
Boekomslag: Best Books; foto van Anneke Langner: verskaf
Platsak maak ’n plan
Anneke Langner
Best Books, ’n druknaam van NB-Uitgewers
ISBN: 9781776073085
Is jy ’n Afrikaans-onderwyser of -opvoeder van leerders in die Senior Fase (graad 7 tot graad 9)? Dalk is jy op soek na klasleesboeke met ’n lekker storie én begripsleesvrae daarby. Best Books, ’n druknaam van NB-Uitgewers, het onlangs ’n boek met die titel Platsak maak ’n plan, deur Anneke Langner, uitgegee.
Naomi Meyer het met Anneke oor haar boek gesels.
Anneke, geluk met jou boek vir klaslees, Platsak maak ’n plan. Ek skryf dat die storie vir klaslees bedoel is, maar dis regtig ’n lekker storie vir doodgewoon lees ook. Kinders (jou teikenmark is vroeë tieners van so 13 en 14) sal nie eens voel dat dit ’n boek is wat in die skool gebruik moet word nie, maar sal dit vir die lekker ook wil lees! Jou storie handel oor ’n spesiale band tussen ’n seun en sy hond. Waar het jy die idee vir die storie gekry?
Toe ek die idee vir hierdie boek gekry het, was ek ’n eerstejaarstudent, en kreatiewe skryfkuns was een van my modules. Ons het daardie dag in die klas kinder- en jeugliteratuur behandel. My dosent het benadruk dat dit belangrik is om uit die kind se leefwêreld te skryf. Direk na daardie klas, lees ek ’n koerantberig op Maroela Media: "Donasies stroom in vir seun en sy hond". Dié berig het my dadelik geïnspireer. Hoeveel 14-jariges is daar wat bereid is om soveel geld te probeer insamel vir hul troeteldier? Ek het gedink: "Hier is ’n baie lekker jeugverhaal uit ’n tiener se verwysingsraamwerk", en so het my idees ontwikkel. Die storie is uiteindelik heeltemal fiktief, maar die inspirasie kom van die berig.
Baie kinders is lief vir diere en sal iets van die storie verstaan – van die eerste toneel af waar die seun sy hond by die DBV uitsoek (en toe is hulle pasmaats – die seun en sy hond!). Is jy self ook lief vir diere? Vertel ook iets van jou eie diere, as jy enige diere het.
Ek is baie lief vir diere en my hart gaan veral uit na diere wat by die DBV afgelaai word. Ek het ook grootgeword in ’n huis waar elkeen van ons kinders die voorreg gehad het om op ’n stadium ’n troeteldier te kon hê. Ek wens ek kon vir alle diere ’n goeie huis gee. As iemand wat my boek klaar gelees het, net ’n bietjie liewer is vir hul troeteldier, is dit reeds ’n wen vir my!
My ouers het ’n baie groot erf, so dit het genoeg ruimte vir al die diere. By my ma-hulle is daar tans drie honde: Lea, Donna en Lady. (Lady is ’n regte bedorwe brakkie en my pa se "kleinkind"!) Ek is baie lief vir katte ook. My kat wat nog by my ouers bly, se naam is Romeo. My susters se katte is Samuel en Sebastiaan. My verloofde het twee katte, Kayja en Lenti, vir wie ek baie lief is. Op die erf waar ek bly, is daar ook ’n kat, Trunks, wat gereeld vir my kom kuier. Dit is ’n mondvol, ek is baie bevoorreg om soveel diere in my lewe te hê.
Daar is egter saam met elke dier wat mense besit of aanneem, ’n verantwoordelikheid. Om vir hulle te sorg en om te weet wat om met hulle te doen as mens nie self vir hulle kan sorg nie, om watter rede ook al. Jy het ’n aktuele tema in die verhaal ingebring, van ’n seun en sy gesin wat moet verhuis – baie ver daarby. Het jy van die begin af geweet wat in die verhaal gaan gebeur?
...........
Die koerantberig wat as inspirasie vir die verhaal gedien het, het my so ’n bietjie gelei, maar nee, ek het nie dadelik geweet nie. Tot die laaste keer wat ek die manuskrip hersien het, was daar nog verrassings! Soos ’n mens die karakters skryf en hulle meer diepte kry, word jy self as skrywer gelei deur jou karakters se ontwikkeling.
.............
Die koerantberig wat as inspirasie vir die verhaal gedien het, het my so ’n bietjie gelei, maar nee, ek het nie dadelik geweet nie. Tot die laaste keer wat ek die manuskrip hersien het, was daar nog verrassings! Soos ’n mens die karakters skryf en hulle meer diepte kry, word jy self as skrywer gelei deur jou karakters se ontwikkeling. ’n Mens se idees en inspirasies verander en ontwikkel ook soos die verhaal aangaan en meer tyd verbygaan. Ek het wel vooraf ’n idee gehad van watter temas ek graag sal wil in hê, verantwoordelikheid teenoor ’n mens se dier was beslis een.
Jou storie is oulik met gedeeltes van die verhaal wat uit die kind se perspektief geskryf is en gedeeltes wat uit die hond se perspektief geskryf is. Vertel ’n bietjie hoekom daar sekere karakters is met name soos Water, Tonie en Platsak in jou storie? Is dit régtig hulle mensename?
Om Leo se perspektief geloofwaardig te skryf, het ek ’n bietjie navorsing gedoen oor honde en hulle intelligensie. Leo is ’n intelligente hond, maar sy begrip en woordeskat om alles te beskryf, is baie beperk. So Leo maak assosiasies om sy wêreld beter te verstaan en mense se name eenvoudiger "uit te spreek" vir hom. Dit was vir my ’n baie lekker kreatiewe skryfoefening om Leo se perspektief te skryf en my te verbeel hoe ’n hond dinge sien.
Walter dra altyd blinkgepoetste swart skoene. Dit lyk vir Leo asof daar waterplassies op sy skoene lê. Walter klink ook vir hom baie soos water, en as gevolg van die assosiasie met sy skoene noem Leo hom Water. Dit maak vir die hondjie net meer sin so. Dieselfde met Tonie (Antoinette). Sy wikkel altyd haar tone onder die tafel. Ek wil nie te veel verklap oor waar Platsak se naam vandaan kom nie; die dubbelbetekenis van sy naam kan die leser ook lei om van die temas beter te verstaan.
Die einde is bittersoet, ai! Mens voel sommer saam met die karakters – seun én hond. Het jy geweet hoe die storie sou eindig toe jy dit begin skryf het?
Nee, ek het baie innerlike worsteling gehad oor die einde en het baie lank daaroor gepeins, maar net soos Platsak moes ek dink wat sal waarlik die beste vir Leo wees. Vir die lesers wat wonder wat toe met die regte Ethan en Leo in die koerantberig gebeur het: Daar is ’n opvolgkoerantberig in 2020 geskryf deur Netwerk24. Ek het nie daardie berig gesien nie. As ek het, sou dit heel moontlik my storie anders beïnvloed het! Daar is seker baie alternatiewe eindes, maar ek is tevrede met wat ek uiteindelik besluit het.
Dit is altyd vir my lekker om lesers se menings oor die einde te hoor. Hulle opinies is soms uiteenlopend en dit is ’n lekker aanknooppunt vir ’n gesprek.
Lees ook:
Platsak maak ’n plan vir voorlees in die klaskamer: ’n onderhoud met die skrywer