
Boekomslag: https://www.panmacmillan.co.za/authors/stephanie-ebert/hoe-om-n-trein-te-stop/9781776253722
Hoe om ’n trein te stop: Die storie van hoe Mohandas Gandhi die Mahatma geword het
Stephanie Ebert en Kathryn Pillay (in Afrikaans vertaal deur Jaco Jacobs)
Uitgewer: Pan Macmillan
ISBN: 978-1-77625-372-2
Sosiale wetenskappe en lees: Geskiedenis in woord en beeld
..........
As opvoedkundedosent en literator wat jaarliks onderwysstudente se lesse by skole moet assesseer, is dit vir my opvallend dat die meeste opvoedkundestudente, asook leerders in veral die Intermediêre Fase, die onderrig en leer van sosiale wetenskappe vervelig vind. In my ervaring word hierdie vak, bestaande uit geskiedenis en geografie, meestal afgeskeep.
...............
As opvoedkundedosent en literator wat jaarliks onderwysstudente se lesse by skole moet assesseer, is dit vir my opvallend dat die meeste opvoedkundestudente, asook leerders in veral die Intermediêre Fase, die onderrig en leer van sosiale wetenskappe vervelig vind. In my ervaring word hierdie vak, bestaande uit geskiedenis en geografie, meestal afgeskeep. Talle onderwysers vind dit uitdagend om die vak op ’n kreatiewe wyse te onderrig om sodoende ’n liefde vir beide geskiedenis en geografie by leerders te kweek. Hierdie tendens kan moontlik toegeskryf word aan ’n gebrek aan hulpbronne by skole, gebrekkige vakkennis by sommige onderwysers, asook ’n gebrek aan en die bevordering van ’n leeskultuur deur ouers en onderwysers.
Die Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring vir sosiale wetenskappe in die Intermediêre Fase (graad 4 tot 6) beklemtoon dat “[t]aal ’n belangrike element van beide Geskiedenis en Geografie [is]” (DBO 2011:8). Elke onderwyser is ook ’n taalonderwyser en leer vind effektief plaas deur die teks interaktief te gebruik vir mondelinge sowel as geskrewe aktiwiteite (DBO 2011:8). ’n Gebrek aan leesmotivering en Suid-Afrikaanse leerders se swak leesbegripvaardighede soos aangedui in die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) van 2021 kan ook as bydraende faktor beskou word wat leerders ontmoedig om veral geskiedenis as vak in die Verdere Onderwys- en Opleidingsfase (graad 10 tot 12) te neem.
..............
Stephanie Ebert en Kathryn Pillay se kinderboek Hoe om ’n trein te stop: Die storie van hoe Mohandas Gandhi die Mahatma geword het is ’n teks wat met vrug in die klaskamer gebruik kan word om sosiale wetenskappe en veral geskiedenis meer interessant in die Intermediêre Fase se onderrig.
.................
Stephanie Ebert en Kathryn Pillay se kinderboek Hoe om ’n trein te stop: Die storie van hoe Mohandas Gandhi die Mahatma geword het is ’n teks wat met vrug in die klaskamer gebruik kan word om sosiale wetenskappe en veral geskiedenis meer interessant in die Intermediêre Fase se onderrig. Tematies kan hierdie boek veral in graad 4 en 6 nuttig wees, aangesien die teks aansluit by die temas wat onderrig moet word, naamlik “Leer van leiers” en “Plaaslike geskiedenis” (graad 4), asook “Demokrasie en burgerskap” in Suid-Afrika (graad 6).
Die lewensverhaal van Mohandas Karamchand Gandhi word op toeganklike wyse deur middel van ’n storie uiteengesit. Die narratief word vergesel van kleurryke illustrasies deur Paddy Bouma, wat visuele leerders se denke sal stimuleer en terselfdertyd die geskiedkundige feite op kreatiewe wyse aanbied. Die illustrasies maak leerders ook bewus van ’n veelrassige en multikulturele samelewing. Onderwysers kan leerders se aandag prikkel deur die titel van die boek as vertrekpunt vir ’n geskiedenisles te gebruik. In hierdie opsig kan die volgende vrae tydens die preleesfase gevra word:
- Kan ’n individu ’n trein tot stilstand bring?
- Word hierdie vraag soos in die titel vervat letterlik of figuurlik bedoel?
- Hoe sluit die titel by die geskiedkundige gebeure rondom die lewe van Mohandas Gandhi aan?
- Wat het Mohandas Gandhi bereik deur die trein te laat stilhou?
Hierdie vrae dien as voorbeeld van hoe die boek ter inleiding van ’n les oor demokrasie, plaaslike geskiedenis of burgerskap benut kan word. Die tydlyn op bladsy 1 stel leerders en onderwysers in staat om ’n algehele oorsig van Gandhi se lewensverhaal te verkry. Die tydlyn leer leerders ook oor chronologie en die wyse waarop geskiedkundige gebeure ’n individu soos Mohandas Gandhi se lewensverhaal beïnvloed het. Onderwysers kan ook die datums gebruik om leerders se kennis van beide plaaslike en internasionale geskiedkundige gebeure te toets, wat weer by ander temas gedurende die verloop van die skooljaar betrek kan word.
Die skrywers sluit ook notas vir ouers en onderwysers in. Ouers of voogde kan die storie tuis saam met hul kinders lees en daaroor gesels. Deur die verhaal saam met jou kind te lees, kan ’n liefde vir lees gekweek word. Die ouer of voog kan ook komplekse begrippe verduidelik. In dié opsig is die woordelys in die boek belangrik, aangesien dit moeiliker begrippe soos burgerregte, Mahatma, niegewelddadige verset en veral Gandhi se filosofie van Satyagraha op ’n toeganklike wyse verduidelik. Die boek sluit af met ’n lys vrae wat spesifiek op kinders gemik is.
Hoe om ’n trein te stop: Die storie van hoe Mohandas Gandhi die Mahatma geword het is ’n veeldoelige teks wat nie alleen die geskiedenis en lewensverhaal van ’n belangrike geskiedkundige figuur soos Mohandas Gandhi vertel nie, maar ook gebruik kan word om lees en leesbegrip te bevorder. Hierdie boek is ideaal vir die geskiedenisprojek wat leerders in die derde kwartaal oor die lewensverhaal van ’n leier moet voltooi. Ouers en onderwysers kan vrae stel om die eienskappe van goeie leiers te identifiseer soos in die KABV (DBO 2011:15–6) aangedui:
- Hoekom is Mohandas Gandhi ’n voorbeeld van ’n goeie leier?
- Wat is die eienskappe van ’n goeie leier?
- Wie beskou jy (die kind of leerder) as ’n voorbeeld van ’n goeie leier en waarom?
- Hoekom is dit belangrik dat gemeenskappe goeie leiersfigure moet hê?
Mohandas Gandhi se lewensverhaal bevat universele temas wat jong lesers bedag sal maak op die geskiedenis van Suid-Afrika asook die belangrikheid van goeie waardes in die samelewing. Gandhi se lewensverhaal dien as voorbeeld van die wyse waarop ’n individu verandering in sy of haar medemens se lewe teweeg kan bring.
Hierdie boek is ’n nuttige hulpbron vir ouers en onderwysers om geskiedenis as deel van sosiale wetenskappe in die Intermediêre Fase op ’n interaktiewe, kreatiewe en beeldryke wyse te bestudeer.
Bronnelys
Departement van Basiese Onderwys (DBO). 2011. Nasionale Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring. Sosiale Wetenskappe. Intermediêre Fase: graad 4 tot 6. Pretoria: Staatsdrukker.
—. 2021. PIRLS 2021. South Africa Preliminary Highlights Report. Departement van Basiese Onderwys. Pretoria.
Lees ook:
Platsak maak ’n plan vir voorlees in die klaskamer: ’n onderhoud met die skrywer
Sankind lees die wind – veel meer as stories: ’n onderhoud met Wendy Maartens
Die literêre-navorsingstaak vir Afrikaans Huistaal (graad 4–9)