Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: alles wat jy nog nie van Jaco Jacobs geweet het nie

  • 2

Jaco Jacobs en sy hond, Oreo; Jaco en sy slang, Duma (foto’s: verskaf)

Daar is baie onvoorspelbare dinge ten opsigte van elke skooljaar, maar een van die voorspelbare dinge is die groot aantal e-posse wat Jaco Jacobs daagliks gedurende hierdie kwartaal ontvang. Die derde kwartaal is immers dié tyd van die jaar waartydens, soos Dewald Koen dit in hierdie artikel stel, "onderwysers, ouers en leerders ... naarstig op soek [is] na inligting om die literêre-navorsingstaak te voltooi".

Indien jy inligting oor sy geboortedatum, grootwordjare en boeke benodig, kan jy sy LitNet-ATKV-skrywersalbum gebruik om daaroor na te slaan.

Naomi Meyer het Jaco Jacobs nog ’n paar vrae gevra om leerders wat oor hom navorsing moet doen vir hierdie kwartaal se literêrenavorsingsprojek te help. (Gebruik gerus ook ander onderhoude met hom of resensies van sy boeke vir navorsing – sien ’n lys materiaal onderaan hierdie onderhoud.)

Jaco, dankie vir jou tyd! Jy hardloop en draf graag. Het jy al ooit ’n boek uitgedink terwyl jy draf? Of watter idees kry jy terwyl jy draf?

O ja, ek het al hope idees gekry terwyl ek draf. Om die waarheid te sê, amper tien jaar gelede was ’n skryfprojek deel van my aansporing om te begin hardloop. Ek het myself destyds uitgedaag om ’n boek te skryf met ’n rympie vir elke dag van die jaar. Dit is ’n enorme kreatiewe uitdaging, en ek het besluit ek gaan elke oggend draf en ek mag nie terug huis toe kom voordat ek met minstens vyf idees vir nuwe rympies vorendag gekom het nie. Net die idees, nie die rympies self nie. Ek was destyds erg oorgewig en onfiks, en daardie skryfuitdaging het gehelp om my aan die oefen te kry. Die rympieboek, getiteld Moenie hierdie boek eet nie!, het in 2016 verskyn, en in 2018 het ek my eerste Comrades voltooi. Ongeveer twee jaar gelede het ek die uitdaging herhaal, en wéér ’n boek met 366 rympies op dié manier geskryf – die titel van die boek is Dit is nie ’n boek nie!, en dit het einde verlede jaar verskyn.

Soggens as ek draf, stop ek partykeer om my foon uit te haal en ’n stemnota op te neem as ek ’n lekker idee vir ’n storie of rympie kry.

Wat is jou gunstelingplekke om heen te reis en watter plek sou jy regtig baie graag wou besoek?

Ek moet bieg, ek is ’n verskriklik slegte reisiger. Op die oomblik het ek nie eens ’n geldige paspoort nie – myne het al vier jaar gelede verval. As ek wel iewers heen móét reis, sal Madagaskar, Kongo of die Amasone-reënwoud my ideale bestemmings wees.

..........
As ek wel iewers heen móét reis, sal Madagaskar, Kongo of die Amasone-reënwoud my ideale bestemmings wees.
............

Ek is mal oor die natuur, en ek sal veel eerder die natuurskoon op plekke soos dié wil verken as om in museums rond te hang of agter ander besienswaardighede aan te reis wat jy net sowel op YouTube kan sien. Ek en my jongste dogter, Emma (10), kan ure lank natuurdokkies kyk.

As jy op die maan moet gaan woon, of iewers op ’n ander planeet as daar ’n zombie-apokalips plaasgevind het, wat sou jy met jou saamvat? Behalwe jou gesin. Jy mag vyf items kies.

My Garmin-horlosie (hoewel ek vermoed die GPS-koördinate kan dalk interplanetêr opgefoeter wees).

Drafskoene.

Ons gesin se skaaphond, Oreo.

Soveel tamatiesap as wat ek kan inpak (ingeval ek op ’n tamatiesaplose planeet beland).

My rekenaar.

Wat maak jy as sekere idees van vorige kinderboeke moet verander? Gestel tydskrifte sneuwel, wat lees die kinders nou en hoe beïnvloed dit die storie? Of die kinders gebruik KI om hul te help met voorbereiding, of alles word ge-Instagram. Nee, hierdie voorbeelde is ’n bietjie vervelig. Wat is van die oorspronklikste voorbeelde van dinge in stories wat jy onlangs geskryf het wat moes verander bloot omdat die wêreld verander het?

Die feit dat byna al my boeke oor die jare in druk gebly het, stel nogal sekere uitdagings. ’n Jaar of twee gelede het Human & Rousseau byvoorbeeld ’n heruitgawe van Net aliens eet spinasie gepubliseer. Ek het die stories daarin geskryf toe ek 18 jaar oud was – selfone was nog ’n nuutjie en die internet ’n vreemde ding. Ons moes met die redigeerproses heelwat verwysings na byvoorbeeld CD-spelers en ander verouderde tegnologie weglaat of verander.

...........
Ek het die stories daarin geskryf toe ek 18 jaar oud was – selfone was nog ’n nuutjie en die internet ’n vreemde ding. Ons moes met die redigeerproses heelwat verwysings na byvoorbeeld CD-spelers en ander verouderde tegnologie weglaat of verander.
..............

Charlie (foto: verskaf)

Vertel my van al jou troeteldiere wat jy al ooit gehad het, of plaasdiere. Jy kan ook foto’s van hulle stuur.

Ek het op ’n Karooplaas grootgeword, so as ek jou moet vertel van ál die diere wat ek al gehad het, gaan dit ’n hele paar bladsye in beslag neem. In ’n stadium het ek as kind byvoorbeeld ’n stuk of 50 budjies, ’n hok vol vliegduiwe, visse, ’n papegaai, konyne, marmotte, honde, katte en ’n mak springbok gehad.

Die Jacobs-huis is ’n dieretuin in die kleine.

..........
Die Jacobs-huis is ’n dieretuin in die kleine.
..............

Op die oomblik het ons twee en ’n half honde. Oreo, die skaaphond, was Mia (12) se verjaardaggeskenk, maar hy is my skaduwee. Hy volg my oral waar ek gaan en lê heeldag in my kantoor en slaap terwyl ek skryf. Otto is ’n Jack Russell-worshond-kruising, en gaan beslis nooit ’n kompetisie vir die intelligentste hond op aarde wen nie. Boo, die “halwe hond” omdat hy so klein van postuur is, is ’n Yorkie en behoort aan Emma.

Strikkie (foto: verskaf)

Ons het ook ’n kat, Strikkie. Mia het kleintyd daarop aangedring om die kat Strikika te noem. Nugter weet waar sy aan die naam gekom het. Dit het natuurlik gou Strikkie geword – en toe vind ons uit Strikkie is ’n mannetjie.

Die kinders het elkeen ’n konyn waarop hulle versot is. Mia s’n heet Coco en Emma s’n Zorro. Hulle spandeer ure met die konyne en het hulle selfs toertjies geleer doen.

My vrou, Elize, het ’n baarddrakie genaamd Charlie wat ek ’n paar jaar gelede as Valentynsdaggeskenk vir haar gegee het.

...........
Ek deel my kantoor waar ek skryf met Duma, ’n byna twee meter lange Dumeril-boa. Hy is nog nie heeltemal uitgegroei nie. Ek was nog altyd versot op slange – hulle is fassinerende diere wat nie hul slegte reputasie verdien nie.
.............

Ek deel my kantoor waar ek skryf met Duma, ’n byna twee meter lange Dumeril-boa. Hy is nog nie heeltemal uitgegroei nie. Ek was nog altyd versot op slange – hulle is fassinerende diere wat nie hul slegte reputasie verdien nie.

Cleo (foto: verskaf)

En dan het ons, les bes, ’n African Grey-papegaai genaamd Cleo wat ek by my pa gekry het. Cleo het tussen sy vliegduiwe in die duiwehok gebly en een vakansie toe ons by my pa-hulle op Carnarvon gekuier het, het sy besluit sy is moeg vir die Karoo en wil Vrystaat toe verhuis – sy het so hard by my geflikflooi dat my pa gevra het of ons haar nie asseblief wil hê nie. Sy is vreeslik gelukkig hier by ons, en ek is besonder trots op die feit dat ek haar al Mission impossible se temalied geleer fluit het. Sy ken ook een lelike woord wat sy net nou en dan gebruik.

Lees ook:

Draakasem deur Jaco Jacobs: ’n lesersindruk

Die boekwinkel tussen die wolke deur Jaco Jacobs: ’n boekresensie

Jaco Jacobs wen twee Akademiepryse

Jong lesers: Middernagfees deur Jaco Jacobs

Net aliens eet spinasie en ander stories: ’n onderhoud met Jaco Jacobs

Nuut by Lapa: Vuil Ferdie: Tande! vertaal deur Jaco Jacobs

Oupa Zombie deur Jaco Jacobs: ’n resensie

Persverklaring: Bekende skrywer Jaco Jacobs se Charlie Prins beloof om te bekoor en te verras 

Die meisie met vlerke deur Jaco Jacobs: ’n lesersindruk

Onderhoud met Jaco Jacobs

Internasionale Kinderboekdag 2023: Jaco Jacobs se "Wat is ’n goeie boek?"

Die literêre-navorsingstaak vir Afrikaans Huistaal (graad 4–9)

Jaco Jacobs (1980–)

Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Fanie Viljoen

  • 2

Kommentaar

  • Erina van Heerden

    Wonderlik. Baie dankie. Ons kinders, veral die FAL-leerders sukkel maar met die navorsing en juffrouens moet baie help. Hierdie is uitstekende hulp.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top