LAPA-onderhoud: Gerook deur Eldridge Jason

  • 1

Eldridge Jason se jeugroman stel die leser bekend aan ’n skemerwêreld van dwelms en tienergevare waaroor daar nog baie min in Afrikaans geskryf is. Die boek is ontstellend en eerlik geskryf; dis 'n moet-lees vir ouers én hul kinders. Naomi Meyer het die skrywer hieroor uitgevra.

Hallo Eldrigde, vertel asseblief vir ons lesers wie jy is.

Ek is gebore en getoë aan die Weskus (Paternoster) en woon en werk die afgelope agt jaar in die Kaap as ‘n joernalis by ‘n plaaslike dagblad. As ek my moet beskryf? Definitief ‘n skaamtelose dromer wie uit sy vel bars oor sy debuutboek. Verder is ek maar van die rustige soort wat daarvan hou om met my vrou, Winnie, en seuntjie, Danté (3), na die platteland weg te breek as ons ‘n kansie kry.

Gerook is ‘n jeugroman, maar dis ‘n baie ander soort jeugroman as wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Het jy doelbewus die baie relevante tema van tik gekies?

Veral in die Wes-Kaap is tik seer sekerlik die grootste vernietiger van veral ons jeug. Dit is ‘n onderwerp waaroor daar al vele in die media berig is, maar ek wou ‘n boek skryf waar ek deur middel van storievertel veral jongmense teen die gevare daarvan wil waarsku. Ek is daarvan oortuig dat as ons die jeug die irrelevansie en vernietigende impak van dwelms kan laat sien, het ons hulle reeds halfpad op pad na die realisering van hul drome en aspirasies.

As storie lees die boek lekker, maar die boodskap is duidelik, al bied jy dit hoegenaamd nie prekerig aan nie. Het jy die storie sommer maklik uitgedink, of hoe lank het dit jou geneem om dit te skryf?

Gerook se storielyn het reeds vir ses jaar in my kop gebroei en eintlik stof vergaar. Baie van die tonele wat uitgebeeld word, is dinge wat ek self ervaar en deurgemaak het en dit was dus eintlik nie so moeilik om oor ‘n onderwerp te skryf waar ek persoonlik met die duiwel se drug buddy skouers geskuur het nie. En toe ek uiteindelik tyd kry om te skryf, was dit net na my seuntjie se geboorte. So die meeste van die drie maande wat dit my gevat het om Gerook te skryf, het ek dit sommer op die trein gedoen op pad werk of huis toe.

‘n Baie dapper keuse van ‘n onderwerp, en een wat ouers ongemaklik sal laat rondskuif, omdat dit ‘n senuwee raakboor. Wees eerlik: toe jy navorsing gedoen het oor die onderwerp, hoe algemeen het jy gedink is tikverslawing onder adolessente en tienderjariges in Suid-Afrika?

Die misbruik en gebruik van tik kom redelik algemeen (eintlik té algemeen) in veral bruin gemeenskappe voor. In my werk kom ek veels te dikwels in aanraking met die pynlike gevolge en uitwerkings wat tikverslaafdes op hul families het. Tik is ‘n virus wat sy stink kloue met gemak in gemeenskappe ingeslaan het. Dit is hartseer om te sien hoe baie belowende jongmense ten gronde gaan én terselfdertyd hul families en geliefdessaam met hulle oor die afgrond trek. En weens my persoonlike ervarings met tik en sy verwoesting, was dit byna ‘n logiese opsie vir my om te skryf oor ‘n dwelm wat dit ten doel het om drome, menswees en die liefde vir die lewe te stoomroller en te verwoes.

Jou boek het ‘n donker en terselfdertyd ‘n hoopvolle einde (ek wil nie te veel verklap nie). Is daar raad vir jongmense wat aan tik verslaaf is?

Een ding wat by dwelmverslaafdes tuisgebring moet word, is dat daar altyd hoop is. Daar is altyd omdraaikans om uit daai diep, donker groef van selfvernietiging te ontsnap. Ek was self daar, en vyf jaar later kan ek daarvan getuig dat harde werk, wilskrag, geloof ... you name it ... daar ís maniere om die demone te oorkom en ‘n sukses van jou lewe te maak.

Hier’s amper ‘n nóg moeiliker vraag: Die oplossings bestaan dalk, maar as ouers dalk nie betrokke genoeg by hul kinders is om die verslawing raak te sien nie, hoe geredelik sal hul help om die rehabilitasie te verskaf? Of vra ek die verkeerde vraag – waar lê die probleem?

My ervaring is dat ouers in baie gevalle gou genoeg die probleem raaksien, maar dan hulpeloos staan teen die golf van dwelms wat hulle tref. Dwelmsmouse wyk deesdae veral na die platteland uit waar daar minder sigbare polisiëring en meer verveeldheid is. Rehabs, veral dié in kleiner gemeenskappe, kan werk slegs indien daar ‘n maatskaplike wil bestaan om die euwel met wortel en tak uit te roei. En let’s face it: vanuit ‘n politieke oogpunt word niks gedoen om die kwessie van dwelmhandel aan te spreek nie. Ek glo dat mense moet ophou bly wees dat dit nie jou huishouding raak nie en aktief begin om ‘n voorkomende en bekampende rol te speel, want voor jy jou oë uitvee, het tik en al sy siek euwels hom in jou huishouding ingewurm.

Jy het self ‘n kind en jy het navorsing gedoen oor die skemerwêreld van dwelms waaroor jy skryf. Wat sal jy eendag vir jou kind sê as hy groot genoeg is – en wat is groot genoeg?

Die mees natuurlike instink sal wees om jou kind in ‘n kokon toe te spin en daar te hou tot daar nie meer drugs op aarde oor is om te abuse nie. Maar die realiteit van ons samelewing laat dit nie toe nie. Ek sal verkies dat Danté eerder ingelig as streetwise is wat dwelms betref. Dat hy weet dat dwelms slegs verwoesting saai en niks goeds daaruit kom nie. Hopelik doen hy nie eerstehands navorsing soos ek nie, maar is bereid om te leer uit die lesse van sy pa.

Is jy besig om ‘n volgende boek te skryf?

Ek is tans aan’t skryf aan my tweede boek, ja. Ek is baie opgewonde daaroor en hoop dat dit net soveel aanklank as Gerook sal vind. As als goed afloop, behoort ek vroeg volgende jaar klaar geskryf te wees.


Titel:
Gerook
Skrywer: Eldridge Jason
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799362145

 

Koop Gerook by Kalahari.com.

 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Jarodine Coetzee

    My name is Jarodine Coetzee, I'm in grade9 and we have read this book. This book is a magnificent book who can help people who are on drugs, you should write more of these books.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top