WF 2015: Skrywer Eldridge Jason gee raad

  • 0
  1. Eldridge Jason

    Wat maak ’n goeie kortverhaal?

Ek glo altyd dat ’n goeie kortverhaal oor die vermoë moet beskik om die leser te boei. Die storielyn moet jou gevange hou. Jy, die leser, moet die gewillige slaaf wees van ’n verhaal waarin jy brand om uit te vind wat volgende gaan gebeur. ’n Goeie storie, so glo ek, is een wat spreek tot die leser en hom of haar nie net vermaak nie, maar kan meevoer.

  1. En wat van goeie wetenskapfiksie?

Die uitdaging van wetenskapfiksie is om ten spyte van die futuristiese aspekte, die storielyn steeds realisties vir die leser te maak. Ek wil glo, dat wanneer ek wetenskapfiksie lees of na ’n sci-fi-fliek kyk, daar hordes jare van nou tog die moontlikheid is dat sulke gebeure kan opduik of sulke tegnologie in die toekoms kan bestaan. Tog glo ek dat dit nie saak maak hoe ver in die toekoms ’n verhaal afspeel nie, dit behoort steeds menslike elemente te bevat. Vir my is dit belangrik om te weet dat eienskappe eie aan ons soos liefde, drome en ja selfs haat, in die verre toekoms steeds van belang sal wees.

  1. Het jy enige raad vir deelnemers?

Ek sou voorstel dat lesers hul verbeelding vrye teuels moet gee. Laat die storielyn, hoe vergesog dit aanvanklik ook al mag klink, toe om te ontkiem. Vat elemente van die hede en probeer baba-ligjare van nou dink hoe alles waaraan ons nou soveel waarde heg, oor tyd sal lyk. Ek glo nie ’n mens se verbeelding het grense as dit by wetenskapfiksie kom nie. Elke gedagte wat by jou opkom, is ’n wormhole na oneindige galaxies vol karakters en storielyne.

  1. Waarom glo jy is kompetisies soos hierdie belangrik?

Ek is verskriklik opgewonde oor ’n kompetisie soos dié wat kinders aanmoedig om te droom en kreatief te wees. Hierdie is een van die min platforms waar leerders absoluut literatuur-beserk kan raak en die kettings van ’n opstel wat dalk hul verbeelding kan beperk, af kan skud. Hierdie platform kan vir baie die starting point wees van eindelose moontlikhede en een wat alle jongmense wat nog onbeskaamd droom, met albei hande behoort aan te gryp.

  1. Wat sal jou robot-naam wees?

Ek dink Initium 123 sal ’n cool robot-naam vir my wees. Initium is ’n Latynse woord en losweg vertaal, beteken dit “die begin”. Die robot wat die begin is van ’n 1ste, 2de en 3de generasie blikbrein-dromers. ’n Robot wat absoluut versot is op die reuk van ’n splinternuwe boek en wat die heelal deurkruis op soek na die heerser van die alfabet.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top