
Foto van Fanie Viljoen: Izak de Vries
Die derde kwartaal is die kwartaal waartydens leerders navorsing oor die letterkunde of oor sekere skrywers moet doen. Met die oog hierop vind Naomi Meyer by Fanie Viljoen uit wie hy is.
Fanie, wat is jou geboortedatum en waar is jy gebore?
2 Januarie 1970, Welkom.
Vertel my van die omgewing waar jy grootgeword het en jou gesin?
Ons is drie kinders. Ek is die middelkind. My suster, Cecilia Steyn, skryf ook boeke. Ek het in Welkom grootgeword en daar skoolgegaan.
Watter skole spesifiek?
Dagbreek Laerskool en Goudveld Hoërskool (albei in Welkom).
Wat was jou gunstelingvakke op skool en waarvan het jy die minste gehou?
Ek het nie van skeinat gehou nie. Kuns was my gunstelingvak.
Wie was jou vriende in die skool en het jy nog kontak met hulle?
Ek het ’n paar vriende op hoërskool gehad: Jacques Morgenrood, Riaan Herselman en Tinus (mmm, wat was sy van nou weer?). Op laerskool was ek bevriend met Eben Zandberg. Ons het ongelukkig nie meer kontak nie.
Waar het jy toe studeer, en wat het jy studeer? Waar het jy gewerk voor jy begin skryf het? En toe jy begin skryf, wat het jy geskryf?
N6-sertifikaat in grafiese ontwerp (Welkom Kollege), 1995.
BA-graad in sosiale wetenskappe (Unisa), 2005.
Ek was ’n kassier by Volkskas (vir ses maande). Daarna het ek twee jaar weermagdiens gedoen. In 1990 het ek by Sanlam gaan werk. Ek was 16 jaar by Sanlam.
Ek het goeie opstelle op skool geskryf. Na skool het ek ernstiger begin skryf toe een van my kort-kortverhale in ’n boek, Vonkfiksie, opgeneem is. In hierdie tyd het Sarie ook een van my kortverhale gepubliseer (1999).
Watter boek van jou is eerste gepubliseer?
Slym, in 2004.
Jy skryf en jy skep kuns. Vertel eers van die kuns: Waar het dit begin en watter soort kuns skep jy? Wat is jou gunstelingmedium?
Ek het altyd maar geteken en kuns op skool gehad. Ek hou van figuratiewe kuns. Olieverf is my gunstelingmedium.
Jeugboeke. Hoekom op aarde skryf jy Afrikaanse jeugboeke en waar kry jy jou inspirasie?
Idees vir stories is oral om ons. Soms sien jy dit in ’n winkelsentrum of in ’n koerantberig. Soms sê iemand iets vreemds, dan word dit die vonk vir ’n nuwe storie. Daar is nie grense aan hulle verbeelding nie. Dis ook lekker om weer die kind binne jou te ontdek wanneer jy ’n kinderboek skryf.
Lees Afrikaanse tieners nog Afrikaanse jeugboeke?
Ja, sommiges, maar ons skrywers hoop om meer te oorreed om te lees.
Wat is jou wenke vir ’n goeie Afrikaanse jeugboek?
Dit moet slim geskryf wees en vandag se wêreld weerspieël.
Het jy ’n idee en ’n uitgewerkte plot vir ’n storie voordat jy dit skryf?
Nee, dit verg werk om die hele storie te beplan. Ek het gewoonlik ’n vae idee, nie die hele verhaal nie.
En het jy ’n skryfroetine, of skryf jy wanneer die inspirasie jou beetkry?
Ek skryf elke oggend.
Wat is jou ander belangstellings?
Ek lees graag, luister musiek en gaan oefen in die gim. Ek skilder ook. Ek het die illustrasies in ’n paar boeke gemaak.
Het jy troeteldiere?
Ek het drie goudvisse.
Wat is van jou gunstelingname, -vanne, -diere, -dorpe, -kos, -kleur, -klere, -musiek?
Pizza, swart en donkerblou, jeans, Deacon Blue.
Het jy ’n huidige belangstelling wat onlangs opgeduik het? Vetplante? Gym? Gesonde kos? Dalk is die woord “belangstelling” verkeerd – dalk eerder iets wat jou op die oomblik prikkel.
Ek het begin herwin. Dit verbaas my hoeveel plastiek, papier en bottels deur my huishouding gaan.
Wat sou jy vir jongmense sê wat wil skryf?
Lees, lees, lees. En gaan sit dan en skryf, skryf, skryf.
Wat dink jy van die plan om gedrukte koerante nou te laat waai?
Dis ’n groot hartseer.
Wat was jou heel, heel lekkerste boek om te skryf?
Dis amper soos om vir ’n ma te vra wie haar gunstelingkind is. Baie moeilik!
Vir laerskole: Pieksel.
Vir hoërskole: Offers vir die vlieë.
Ek het ook al baie van my eie boeke geïllustreer, soos jy weet.
Wat is die sin van die lewe?
Om lief te hê.
Is jy getroud en het jy kinders?
Nee.
Lees ook:
Die literêre-navorsingstaak vir Afrikaans Huistaal (graad 4–9)
Afrikaans Huistaal: Literêrenavorsingstaak – voorbeelde vir graad 9 en graad 11, kwartaal 3
Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Bibi Slippers
Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Eldridge Jason