van die “galgmuseum” by C Max-gevangenis in Pretoria gesê dat die 134 teenstanders van apartheid wat daar tereggestel is – Harris inkluis – “vryheidsvegters was wat van ‘n vrye, demokratiese en nieseksistiese Suid-Afrika gedroom het”.

Dit bring ‘n mens by die ou, ou vraag: Kan ‘n daad van terreur teen volkome onskuldige slagoffers – soos mev Rhys en andere in Harris se geval – ooit vanuit ‘n moreel-etiese oogpunt vergoeilik word? Dit lyk my dit hang grootliks af van wie daardie geskiedenis skryf.

[i] Vir Daisy de Melcker se storie, kyk http://www.litnet.co.za/dink-voor-jy-daardie-tee-drink-die-storie-van-daisy-de-melker.

[ii] S v Harris 1965 (2) SA 340 (A)

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Chris Marnewick SC

    Drie punte:
    1. Ek het destyds die rekord van die Harris saak in die Hertzog Seminaarkamer op Potch gelees. 'n Prof Wolff van Wits het hard probeer om vir Harris as kranksinnig voor te stel, maar die doelgerigtheid en geslepenheid waarmee Harris te werk gegaan het, het sy verweer in die wiele gery.
    2. Harris het later die veiligheidspolisie so om die bos gelei dat hulle hom uit die dodelselle kom haal het sodat hy dan kamtig vir hulle kon uitwys waar van sy medepligtiges geskuil het. Toe hulle voor die Britse Ambassade se deur kom, het hy probeer om daar in te hardloop om daar asiel te soek. Geslepe inderdaad.
    3. Die ANC se voorstelling dat 134 teenstanders van apartheid gehang is, is onwaar. Die getal van moordenaars wat vir moorde wat in die proses van teenstand teen apartheid gepleeg is, is baie laer. En dan is daar van hulle wat hulle eie mense vermoor het, soos die twee wat vir regter Pius Langa se broer vermoor het.

    Die geskiedens word inderdaad herskryf om nuwe helde en slagoffers te skep. Soos dit die politici pas.

  • As 'n mens http://www.sahistory.org.za/topic/political-executions-south-africa-apartheid-government-1961-1989 aktiveer word daar beweer in die derde paragraaf dat: "While illegal executions were common, the focus of this feature is on those who were sentenced to death and executed after they were brought to trial. Between 1961 and 1989, about 134 political prisoners were executed by the apartheid government at Pretoria Central Prison. Two decades in particular – the 1960s and the 1980s – witnessed many political executions. While Pretoria Central prison was the main site for executions, it was not the only facility in the country to enact these murderous acts."
    Heel onder aan die berig is daar 'n skakel wat geaktiveer kan word om die name te lees van die mense wat na bewering tereggestel is. Daar word 132 name gelys maar daar is twee dupliserings, nl Xipo Xulu en Samuel Jonas. Daar is dus 130 name. Bestaan daar 'n register van teregstellings waarteen die name vergelyk kan word?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top