Hulp met die derde kwartaal se literêrenavorsingstaak: ’n onderhoud met Eldridge Jason

  • 0

Foto van Eldridge Jason: verskaf; foto van Gerook: LAPA Uitgewers

In die derde kwartaal moet leerders ’n literêrenavorsingstaak voltooi. Onderwysers kan die taak opstel deur enige van die volgende literêre genres te gebruik: poësie (gedigte), prosa (roman of kortverhale), volksverhale of dramatekste. Sodoende word leerders aan ’n wye verskeidenheid literêre tekste, genres en skrywers blootgestel.

Weens etlike navrae oor die agtergrond van Eldridge Jason het Naomi Meyer met hom ’n onderhoud gevoer sodat die inligting waarna leerders op soek is, verskaf kan word.

Eldridge, wat is jou geboortedatum en waar het jy grootgeword?

Ek is gebore op 25 Mei 1978 en het grootgeword op die pragtige Weskus- vissersdorpie Paternoster.

Waar was jy op skool en het jy al toe van lees en skryf gehou?

My aanvanklike laerskoolloopbaan het afgeskop by St Augustine Primêr op Paternoster, waar ek tot die destydse standerd 5 (nou graad 7) skoolgegaan het. Ek is hierna na Eden Primêr op die buurdorp Vredenburg vir my standerd 6, waarna ek my hoërskoolopleiding voltooi het aan Weston Sekondêr, ook op Vredenburg. Die leesgogga het my al op ’n baie jong ouderdom gebyt en nooit opgehou op my te byt nie. In die destydse standerd 4 het ek my eerste gedigte begin skryf en skryf sedertdien al aan soos wat die skryfgogga my byt. Ek was ook bevoorreg om op te groei met ouers wat boekwurms was en die liefde vir lees en woorde by my nie net gekweek het nie, maar ook aangemoedig het. Ek was byvoorbeeld die enigste een van ons drie broers wat toegelaat was om saans ook aan die etenstafel te lees. My ma het geglo omdat ek niemand pla nie, mag ek maar in die wonderlike wêreld van boeke verdwyn, selfs al is dit so eet-eet.

..........
Ek was ook bevoorreg om op te groei met ouers wat boekwurms was en die liefde vir lees en woorde by my nie net gekweek het nie, maar ook aangemoedig het. Ek was byvoorbeeld die enigste een van ons drie broers wat toegelaat was om saans ook aan die etenstafel te lees.
...........

Waar het jy studeer?

Ek het  destyds ’n kursus in joernalistiek gevolg (1996), my indiensopleiding voltooi by die SABC se radio-afdeling in Kimberley in die Noord-Kaap, al by ’n gemeenskapskoerant aan die Weskus gewerk, en was vir byna 20 jaar verbonde aan ’n Kaapse dagblad.

Waar het die idee vir Gerook vandaan gekom?

Gerook is losweg gebaseer op my eie ervaringe met dwelms. Ek sê altyd vir mense toe ek  finally die dag tot my sinne kom en uit die kloue van dwelmmisbruik ontsnap, wou ek graag ’n boek skryf waar ek veral die jeug teen die gevare van dwelms waarsku, minus die gepreek wat so dikwels met sulke leesstof gepaard kan gaan.

Watter boeke het jy al geskryf?

Gerook is my debuutjeugroman en is gepubliseer in 2013. Verder lewer ek van tyd tot tyd bydraes tot lees- en digbundels. ’n Paar jaar gelede was ek ook die medesamesteller van Vroue van Atlantis.

Wat is jou stokperdjies?

Ek is ’n joernalis van beroep en het nie enige stokperdjies wat van hout gemaak is nie, lol. Ek hou van lees en reis – as die petrolprys dit toelaat.

Wat sou jy vir kinders sê wat hou van skryf?

Om aan te hou skryf – al sê wie ook wat. Skryf is een van die wonderlikste uitlaatkleppe wat ’n mens kan kry. Dit kan harde werk wees wat met baie opofferinge gepaard kan gaan, maar as jy ’n droom het, is dit jou plig om gestalte aan daai droom te gee. Ons hou eers ophou droom as ons die dag sesvoetses lê.

Hoekom skryf jy boeke en is dit lekker vir jou om te skryf?

Ek skryf eintlik maar omdat ek niks anders met my hande kan doen nie (weer: lol). Basies kan ek net ’n gloeilampie omruil, maar enige ander praktiese dinge van die lewe is rocket science vir my. Ek skryf oor dinge wat my inspireer. Soms maak ’n idee my diep in die nag wakker en dan moet ek maar opstaan en skryf, want as die karakters wil tjommel, moet ek maar gehoor gee.

..........
Ek skryf oor dinge wat my inspireer. Soms maak ’n idee my diep in die nag wakker en dan moet ek maar opstaan en skryf, want as die karakters wil tjommel, moet ek maar gehoor gee.
..........

Het jy kinders  of troeteldiere?

Twee kinders, Dante en Abigajil. Hulle sweer ek raak oud omdat ek nou so grys is. Ons het een hondjie, Ellie, wat die kinders glo vernoem het na ’n YouTube-karakter. Ek moet bieg dat ek nog nie van so ’n Ellie-mens gehoor het nie, maar ons Ellie verskaf ons hope vreugde en snaakse oomblikke.

Lees ook:

Die literêre-navorsingstaak vir Afrikaans Huistaal (graad 4–9)

Afrikaans Huistaal: Literêrenavorsingstaak – voorbeelde vir graad 9 en graad 11, kwartaal 3

Jong lesers: Gerook deur Eldridge Jason

LAPA-onderhoud: Gerook deur Eldridge Jason

WF 2015: Skrywer Eldridge Jason gee raad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top