Regsalmanak: Oor fyn-van-nerf verkeersbeamptes

  • 0

Vir sy navorsing vir die weeklikse Regsalmanak-rubrieke maak Gustaf Pienaar grotendeels van Juta Law se aanlyn biblioteek gebruik.  Hierdie regsbiblioteek is ‘n omvangryke naslaanbron van hofsake, wetgewing en ons land se dinamiese grondwetlike ontwikkeling. Juta Law stel hierdie bronne goedgunstiglik tot Gustaf se beskikking vir die skryf van hierdie rubrieke. Vir nadere besonderhede besoek www.jutalaw.co.za.                                                                          

Lees ook vorige Regsalmanak-rubrieke
Hy sou met haar trou, mits ...
Dink twee keer voor jy appèl aanteken
Ceres se akkerbome
Die "kousale ketting" in strafsake
Diefstal van eie goed
Regsalmanak: Stephan Welz se epiese hofstryd
Regsalmanak: 'n Storie oor 'n spinnekopwespe
Regsalmanak: Die bloedige hand erf nie
Regsalmanak: Regte van ‘n ongeborene
Regsalmanak: Teologie-proffie wat slegs sy Bybel en ‘n sannageweer op sy naam gehad het ...
Regsalmanak: Wanneer vermoed word dat iemand dood is
Regsalmanak: geldige testament of nie
Regsalmanak: #SmutsMustFall? Toe nie – danksy Epidermix 372
Regsalmanak: Ondertekening van parlementswette
Regsalmanak: Robert McBride
Regsalmanak: Is McBride ‘n “moordenaar”, of nie?
Regsalmanak: Produkaanspreeklikheid, toe en nou
Regsalmanak: Die vere maak die voël
Regsalmanak: Die rokende bus en die motorfietsryer met trane in sy oë
Regsalmanak: "Die tjek is innie pos"
Regsalmanak: Protes en brandstigting
Regsalmanak: Sal ‘n rekenaar eties kan optree? En wat van liegbekke ontmasker?
Regsalmanak: Die Groot Krokodil se swanesang
Regsalmanak: Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande
Regsalmanak: Tyd om die roede ook in Suid-Afrika te spaar?
Oscar Pistorius – vir laas: Voorste strafregkenner krities oor appèlhof se uitspraak
Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA
Regsalmanak: Twee juriste
Regsalmanak: Die verskyningsvorme van opset

Ene mnr Van Niekerk was in die 1970’s 'n tegniese beampte van die Departement Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het op Somerset-Wes gewoon en het daagliks met die breë snelweg Stellenbosch toe gery. Op ‘n wintersoggend in 1975 so teen 08:15 was hy weer met sy motor op pad werk toe. Daar was 'n spoedlokval. Van Niekerk het dit betyds gesien en toe naby die plek waar die pypies oor die pad gespan was, stilgehou. Ja, dit was nog die dae van die “pypies”.

Van Niekerk het uitgeklim, by die pypies rondgeloop en toe langs die pad tussen die twee rye pypies gaan staan met sy gesig na die pad se kant toe. Die posisie wat hy ingeneem het, was teen die helling van 'n wal langs die pad en ongeveer drie tot vier treë van die naaste ente van die pype. Op hierdie plek was hy sigbaar vir verkeer wat besig was om die spoedlokval te nader. Hy het egter geen gebare gemaak om aankomende verkeer van die lokval te waarsku nie.

Nou kan 'n mens vra hoekom Van Niekerk so belang gestel het in die spoedlokval. Dit was omdat hy 'n ruk vantevore self in so 'n lokval beland het en toe deur die Staat vervolg is. Hy het die saak verdedig en dit skyn asof dit sy verweer was dat die apparaat wat in die lokval gebruik was, óf nie behoorlik opgestel was nie óf nie behoorlik gefunksioneer het nie. Hy het die hof gevra om hom toe te laat om die spoedapparaat te toets terwyl dit vir normale lokvalle opgestel is. Dié verlof is nie toegestaan nie, maar hy is die geleentheid gebied om die apparaat vir twee dae lank êrens privaat te toets.

Ongetwyfeld het Van Niekerk daardie oggend in 1975 naby die spoedlokval stilgehou om waar te neem hoe dit in die praktyk werk. Maar die verkeersbeamptes wat die spoedlokval beman het, was nie gelukkig met sy teenwoordigheid op die toneel nie, aangesien hulle van mening was dat aankomende motoriste hom kon sien en dan op dié manier gewaarsku word om “af te slek”, soos my oupa altyd gesê het.

Die verkeersbeamptes het Van Niekerk gevra om die toneel te verlaat aangesien hy besig was om hulle in die uitvoering van hulle pligte te verhinder. Toe hy onwillig was om spore te maak, het hulle gedreig om hom in hegtenis te neem. Hy het toe wel in sy motor geklim en Stellenbosch toe gery.

'n Rukkie later het hy teruggekom, dié keer in die geselskap van 'n kollega. Hulle het op die verkeerseiland tussen die twee bane van die snelweg agter 'n proteabos gestaan en foto's neem van die pypies wat oor die pad gespan was. Dit is onseker of hulle dáár sigbaar was vir motoriste. Maar teen dié tyd was die verkeersbeamptes erg geïrriteerd met Van Niekerk se teenwoordigheid by die spoedlokval en het hulle besluit om hulle pypies op te rol en die aftog te blaas.

Later die dag is 'n klagte ingevolge die destydse Padordonnansie teen Van Niekerk gelê. Die ordonnansie het bepaal dat iedere een wat 'n verkeersbeampte dwarsboom, hinder of belemmer in die uitoefening van enige van sy pligte, aan 'n misdryf skuldig is.

Die landdros het Van Niekerk skuldig bevind[i] en hom gevonnis tot R40 boete of 40 dae gevangenisstraf. Hierteen het hy geappelleer.

Die regter het – bloot vir doeleindes van die argument – aanvaar dat Van Niekerk die verkeersbeamptes gehinder of belemmer het in die uitoefening van hul pligte deurdat sy teenwoordigheid en optrede by die sensorpype gedurende die twee betreklike kort periodes aandag op die lokval kon gevestig het. Dit kon tot gevolg gehad het dat sommige aankomende motoriste wat vinniger gery het as wat hulle mag, daarin kon slaag om betyds spoed te verminder en op dié manier die verkeersbeamptes se pogings om hulle te betrap, verydel het.

Die regter het egter na 'n ontleding van die betrokke ordonnansie beslis dat die Staat moes bewys het dat Van Niekerk se optrede opsetlik was. Sy verduideliking was dat hy sekere waarnemings wou doen op die toneel waar die spoedlokval opgestel was ten einde 'n beëdigde verklaring voor te berei wat hy aan die hoof van verkeer op Stellenbosch wou voorlê met die oog op die ander saak wat teen hom hangende was. Hy het nooit enige opset gehad om aankomende motoriste van die lokval te waarsku nie en het gevolglik ook nie die opset gehad om die verkeersbeamptes in die uitvoering van hulle pligte te verhinder nie.

Die hof het Van Niekerk se weergawe aanvaar en sy skuldigbevinding en vonnis is tersyde gestel.

Deesdae word die “pypies” nie meer gebruik nie; spoedkameras is mos die in ding. Mag jy iemand waarsku van ‘n spoedlokval – byvoorbeeld deur vir aankomende motoriste ‘n teken met jou hoofligte te gee? Ek het al daaroor in Regsalmanak geskryf. As jy sou belang stel, hier is die skakel.

[i] S v Van Niekerk  1976(3) SA 311 (KPA)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top