NouNet-mening: "Dis darem ’n f….n mooi strand!" ‒ ’n Ondersoek na die wetsontwerp wat vloek op strande verbied

  • 1

’n 17-Bladsy wetsontwerp getiteld City of Cape Town Coastal By-Law, 2019 is onlangs ter tafel gelê waarin “onfatsoenlike” praktyke uiteengesit word wat die Kaapse strande belemmer. Van die voorstelle in die dokument behels aktiwiteite wat vakansiegangers en sonsoekers geheel en al uit die veld sal slaan. Jy mag byvoorbeeld nie meer lewendige diere slag nie, geen vuurwerke of Chinese lanterns gebruik nie, geen rommel strooi nie, geen natuurlike plantegroei snoei nie, geen fossiele uitgrawe nie, en geen vermaaklikheidskunstenaars mag konsert hou nie. Kaal rondloop is ’n groot NEE! Goeie nuus is dat kinders steeds toegelaat word om sandkastele te bou. O ja, en jy mag jou hond op die strand vat mits jy sy k.., ek bedoel ontlasting, summier verwyder.

Hoofstuk 4 van die wetsontwerp Regulation of Activity (16.1.h) stel dit duidelik: “No person may in the coastal zone use foul or indecent language”. 

Die vraag is dan: Onder watter omstandighede kan iemand aangekla word vir vloek en deur wie, en hoe gaan hierdie wet gemonitor word? Dit is te verstane dat as iemand met ’n sonhoed en snoeiskêr bietjie netjies wil maak op die duine dat die gereg sy of haar tuingereedskap mag konfiskeer. Tannie Nollie sal dan (volgens die wetsontwerp) moet gaan skoffel en spit om die “versteuring” na goedkeuring van die afgevaardigdes te herstel. ’n Bebloede bees (of dit nou vir rituele gebruik is of nie) sal seker oorhandig moet word aan die polisie om van ontslae te raak of om te braai. Daar is, sover ek weet, ook geen praktiese huishoudelike gebruik van ’n dinosaurus se knieskyf nie.

Dit is egter problematies om kras taalgebruik te monitor en dit sou wys wees van die Stad Kaapstad om maatreëls in plek te stel sodat hierdie belangrike morele wet wel uitgevoer kan word.

Veronderstel twee strandgangers raak verdiep in die verskeie moontlikhede van vertelperspektiewe in die Afrikaanse letterkunde.

Strandganger 1: Jy weet, wat my deesdae opval, is die ondeurdagte perspektief-verskuiwing van eerstepersoonsvertelling na die derdepersoonsverteller.

Strandganger 2: Inderdaad! Daar is ’n geheel en al disrespekvolle houding teenoor ’n stabiele deurlopende fokalisator.

Afhangende van Strandganger 2 se aksent kan “fokalisator” se eerste lettergreep hom duur te staan kom. Dieselfde geld vir diegende wat ’n skielike hongerte op hande het. ’n Blote oproep na ’n restaurant om ’n focaccio-gereg te bestel, is ’n adder van ’n situasie vir ’n goeie mens om homself in te bevind.

Alhoewel hierdie slaggat-lettergrepe ietwat verskuil is en in die meeste gevalle oor die hoof gesien gaan word, sal daar ’n daadwerklike fonologiese bewustheid gekweek moet word onder geregsdienaars om grys gevalle te kan evalueer. In ’n onlangse artikel The Penultimate syllable vowel length among Setswana-English bilingual children, voer Sebina et al aan dat slegs ’n millisekonde se huiwering of verlenging van ’n lettergreep nie net die betekenis nie, maar ook die verstaanbaarheid van konsepte aantas. Die navorsers dui daarop dat so min as 0.01 sekondes se aarseling in bykans enige taal kommunikasie kan maak of breek.

Dit is wel nie net die f-woord wat mens in die sop kan kry nie. Neem die volgende tipiese uitlating op ’n strand as voorbeeld:

Strandganger 3: Jy weet, Stefan, daardie kaktus in jou huis is heel imposant. Jy moet net Donderdag kontroleer of dit genoeg son kry.

Strandganger 4: Mmm?

Strandganger 3 se afstand tussen die moontlikheid van crimen injuria en ’n sorgvrye roomys (met ’n flake) hang af van korrekte uitspraak en die 0.01 sekondes tussen die volgende lettergrepe: kak-tus, impo-sant, Donder-dag en kon-troleer.

Kontrolering van hierdie vloekwet bied wel wonderlike geleenthede vir wetstoepassers om te groei in taal-polisiëring. Wat sal die reël wees wanneer ’n Fransman op ’n mosselskulp trap? “Merde” is gelykstaande aan “shit!” Daar is slegs sowat 6 500 tale wat steeds in die wêreld gepraat word. Elf van hierdie tale is in Suid-Afrika. Engelse vloekwoorde is alombekend. Afrikaans s’n ook. Maar wat van die ander? Iemand sal ’n lys moet saamstel van die vieslikste eg Suid-Afrikaanse woorde. Saam met dit sal daar ook duidelike riglyne moet wees oor moontlike fonetiese verwarring en ook hoe weersomstandighede die oordrag van klankgolwe, op veral ’n winderige strand, verder kan bemoeilik.

Dan onstaan die vraag van gebaretaal. Indien iemand “Oppas vir die bliksem ... straal” uiter en iemand “wys” die allerlelikste woorde vir ’n onskuldige persoon – wie is die skuldigste? Daar moet tog trappe van vloek wees, nie waar nie? Fok, fokker, fokste. Vir elkeen is daar ’n swaarder straf. Maar is gebarevloek meer aanvaarbaar as klankvloek?

Dit is van kardinale belang dat die Taakmag van die Vloekwet gebaretaal moet aanleer as deel van hul wapenrusting. Hierdie is steeds ’n duistere kwessie en verg nog navorsing om die vieslikheidsvlakke van gebare te klassifiseer.

Vir nou bly die fokus op oudiële swetsery.

Die suksesvolle kontrolering van die Vloekwet hang van spanwerk af. Aangesien dit as diskriminasie beskou kan word dat sekere tale op die strand nie verstaan gaan word nie, sal daar ’n span kundiges met woordeboeke van elk van die 6 500 tale moet wees. Indien byvoorbeeld ’n luitenant Xhosa-sprekend is en nie Sotho magtig is nie, sal daar ook ’n ander span moet wees wat die omskakeling met behulp van vertaalwoordeboeke moet doen. Aangesien hierdie boeke die taaltroepe se arms gaan vol lê en hul oë besig gaan hou met naslaanwerk, sal daar ekstra manskappe moet wees wat bloot luister. Die fonologie-afdeling en die linguïste sal, nadat die swetswoord geïdentifiseer is, eers moet beraadslaag oor die bedoeling en moontlike pouses wat tussen lettergrepe geneem is. Dan ook: hoe ondersoek mens iemand wat kwansuis vullis gespuug het? Word hulle ondervra? Sal ondervragers dan die reg hê om boetie en sussie se woordestryd oor argitektoniese voorkeure vir sandkastele te onderbreek as daar dalkies ’n vloekie te bespeur was?

Indien iemand wel sonder geldige verweer op heterdaad betrap word, bestaan die kans dat hy of sy die hasepad gaan kies. Buiten die woordnaslaners, die vertalers en die taalkundiges moet daar voorsiening gemaak word vir atletiese dienaars van die gereg – amper ’n tipe armed response eenheid. Dan sal daar ook ’n klankspan moet wees om die vloeker se woorde op te neem vir bewysstukke in die hof. Wat as die battery van die opneem-apparaat in die middel van ’n vloekwoord die gees gee?

ʾn Mens weet nooit wat Suid-Afrika se politiek volgende gaan oplewer nie. Die media was eens in die visier en hoekom kan vryheid van vloek nie ook binnekort ernstige teenkanting kry nie? Dit is wel ’n wetsontwerp, maar ʾn mens weet nooit.

Indien dit wel deurgevoer word, sal die gange in die howe besaai wees met swetsers in boeie. Die strande sal vol wetstoepassers wees. Die woordeboek-industrie sal vlamvat. Vertalers en taalkundiges sal topsalarisse verdien en uiteindelik sal morele waardes weer aan die orde van die dag wees.

Tot iemand “poes” sê.


Lees nog NouNet-menings

NouNet-mening: Xenofobie – Hoe Suid-Afrikaners hulleself in die voet skiet

NouNet-mening: Dié Boek en (daardie) Ballade(s) van die Bose

NouNet-mening: Hong Kong – steeds eiland met geur en kleur

NouNet-mening: Oor vrouelogika en ander geite

NouNet-mening: ’n Plaaskind probeer die K53 en die ongeskrewe padreëls van die stad met mekaar vereenselwig

NouNet-mening: Beteken bo vyftig dat jy breindood is?

NouNet-mening: Somers in Skotland

NouNet-mening: Sisteem, watter sisteem?

NouNet-mening: Bendegeweld op die Kaapse Vlakte – ’n humanitêre krisis

NouNet-mening: Ons almal kan weer baat by ’n stukkie Madiba

NouNet-mening: Die Stilswye van Stilte

NouNet-mening: Skuldlas

Hoe skryf ek vir NouNet? Hier is meer inligting:

NouNet: publiseer jou mening op LitNet!

  • 1

Kommentaar

  • Sonya van Schalkwyk

    En dink aan daai selfde stomme Fransman wat nou net op die mossel getrap het, en wat dan 'n rob op die strand opmerk en opgewonde vir sy vrou en kinders skreeu dat hulle moet kyk: "Phoque ! Phoque !" (inderdaad die Franse naam vir 'n rob, uitgespreek soos wat jy dink...)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top