
Foundry Co op Pixabay
ALGEMENE INLIGTING VIR DIE ONDERWYSER EN LEERDER |
Hierdie bespreking van die literêre-navorsingstaak sluit aan by my vorige bespreking wat in 2022 op LitNet gepubliseer is. Lees dit hier.
In die derde kwartaal moet leerders ’n literêre-navorsingstaak voltooi. Onderwysers kan die taak opstel deur enige van die volgende literêre genres te gebruik: poësie (gedigte), prosa (roman of kortverhale), volksverhale of dramatekste. Sodoende word leerders aan ’n wye verskeidenheid literêre tekste, genres en skrywers blootgestel.
Wat is die doel van hierdie taak?
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het die volgende doelwitte in gedagte:
- Leerders moet leer hoe om navorsing oor ’n spesifieke onderwerp te doen.
- Leerders moet leer hoe om ’n bronnelys op te stel.
- Die taak fokus spesifiek op letterkunde om sodoende ’n belangstelling in en liefde vir letterkundige tekste by leerders te kweek.
Die leerder moet leer hoe om navorsing te doen. Boonop gaan hy of sy nuwe feite leer en oulike stories, dramatekste en/of gedigte lees.
Die navorsingstaak bestaan uit drie komponente:
Elke skool se navorsingstaak sal anders lyk, maar dieselfde leeruitkomste volg. Dit is ’n proses wat gevolg word.
- Eerstens moet die leerder ’n spesifieke onderwerp navors na aanleiding van ’n literêre teks, die skrywer van ’n literêre teks of ’n tema wat in ’n literêre teks voorkom.
- Die skryfstuk behels die skryf van ’n transaksionele teks soos ’n vriendskaplike brief, dialoog, dagboekinskrywing, gedig of e-pos waarin die leerder die navorsing wat in die eerste deel van die taak gedoen is, moet betrek.
- Ten slotte moet die leerder ’n mondelinge opdrag voltooi waarin hy of sy verslag doen van die navorsing wat onderneem is. Dit is dus een groot projek wat uit drie komponente bestaan. Al drie komponente sluit by mekaar aan om sodoende die navorsingsprojek te vorm.
TWEE VOORBEELDTAKE AFRIKAANS HUISTAAL Vir praktiese doeleindes gaan ek op poësie fokus. Die onderwyser kan egter enige van die genres (soos reeds genoem) gebruik. GRAAD 9 – SENIOR FASE Digter: Ingrid Jonker GRAAD 11 – VOO-FASE Digter: Veronique Jephtas |
Afrikaans Huistaal
Literêre-navorsingstaak
Graad 9
Kwartaal 3 – 2023
DEEL 1
- Lees die uittreksel uit onderstaande gedig getiteld “Bitterbessie dagbreek” deur Ingrid Jonker uit haar bundel Rook en oker. (Gaan neem die bundel uit of slaan dit na in die plaaslike biblioteek om die volledige gedig te kan lees.)
Luister na die digter se voorlesing van die gedig:
BITTERBESSIE DAGBREEK 1. Bitterbessie dagbreek 5. Soek ek na die grondpad 9. Dennebos herinnering |
- Wie was Ingrid Jonker? Gaan lees meer oor die bekende digter. (Daar is baie artikels oor die digter se lewe aanlyn beskikbaar.) Petrovna Metelerkamp het ook twee interessante boeke oor die digter geskryf.
- Die gedig het ’n hartseer toon weens ’n liefdesteleurstelling. Luister na die volgende toonsettings van die gedig:
- Annelie van Rooyen (Album: Ek wil jou ken)
- Theuns Jordaan (Album: Roeper)
- Chris Chameleon (Album: Ek herhaal jou)
- Laurika Rauch (Album: Die mense op die bus)
Klasbespreking in groepe:
- Wie was al verlief? Hoe voel dit om op iemand verlief te wees?
- Watter emosies het jy ervaar toe die persoon op wie jy verlief was met jou opgebreek het (julle liefdesverhouding beëindig het)?
- Watter sanger het die toon van die gedig die beste in sy of haar toonsetting van die gedig oorgedra?
DEEL 2
Jy het ’n penvriend wat in Australië woon en Afrikaans verstaan. Julle skryf gereeld vir mekaar e-posse. In die e-posse gesels julle oor jul onderskeie lande en kulture.
Jy het pas Ingrid Jonker se gedig “Bitterbessie dagbreek” gelees. Skryf ’n e-pos van 160–180 woorde waarin jy vir jou penvriend meer oor die digter Ingrid Jonker vertel. Vertel ook vir jou penvriend waaroor die gedig “Bitterbessie dagbreek” gaan en hoekom hy of sy dit moet lees.
Onthou om alle bronne in ’n bronnelys op ’n aparte bladsy aan te dui.
DEEL 3
Die plaaslike laerskool is besig om Ingrid Jonker se gedig “Kabouterliefde” met die graad 7-klas te behandel. Jou eertydse Afrikaans-onderwyser het jou gevra om vir haar graad 7-klas meer oor die lewe en werk van Ingrid Jonker te kom vertel.
Berei ’n toespraak van ongeveer 2–3 minute voor waarin jy die digter Ingrid Jonker bespreek. Jy kan enige interessante feite oor haar lewe en haar gedigte noem. Jy moet ook aan die einde van die toespraak een van haar gedigte voorlees wat een van die temas waaroor sy gereeld gedig het, bevat.
VIR DIE ONDERWYSER
Beide die skryftaak (transaksionele teks) en die voorbereide mondeling word deur middel van die toepaslike assesseringsrubriek (DBO) geassesseer.
Afrikaans Huistaal
Literêre-navorsingstaak
Graad 11
Kwartaal 3 – 2023
DEEL 1
- Lees die uittreksel uit onderstaande gedig getiteld “R200” deur Veronique Jephtas uit haar debuutbundel Soe rond ommie bos. (Gaan neem die bundel uit of slaan dit na in die plaaslike biblioteek om die volledige gedig te kan lees.)
R200 1. my sperm donor het altyd leë beloftes gemaak |
- Doen navorsing oor die digter. In die gedig bespreek die spreker ’n belangrike sosiomaatskaplike probleem. Nadat jy meer oor die digter en haar gedigte (wat in Kaaps/Kaapse Afrikaans geskryf is) gelees het, lees weer die gedig.
- Wie is die “sperm donor” na wie die spreker verwys?
- Watter maatskaplike probleem word in hierdie gedig aangeraak?
- Veronique Jephtas is nie die enigste digter wat gedigte in Kaapse Afrikaans skryf nie. Soek nog vier name van digters wat in Kaaps gedigte skryf, asook ’n voorbeeld van ’n gedig waarin een van daardie vier digters ’n sosiomaatskaplike tema bespreek.
Klasbespreking in groepe:
- Is dit belangrik dat verskillende variëteite van Afrikaans deur middel van letterkunde in die klaskamer behandel word?
- Waarom is daar soveel afwesige vaderfigure in Suid-Afrikaanse huishoudings?
DEEL 2
Verbeel jou jy is die spreker in die gedig. Skryf ’n vriendskaplike brief van 180–200 woorde waarin jy jou beste vriend of vriendin vertel waarom dit vir jou moeilik is om sonder ’n pa-figuur in jou lewe groot te word.
In jou brief moet jy na ten minste twee ander gedigte wat in Kaaps geskryf is verwys waarin die onderskeie sprekers enige soortgelyke sosiomaatskaplike probleem aanraak. Onthou om ’n volledige bronnelys op ’n aparte bladsy in te dien waarop jy moet aandui uit watter gedigte of sekondêre bronne jy aangehaal het.
DEEL 3
Jy word deur ’n plaaslike welsynsorganisasie genader om met ouers te kom gesels oor sosiomaatskaplike probleme en hoe hierdie probleme (soos afwesige vaderfigure, armoede, geweld, ens) kinders en tieners affekteer.
Berei ’n toespraak van ongeveer 4–5 minute voor waarin jy oor enige sosiomaatskaplike probleme wat in gedigte verskyn, gesels. Jy moet na ten minste een gedig verwys en ook daaruit aanhaal om by jou onderwerp (byvoorbeeld afwesige vaderfigure in Suid-Afrikaanse huishoudings) aan te sluit. Dit is belangrik dat jy feite uit betroubare bronne (artikels) kry om jou argument te ondersteun.
VIR DIE ONDERWYSER
Beide die skryftaak (transaksionele teks) en die voorbereide mondeling word deur middel van die toepaslike assesseringsrubriek (DBO) geassesseer.
Maak leerders bewus van die volgende digters wat in Kaaps/Kaapse Afrikaans asook ander variëteite van Afrikaans dig: ENKELE VOORBEELDE Ronelda S Kamfer, Lynthia Julius, Nathan Trantraal, Adam Small, Veronique Jephtas, Ashwin Arendse, Loit Sōls, Peter Snyders, Patrick Petersen en Marius Titus |
DIGBUNDELS VIR DIE KLASKAMER
Die volgende digbundels is nuttig om in die klaskamer te hê en bevat ’n verskeidenheid gedigte waarby jong lesers aanklank sal vind:
Intermediêre fase
Dönges, S. 2020. Die waarheid oor visvingers. Pretoria: Protea.
Jacobs, J (samesteller). 2016. Moenie hierdie boek eet nie! Midrand: LAPA.
Scheepers, R en Kotzé-Myburgh, S (samestellers). 2009. Nuwe kinderverseboek.
Kaapstad: Tafelberg.
Senior en VOO-fase
Jacobs, J (samesteller). 2011. Toulopers: verse vir tieners. Midrand: LAPA.
Jacobs, J (samesteller). 2016. Sterkykers: gedigte vir tieners. Midrand. LAPA.
Krog, A (samesteller). 2022. Mixtape van die liefde. Midrand: LAPA.
Bronnelys
Jephtas, V. 2021. Soe rond ommie bos. Pretoria: Protea.
Jonker, I. 1963. Rook en oker. Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel.
Lees ook:
Die literêre-navorsingstaak vir Afrikaans Huistaal (graad 4–9)